Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Waarom was daar geldwisselaars in Jerusalem se tempel?

Kort voor sy dood het Jesus ’n ernstige onreg aangespreek wat in die tempel plaasgevind het. Die Bybel sê: “Jesus het . . . almal wat in die tempel verkoop en koop, uitgedryf en die tafels van die geldwisselaars en die banke van die duiweverkopers omgekeer. En hy het vir hulle gesê: ‘Daar staan geskrywe: “My huis sal ’n huis van gebed genoem word”, maar julle maak dit ’n rowerspelonk.’”—Matteus 21:12, 13.

Eerste-eeuse Jode en Joodse proseliete het uit baie lande en stede na die tempel in Jerusalem gereis en muntstukke van hulle plaaslike gebied saamgebring. Maar hulle moes die vereiste geldeenheid gebruik om die jaarlikse tempelbelasting te betaal, om offerdiere te koop en om ander vrywillige offers te bring. Geldwisselaars het muntstukke van verskillende plekke en waardes dus teen ’n fooi vir die vereiste geldeenheid geruil. Kort voor die Joodse feeste het hierdie geldwisselaars stalletjies binne die tempel in die Voorhof van die Heidene opgerig.

Jesus se aanmerking dat die geldwisselaars die tempel in “’n rowerspelonk” omskep, dui blykbaar aan dat hulle buitensporige pryse vir hulle dienste gevra het.

Waarom is daar in Bybeltye groot waarde geheg aan olyfbome?

Olyfbome en wingerde is van die seëninge wat God aan sy volk belowe het vir hulle getrouheid aan hom (Deuteronomium 6:10, 11). Tot vandag toe word groot waarde geheg aan die olyfboom in gebiede waar dit groei. Dit kan honderde jare lank ’n oorvloed vrugte met betreklik min sorg voortbring. ’n Gekweekte boom kan selfs in rotsagtige grond floreer en kan herhaalde droogtes verduur. As die boom afgekap word, bring die wortelstomp ’n aantal lote voort waaruit nuwe stamme kan ontwikkel.

In Bybeltye is die bas en blare van die boom op prys gestel vir hulle koorsverlagende eienskappe. Die gomhars wat deur ou takke afgeskei word en ’n vanieljegeur het, is gebruik om parfuum te maak. Maar die boom is hoofsaaklik op prys gestel as ’n bron van voedsel—sy vrugte en veral sy olie. Omtrent die helfte van die pulp van ’n ryp olyf bestaan uit olie.

Een goeie boom kon tot 57 liter olie ’n jaar lewer. Olyfolie is ook gebruik as brandstof vir lampe, vir seremoniële en godsdiensdoeleindes, as skoonheidsmiddel vir die liggaam en hare en as geneesmiddel om wonde te versag en kneusplekke te streel.—Eksodus 27:20; Levitikus 2:1-7; 8:1-12; Rut 3:3; Lukas 10:33, 34.