Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah is my deel

Jehovah is my deel

Jehovah is my deel

“Ek is jou deel en jou erfdeel onder die kinders van Israel.”—NUM. 18:20.

1, 2. (a) Wat was die situasie van die Leviete ten opsigte van grond as erfdeel? (b) Watter versekering het Jehovah die Leviete gegee?

 NADAT die Israeliete ’n groot deel van die Beloofde Land verower het, het Josua die land deur die lot begin verdeel. In hierdie taak het hy saam met die hoëpriester Eleasar en die stamhoofde gewerk (Num. 34:13-29). Die Leviete sou egter nie soos die ander stamme grond as erfdeel ontvang nie (Jos. 14:1-5). Waarom het die Leviete geen stamgebied, of deel, in die Beloofde Land gehad nie? Is hulle uitgesluit?

2 Ons vind die antwoord in wat Jehovah vir die Leviete gesê het. Jehovah het die feit dat hy hulle nie verlaat het nie, beklemtoon deur vir hulle te sê: “Ek is jou deel en jou erfdeel onder die kinders van Israel” (Num. 18:20). Wat ’n treffende versekering: “Ek is jou deel”! Hoe sou jy voel as Jehovah dit vir jou sê? Jou eerste reaksie is dalk: ‘Verdien ek so ’n versekering van die Almagtige?’ Jy wonder dalk ook: ‘Kan Jehovah vandag werklik die deel wees van enige onvolmaakte Christen?’ Hierdie vrae raak jou en jou geliefdes. Kom ons stel dus vas wat hierdie woorde van God beteken. Dit sal ons help om te verstaan hoe Jehovah vandag die deel kan wees van Christene. Om meer spesifiek te wees, hy kan jou deel wees, hetsy jy daarna uitsien om in die hemel of in ’n paradys op aarde te lewe.

Jehovah sorg vir die Leviete

3. Wat het daartoe gelei dat God die Leviete vir sy diens geneem het?

3 Voordat Jehovah die Wet aan die Israeliete gegee het, het gesinshoofde as priesters onder hulle gedien. Toe God die Wet voorsien het, het hy gereël vir ’n voltydse priesterdom en assistente uit die stam Levi. Hoe het dit gebeur? Toe God Egipte se eersgeborenes vernietig het, het hy Israel se eersgeborenes geheilig en hulle as sy eiendom uitgesonder. Toe het God hierdie betekenisvolle aanpassing gemaak: “Ek neem die Leviete . . . in die plek van al die eersgeborenes . . . onder die kinders van Israel.” Aangesien ’n sensus getoon het dat daar meer eersgebore seuns van Israel was as Leviete, is ’n losprys betaal om die tekort aan te vul (Num. 3:11-13, 41, 46, 47). Daarna kon die Leviete hulle rol in die diens van die God van Israel vervul.

4, 5. (a) Wat het dit vir die Leviete beteken om God as hulle deel te hê? (b) Hoe het God vir die Leviete gesorg?

4 Wat het hierdie toewysing vir die Leviete beteken? Jehovah het gesê dat hy hulle deel sou wees in die sin dat hulle nie grond as erfdeel sou ontvang nie, maar dat ’n kosbare diensvoorreg aan hulle toevertrou is. “Die priesterskap van Jehovah” was hulle erfdeel (Jos. 18:7). Die konteks van Numeri 18:20 toon dat dit hulle nie materieel behoeftig sou laat nie. (Lees Numeri 18:19, 21, 24.) Die Leviete is “al die tiendes in Israel as ’n erfdeel gegee as beloning vir hulle diens”. Hulle sou 10 persent van Israel se oes sowel as van die vermeerdering in mak diere ontvang. Die Leviete moes op hulle beurt ’n tiende van wat hulle ontvang het, “van die allerbeste daarvan”, gee ter ondersteuning van die priesterdom (Num. 18:25-29). a Die priesters is ook “al die heilige bydraes” gegee wat die kinders van Israel vir God na sy plek van aanbidding gebring het. Lede van die priesterdom het dus goeie rede gehad om te glo dat Jehovah vir hulle sou sorg.

5 Dit wil voorkom asof die Mosaïese Wet voorsiening gemaak het vir ’n tweede tiende, wat opsygesit is sodat die huisgesin dit gedurende die jaarlikse heilige byeenkomste kon gebruik en geniet (Deut. 14:22-27). Maar aan die einde van elke derde en sesde jaar van die sewejarige sabbatsiklus is hierdie tiende by die poort neergesit vir die armes sowel as die Leviete. Waarom is die Leviete in hierdie reëling ingesluit? Omdat hulle “geen deel of erfdeel” in Israel gehad het nie.—Deut. 14:28, 29.

6. Waar het die Leviete gewoon, aangesien hulle as ’n stam nie grond in Israel gehad het nie?

6 Jy wonder dalk: ‘Waar het die Leviete gewoon, aangesien hulle nie grond ontvang het nie?’ God het vir hulle gesorg. Hy het vir hulle 48 stede en die omliggende weivelde gegee. Dit het die ses vrystede ingesluit (Num. 35:6-8). Die Leviete het dus ’n woonplek gehad wanneer hulle nie by die heiligdom van God gedien het nie. Jehovah het mildelik voorsien in die behoeftes van dié wat hulle aan sy diens gegee het. Ja, die Leviete kon toon dat Jehovah hulle deel is deur hulle vertroue te stel in sy gewilligheid en vermoë om vir hulle te sorg.

7. Wat is van die Leviete vereis om Jehovah as hulle deel te hê?

7 Die Wet het geen straf voorgeskryf vir ’n Israeliet wat nie die tiende gegee het nie. Wanneer die volk nalatig geraak het wat tiendes betref, het dit die priesters en Leviete geraak. Dit het in Nehemia se dag gebeur. Gevolglik moes die Leviete op hulle landerye werk en het hulle hulle bediening afgeskeep. (Lees Nehemia 13:10.) Dit is duidelik dat die onderhoud van die stam Levi afgehang het van die nasie se geestelikheid. Daarbenewens moes die priesters en Leviete self geloof stel in Jehovah en in die manier waarop hy vir hulle sou sorg.

Individue het Jehovah as hulle deel gehad

8. Beskryf die probleem waarvoor die Leviet Asaf te staan gekom het.

8 Die Leviete as ’n stam sou Jehovah as hulle deel hê. Dit is egter opmerkenswaardig dat individuele Leviete die frase “Jehovah is my deel” gebruik het om hulle toegewydheid aan en vertroue op God uit te spreek (Klaagl. 3:24). Een van hierdie Leviete was ’n sanger en komponis. Ons sal na hom verwys as Asaf, hoewel hy moontlik ’n lid was van die huis van Asaf, die Leviet wat in die dae van koning Dawid die sangers gelei het (1 Kron. 6:31-43). In Psalm 73 lees ons dat Asaf (of een van sy nakomelinge) nie kon verstaan waarom party goddeloses ’n voorspoedige lewe lei nie en dat hy op hulle jaloers geraak het. Hy het selfs gesê: “Waarlik, tevergeefs het ek my hart gereinig en was ek my hande in onskuld.” Hy het blykbaar uit die oog verloor dat sy diens ’n voorreg is; hy het vergeet dat Jehovah sy deel is. Hy was geestelik verontrus “totdat [hy] in die grootse heiligdom van God ingegaan het”.—Ps. 73:2, 3, 12, 13, 17.

9, 10. Waarom kon Asaf na God verwys as sy “deel tot onbepaalde tyd”?

9 By die heiligdom het Asaf dinge uit God se oogpunt begin beskou. Miskien het jy al ’n soortgelyke ondervinding gehad. Dalk het jy op ’n stadium jou geestelike voorregte in ’n mate uit die oog verloor en begin fokus op wat jy in ’n materiële sin kortkom. Maar deur God se Woord te bestudeer en na Christelike vergaderinge te gaan, het jy dinge uit Jehovah se oogpunt begin beskou. Asaf het besef wat uiteindelik met die goddeloses sou gebeur. Hy het oor sy lot nagedink en gesien dat Jehovah hom sy regterhand sou neem en hom sou lei. Asaf kon dus vir Jehovah sê: “Buiten u het ek geen ander behae op die aarde nie” (Ps. 73:23, 25). Toe het hy na God as sy deel verwys. (Lees Psalm 73:26.) Al sou die psalmis se ‘liggaam en hart ingee’, sou God ‘tot onbepaalde tyd sy deel wees’. Die psalmis was oortuig dat Jehovah hom as ’n vriend sal onthou. Sy getroue diens sou nie vergeet word nie (Pred. 7:1). Hoe gerusstellend moes dit tog vir Asaf gewees het! Hy het gesing: “Dit is vir my goed om nader aan God te kom. In die Soewereine Heer Jehovah het ek my toevlug gestel.”—Ps. 73:28.

10 Die feit dat Jehovah sy deel was, het vir Asaf meer beteken as die materiële onderhoud wat hy as ’n Leviet ontvang het. Hy het hoofsaaklik verwys na sy diensvoorreg en sy verhouding met Jehovah, die vriendskap wat hy met die Allerhoogste aangekweek het (Jak. 2:21-23). Om hierdie verhouding te handhaaf, moes die psalmis sy geloof in Jehovah behou en op hom vertrou. Asaf moes vertrou dat sy lewe op die ou end lonend sou wees as hy volgens God se standaard lewe. Jy kan dieselfde vertroue in die Almagtige hê.

11. Watter vraag het Jeremia gevra, en hoe is dit beantwoord?

11 Die profeet Jeremia was nog ’n Leviet wat Jehovah as sy deel erken het. Kom ons bespreek wat hy bedoel het toe hy daardie uitdrukking gebruik het. Jeremia het in Anatot, ’n Levitiese stad naby Jerusalem, gewoon (Jer. 1:1). Op een stadium het Jeremia gewonder: Waarom is die goddeloses voorspoedig terwyl die regverdiges ly? (Jer. 12:1). Nadat hy gesien het wat in Jerusalem en Juda gebeur, het hy gevoel dat hy moes ‘kla’ oor wat hy gesien het. Jeremia het geweet dat Jehovah regverdig is. Die woorde wat Jehovah Jeremia daarna geïnspireer om te uiter en die manier waarop Hy daardie profetiese woorde vervul het, het ’n grondige antwoord op die profeet se vraag voorsien. In ooreenstemming met goddelike profesieë het dié wat op Jehovah se leiding ag gegee het, ‘hulle siel as buit ontvang’, terwyl die voorspoedige goddeloses die waarskuwing geïgnoreer en omgekom het.—Jer. 21:9.

12, 13. (a) Wat het Jeremia beweeg om te sê: “Jehovah is my deel”, en watter gesindheid het hy gehad? (b) Waarom moes al die stamme van Israel ’n wagtende houding aankweek?

12 Toe Jeremia later oor sy verwoeste vaderland uitgekyk het, het hy gevoel asof hy in duisternis wandel. Dit was asof Jehovah hom “laat sit [het] soos mense wat lankal dood is” (Klaagl. 1:1, 16; 3:6). Jeremia het vir die weerspannige nasie gesê om na hulle hemelse Vader terug te keer, maar hulle slegtheid het die punt bereik waar God moes toelaat dat Jerusalem en Juda vernietig word. Dit het vir Jeremia pyn veroorsaak, al was dit nie sy skuld nie. Die profeet het God se barmhartighede te midde van sy beproewinge onthou. “Ons [het] nie aan ons einde gekom . . . nie”, het hy gesê. Ja, Jehovah betoon elke dag opnuut barmhartigheid! Jeremia het toe gesê: “Jehovah is my deel.” Hy het voortgegaan om die voorreg te geniet om Jehovah as ’n profeet te dien.—Lees Klaagliedere 3:22-24.

13 Die Israeliete sou 70 jaar lank nie ’n vaderland hê nie. Dit sou woes lê (Jer. 25:11). Maar Jeremia se woorde “Jehovah is my deel” het sy vertroue in God se barmhartigheid geopenbaar, wat hom rede gegee het om “’n wagtende houding” te toon. Omdat al die stamme van Israel hulle erfdeel verloor het, moes hulle dieselfde gesindheid as die profeet aankweek. Jehovah was hulle enigste hoop. Ná 70 jaar is God se volk in hulle vaderland herstel en het hulle die voorreg gehad om hom daar te dien.—2 Kron. 36:20-23.

Ander kon Jehovah as hulle deel hê

14, 15. Wie benewens die Leviete het Jehovah sy deel laat word, en waarom?

14 Asaf sowel as Jeremia was van die stam Levi, maar kon slegs die Leviete die voorreg hê om Jehovah te dien? Beslis nie! Jong Dawid, die toekomstige koning van Israel, het God sy “deel in die land van die lewendes” genoem. (Lees Psalm 142:1, 5.) Toe Dawid hierdie psalm gekomponeer het, was hy nie in ’n paleis of selfs in ’n huis nie. Hy was in ’n grot, waar hy vir sy vyande weggekruip het. By ten minste twee geleenthede het Dawid in grotte skuiling gesoek—een naby Adullam en die ander in die wildernis van En-Gedi. Hy het Psalm 142 heel moontlik in een van hierdie grotte gekomponeer.

15 As dit die geval was, was koning Saul die een wat Dawid bly soek het om hom dood te maak. Dawid het na ’n grot gevlug wat moeilik toeganklik was (1 Sam. 22:1, 4). In hierdie afgeleë gebied het dit dalk vir Dawid gelyk asof daar geen vriend aan sy sy was om beskermende ondersteuning te bied nie (Ps. 142:4). Dit was toe dat Dawid tot God geroep het.

16, 17. (a) Om watter redes het Dawid dalk hulpeloos gevoel? (b) Tot wie kon Dawid hom om hulp wend?

16 Teen die tyd dat Dawid Psalm 142 gekomponeer het, het hy moontlik gehoor wat met die hoëpriester Ahimeleg gebeur het, wat onwetend hulp aan hom verleen het toe hy vir Saul gevlug het. Die jaloerse koning Saul het Ahimeleg en sy huisgesin laat doodmaak (1 Sam. 22:11, 18, 19). Dawid het verantwoordelik gevoel vir hulle dood. Dit was asof hy die priester doodgemaak het wat hom gehelp het. Sou jy verantwoordelik gevoel het as jy in Dawid se posisie was? Wat Dawid onder selfs groter druk laat verkeer het, was die feit dat hy nie kon rus nie omdat Saul hom bly agtervolg het.

17 Kort daarna het die profeet Samuel gesterf, wat Dawid gesalf het om die toekomstige koning te wees (1 Sam. 25:1). Dit kon Dawid nog hulpeloser laat voel het. Tog het Dawid geweet tot wie hy hom om hulp kon wend—tot Jehovah. Dawid het nie dieselfde diensvoorreg as die Leviete geniet nie, maar hy was reeds gesalf om ’n ander soort diens te verrig, om uiteindelik koning oor God se volk te wees (1 Sam. 16:1, 13). Dawid het derhalwe sy hart voor Jehovah uitgestort en hom tot God bly wend vir leiding. Ook jy kan en moet Hom as jou deel en jou toevlug hê terwyl jy jou ywerig in sy diens inspan.

18. Hoe het die persone wat ons in hierdie artikel bespreek het, getoon dat hulle Jehovah as hulle deel het?

18 Die persone wat ons bespreek het, het Jehovah as hulle deel gehad in die sin dat hulle ’n werkstoewysing in sy diens ontvang het. Hulle het op God vertrou om hulle te onderhou terwyl hulle hom dien. Die Leviete sowel as persone uit ander stamme in Israel, soos Dawid, kon God hulle deel laat wees. Hoe kan jy Jehovah ook jou deel laat wees? Ons sal dit in ons volgende artikel bespreek.

[Voetnoot]

a Vir besonderhede oor hoe die priesterdom onderhou is, sien Insight on the Scriptures, Deel 2, bladsy 684.

Hoe sal jy antwoord?

• In watter sin was Jehovah die deel van die Leviete?

• Wat het Asaf, Jeremia en Dawid gedoen, wat getoon het dat Jehovah hulle deel is?

• Watter eienskap het jy nodig om God as jou deel te hê?

[Studievrae]

[Lokteks op bladsy 8]

Die Leviete het nie grond as erfdeel ontvang nie. Jehovah was eerder hulle deel, want hulle het die groot voorreg gehad om hom te dien

[Prent op bladsy 7]

Hoe was Jehovah die deel van die priesters en die Leviete?

[Prent op bladsy 9]

Wat het Asaf gehelp om Jehovah voortdurend as sy deel te hê?