Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Belasting—Moet jy dit betaal?

Belasting—Moet jy dit betaal?

Belasting—Moet jy dit betaal?

MIN mense hou daarvan om belasting te betaal. Baie voel dat hulle belastinggeld verkwis word as gevolg van onbevoegdheid, wanbesteding of selfs bedrog. Maar party weier om sedelike redes om belasting te betaal. Die inwoners van ’n dorp in die Midde-Ooste het soos volg verduidelik waarom hulle nie belasting betaal nie: “Ons sal nie vir die koeëls betaal wat ons kinders doodmaak nie.”

Sulke opinies is nie ongewoon of nuut nie. Die oorlede Hindoeleier Mohandas K. Gandhi het sy gewetensbeswaar soos volg uitgedruk: “Hy of sy wat ’n staat wat op ’n militêre wyse georganiseer is, ondersteun—hetsy op ’n direkte of indirekte manier—is ’n deelgenoot aan die sonde. Elkeen, hetsy oud of jonk, wat belasting betaal en sodoende tot die onderhouding van die staat bydra, is aandadig aan die sonde.”

Die 19de-eeuse filosoof Henry David Thoreau het sedelike redes aangevoer om te verduidelik waarom hy weier om belasting te betaal wat gebruik word om oorlog te finansier. Hy het gevra: “Moet die burger selfs vir ’n oomblik of in die minste mate sy gewete onvoorwaardelik aan die wetgewer onderwerp? Waarom het elkeen dan ’n gewete?”

Hierdie saak is vir Christene van belang, want die Bybel leer duidelik dat hulle in alle sake ’n skoon gewete moet behou (2 Timoteus 1:3). Aan die ander kant erken die Bybel ook dat regerings die gesag het om belasting in te vorder. Dit sê: “Laat elke siel onderdanig wees aan die hoër owerhede [menseregerings], want daar is geen gesag behalwe deur God nie; die bestaande owerhede is deur God in hulle relatiewe posisies geplaas. Daar is dus dwingende rede vir julle om onderdanig te wees, nie net weens die gramskap nie, maar ook weens julle gewete. Want daarom betaal julle ook belastings; want hulle is God se openbare dienaars wat voortdurend juis met dié doel dien. Gee aan almal wat hulle toekom: aan hom wat die belasting verlang, die belasting.”—Romeine 13:1, 5-7.

Om hierdie rede was eerste-eeuse Christene bekend daarvoor dat hulle getrou belasting betaal het, al is ’n groot deel daarvan vir militêre doeleindes gebruik. Dieselfde kan gesê word van Jehovah se Getuies in hedendaagse tye. a Hoe kan hierdie skynbare teenstrydigheid verklaar word? Moet ’n Christen sy gewete onderdruk wanneer dit by die betaling van belasting kom?

Belasting en jou gewete

Dit is betekenisvol dat ’n deel van die belasting wat eerste-eeuse Christene aangesê is om te betaal, vir militêre doeleindes gebruik is. Dit is die einste gewetenskwessie wat Gandhi en Thoreau later beweeg het om nie belasting te betaal nie.

Let op dat Christene die opdrag in Romeine hoofstuk 13 nie net gehoorsaam het omdat hulle straf wou vermy nie, maar ook “weens [hulle] gewete” (Romeine 13:5). Ja, ’n Christen se gewete vereis in werklikheid dat hy belasting betaal, al word dit gebruik om aktiwiteite te finansier wat hy persoonlik afkeur. Om hierdie skynbare teenstrydigheid te verstaan, moet ons bewus wees van ’n belangrike feit in verband met ons gewete, die innerlike stem wat vir ons sê of ons dade reg of verkeerd is.

Elkeen het so ’n innerlike stem, soos Thoreau opgemerk het, maar dit is nie noodwendig betroubaar nie. As ons God wil behaag, moet ons gewete deur sy sedelike standaarde gerig word. Ons moet dikwels ons denke of beskouing aanpas sodat dit met God s’n ooreenstem, want sy gedagtes is hoër as ons s’n (Psalm 19:7). Ons moet God se beskouing van menseregerings dus probeer verstaan. Wat is sy beskouing?

Ons sien dat die apostel Paulus menseregerings “God se openbare dienaars” genoem het (Romeine 13:6). Wat beteken dit? Dit beteken basies dat hulle orde handhaaf en waardevolle dienste vir die gemeenskap lewer. Selfs die korrupste regerings voorsien gewoonlik ’n posafleweringsdiens, openbare opvoeding, ’n brandweerdiens, ’n polisiediens, ensovoorts. Hoewel God ten volle bewus is van die tekortkominge van hierdie mensgemaakte owerhede, duld hy hulle bestaan ’n ruk lank en beveel hy ons om belasting te betaal uit respek vir sy reëling, naamlik, dat hy hierdie regerings toelaat om oor die mensdom te regeer.

Maar God sal menseregerings slegs tydelik toelaat om te regeer. Dit is sy wil om hulle almal met sy hemelse Koninkryk te vervang en uiteindelik al die skade ongedaan te maak wat deur die eeue heen deur menseheerskappy aan die mensdom aangerig is (Daniël 2:44; Matteus 6:10). Maar intussen het God Christene nie die reg gegee om aan die regering ongehoorsaam te wees deur te weier om belasting te betaal of deur enigiets soortgelyks te doen nie.

Sê nou jy voel nogtans, soos Gandhi, dat dit ’n sonde is om belasting te betaal wat gebruik word om oorlog te finansier? Net soos ons ’n beter uitsig oor ’n gebied kry as ons na ’n hoër plek klim, is dit makliker om ons denke by God s’n aan te pas as ons nadink oor hoeveel hoër sy beskouing is as ons s’n. God het deur middel van die profeet Jesaja gesê: “Soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.”—Jesaja 55:8, 9.

Absolute gesag?

Wat die Bybel oor die betaling van belasting leer, beteken nie dat menseregerings op absolute gesag oor hulle burgers kan aanspraak maak nie. Jesus het geleer dat God slegs beperkte gesag aan hierdie regerings gee. Toe Jesus gevra is of dit reg is in God se oë om aan die destydse Romeinse regering belasting te betaal, het Jesus hierdie betekenisvolle antwoord gegee: “Betaal aan die keiser terug wat aan die keiser behoort, maar aan God wat aan God behoort.”—Markus 12:13-17.

Regerings—wat deur die “keiser” verteenwoordig word—munt of druk geld en help om die waarde daarvan vas te stel. Uit God se oogpunt het hulle dus die reg om te vra dat dit in die vorm van belasting terugbetaal word. Nogtans het Jesus getoon dat die dinge “wat aan God behoort”—ons lewe en aanbidding—nie deur enige menslike instelling geëis kan word nie. Wanneer wette of vereistes van mense bots met God se wette, moet Christene “eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense”.—Handelinge 5:29.

Christene van vandag vind dit dalk ontstellend om te sien hoe van hulle belasting bestee word, maar hulle probeer nie die aktiwiteite van die regering ondermyn of beïnvloed deur dit teë te staan of te weier om belasting te betaal nie. Dit sou ’n gebrek aan vertroue in God se oplossing vir die mensdom se probleme verraai. Hulle wag eerder geduldig op God se bestemde tyd om in menseaangeleenthede in te gryp deur middel van die heerskappy van sy Seun, Jesus, wat gesê het: “My koninkryk is geen deel van hierdie wêreld nie.”—Johannes 18:36.

Hoe gehoorsaamheid aan Bybelleringe ons bevoordeel

Dit hou etlike voordele in om gehoorsaam te wees aan wat die Bybel oor die betaling van belasting leer. Jy sal die straf vermy wat wetsoortreders opgelê word en nie bang wees dat jy gevang sal word nie (Romeine 13:3-5). Selfs belangriker, jy sal ’n skoon gewete voor God behou en hom deur jou gehoorsaamheid aan die wet eer. Al ly jy dalk ’n finansiële verlies in vergelyking met diegene wat nie belasting betaal nie of selfs oneerlik is wanneer dit kom by belastingbetaling, kan jy vertroue stel in God se belofte om vir sy lojale knegte te sorg. Die Bybelskrywer Dawid het dit so gestel: “Ek was eens ’n jong man, ook het ek oud geword, en tog het ek geen regverdige heeltemal verlate gesien of dat sy nageslag brood soek nie.”—Psalm 37:25.

Laastens, as ’n mens die Bybel se opdrag om belasting te betaal, verstaan en gehoorsaam, sal jy gemoedsrus hê. God hou jou nie aanspreeklik vir alle regeringsaktiwiteite wat deur jou belastinggeld gefinansier word nie, net soos die wet jou nie aanspreeklik hou vir wat ’n verhuurder doen met die huurgeld wat jy hom betaal nie. Voordat hy Bybelwaarheid geleer het, het ’n man genaamd Stelvio jare lank politieke verandering in Suid-Europa probeer teweegbring. Hy het verduidelik waarom hy sy pogings laat vaar het: “Ek moes erken dat die mens nie in staat is om geregtigheid, vrede en broederskap in die wêreld tot stand te bring nie. Slegs God se Koninkryk kan werklik ’n nuwe en beter gemeenskap voortbring.”

Jy kan ook, soos Stelvio, hiervan seker wees as jy getrou “aan God [betaal] wat aan God behoort”. Jy sal die tyd sien wanneer God regverdige heerskappy oor die hele aarde tot stand sal bring en die skade en onregte van menseheerskappy ongedaan sal maak.

[Voetnoot]

a Vir inligting oor Jehovah se Getuies se reputasie as belastingbetalers, sien Die Wagtoring van 1 November 2002, bladsy 12, paragraaf 15, en 1 Mei 1996, bladsy 16, paragraaf 7.

[Lokteks op bladsy 22]

Ons moet ons beskouing by God s’n aanpas, want sy gedagtes is hoër as ons s’n

[Lokteks op bladsy 23]

Deur gehoorsaam belasting te betaal, behou Christene ’n goeie gewete voor God en toon hulle dat hulle op hom vertrou om in hulle behoeftes te voorsien

[Prente op bladsy 22]

“Betaal aan die keiser terug wat aan die keiser behoort, maar aan God wat aan God behoort”

[Erkenning]

Copyright British Museum