Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jy kan “die kennis van God” vind

Jy kan “die kennis van God” vind

Kom nader aan God

Jy kan “die kennis van God” vind

JEHOVAH GOD het ’n kosbare skat binne ons bereik geplaas, en dit is sy innige begeerte dat ons dit vind. Hierdie skat bring nie materiële rykdom mee nie, maar dit sal tot iets lei wat al die geld in die wêreld nie kan koop nie—gemoedsrus, tevredenheid en ’n bevredigende lewe. Wat is hierdie skat? Die woorde van wyse koning Salomo wat in Spreuke 2:1-6 opgeteken is, verduidelik.

Salomo identifiseer dié skat as “die kennis van God”—dit wil sê die waarheid oor God en sy voornemens soos dit in die Bybel geopenbaar word (vers 5). Hierdie skat het verskeie aspekte.

Ware leringe. Die Bybel beantwoord vrae soos die volgende: Wat is God se naam? (Psalm 83:18). Wat gebeur by die dood? (Psalm 146:3, 4). Waarom is ons hier? (Genesis 1:26-28; Psalm 115:16). Is dit hoegenaamd moontlik om die waarde van die antwoorde op hierdie vrae in terme van geld te meet?

Wyse raad. Die Bybel sê vir ons wat die beste lewenswyse is. Hoe kan jy ’n huwelik blywend maak? (Efesiërs 5:28, 29, 33). Hoe kan jy verantwoordelike kinders grootmaak? (Deuteronomium 6:5-7; Efesiërs 6:4). Hoe kan jy geluk in die lewe vind? (Matteus 5:3; Lukas 11:28). Die vraag is weer eens—hoe waardevol is betroubare raad oor hierdie kwessies?

Insig in God se aard en persoonlikheid. Die Bybel is die hoofbron van juiste kennis oor God. Watter soort persoon is hy? (Johannes 1:18; 4:24). Gee hy vir ons om? (1 Petrus 5:6, 7). Wat is van sy uitsonderlike eienskappe? (Eksodus 34:6, 7; 1 Johannes 4:8). Wat sou jy sê is betroubare inligting oor ons Skepper werd?

“Die kennis van God” is voorwaar ’n geestelike skat. Hoe kan jy dit vind? Ons vind ’n leidraad in vers 4 van Spreuke hoofstuk 2, waar Salomo hierdie kennis met “verborge skatte” vergelyk. Dink net hieraan: ’n Verborge skat gaan nie sommer net in jou skoot val nie. Ons moet ons inspan om dit te vind. Dit is ook so met die kennis van God. Hierdie skat is as ’t ware in die Bybel begrawe. Om dit te vind, moet ons ons inspan.

Salomo verduidelik wat ons moet doen om “die kennis van God” te vind. Die frases ‘neem my woorde aan’ en ‘neig jou hart’ toon dat ons ’n ontvanklike hart moet hê (verse 1, 2). Die woorde “roep”, “bly soek” en “bly naspeur” dui aan dat ons ons moet inspan en ywerig die inisiatief moet neem (verse 3, 4). Om die skat te vind, moet ons dus ’n ywerige studie van die Bybel maak en dit met ’n opregte hart doen.—Lukas 8:15.

As ons sulke inisiatief aan die dag lê, sal Jehovah die res doen. “Jehovah gee wysheid”, sê vers 6. Ons kan die waarhede in die Bybel slegs met God se hulp ten volle begryp (Johannes 6:44; Handelinge 16:14). Jy kan hiervan seker wees: As jy God se Woord opreg ondersoek, sal jy “die kennis van God” vind—’n skat wat jou lewe oneindig sal verryk.—Spreuke 2:10-21. a

Voorgestelde Bybelleesgedeelte vir Oktober:

Spreuke 1-21

[Voetnoot]

a Jehovah se Getuies bied wêreldwyd gratis tuisbybelstudies aan vir diegene wat graag die Bybel wil verstaan. Tree gerus met die plaaslike Getuies in verbinding of skryf na die gepaste adres op bladsy 4.