Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hulle het die Messias gevind!

Hulle het die Messias gevind!

Hulle het die Messias gevind!

“Ons het die Messias gevind.”—JOH. 1:41.

1. Wat het aanleiding gegee tot die stelling: “Ons het die Messias gevind”?

 JOHANNES DIE DOPER staan by twee van sy dissipels. Terwyl Jesus aangestap kom, roep Johannes uit: “Kyk, die Lam van God!” Andreas en die ander dissipel volg Jesus dadelik en bring die dag saam met hom deur. Later vind Andreas sy broer, Simon Petrus, en neem hom na Jesus nadat hy die dramatiese aankondiging gemaak het: “Ons het die Messias gevind.”—Joh. 1:35-41.

2. Hoe sal ons baat vind by ’n verdere ondersoek van Messiaanse profesieë?

2 Met verloop van tyd sal Andreas, Petrus en ander baie geleenthede hê om in die Skrif te delf en sal hulle sonder huiwering verklaar dat Jesus van Nasaret die beloofde Messias is. Ons geloof in God se Woord en sy Gesalfde sal versterk word terwyl ons nou ons ondersoek van Messiaanse profesieë voortsit.

“Kyk! Jou koning kom”

3. Watter profesieë is deur Jesus se triomfantlike intog in Jerusalem vervul?

3 Die Messias sou ’n triomfantlike intog in Jerusalem maak. Sagaria se profesie het gesê: “Wees baie bly, o dogter van Sion. Roep triomfantlik uit, o dogter van Jerusalem. Kyk! Jou koning kom na jou toe. Hy is regverdig, ja, gered; nederig, en hy ry op ’n esel, ja, op ’n volgroeide dier, die hingsvul van ’n eselin” (Sag. 9:9). Die psalmis het geskryf: “Geseënd is Hy wat in die naam van Jehovah kom” (Ps. 118:26). Jesus kon nie die optrede van die skare gemanipuleer het nie. Maar ter vervulling van hierdie profesieë het die skare spontaan en uitbundig van vreugde uitgeroep. Visualiseer die toneel en hoor die opgewonde stemme terwyl jy die verslag lees.—Lees Matteus 21:4-9.

4. Verduidelik wat ter vervulling van Psalm 118:22, 23 gebeur het.

4 Hoewel baie Jesus sou verwerp ten spyte van die bewyse dat hy die Messias is, is hy kosbaar vir God. Soos voorspel is, het dié wat geweier het om die getuienis te glo, Jesus ‘verag en van geen belang geag nie’ (Jes. 53:3; Mark. 9:12). Maar God het die psalmis geïnspireer om te sê: “Die steen wat die bouers verwerp het, het die hoof van die hoek geword. Jehovah het dit teweeggebring” (Ps. 118:22, 23). Jesus het hierdie Skrifgedeelte onder die aandag van sy godsdiensteenstanders gebring, en Petrus het gesê dat dit in Christus vervul is (Mark. 12:10, 11; Hand. 4:8-11). Jesus het inderdaad die “fondamenthoeksteen” van die Christengemeente geword. Al is hy deur goddelose mense verwerp, is hy “uitverkore, kosbaar, . . . by God”.—1 Pet. 2:4-6.

Verraai en verlaat!

5, 6. Wat is voorspel en vervul in verband met die manier waarop die Messias verraai is?

5 Daar is voorspel dat die Messias deur ’n trouelose metgesel verraai sou word. Dawid het geprofeteer: “Die man wat in vrede met my gelewe het, op wie ek vertrou het, wat my brood geëet het, het sy hakskeen teen my groot gemaak” (Ps. 41:9). Iemand wat saam met iemand anders brood geëet het, is as ’n vriend beskou (Gen. 31:54). Toe Judas Iskariot Jesus verraai het, was dit dus verraad van die ergste graad. Jesus het die aandag op die vervulling van Dawid se profetiese woorde gevestig toe Hy na sy verraaier verwys het en vir sy apostels gesê het: “Ek praat nie van julle almal nie; ek ken dié wat ek uitgekies het. Maar dit is sodat die Skrifgedeelte vervul kan word: ‘Hy wat hom met my brood gevoed het, het sy hakskeen teen my opgelig.’”—Joh. 13:18.

6 Die Messias se verraaier sou 30 silwerstukke ontvang—die prys van ’n slaaf! Matteus het na Sagaria 11:12, 13 verwys en getoon dat Jesus vir hierdie karige bedrag verraai is. Maar waarom het Matteus gesê dat dit “deur middel van die profeet Jeremia” voorspel is? In Matteus se dag is Jeremia moontlik eerste geplaas in ’n groep Bybelboeke wat Sagaria ingesluit het. (Vergelyk Lukas 24:44.) Judas het nooit die bloedgeld wat hy ontvang het, uitgegee nie, want hy het dit in die tempel gegooi, weggegaan en selfmoord gepleeg.—Matt. 26:14-16; 27:3-10.

7. Hoe is Sagaria 13:7 vervul?

7 Selfs die Messias se dissipels sou hom verlaat. “Slaan die herder,” het Sagaria geskryf, “en laat die skape van die kudde verstrooi word” (Sag. 13:7). Op 14 Nisan 33 HJ het Jesus vir sy dissipels gesê: “Julle almal sal vannag in verband met my struikel, want daar staan geskrywe: ‘Ek sal die herder slaan, en die skape van die kudde sal verstrooi word.’” En dit is presies wat gebeur het, want Matteus het geskryf: “Toe het al die dissipels [Jesus] verlaat en gevlug.”—Matt. 26:31, 56.

Beskuldig en geslaan

8. Onder watter omstandighede is Jesaja 53:8 vervul?

8 Die Messias sou verhoor en veroordeel word. (Lees Jesaja 53:8.) Met dagbreek op 14 Nisan het die hele Sanhedrin vergader, Jesus laat vasbind en hom aan die Romeinse goewerneur Pontius Pilatus oorhandig. Hy het Jesus ondervra en hom aan hoegenaamd niks skuldig bevind nie. Maar toe Pilatus aangebied het om Jesus vry te laat, het die skare geskree: “Hang hom aan die paal!” en daarop aangedring dat die misdadiger Barabbas vrygelaat word. Omdat Pilatus die skare tevrede wou stel, het hy Barabbas vrygelaat, Jesus laat gesel en hom oorgelewer om aan die paal gehang te word.—Mark. 15:1-15.

9. Wat het in Jesus se tyd plaasgevind, soos in Psalm 35:11 voorspel is?

9 Valse getuies sou teen die Messias getuig. “Gewelddadige getuies staan op”, het die psalmis Dawid gesê. “Wat ek nie geweet het nie, vra hulle my” (Ps. 35:11). Soos voorspel is, “het die hoofpriesters en die hele Sanhedrin valse getuienis teen Jesus gesoek om hom dood te maak” (Matt. 26:59). Trouens, “baie het wel valse getuienis teen hom gegee, maar hulle getuienis het nie ooreengestem nie” (Mark. 14:56). Die feit dat die getuienis vals was, het nie juis saak gemaak vir Jesus se verwoede vyande, wat hom dood wou hê nie.

10. Verduidelik hoe Jesaja 53:7 vervul is.

10 Die Messias sou voor sy beskuldigers swyg. Jesaja het geprofeteer: “Hy was onder groot druk, en hy het hom laat teister; tog het hy nie sy mond oopgemaak nie. Hy is net soos ’n skaap na die slagplek gelei; en soos ’n ooi wat voor haar skeerders stom geword het, het hy ook nie sy mond oopgemaak nie” (Jes. 53:7). Terwyl Jesus “deur die hoofpriesters en ouer manne beskuldig is, het hy geen antwoord gegee nie”. Pilatus het gevra: “Hoor jy nie hoeveel dinge hulle teen jou getuig nie?” Nietemin het Jesus “hom nie geantwoord nie, nee, nie ’n woord nie, sodat die goewerneur baie verwonderd was” (Matt. 27:12-14). Jesus het sy beskuldigers nie uitgeskel nie.—Rom. 12:17-21; 1 Pet. 2:23.

11. Wat het ter vervulling van Jesaja 50:6 en Miga 5:1 plaasgevind?

11 Jesaja het geprofeteer dat die Messias geslaan sou word. “Ek het my rug gegee vir dié wat slaan, en my wange vir dié wat die hare uitpluk”, het die profeet geskryf. “My gesig het ek nie vir vernederende dinge en spoeg verberg nie” (Jes. 50:6). Miga het voorspel: “Met die stok sal hulle die regter van Israel op die wang slaan” (Miga 5:1). Die Evangelieskrywer Markus het bevestig dat hierdie profesieë vervul is deur te sê: “Party het begin om op [Jesus] te spoeg en sy hele gesig te bedek en hom met hulle vuiste te slaan en vir hom te sê: ‘Profeteer!’ En die geregsdienaars het hom in die gesig geklap en hom weggeneem.” Markus sê dat soldate “hom met ’n riet op die kop geslaan en op hom gespoeg en aan hom hulde bewys [het] deur [spottend] op hulle knieë te gaan” (Mark. 14:65; 15:19). Jesus het natuurlik niks gedoen om hierdie mishandeling uit te lok nie.

Getrou tot die dood toe

12. Hoe is Psalm 22:16 en Jesaja 53:12 op Jesus van toepassing?

12 Aspekte van die Messias se teregstelling is voorspel. “Die vergadering van kwaaddoeners het my omsluit”, het die psalmis Dawid gesê. “Soos ’n leeu is hulle aan my hande en my voete” (Ps. 22:16). Die Evangelieskrywer Markus sê van ’n gebeurtenis wat Bybellesers goed ken: “Dit was toe die derde uur [omtrent nege-uur die oggend], en hulle het hom aan die paal gehang” (Mark. 15:25). Daar is ook voorspel dat die Messias onder sondaars gereken sou word. “Hy [het] sy siel in die dood uitgestort”, het Jesaja geskryf, en hy is “saam met die oortreders getel” (Jes. 53:12). En so het dit gekom dat ‘twee rowers saam met [Jesus] aan pale gehang is, een aan sy regter- en een aan sy linkerkant’.—Matt. 27:38.

13. Hoe is Psalm 22:7, 8 in Jesus vervul?

13 Dawid het voorspel dat die Messias bespot sou word. (Lees Psalm 22:7, 8.) Jesus is bespot terwyl hy aan die folterpaal gely het, want Matteus sê: “Die verbygangers het hom begin smaad, hulle kop geskud en gesê: ‘O jy wat glo die tempel sou afbreek en in drie dae sou opbou, red jouself! As jy ’n seun van God is, kom van die folterpaal af!’ Net so het ook die hoofpriesters saam met die skrifgeleerdes en ouer manne met hom die spot begin dryf en gesê: ‘Ander het hy gered; homself kan hy nie red nie! Hy is Koning van Israel; laat hom nou van die folterpaal afkom en ons sal in hom glo. Hy het sy vertroue in God gestel; laat Hy hom nou red as Hy hom wil hê, want hy het gesê: ‘Ek is God se Seun’” (Matt. 27:39-43). Tog het Jesus dit alles met waardigheid verduur. Wat ’n uitstekende voorbeeld vir ons!

14, 15. Verduidelik hoe spesifieke profesieë vervul is aangaande die Messias se klere en die feit dat hy asyn gegee is.

14 Die lot sou vir die Messias se klere gewerp word. “Hulle verdeel my kledingstukke onder mekaar,” het die psalmis geskryf, “en oor my klere werp hulle die lot” (Ps. 22:18). Dit is wat gebeur het, want “toe [die Romeinse soldate] hom aan die paal gehang het, het hulle [Jesus se] boklere verdeel deur die lot te werp”.—Matt. 27:35; lees Johannes 19:23, 24.

15 Die Messias sou asyn en gal gegee word. “As voedsel het hulle vir my ’n gifplant gegee,” het die psalmis gesê, “en vir my dors wou hulle my asyn laat drink” (Ps. 69:21). Matteus sê vir ons: “Hulle [het Jesus] wyn gemeng met gal gegee om te drink; maar nadat hy dit geproe het, het hy geweier om te drink.” Later “het een van hulle gehardloop en ’n spons geneem en dit met suur wyn deurweek en dit op ’n riet gesit en dit vir hom gegee om te drink”.—Matt. 27:34, 48.

16. Verduidelik hoe die profetiese woorde van Psalm 22:1 vervul is.

16 Die Messias sou skynbaar deur God verlaat wees. (Lees Psalm 22:1.) In ooreenstemming met die profesie het Jesus “op die negende uur [omtrent drie-uur die middag] . . . met ’n harde stem uitgeroep: ‘Eli, Eli, lama sabagtani?’ wat, wanneer dit vertaal word, beteken: ‘My God, my God, waarom het u my verlaat?’” (Mark. 15:34). Jesus het nie vertroue in sy hemelse Vader verloor nie. God het Jesus aan sy vyande oorgelaat deur Sy beskerming te verwyder sodat Christus se onkreukbaarheid ten volle op die proef gestel kon word. En deur die woorde hierbo uit te roep, het Jesus Psalm 22:1 vervul.

17. Hoe is Sagaria 12:10 en Psalm 34:20 vervul?

17 Die Messias sou deurboor word, maar sy bene sou nie gebreek word nie. Inwoners van Jerusalem sou “die Een aanskou wat hulle deurboor het” (Sag. 12:10). En Psalm 34:20 sê: “[God] bewaar al sy bene; nie een daarvan is gebreek nie.” Ter bevestiging hiervan het die apostel Johannes geskryf: “Een van die soldate [het Jesus se] sy met ’n spies gesteek, en onmiddellik het bloed en water uitgekom. En hy wat dit gesien het [Johannes], het getuig, en sy getuienis is waar . . . Hierdie dinge het plaasgevind sodat die Skrifgedeelte vervul sou word: ‘Geen been van hom sal verbrysel word nie.’ En ’n ander Skrifgedeelte sê weer: ‘Hulle sal die Een aanskou wat hulle deurboor het.’”—Joh. 19:33-37.

18. Hoe het dit gebeur dat Jesus by die rykes begrawe is?

18 Die Messias sou by die rykes begrawe word. (Lees Jesaja 53:5, 8, 9.) Laat in die middag van 14 Nisan het “’n ryk man van Arimatea . . . met die naam Josef” Pilatus vir Jesus se liggaam gevra, en die versoek is toegestaan. Matteus se verslag sê verder: “Josef het die liggaam geneem, dit in skoon fyn linne toegedraai en dit in sy nuwe gedenkgraf neergelê, wat hy in die rots uitgekap het. En nadat hy ’n groot klip voor die deur van die gedenkgraf gerol het, het hy weggegaan.”—Matt. 27:57-60.

Verwelkom die Messiaanse Koning!

19. Wat het in ooreenstemming met die profetiese woorde van Psalm 16:10 gebeur?

19 Die Messias sou opgewek word. Dawid het geskryf: “U [Jehovah] sal my siel nie in Sjeool laat nie” (Ps. 16:10). Stel jou voor hoe verbaas die vroue was wat na die graf toe gekom het waar Jesus se liggaam neergelê is. Daar het hulle ’n gematerialiseerde engel teëgekom, wat vir hulle gesê het: “Hou op om so verstom te wees. Julle soek Jesus die Nasarener, wat aan die paal gehang is. Hy is opgewek, hy is nie hier nie. Kyk! Die plek waar hulle hom neergelê het” (Mark. 16:6). Die apostel Petrus het vir die skare wat op Pinksterdag 33 HJ in Jerusalem was, gesê: “[Dawid het] die opstanding van die Christus vooraf gesien en daaroor gepraat, dat hy nie in Hades verlaat is en sy vlees ook nie verderwing gesien het nie” (Hand. 2:29-31). God het nie toegelaat dat die fisiese liggaam van sy geliefde Seun ontbind nie. Wat meer is, Jesus is wonderdadig tot lewe as ’n gees opgewek!—1 Pet. 3:18.

20. Wat is aangaande die heerskappy van die Messias voorspel?

20 Soos voorspel is, het God verklaar dat Jesus sy Seun is. (Lees Psalm 2:7; Matteus 3:17.) Skares het ook Jesus en die komende Koninkryk verwelkom, en ons praat vreugdevol oor hom en sy geseënde heerskappy (Mark. 11:7-10). Christus sal sy vyande binnekort vernietig wanneer hy ‘ter wille van waarheid en nederigheid en regverdigheid ry’ (Ps. 2:8, 9; 45:1-6). Sy koningskap sal dan aardwye vrede en voorspoed teweegbring (Ps. 72:1, 3, 12, 16; Jes. 9:6, 7). Wat ’n voorreg is dit tog vir ons om hierdie waarhede te verkondig as Getuies van Jehovah, wie se geliefde Seun reeds in die hemel as die Messiaanse Koning regeer!

Hoe sal jy antwoord?

• Hoe is Jesus verraai en verlaat?

• Wat was van die voorspelde aspekte van Jesus Christus se teregstelling?

• Waarom is jy oortuig dat Jesus die beloofde Messias is?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 13]

Watter profesieë is deur Jesus se triomfantlike intog in Jerusalem vervul?

[Prente op bladsy 15]

Jesus het vir ons sondes gesterf, maar hy regeer nou as Messiaanse Koning