Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Onthou jy?

Onthou jy?

Onthou jy?

Het jy dit geniet om onlangse nommers van Die Wagtoring te lees? Kyk of jy die volgende vrae kan beantwoord:

• Waarom kan ons glo dat die tuin van Eden ’n werklike plek was?

Die Bybel beeld dit uit as ’n werklike plek en gee besonderhede oor waar dit geleë was. Twee van die riviere wat in die verslag gemeld word, vloei vandag nog. Mites of sprokies verstrek gewoonlik nie sulke besonderhede nie. Jesus, die betroubaarste Getuie, het van Adam en Eva as werklike mense gepraat.—1/1, bladsye 5-6, 8-9.

• Het God geweet dat Adam en Eva sou sondig?

Nee. Jehovah het hulle intelligensie en wilsvryheid gegee, wat hulle in staat gestel het om te kies om gehoorsaam te wees of nie. Hoewel God die vermoë tot voorkennis het, gebruik hy hierdie vermoë selektief.—1/1, bladsye 13-15.

• Gebruik ware Christene God se naam as ’n gelukbringer?

Sommige mense beskou ’n voorwerp of ’n simbool as ’n gelukbringer wat hulle op bonatuurlike wyse beskerm, maar God se volk beskou sy naam nie as ’n gelukbringer nie. Hulle stel geloof in Jehovah en probeer sy wil doen, en sodoende soek hulle toevlug by sy naam (Sef. 3:12, 13).—1/15, bladsye 5-6.

• Wie in Israel het baat gevind by die gebruik om oesoorblyfsels in te samel?

Almal. Dit het die armes, wat oesoorblyfsels moes insamel, aangespoor om vlytig te wees. Ander het daarby baat gevind omdat hulle aangespoor is om vrygewig te wees en vertroue in God se seën te stel.—2/1, bladsy 15.

• Waarom het Jehovah koning Saul verwerp?

Saul was veronderstel om vir God se profeet te wag om ’n offerande te bring, maar die koning was ongehoorsaam en het self die offerande gebring. Later het hy nie die bevel gehoorsaam om ’n vyandige volk te verdelg nie.—2/15, bladsye 22-23.

• Hoe kan ons toon dat ons wetteloosheid haat?

Ons sal alkohol op sy plek hou, okkulte gebruike vermy en op Jesus se waarskuwing teen onsedelikheid ag slaan. Ons sal byvoorbeeld pornografie vermy, asook die fantasieë wat dit kan skep (Matt. 5:27, 28). Ons sal ook nie omgaan met iemand wat uitgesit is nie.—2/15, bladsye 29-32.

• Waarom is dit opmerkenswaardig dat argeoloë ’n ou byery in hedendaagse Israel gevind het?

Argeoloë het meer as 30 byekorwe gevind, wat volgens geleerdes se skatting elke jaar tot ’n halfton heuning opgelewer het. Dit dui aan dat byeboerdery beoefen is in die land wat God gesê het sou “oorloop van melk en heuning” (Eks. 3:8).—3/1, bladsy 15.

• Hoe was Jeremia soos ’n boom “wat by die water geplant is, wat sy wortels . . . uitstoot”? (Jer. 17:7, 8).

Jeremia het nooit opgehou om vrugte voort te bring nie; hy het ook nie toegelaat dat spotters hom beïnvloed nie. Hy het eerder die Bron van lewensonderhoudende water aangekleef en alles wat God vir hom gesê het, ter harte geneem.—3/15, bladsy 14.

• Waarom het Jesus vir Marta gesê dat slegs ’n paar dinge nodig is, of net een? (Luk. 10:41, 42).

Hy het nie gesê dat sy materialisties is omdat sy verskillende disse voorberei nie; hy het ook nie ’n gebrek aan waardering vir haar harde werk getoon nie. Hy het eerder die aandag op prioriteite gevestig. Marta het versuim om ’n unieke geleentheid aan te gryp om haar geloof te versterk.—4/1, bladsye 12-13.

• Wat was ’n paar van die onregmatighede in verband met die verhoor van Jesus?

Die hof het geen betoë vir kwytskelding aangehoor nie. Valse getuies is gesoek. Die saak is in die nag verhoor. Die verhoor is binne ’n dag afgehandel.—4/1, bladsy 20.