Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Vreedsame groep verdedig hulle goeie naam

’n Vreedsame groep verdedig hulle goeie naam

AAN DIE BURGERS VAN RUSLAND: Met die publikasie van die volgende verslag sal tienmiljoene mense in meer as 230 lande uitvind van die ongeregverdigde onderdrukking van vryheid van aanbidding in Rusland. Die Wagtoring is die mees vertaalde en wyds verspreide tydskrif ter wêreld. Hierdie artikel sal in 188 tale gepubliseer word. Meer as 40 miljoen eksemplare sal gedruk word. Party amptenare wil dalk nie hê dat die internasionale gemeenskap moet weet wat met Jehovah se Getuies in Rusland gebeur nie. Maar Jesus se woorde sal waar bewys word: “Daar is niks sorgvuldig weggesteek wat nie geopenbaar sal word nie, en verborge wat nie bekend sal word nie.”—LUKAS 12:2.

IN Desember 2009 en Januarie 2010 het twee van die hoogste howe in Rusland Jehovah se Getuies ekstremisties verklaar. Dit het gelyk asof die geskiedenis hom herhaal. Toe die Sowjets oor Rusland regeer het, is duisende Getuies ten onregte daarvan aangekla dat hulle volksvyande is. Hulle is verban, in die tronk gestop en na strafkampe gestuur. Ná die ineenstorting van daardie regime is Jehovah se Getuies vrygespreek. Die nuwe regering het hulle goeie naam amptelik herstel. * Nou lyk dit of party mense weer vasbeslote is om die Getuies te belaster.

Vroeg in 2009 het die owerheid ’n aanval teen die godsdiensvryheid van Jehovah se Getuies geloods. In Februarie alleen het aanklaers meer as 500 ondersoeke regoor die land uitgevoer. Wat was die doel van hierdie veldtog? Om vermeende skendings van die wet deur die Getuies te identifiseer. In die daaropvolgende maande het die polisie klopjagte uitgevoer op Koninkryksale en privaat huise waar vreedsame godsdiensvergaderinge gehou is. Hulle het lektuur en persoonlike besittings gekonfiskeer. Die owerheid het buitelandse prokureurs wat gehelp het met die Getuies se verdediging, gedeporteer en hulle verbied om in die land terug te kom.

Op 5 Oktober 2009 het doeanebeamptes ’n besending Bybellektuur by die grens naby St. Petersburg teruggehou.  Die materiaal is in Duitsland gedruk en was bedoel vir ’n groot aantal gemeentes in Rusland. ’n Spesiale eenheid van Russiese doeaneagente wat gevaarlike verbode goedere hanteer, het die besending ondersoek. Waarom? ’n Amptelike dokument het gesê dat die besending “moontlik materiaal bevat wat bedoel is om godsdiensonenigheid aan te blaas”.

Die golf van teistering het kort voor lank kritieke afmetings aangeneem. Die Hooggeregshof van die Russiese Federasie en die Republiek Altai (’n deel van Rusland) het ’n aantal publikasies wat deur die Getuies gebruik word, met inbegrip van die tydskrif wat jy nou lees, ekstremisties verklaar. Jehovah se Getuies het appèl aangeteken, en die internasionale gemeenskap het hulle kommer uitgespreek—maar tevergeefs! Die beslissings is nou nog van krag en maak dit onwettig in Rusland om daardie Bybelpublikasies in te voer of te versprei.

Hoe sou die Getuies reageer op hierdie pogings om hulle goeie naam te beklad en hulle bedrywighede te beperk? En wat beteken die Howe se beslissings vir die godsdiensvryheid van al die burgers van Rusland?

’n Vinnige reaksie op die toenemende bedreiging

Wladimir Litwin (81) is na Krasnojarski Krai verban toe hy 14 was. Vroeg Vrydagoggend van die kampanje het hy ’n groep van Jehovah se Getuies gelei terwyl hulle die spesiale traktaat versprei het

Op Vrydag 26 Februarie 2010 het sowat 160 000 Getuies van Jehovah deur die hele Rusland begin met die verspreiding van 12 miljoen eksemplare van ’n spesiale traktaat met die titel Kan dit weer gebeur? ’n Vraag aan die burgers van Rusland. In die Siberiese stad Oesolje-Sibirskoje het honderde Getuies byvoorbeeld om 5:30 in die oggend op straat bymekaargekom. Onder hulle was party wat in 1951 weens hulle geloof na Siberië verban is. Hulle het ’n temperatuur van -40 grade Celsius getrotseer om hulle 20 000 traktate te versprei.

Nikolai Jasinski (73) het ywerig aan die kampanje deelgeneem. Hy het gevra: “Is dit werklik so dat hulle ons weer gaan vervolg en ons reg om Jehovah te aanbid, gaan wegneem?”

Om die driedaagse kampanje aan te kondig, het Jehovah se Getuies ’n perskonferensie in Moskou, die hoofstad van Rusland, gehou. Een van dié wat genooi is om te praat, was mnr. Lef Lewinson, ’n deskundige van die Menseregte-instituut. Hy het ’n kort oorsig gegee van die sinlose teistering en vervolging wat Jehovah se Getuies in Nazi-Duitsland en die Sowjetunie ervaar het en het gepraat van die latere amptelike vryspreking van die Getuies. Hy het ook gesê: “Alle godsdienste wat gedurende die Sowjettydperk vervolg is, moes kragtens president Jeltsin se verordening gerehabiliteer word. En alles wat hulle verloor het, moes aan hulle teruggegee word. Jehovah se Getuies het onder die Sowjetunie  nie juis eiendom gehad nie, maar hulle goeie naam is aan hulle teruggegee.”

Daardie goeie naam word weer bedreig. “In dieselfde land wat sy spyt uitgespreek het”, het mnr. Lewinson gesê, “word hierdie mense onderwerp aan absoluut ongeregverdigde vervolging.”

Die kampanje lok ’n reaksie uit

Het die traktaatkampanje sy doel bereik? Mnr. Lewinson het gesê: “Op pad na die [pers]konferensie het ek mense in die moltrein gesien wat ’n pamfletjie sit en lees wat Jehovah se Getuies vandag deur die hele Rusland versprei. . . . Mense sit en lees dit, en hulle lees dit met aandag.” * Let byvoorbeeld op die volgende ondervindinge.

’n Bejaarde vrou in ’n oorwegend Moslemstreek van Sentraal-Rusland het ’n traktaat geneem en gevra waaroor dit handel. Toe daar vir haar gesê is dat dit menseregte en vryhede in Rusland bespreek, het sy uitgeroep: “Uiteindelik vestig iemand die aandag op hierdie kwessies! In hierdie opsig is Rusland besig om terug te keer na die dae van die Sowjetunie. Baie dankie. Wel gedaan!”

’n Vrou in Tsjeljabinsk vir wie ’n traktaat aangebied is, het gesê: “Ek het reeds ’n eksemplaar van hierdie traktaat gekry en het dit gelees. Ek staan vierkantig agter julle. Ek weet van geen ander godsdiens wat hulle geloof op so ’n georganiseerde manier sou verdedig nie. Ek hou van die manier waarop julle mense aantrek, en julle is altyd taktvol. Dit is duidelik dat julle vas oortuig is van wat julle glo. Dit lyk vir my asof God met julle is.”

In St. Petersburg is ’n man wat gesê het dat hy reeds die traktaat ontvang het, gevra of hy gehou het van wat  hy gelees het. “Ja”, het hy geantwoord. “Terwyl ek dit gelees het, het ek hoendervleis gekry, en ek het selfs gehuil. My ouma is [gedurende die Sowjettydperk] onderdruk en sy het my baie vertel van dié wat saam met haar opgesluit was. Daar was baie wat misdadigers was, maar daar was ook dié wat onskuldig was maar weens hulle geloof opgesluit is. Ek dink dat almal moet weet van wat gebeur het; julle doen dus die regte ding.”

Wat hou die toekoms vir Rusland in?

Stepan Lewitski (85) en sy vrou, Jelena. Hy was tien jaar in die tronk omdat hy ’n enkele eksemplaar van die Wagtoring gehad het

Jehovah se Getuies waardeer die mate van vryheid wat hulle die afgelope twee dekades in Rusland geniet het. Nogtans weet hulle maar alte goed hoe maklik vryheid weggeneem kan word. Die tyd sal leer of die onlangse golf van laster teen hulle aandui dat Rusland weer in ’n donker tyd van onderdrukking terugval.

Jehovah se Getuies is egter vasbeslote om aan te hou met hulle werk om die Bybel se boodskap van vrede en hoop te verkondig, kom wat wil. Die spesiale traktaat som hulle voorneme soos volg op: “Onderdrukking sal nooit suksesvol wees nie. Ons sal nie ophou om taktvol en respekvol oor Jehovah God en sy Woord, die Bybel, te praat nie (1 Petrus 3:15). Ons het nie opgehou toe ons aan die gruwels van Nazi-Duitsland onderwerp is nie, ons het nie opgehou in die donkerste dae van ons land se onderdrukking nie, en ons sal nou nie ophou nie.—Handelinge 4:18-20.”

^ par. 13 Gemeentes van Jehovah se Getuies in Moskou het die traktaat ’n paar uur voor die perskonferensie begin versprei.