Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Idees vir gesinsaanbidding en persoonlike studie

Idees vir gesinsaanbidding en persoonlike studie

Idees vir gesinsaanbidding en persoonlike studie

AAN die begin van 2009 het gemeentes van Jehovah se Getuies regoor die wêreld hulle vergaderingrooster aangepas. Twee vergaderinge is gekombineer, en almal is aangespoor om die beskikbare aand vir gesinsaanbidding of persoonlike studie te gebruik. Maak jy gebruik van hierdie nuwe reëling? Vind jy ten volle daarby baat?

Party het al gewonder watter inligting hulle gedurende hulle gesinsaanbidding moet bespreek. Die Bestuursliggaam wil nie een formaat vir alle gesinne voorskryf nie. Aangesien omstandighede verskil, is dit gepas dat elke gesinshoof of individu self bepaal hoe hierdie weeklikse geleentheid ten beste benut kan word.

Party berei vir gemeentelike vergaderinge voor, maar gesinsaanbidding hoef nie hiertoe beperk te word nie. Ander het skriftuurlike inligting gelees, bespreek of selfs opgevoer, veral ter wille van jonger kinders. Dit is nie altyd nodig of selfs wenslik om, soos by formele vergaderinge, ’n vraag-en-antwoord-metode te gebruik nie. ’n Ontspanne atmosfeer dra dikwels in groter mate by tot ’n interessante bespreking en gedagtewisseling. So ’n atmosfeer bevorder kreatiewe denke, wat die geleentheid spesiaal en genotvol vir almal kan maak.

’n Vader van drie skryf: “Ons doen meestal dinge wat op die Bybelleesgedeelte gebaseer is. Ons lees elkeen die hoofstukke vooraf, waarna die kinders iets kies waaroor hulle navorsing wil doen, en dan vertel hulle ons wat hulle uitgevind het. Michael [sewe jaar oud] teken dikwels ’n prentjie of skryf ’n paragraaf. David en Kaitlyn [13 en 15 jaar oud] skryf soms iets oor ’n Bybelverslag uit die oogpunt van ’n waarnemer. Toe ons byvoorbeeld oor Josef se uitlegging van die drome van Farao se bakker en skinker gelees het, het Kaitlyn ’n opstel geskryf uit die oogpunt van ’n gevangene wat die toneel sien afspeel.”—Gen., hfst. 40.

Situasies verskil natuurlik. Wat vir een persoon of gesin werk, werk dalk nie vir ander nie. Die bygaande venster bied etlike idees wat gedurende julle gesinsaanbidding of jou persoonlike studie gebruik kan word. Jy kan waarskynlik aan nog baie ander dink.

[Venster/Prent op bladsye 6, 7]

Vir gesinne met tieners:

• Lees en bespreek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk.

• Bespreek hoe dit sou gewees het om in Bybeltye te lewe. (Sien Die Wagtoring van 15 Mei 1996, bladsy 14, paragrawe 17-18.)

• Praat oor lang- en korttermyndoelwitte.

• Kyk soms na ’n Bybelvideo en bespreek dit.

• Bespreek die rubriek “Vir jongmense” in Die Wagtoring.

Vir egpare sonder kinders:

• Bespreek hoofstukke 1, 3, 11-16 van die boek Die geheim van gesinsgeluk.

• Bespreek inligting wat julle tydens julle navorsing oor die Bybelleesgedeelte gevind het.

• Berei vir die Gemeentelike Bybelstudie of die Wagtoring-studie voor.

• Bespreek maniere waarop julle julle bediening as ’n egpaar kan uitbrei.

Vir ongetroude broers en susters of diegene in godsdienstig verdeelde huise:

• Bestudeer nuwe publikasies wat by streekbyeenkomste ontvang is.

• Lees die huidige en vorige Jaarboeke.

• Doen navorsing oor vrae wat algemeen is in julle plaaslike gebied.

• Berei aanbiedings vir die veldbediening voor.

Vir gesinne met jong kinders:

• Voer Bybeltonele op.

• Speel geheuespeletjies, soos dié op bladsye 30 en 31 van die Ontwaak!

• Doen af en toe iets verbeeldingryks. (Sien “Ons bestudeer die Bybel in die dieretuin!” in die Ontwaak! van 8 Maart 1996, bladsye 16-19.)

• Bespreek die rubriek “Leer jou kinders” in Die Wagtoring.