Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah—“Die God wat vrede gee”

Jehovah—“Die God wat vrede gee”

Jehovah—“Die God wat vrede gee”

“Mag die God wat vrede gee, met julle almal wees.”—ROM. 15:33.

1, 2. Watter gespanne situasie word in Genesis hoofstukke 32 en 33 beskryf, en hoe het dit afgeloop?

 DIE plek is naby Pnuel, naby die Jabbokstroomvallei oos van die Jordaanrivier. Esau het gehoor dat sy tweelingbroer, Jakob, terugkeer huis toe. Al het 20 jaar verbygegaan sedert Esau sy eersgeboortereg aan sy broer verkoop het, vrees Jakob dat sy broer nog steeds ’n moorddadige wrok teen hom koester. Esau trek saam met 400 man na sy vervreemde broer op. Jakob verwag ’n vyandige ontvangs en stuur aan Esau die een geskenk na die ander, uiteindelik meer as 550 mak diere. Met elke groep diere vertel Jakob se knegte vir Esau dat dit ’n geskenk van sy broer is.

2 Uiteindelik breek die oomblik aan! Terwyl Jakob moedig na Esau toe loop, buig hy neer—nie een keer nie, maar sewe keer. Jakob het reeds die belangrikste stap moontlik gedoen om sy broer se hart te versag. Hy het tot Jehovah gebid om uit Esau se hand verlos te word. Verhoor Jehovah hierdie gebed? Ja. “Esau het hom tegemoetgehardloop,” sê die Bybel, “en hy het hom begin omhels en hom om die hals geval en hom gesoen.”—Gen. 32:11-20; 33:1-4.

3. Wat leer ons uit die verslag van Jakob en Esau?

3 Die verslag van Jakob en Esau toon dat ons ernstige en praktiese pogings moet aanwend om sake op te los wanneer probleme ontstaan wat die vrede bedreig wat ons in die Christengemeente geniet. Jakob het met Esau probeer vrede maak, maar nie omdat hy teen sy broer oortree het en hom ’n verskoning verskuldig was nie. Nee, Esau het sy geboortereg verag en dit aan Jakob verkoop vir ’n bord kos (Gen. 25:31-34; Heb. 12:16). Maar die manier waarop Jakob Esau benader het, lig toe hoe ver ons bereid moet wees om te gaan om die vrede met ons Christenbroers te bewaar. Dit toon ook dat die ware God ons biddende pogings om vrede te maak, seën. Die Bybel bevat talle ander voorbeelde wat toon dat ons vredemakers moet wees.

’n Voortreflike voorbeeld waaruit ons kan leer

4. Wat is God se voorsiening om die mensdom van sonde en die dood te red?

4 Die uitsonderlikste voorbeeld van ’n vredemaker is Jehovah—“die God wat vrede gee” (Rom. 15:33). Dink aan hoe ver Jehovah gegaan het om ons die geleentheid te gee om ’n vreedsame verhouding met hom te hê. As sondige nakomelinge van Adam en Eva verdien ons “die loon wat die sonde betaal” (Rom. 6:23). Nogtans het Jehovah, uit sy groot liefde, reëlings getref vir ons redding deur sy geliefde Seun uit die hemel te stuur om as ’n volmaakte mens gebore te word. En die Seun het dit gewillig gedoen. Hy het toegelaat dat God se vyande hom doodmaak (Joh. 10:17, 18). Die ware God het sy geliefde Seun opgewek, wat daarna aan die Vader die waarde van sy vergote bloed gebied het, wat ’n losprys sou wees waardeur berouvolle sondaars van ewige dood gered kon word.—Lees Hebreërs 9:14, 24.

5, 6. Hoe raak Jesus se vergote bloed die versteurde verhouding tussen God en die sondige mensdom?

5 Hoe raak die voorsiening van die losprys van God se Seun die versteurde verhouding tussen God en die sondige mensdom? “Die tugtiging wat vir ons vrede bedoel was, was op hom,” sê Jesaja 53:5, “en weens sy wonde was daar vir ons genesing.” Pleks dat ons as God se vyande beskou word, kan gehoorsame mense nou ’n vreedsame verhouding met hom geniet. “Deur middel van [Jesus] het ons die bevryding deur ’n losprys deur die bloed van daardie een, ja, die vergifnis van ons oortredings.”—Ef. 1:7.

6 Die Bybel sê: “God het dit goedgevind om die hele volheid in [Christus] te laat woon.” Dit is omdat Christus die sleutelfiguur in die vervulling van God se voorneme is. En wat is Jehovah se voorneme? Dit is om “alle ander dinge weer met homself te versoen deur vrede te maak deur die [vergote] bloed” van Jesus Christus. “Alle ander dinge” wat God hierdeur in ’n vreedsame verhouding met hom bring, is “die dinge in die hemele” en “die dinge op die aarde”. Wat is dit?—Lees Kolossense 1:19, 20.

7. Wat is “die dinge in die hemele” en “die dinge op die aarde” wat in ’n vreedsame verhouding met God gebring sal word?

7 Die voorsiening van die losprys maak dit moontlik vir gesalfde Christene, wat “regverdig verklaar” is as kinders van God, om “vrede [te] geniet met God”. (Lees Romeine 5:1.) Daar word na hulle verwys as “die dinge in die hemele” omdat hulle ’n hemelse hoop het en “as konings oor die aarde [gaan] heers” en as priesters vir God gaan dien (Op. 5:10). Aan die ander kant verwys “die dinge op die aarde” na berouvolle mense, wat uiteindelik die ewige lewe op aarde sal verkry.—Ps. 37:29.

8. Watter uitwerking het dit op jou as jy nadink oor hoe ver Jehovah gegaan het om die mensdom in staat te stel om vrede met hom te geniet?

8 Paulus het uit opregte dankbaarheid vir Jehovah se voorsiening aan die gesalfde Christene in Efese geskryf: “God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons . . . saam met die Christus lewend gemaak, selfs toe ons dood was in oortredings—julle is deur onverdiende goedhartigheid gered” (Ef. 2:4, 5). Hetsy ons ’n hemelse of aardse hoop het, ons is baie aan God verskuldig vir sy barmhartigheid en onverdiende goedhartigheid. Ons harte loop oor van dankbaarheid wanneer ons dink hoe ver Jehovah gegaan het om dit vir die mensdom moontlik te maak om vrede met hom te geniet. Sal ons nie beweeg word om vredemakers te wees as ons, wanneer ons voor situasies te staan kom wat die vreedsame eenheid van die gemeente bedreig, met waardering oor God se voorbeeld peins nie?

Leer uit die weë van Abraham en Isak

9, 10. Hoe het Abraham in sy handelinge met Lot getoon dat hy ’n vredemaker is toe spanning onder hulle veewagters ontstaan het?

9 Die Bybel sê van die aartsvader Abraham: “‘Abraham het geloof in Jehovah gestel, en dit is hom as regverdigheid toegereken’, en hy is ‘Jehovah se vriend’ genoem” (Jak. 2:23). Abraham se geloof kon aan sy vredeliewende weë gesien word. Byvoorbeeld, toe Abraham se vee vermeerder het, het spanning ontstaan tussen sy veewagters en dié van sy broerskind Lot (Gen. 12:5; 13:7). Die voor die hand liggende oplossing was vir Abraham en Lot om uitmekaar te gaan. Hoe sou Abraham hierdie netelige situasie hanteer? Pleks dat hy op grond van sy ouderdom en status by God vir sy broerskind gesê het wat hy moet doen, het Abraham getoon dat hy ’n ware vredemaker is.

10 “Laat daar asseblief nie verder rusie tussen my en jou en tussen my veewagters en jou veewagters wees nie,” het Abraham vir sy broerskind gesê, “want ons is broers.” Die aartsvader het voortgegaan: “Is die hele land nie tot jou beskikking nie? Skei jou asseblief van my af. As jy links gaan, dan sal ek regs gaan; maar as jy regs gaan, dan sal ek links gaan.” Lot het die vrugbaarste deel van die land gekies, maar Abraham het dit nie teen hom gehou nie (Gen. 13:8-11). Toe Lot later deur invallende leërs gevang is, het Abraham nie gehuiwer om sy broerskind te red nie.—Gen. 14:14-16.

11. Hoe het Abraham vrede met sy Filistynse bure nagestreef?

11 Dink ook aan hoe Abraham vrede nagestreef het met sy Filistynse bure in die land Kanaän. Die Filistyne het ’n waterput wat Abraham se knegte by Berseba gegrawe het, “met geweld weggeneem”. Watter reaksie sou dit uitlok by ’n man wat sy broerskind gered het deur die vier konings te verslaan wat hom gevang het? Abraham het nie teruggeveg en sy put teruggeneem nie, maar het verkies om stil te bly oor die saak. Later het die Filistynse koning Abraham besoek om ’n vredesverbond met hom te sluit. Eers nadat hy Abraham so ver gekry het om te sweer dat hy die Filistynse koning se nakomelinge goed sal behandel, het Abraham die saak van sy gesteelde put opgehaal. Die koning was geskok om daarvan te hoor en het die put vir Abraham teruggegee. Wat Abraham betref, hy het voortgegaan om vreedsaam as ’n inwonende vreemdeling in die land te woon.—Gen. 21:22-31, 34.

12, 13. (a) Hoe het Isak die voorbeeld van sy vader gevolg? (b) Hoe het Jehovah Isak se vredeliewende weë geseën?

12 Abraham se seun Isak het die vredeliewende weë van sy vader gevolg. Dit kan gesien word uit die manier waarop Isak teenoor die Filistyne opgetree het. As gevolg van ’n hongersnood in die land het Isak met sy huishouding noord getrek, vanaf Beër-Lahai-Roï in die Negebwoestyn na die vrugbaarder gebied van die Filistyne by Gerar. Daar het Jehovah Isak met buitengewone groot oeste geseën en sy vee laat toeneem. Die Filistyne het op hom jaloers geraak. Omdat die Filistyne nie wou hê dat Isak so voorspoedig soos sy vader moes wees nie, het hulle die putte wat Abraham se knegte in die streek gegrawe het, toegestop. Op die ou end het die Filistynse koning vir Isak gesê om ‘uit hulle omgewing weg te trek’. Die vreedsame man Isak het dit gedoen.—Gen. 24:62; 26:1, 12-17.

13 Nadat Isak sy kamp verder weg geneem het, het sy herders nog ’n put gegrawe. Filistynse herders het beweer dat dit hulle water is. Soos sy vader, Abraham, het Isak nie oor ’n put baklei nie. Isak het sy knegte eerder weer ’n put laat grawe. Die Filistyne het ook hierdie een opgeëis. Om die vrede te bewaar, het Isak weer eens sy groot kamp na ’n ander plek geneem. Daar het sy knegte ’n put gegrawe wat Isak Rehobot genoem het. Mettertyd het hy na die vrugbaarder omgewing van Berseba getrek, waar Jehovah hom geseën het en gesê het: “Moenie bang wees nie, want ek is met jou, en ek sal jou seën en jou saad vermeerder ter wille van my kneg Abraham.”—Gen. 26:17-25.

14. Hoe het Isak getoon dat hy ’n vredemaker is toe die Filistynse koning ’n vredesverbond met hom probeer sluit het?

14 Isak kon sekerlik aangedring het op sy reg om al die putte te gebruik wat sy knegte gegrawe het. Die Filistynse koning en sy amptenare het hom immers in Berseba kom besoek en ’n vredesverbond met hom probeer sluit en gesê: “Ons het duidelik gesien dat Jehovah met jou is.” Maar Isak het ter wille van vrede reeds meer as een keer gekies om te trek eerder as om te veg. Ook hierdie keer het Isak bewys dat hy ’n vredemaker is. Die geskiedenisverslag sê: “Hy [het] vir [sy besoekers] ’n feesmaal klaargemaak, en hulle het geëet en gedrink. Die volgende oggend het hulle vroeg opgestaan, en hulle het beëdigde verklarings teenoor mekaar afgelê. Daarna het Isak hulle [in vrede] weggestuur.”—Gen. 26:26-31.

Leer by die seun vir wie Jakob die liefste was

15. Waarom kon Josef se broers nie op vreedsame wyse met hom praat nie?

15 Toe Isak se seun Jakob grootgeword het, was hy “’n onberispelike man” (Gen. 25:27). Soos aan die begin bespreek is, het Jakob met sy broer, Esau, probeer vrede maak. Jakob het ongetwyfeld baat gevind by die vredeliewende voorbeeld van sy vader, Isak. Wat kan van Jakob se seuns gesê word? Van sy 12 seuns was Josef die een vir wie Jakob die liefste was. Josef was ’n gehoorsame, respekvolle seun wat diep besorg was oor sy vader se belange (Gen. 37:2, 14). Maar Josef se ouer broers het so jaloers op hom geraak dat hulle nie op vreedsame wyse met hom kon praat nie. Hulle het Josef wreed behandel deur hom as ’n slaaf te verkoop en het hulle vader bedrieg deur hom te laat glo dat ’n wilde dier Josef doodgemaak het.—Gen. 37:4, 28, 31-33.

16, 17. Hoe het Josef getoon dat hy vredeliewend teenoor sy broers was?

16 Jehovah was met Josef. Ná verloop van tyd het Josef Egipte se eerste minister geword—die hoogste posisie naas Farao. Toe ’n swaar hongersnood Josef se broers na Egipte laat kom het, het hulle hom in sy Egiptiese ampsgewaad nie eers herken nie (Gen. 42:5-7). Hoe maklik sou dit tog vir Josef gewees het om sy broers terug te betaal vir hulle wreedheid teenoor hom en hulle vader! Maar in plaas van te probeer wraak neem, het Josef met hulle probeer vrede maak. Toe dit duidelik word dat sy broers berouvol is, het hy hom aan hulle bekend gemaak en gesê: “Moet nou nie bedroef voel nie en moenie vir julleself kwaad wees omdat julle my hierheen verkoop het nie; want vir die bewaring van lewe het God my voor julle uit gestuur.” Toe het hy al sy broers gesoen en gehuil.—Gen. 45:1, 5, 15.

17 Ná die dood van hulle vader, Jakob, het Josef se broers gedink dat hy dalk op hulle sou wraak neem. Terwyl hulle Josef van hulle vrese vertel het, het hy “in trane uitgebars” en gesê: “Moet dan nou nie bang wees nie. Ek sal aanhou om julle en julle kindertjies van voedsel te voorsien.” Die vredeliewende Josef het “hulle vertroos en gerusstellend met hulle gepraat”.—Gen. 50:15-21.

‘Geskryf tot ons onderrigting’

18, 19. (a) Hoe het jy baat gevind deur te let op die voorbeelde van vredemakers wat in hierdie artikel bespreek is? (b) Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

18 “Alles wat tevore geskryf is, is tot ons onderrigting geskryf,” het Paulus gesê, “sodat ons deur ons volharding en deur die vertroosting van die Skrif hoop kan hê” (Rom. 15:4). Hoe het ons baat gevind by hierdie bespreking van die voortreflike voorbeeld wat Jehovah gestel het sowel as die skriftuurlike verslae van Abraham, Isak, Jakob en Josef?

19 Sal ons nie beweeg word om alles in ons vermoë te doen om vrede met ander na te streef as ons met waardering nadink oor wat Jehovah gedoen het om die versteurde verhouding tussen hom en die sondige mensdom te herstel nie? Die voorbeelde van Abraham, Isak, Jakob en Josef toon dat ouers ’n goeie invloed op hulle kinders kan hê. Wat meer is, hierdie verslae toon ook dat Jehovah die pogings seën van dié wat probeer vrede maak. Geen wonder dat Paulus na Jehovah verwys as “die God wat vrede gee” nie! (Lees Romeine 15:33; 16:20.) Die volgende artikel sal bespreek waarom Paulus beklemtoon het dat dit vir ons nodig is om vrede na te streef asook hoe ons vredemakers kan wees.

Wat het jy geleer?

• Hoe het Jakob vrede met Esau nagestreef toe hy op pad was om hom te ontmoet?

• Hoe is jy geraak deur wat Jehovah gedoen het om die mensdom in staat te stel om vrede met hom te geniet?

• Wat het jy geleer uit die voorbeelde van die vredemakers Abraham, Isak, Jakob en Josef?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 23]

Wat was die belangrikste stap wat Jakob gedoen het om met Esau vrede te maak?