Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

2 God gee nie werklik om nie—Is dit waar?

2 God gee nie werklik om nie—Is dit waar?

2 God gee nie werklik om nie—Is dit waar?

Wat jy dalk al gehoor het: “As God werklik vir die mensdom omgegee het, sou hy boosheid en lyding in die wêreld uit die weg ruim. Selfs al is hy besorg oor mense oor die algemeen, gee hy nie om wat met my gebeur nie.”

Wat die Bybel leer: Jehovah God is nie die oorsaak van boosheid nie (Jakobus 1:13). Hoewel hy boosheid te eniger tyd uit die weg kan ruim, laat hy vir eers toe dat die verdorwe samelewing bestaan sodat hy sedelike kwessies kan besleg wat aan die begin van die mensegeskiedenis geopper is. Hy sal uiteindelik ten behoewe van die mensdom optree en al die probleme oplos wat deur diegene veroorsaak is wat sy heerskappy verwerp.—Genesis 3:1-6; Jesaja 65:17. a

God is nie net besorg oor die mensegesin oor die algemeen nie, maar stel opreg in ons as individue belang. Matteus 10:29-31 toon dat hy besonderhede oor ons waarneem waarvan ons nie eens self bewus is nie: “Word twee mossies nie vir ’n muntstuk van geringe waarde verkoop nie? Tog sal nie een van hulle sonder julle Vader se wete op die grond val nie. Maar selfs die hare op julle kop is almal getel. Moet dus nie vrees nie: julle is meer werd as baie mossies.”

Hoe kennis van die waarheid jou tot voordeel strek: Ons vermy gewoonlik mense wat ongevoelig is of nie vir ander omgee nie. Dit is dus te verstane dat die leuen dat God nie omgee nie, veroorsaak dat baie mense hom glad nie wil leer ken nie of dat hulle hom slegs nader wanneer hulle voel dat hulle nie ’n ander keuse het nie. Die wete dat Jehovah God werklik omgee, kan ’n begeerte by jou wek om meer omtrent hom te leer en ’n vriendskap met hom op te bou.

Byvoorbeeld, jy het dalk al tot God gebid, maar gewonder of hy luister en of hy jou gebede sal verhoor. Die Bybel verseker ons dat die “Hoorder van die gebed” hierdie kommunikasiekanaal ten alle tye oophou vir almal wat hom in opregtheid nader.—Psalm 65:2.

God nooi jou om ‘al jou sorge op hom werp, want hy sorg vir jou’ (1 Petrus 5:7). Ons kan seker wees dat hy selfs in tye van groot benoudheid oor ons besorg is, want sy Woord sê: “Jehovah is naby die gebrokenes van hart; en die verbryseldes van gees red hy.”—Psalm 34:18.

[Voetnoot]

a Vir meer inligting oor waarom God lyding toelaat, sien hoofstuk 11 van die boek Wat leer die Bybel werklik?

[Lokteks op bladsy 5

As God nie vir ons omgee nie, waarom nooi hy ons dan om tot hom te bid?