Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Hardloop só dat julle dit kan verkry”

“Hardloop só dat julle dit kan verkry”

“Hardloop só dat julle dit kan verkry”

“Hardloop só dat julle dit kan verkry.”—1 KOR. 9:24.

1, 2. (a) Deur middel waarvan het Paulus die Hebreeuse Christene aangemoedig? (b) Wat word God se knegte vermaan om te doen?

 IN SY brief aan die Hebreërs het die apostel Paulus sy mede-Christene deur middel van kragtige beeldspraak aangemoedig. Hy het hulle daaraan herinner dat hulle nie alleen is in die wedloop om die lewe nie. Rondom hulle was ’n “groot wolk van getuies” wat die wedloop met sukses voltooi het. As die Hebreeuse Christene die getroue dade en ywerige inspanning van daardie voorlopers goed in gedagte gehou het, sou dit hulle aanspoor om deur te druk en nie moed op te gee in die wedloop nie.

2 In die vorige artikel het ons die lewe van party in die “wolk van getuies” bespreek. Almal het getoon dat onwrikbare geloof hulle in staat gestel het om aan God lojaal te bly, asof hulle enduit volhard in ’n wedloop. Ons kan uit hulle sukses leer. Soos in daardie artikel genoem is, het Paulus hierdie vermaning aan sy medeknegte, wat ons insluit, gegee: “Laat ons ook elke gewig aflê en die sonde wat ons maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat voor ons gestel is, met volharding hardloop.”—Heb. 12:1.

3. Wat was Paulus se raad met verwysing na hardlopers in die Griekse spele?

3 Van wedlope, een van die gewilde sportsoorte van daardie tyd, sê die boek Backgrounds of Early Christianity dat “die Grieke naak geoefen en meegeding het”. a Die naellopers het dus ontslae geraak van alle ekstra gewig of laste wat hulle kon vertraag. Terwyl ons beswaar sou maak teen hulle gebrek aan beskeidenheid en fatsoenlikheid, was die rede waarom hulle so gehardloop het uitsluitlik om die prys te wen. Paulus se punt was dat dit vir hardlopers noodsaaklik is om alle hindernisse uit die weg te ruim as hulle die prys wil wen in die wedloop om die lewe. Dit was destyds goeie raad vir Christene en is vandag ook vir ons goeie raad. Watter gewigte of laste kan verhinder dat ons die prys verkry in die wedloop om die lewe?

“Laat ons elke gewig aflê”

4. Waarmee het die mense in Noag se dag hulle besig gehou?

4 Paulus se raad was om ‘elke gewig af te lê’. Dit sluit enigiets in wat ons daarvan kan weerhou om ons volle aandag en beste pogings te gee aan die wedloop wat ons hardloop. Wat kan hierdie gewigte wees? As ons kyk na Noag—een van die voorbeelde wat Paulus noem—onthou ons wat Jesus gesê het: “Net soos dit in die dae van Noag gebeur het, so sal dit ook in die dae van die Seun van die mens wees” (Luk. 17:26). Jesus het nie soseer gepraat van die ongekende vernietiging wat kom nie; hy het verwys na die mense se lewenswyse. (Lees Matteus 24:37-39.) Die meeste mense in Noag se dag het geen belangstelling in God getoon nie, wat nog te sê hom probeer behaag. Wat het hulle aandag afgelei? Niks buitengewoons nie. Eet, drink en trou—normale dinge van die lewe. Die werklike probleem was dat hulle, soos Jesus gesê het, “geen ag daarop geslaan” het nie.

5. Wat kan ons help om die wedloop suksesvol te voltooi?

5 Soos Noag en sy gesin, het ons baie om elke dag te doen. Ons moet ’n bestaan maak en vir ons en ons gesin sorg. Dit kan ’n groot deel van ons tyd, energie en middele in beslag neem. Veral in ekonomies moeilike tye is dit maklik om angstig te raak oor lewensbenodigdhede. As toegewyde Christene het ons ook belangrike teokratiese verantwoordelikhede. Ons neem aan die bediening deel, berei vir Christelike vergaderinge voor en woon dit by en bly geestelik sterk deur persoonlike studie en gesinsaanbidding. Ten spyte van alles wat Noag in sy diens aan God moes doen, het hy “net so gedoen” (Gen. 6:22). As ons die Christelike wedloop enduit wil hardloop, is dit beslis noodsaaklik om die gewig wat ons moet dra, tot die minimum te beperk, sowel as om dit te vermy om enige onnodige las op ons te neem.

6, 7. Watter raad van Jesus moet ons in gedagte hou?

6 Wat het Paulus bedoel toe hy gesê het dat ons “elke gewig” moet aflê? Ons kan natuurlik nie heeltemal ontslae raak van elke verantwoordelikheid wat ons het nie. Dink in hierdie verband aan Jesus se woorde: “Moet julle . . . nooit kwel en sê: ‘Wat gaan ons eet?’ of: ‘Wat gaan ons drink?’ of: ‘Wat gaan ons aantrek?’ nie. Want al hierdie dinge jaag die nasies gretig na. Want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het” (Matt. 6:31, 32). Jesus se woorde gee te kenne dat selfs sogenaamd normale dinge soos kos en klere ’n las of ’n struikelblok kan word as dit nie op die regte plek gehou word nie.

7 Let op Jesus se woorde: “Julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het.” Dit gee te kenne dat ons hemelse Vader, Jehovah, sy deel sal bydra om na ons behoeftes om te sien. “Al hierdie dinge” is heel moontlik anders as die dinge waarvan ons persoonlik hou of wat ons wil hê. Maar daar word vir ons gesê om ons nie te kwel oor ‘die dinge wat die nasies gretig najaag’ nie. Waarom nie? Jesus het sy toehoorders later vermaan: “Let op julleself dat julle harte nooit beswaar word met oormatige etery en strawwe drinkery en sorge van die lewe, en dié dag skielik, in ’n oomblik, oor julle kom soos ’n strik nie.”—Luk. 21:34, 35.

8. Waarom is dit veral nou die tyd om ‘elke gewig af te lê’?

8 Die eindstreep lê net voor ons. Hoe jammer sal dit tog wees as ons toelaat dat ons beswaar word deur onnodige gewigte wat ons kan teëhou wanneer ons so naby die einde is! Die apostel Paulus se raad is dus werklik verstandig: “Dit is . . . ’n middel tot groot gewin, hierdie godvrugtige toegewydheid tesame met vergenoegdheid” (1 Tim. 6:6). As ons Paulus se woorde ter harte neem, het ons ’n baie beter kans om die prys te verkry.

“Die sonde wat ons maklik verstrik”

9, 10. (a) Waarna verwys die uitdrukking “die sonde wat ons maklik verstrik”? (b) Hoe kan ons verstrik raak?

9 Paulus het gesê dat ons, buiten “elke gewig”, ook “die sonde wat ons maklik verstrik”, moet aflê. Wat kan dit wees? Die Griekse woord wat met “maklik verstrik” vertaal word, kom net een keer in die Bybel voor, in hierdie vers. Die geleerde Albert Barnes het opgemerk: “Net soos ’n hardloper versigtig sou wees om dinge nie vir hom te bemoeilik deur ’n kleed te dra wat om sy bene sal vou wanneer hy hardloop en hom sal hinder nie, so moet dit wees met die Christen, wat in die besonder al hierdie soort dinge moet aflê.” Hoe kan ’n Christen verstrik raak, met die gevolg dat sy geloof verswak word?

10 ’n Christen verloor sy geloof nie oornag nie. Dit kan geleidelik, selfs ongemerk, plaasvind. Vroeër in sy brief het Paulus gewaarsku teen die gevaar daarvan om ‘weg te dryf’ en om “’n goddelose hart met ’n gebrek aan geloof [te] ontwikkel” (Heb. 2:1; 3:12). Wanneer ’n hardloper se bene in sy kleed verstrik raak, is dit amper seker dat hy sal val. Die risiko om verstrik te raak, is besonder groot as die hardloper nie ag slaan op die gevaar om sekere klere te dra wanneer hy hardloop nie. Wat kan daartoe lei dat hy die gevaar ignoreer? Moontlik onverskilligheid of selfversekerdheid of die een of ander afleiding. Wat kan ons uit Paulus se raad leer?

11. Wat kan daartoe lei dat ons ons geloof verloor?

11 Ons moet in gedagte hou dat verlies van geloof die eindresultaat is van wat ons dalk oor ’n tydperk gedoen het. In verband met “die sonde wat ons maklik verstrik”, merk ’n ander geleerde op dat dit “die sonde [is] wat die grootste mag oor ons het, as gevolg van die omstandighede waarin ons ons bevind, ons samestelling, ons geselskap”. Die gedagte is dat ons omgewing, ons persoonlike swakhede en ons vriende almal ’n kragtige invloed op ons kan hê. Dit kan daartoe lei dat ons geloof verswak of dat ons dit selfs verloor.—Matt. 13:3-9.

12. Watter herinneringe moet ons ter harte neem sodat ons nie ons geloof verloor nie?

12 Deur die jare heen het die “getroue en verstandige slaaf”-klas ons daaraan herinner om versigtig te wees oor die dinge waarna ons kyk en luister, dit wil sê die dinge waarop ons ons hart en verstand rig. Ons is gewaarsku teen die gevaar om verstrik te raak in die najaging van geld en besittings. Ons aandag kan afgelei word deur die glans en aanloklikheid van die vermaaklikheidswêreld of deur die eindelose verskeidenheid van nuwighede. Dit sou ’n ernstige fout wees as ons dink dat sulke raad oormatig beperkend is of dat dit net op ander van toepassing is, terwyl ons persoonlik om die een of ander rede immuun is teen die gevare. Die strikke wat Satan se wêreld in ons pad lê, is subtiel en bedrieglik. Onverskilligheid, selfversekerdheid en afleidings het die ondergang van party beteken, en sulke dinge kan ’n nadelige uitwerking hê op ons hoop om die lewe as prys te ontvang.—1 Joh. 2:15-17.

13. Hoe kan ons ons teen skadelike invloede beskerm?

13 Dag in en dag uit word ons aan mense blootgestel wat die doelwitte, waardes en denke van die wêreld om ons bevorder. (Lees Efesiërs 2:1, 2.) Nietemin, die mate waarin ons aangetas word, hang grootliks van ons af, van die manier waarop ons op hierdie invloede reageer. “Die lug” waarvan Paulus gepraat het, is dodelik. Ons moet voortdurend op ons hoede wees sodat ons nie verstik, of versmoor, en gevolglik nie die wedloop voltooi nie. Watter hulp het ons om enduit te volhard? Jesus is as ’t ware die volmaakte pasaangeër (Heb. 12:2). Ons het ook Paulus se voorbeeld, want hy het hom onder die hardlopers in die Christelike wedloop getel en het sy medegelowiges aangespoor om hom na te volg.—1 Kor. 11:1; Fil. 3:14.

‘Julle kan dit verkry’—Hoe?

14. Hoe het Paulus sy persoonlike deelname aan die wedloop beskou?

14 Hoe het Paulus sy persoonlike deelname aan die wedloop beskou? In sy laaste toespraak aan die ouer manne van Efese het hy gesê: “Ek [heg] geen waarde aan my siel asof dit vir my dierbaar is nie, as ek maar net my loopbaan kan volbring en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het” (Hand. 20:24). Hy was bereid om alles, selfs sy lewe, op te offer sodat hy die wedloop kon voltooi. Vir Paulus sou al sy pogings en harde werk in verband met die goeie nuus niks beteken het as hy om die een of ander rede nie die wedloop voltooi het nie. Hy was nogtans nie selfversekerd nie en het nie gedink dat hy die wedloop vir seker sou wen nie. (Lees Filippense 3:12, 13.) Eers teen die einde van sy lewe het hy met ’n mate van vertroue gesê: “Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop enduit gehardloop, ek het die geloof bewaar.”—2 Tim. 4:7.

15. Watter aansporing het Paulus sy medehardlopers in die wedloop gegee?

15 Paulus het ook ’n intense begeerte gehad om te sien dat sy mede-Christene die wedloop voltooi en nie langs die pad uitsak nie. Hy het Christene in Filippi byvoorbeeld aangespoor om hard te werk vir hulle eie redding. Hulle moes “’n stewige greep op die woord van die lewe behou”. Hy het verder gesê: “Sodat ek in Christus se dag rede tot vreugde kan hê, dat ek nie tevergeefs gehardloop of tevergeefs hard gewerk het nie” (Fil. 2:16). Hy het die Christene in Korinte op soortgelyke wyse aangespoor: “Hardloop só dat julle [die prys] kan verkry.”—1 Kor. 9:24.

16. Waarom moet ons ons oog op die doelwit, of prys, gevestig hou?

16 In ’n lang wedloop, soos ’n maraton, kan die eindstreep aan die begin nie gesien word nie. Maar ’n hardloper hou sy aandag deur die hele wedloop daarop gefokus. Dié fokus word skerper wanneer hy weet dat die doelwit naby is. Dit moet in ons wedloop ook so wees. Die doelwit, of prys, moet vir ons werklik wees. Dit sal ons help om dit te bereik.

17. Hoe is geloof daarby betrokke om ons aandag op die prys gevestig te hou?

17 “Geloof is die gewaarborgde verwagting van dinge waarop gehoop word, die duidelike bewys van werklikhede hoewel hulle nie gesien word nie”, het Paulus geskryf (Heb. 11:1). Abraham en Sara was bereid om ’n gerieflike lewe agter te laat en as “vreemdelinge en tydelike inwoners in die land” te woon. Wat het hulle gehelp? “Hulle het [die vervulling van God se beloftes] van ver gesien.” Moses het “die tydelike genieting van sonde” en “die skatte van Egipte” verwerp. Waar het hy die geloof en krag gekry om dit te doen? Hy “het sy blik stip op die beloning gerig gehou” (Heb. 11:8-13, 24-26). Ons kan verstaan waarom Paulus sy beskrywing van elkeen van hierdie mense met die uitdrukking “deur geloof” ingelei het. Geloof het hulle in staat gestel om verby die huidige beproewinge en ontberinge te kyk en te sien wat God ter wille van hulle gedoen het en nog sou doen.

18. Watter positiewe stappe kan ons doen om “die sonde wat ons maklik verstrik”, af te lê?

18 Deur te peins oor die manne en vroue van geloof wat in Hebreërs hoofstuk 11 genoem word en deur hulle voorbeeld na te volg, kan ons geloof opbou en “die sonde wat ons maklik verstrik”, aflê (Heb. 12:1). Ons kan ook “op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor” deur te vergader met mense wat ook sulke geloof opbou.—Heb. 10:24.

19. Hoe voel jy daaroor om jou aandag op die prys gevestig te hou?

19 Ons is naby die einde van ons wedloop. Ons kan die eindstreep al amper sien. Deur geloof en met Jehovah se hulp kan ons ook “elke gewig aflê en die sonde wat ons maklik verstrik”. Ja, ons kan só hardloop dat ons die prys sal verkry—die seëninge wat ons God en Vader, Jehovah, belowe het.

[Voetnoot]

a Die eertydse Jode het dit aanstootlik gevind. Volgens die apokriewe boek 2 Makkabeërs het dit groot opspraak verwek toe die afvallige hoëpriester Jason ’n gimnasium in Jerusalem wou bou as ’n poging tot hellenisering.—2 Makk. 4:7-17.

Onthou jy?

• Wat behels dit om “elke gewig” af te lê?

• Wat kan ’n Christen sy geloof laat verloor?

• Waarom moet ons ons aandag op die prys gevestig hou?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 23]

Wat is “die sonde wat ons maklik verstrik”, en hoe kan dit ons verstrik?