Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sy het opgekom vir God se volk

Sy het opgekom vir God se volk

Volg hulle geloof na

Sy het opgekom vir God se volk

ESTER het haarself probeer kalmeer terwyl sy die binnehof van die paleis in Susan genader het. Dit was nie maklik nie. Alles omtrent die kasteel—die veelkleurige reliëfafbeeldings van gevleuelde bulle, boogskutters en leeus van glasuursteen, die gegroefde steenpilare en indrukwekkende standbeelde, selfs die posisie daarvan bo-op groot platforms naby die sneeubedekte Zagros-gebergte, met ’n uitsig oor die skoon water van die Choaspes-rivier—is ontwerp om elke besoeker te herinner aan die ontsaglike mag van die man wat sy gaan spreek het, die een wat homself “die groot koning” genoem het. Hy was ook haar man.

Haar man! Hoe anders was Ahasveros tog van die soort man wat enige getroue Joodse meisie dalk verwag het om te hê! a Hy het nie voorbeelde gevolg soos dié van Abraham nie, ’n man wat nederig God se instruksie gehoorsaam het om na Sara, sy vrou, te luister (Genesis 21:12). Die koning het min of niks van Ester se God, Jehovah, of van Sy Wet, geweet nie. Maar Ahasveros hét die Persiese wet geken, onder andere ’n wet wat die einste ding verbied het wat Ester op die punt gestaan het om te doen. Wat was dit? Wel, die wet het gesê dat enigiemand wat voor die Persiese monarg verskyn sonder dat hy deur die koning ontbied is, tereggestel kan word. Ester is nie ontbied nie, maar sy was in elk geval op pad na die koning. Terwyl sy al hoe nader aan die binneste voorhof gekom het, waar sy van die koning se troon sigbaar sou wees, het sy dalk gevoel dat sy haar dood tegemoetloop.—Ester 4:11; 5:1.

Waarom het sy so ’n risiko geneem? En wat kan ons uit die geloof van hierdie merkwaardige vrou leer? Kom ons kyk eers hoe Ester in die buitengewone situasie beland het om die koningin van Persië te wees.

“Pragtig in voorkoms”

Ester was ’n weeskind. Ons weet baie min van haar ouers, wat haar Hadassa genoem het, ’n Hebreeuse woord vir “mirt”, ’n lieflike struik met wit bloeisels. Toe Ester se ouers gesterf het, het ’n familielid, ’n goedhartige man genaamd Mordegai, hom oor die kind ontferm. Hy was haar neef, maar Mordegai was baie ouer as sy. Hy het Ester ingeneem en haar soos sy eie dogter behandel.—Ester 2:5-7, 15.

Mordegai en Ester het as Joodse ballinge in daardie Persiese hoofstad gewoon, waar hulle waarskynlik met ’n mate van minagting te kampe gehad het weens hulle godsdiens en die Wet wat hulle probeer volg het. Maar Ester het ongetwyfeld nader aan haar neef gekom terwyl hy haar geleer het oor Jehovah, die barmhartige God wat Sy volk baie kere in die verlede gered het—en dit weer sou doen (Levitikus 26:44, 45). Dit is duidelik dat ’n band van liefde en lojaliteit tussen Ester en Mordegai ontwikkel het.

Mordegai het blykbaar as die een of ander soort amptenaar by die kasteel in Susan gewerk en gereeld saam met ander knegte van die koning in die poort gesit (Ester 2:19, 21; 3:3). Ons weet nie hoe die jong Ester haar tyd deurgebring het terwyl sy grootgeword het nie, hoewel ons met sekerheid kan sê dat sy goed na haar ouer neef en sy huis omgesien het, wat waarskynlik in die nederiger buurt oorkant die rivier van die koninklike kasteel geleë was. Dalk het sy daarvan gehou om na die mark in Susan te gaan, waar goudsmede, silwersmede en ander handelaars hulle ware ten toon gestel het. Ester kon haar seker nie voorstel dat sulke luukshede later vir haar iets alledaags sou word nie; sy het glad nie geweet wat die toekoms vir haar inhou nie.

’n Koningin onttroon

Eendag het Susan gegons van skinderpraatjies oor moeilikheid in die koning se huishouding. By ’n groot fees waartydens Ahasveros sy edelmanne op smaaklike kos en wyn onthaal het, het die koning besluit om sy pragtige koningin, Vasti, te ontbied, wat saam met die vroue feesgevier het. Maar Vasti het geweier om te kom. Verneder en briesend het die koning sy raadgewers gevra hoe Vasti gestraf moet word. Die gevolg? Sy is as koningin onttroon. Die koning se knegte het in die hele land na pragtige jong maagde begin soek; die koning sou een van hulle as sy nuwe koningin kies.—Ester 1:1–2:4.

Ons kan ons voorstel hoe Mordegai van tyd tot tyd met geneentheid na Ester gekyk en met gemengde gevoelens van trots en besorgdheid opgemerk het dat sy klein niggie nie meer ’n kind is nie, maar ’n beeldskone vrou geword het. “Die jong vrou was mooi van gestalte en pragtig in voorkoms”, lees ons (Ester 2:7). Fisiese skoonheid is bekoorlik, maar dit moet met wysheid en nederigheid gepaardgaan. Anders kan dit tot verwaandheid, trots en ander lelike eienskappe van die hart aanleiding gee (Spreuke 11:22). Het jy dit al ooit sien gebeur? Wat sou skoonheid in Ester se geval wees—’n seën of ’n vloek? Die tyd sou leer.

Die koning se knegte het Ester opgemerk. Hulle het besluit dat sy een van die gekose vroue sou wees en haar van Mordegai af weggeneem na die groot paleis oorkant die rivier (Ester 2:8). Dit moes ’n moeilike afskeid gewees het, want die twee was soos vader en dogter. Mordegai sou nie wou hê dat sy aangenome dogter met ’n ongelowige trou nie, nie eens ’n koning nie, maar dit was buite sy beheer. Hoe aandagtig moes Ester tog na Mordegai se raad geluister het voordat sy weggeneem is! Terwyl sy na die kasteel Susan geneem is, het baie vrae deur haar gedagtes gegaan. Watter soort lewe het op haar gewag?

Sy het guns gevind “in die oë van almal wat haar gesien het”

Ester is in ’n wêreld ingebring wat vir haar heeltemal nuut en vreemd was. Sy was een van “talle jong vroue” wat van heinde en verre in die Persiese Ryk bymekaargebring is. Hulle gebruike, tale en gesindhede moes seker hemelsbreed van mekaar verskil het. Die jong vroue, wat onder die toesig van ’n amptenaar genaamd Hegai geplaas is, sou ’n jaar lank intensiewe skoonheidsterapie ondergaan, wat massering met welriekende olie ingesluit het (Ester 2:8, 12). So ’n omgewing en lewenstyl kon maklik by daardie jong vroue ’n obsessie oor hulle voorkoms laat ontstaan het en hulle ook verwaand en mededingend laat word het. Watter uitwerking het dit op Ester gehad?

Geen mens was meer besorg oor Ester as Mordegai nie. Ons lees dat hy dag ná dag so na as moontlik aan die huis van die vroue probeer kom het om uit te vind hoe dit met Ester gaan (Ester 2:11). Toe brokkies inligting, moontlik deur middel van behulpsame knegte in die huishouding, na hom uitgelek het, het hy ongetwyfeld van vaderlike trots gestraal. Waarom?

Ester het Hegai so beïndruk dat hy haar met groot liefderyke goedhartigheid behandel het en haar sewe diensmeisies sowel as die beste plek in die huis van die vroue gegee het. Die verslag sê selfs: “Die hele tyd het Ester steeds guns gevind in die oë van almal wat haar gesien het” (Ester 2:9, 15). Sou skoonheid alleen almal so diep beïndruk het? Nee, daar het baie meer in Ester gesteek.

Ons lees byvoorbeeld: “Ester het niks vertel van haar volk of haar familielede nie, want Mordegai het haar beveel om dit nie te vertel nie” (Ester 2:10). Mordegai het vir haar gesê om oor haar Joodse herkoms te swyg; hy het ongetwyfeld gesien dat die Persiese koningshuis baie bevooroordeeld teenoor sy volk was. Hoe moes dit hom tog verbly het om uit te vind dat Ester, al was sy nie meer onder sy toesig nie, nog net so wys en gehoorsaam soos altyd was!

Vandag kan jongmense ook hulle ouers en voogde se hart verbly. Wanneer hulle nie by hulle ouers is nie—selfs al is hulle omring deur oppervlakkige, onsedelike of boosaardige mense—kan hulle slegte invloede weerstaan en by die standaarde bly wat hulle weet reg is. Wanneer hulle, soos Ester, dit doen, maak hulle die hart van hulle hemelse Vader bly.—Spreuke 27:11.

Toe die tyd aangebreek het vir Ester om voor die koning te verskyn, is sy die geleentheid gegee om enigiets te kies wat sy gedink het sy nodig het, moontlik om haarself nog mooier te maak. Maar sy het Hegai se raad gevolg en uit beskeidenheid niks meer gevra as wat haar aangebied is nie (Ester 2:15). Sy het waarskynlik besef dat skoonheid alleen nie die koning se hart sou wen nie; ’n beskeie en nederige gesindheid sou ’n baie seldsamer aanwins in daardie hof wees. Was sy reg?

Die verslag antwoord: “Die koning het Ester meer liefgekry as al die ander vroue, sodat sy meer guns en liefderyke goedhartigheid voor hom gevind het as al die ander maagde. En hy het die koninklike hooftooisel op haar kop gesit en haar koningin gemaak in die plek van Vasti” (Ester 2:17). Dit moes vir hierdie nederige Joodse meisie moeilik gewees het om by die verandering in haar lewe aan te pas—sy was die nuwe koningin, die vrou van die magtigste monarg wat destyds gelewe het! Het haar nuwe posisie na haar kop toe gegaan en haar trots gemaak?

Glad nie! Ester het gehoorsaam gebly aan haar pleegvader, Mordegai. Sy het haar verwantskap met die Joodse volk geheim gehou. En toe Mordegai ’n sameswering om Ahasveros dood te maak, ontbloot het, was Ester gehoorsaam en het sy Mordegai se waarskuwing aan die koning oorgedra, sodat die samesweerders gefnuik is (Ester 2:20-23). Sy het steeds geloof in haar God getoon deur ’n nederige, gehoorsame gesindheid te openbaar. Vandag heg mense selde waarde aan gehoorsaamheid; ongehoorsaamheid en opstandigheid is aan die orde van die dag. Maar soos Ester, beskou mense met ware geloof gehoorsaamheid as iets kosbaars.

Ester se geloof word op die proef gestel

’n Man genaamd Haman het ’n prominente posisie in Ahasveros se hof verkry. Die koning het hom as eerste minister aangestel, wat beteken het dat Haman sy hoofraadgewer en tweede in bevel in die ryk was. Die koning het selfs verklaar dat almal wat hom sien, voor hom moet neerbuig (Ester 3:1-4). Vir Mordegai was hierdie wet ’n probleem. Hy het geglo dat hy aan die koning gehoorsaam moet wees, maar nie ten koste van eerbiedigheid teenoor God nie. Hou in gedagte dat Haman ’n “Agagiet” was. Dit beteken blykbaar dat hy ’n nakomeling was van Agag, die Amalekitiese koning wat deur God se profeet Samuel tereggestel is (1 Samuel 15:33). Die Amalekiete was so goddeloos dat hulle vyande van Jehovah en Israel geword het. As ’n volk is die Amalekiete deur God veroordeel (Deuteronomium 25:19). b Hoe kon ’n getroue Jood voor ’n vorstelike Amalekiet neerbuig? Mordegai kon nie. Hy het voet by stuk gehou. Tot vandag toe plaas manne en vroue van geloof hulle lewe op die spel om getrou te wees aan hierdie beginsel: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense.”—Handelinge 5:29.

Haman was woedend. Maar om ’n plan te beraam om Mordegai dood te maak, was nie vir hom genoeg nie. Hy wou Mordegai se volk geheel en al uitwis! Haman het met die koning gepraat en ’n donker prentjie van die Jode geskilder. Sonder om hulle by name te noem, het hy te kenne gegee dat hulle onbeduidend is, ’n volk “verstrooid en afgesonderd . . . onder die volke”. Nog erger, hy het gesê dat hulle nie aan die koning se wette gehoorsaam was nie; gevolglik was hulle gevaarlike rebelle. Hy het aangebied om ’n groot som geld aan die koning se skatkamer te skenk om die onkoste te dek om al die Jode in die ryk dood te maak. c Ahasveros het aan Haman die koning se eie seëlring gegee om enige bevel wat hy in gedagte gehad het, te bekragtig.—Ester 3:5-10.

Kort voor lank het boodskappers hulle te perd na elke uithoek van die uitgestrekte ryk gehaas en die nuus oorgedra van die doodsvonnis wat oor die Joodse volk uitgespreek is. Stel jou voor watter uitwerking so ’n aankondiging gehad het toe dit verafgeleë Jerusalem bereik het, waar ’n oorblyfsel Jode wat uit ballingskap in Babilon teruggekeer het, nog nie daarin geslaag het om die stad of sy beskermende muur te herbou nie. Dalk het Mordegai aan hulle, sowel as sy eie vriende en familie in Susan, gedink toe hy die verskriklike nuus gehoor het. Hewig ontsteld het hy sy klere geskeur, hom in saklinne geklee, as op sy kop gegooi en hard geskreeu in die middel van die stad. Haman het egter met die koning gesit en drink, glad nie geraak deur die droefheid wat hy onder die talle Jode en hulle vriende in Susan veroorsaak het nie.—Ester 3:12–4:1.

Mordegai het geweet dat hy iets moes doen. Maar wat kon hy doen? Ester het gehoor hoe ontsteld hy is en vir hom klere gestuur, maar Mordegai het geweier om vertroos te word. Dalk het hy lank gewonder waarom sy God, Jehovah, toegelaat het dat sy geliefde Ester van hom weggeneem is en die koningin van ’n heidense heerser gemaak is. Nou het die rede blykbaar duidelik begin word. Mordegai het ’n boodskap na die koningin gestuur en Ester gesmeek om by die koning voorspraak te doen, om vir “haar volk” op te kom.—Ester 4:4-8.

Ester se hart het seker in haar skoene gesak toe sy hierdie boodskap hoor. Dit was die grootste toets van haar geloof. Sy was bang, en sy het dit openlik erken in haar antwoord aan Mordegai. Sy het hom aan die koning se wet herinner. Om voor die koning te verskyn sonder om ontbied te word, het ’n doodsvonnis beteken. Die oortreder se lewe is alleenlik gespaar as die koning sy goue septer uitgesteek het. En het Ester enige rede gehad om sulke genade te verwag, veral met die oog op wat met Vasti gebeur het toe sy geweier het om te kom toe sy ontbied is? Sy het vir Mordegai gesê dat die koning haar 30 dae laas na hom toe geroep het! Hierdie gebrek aan aandag het haar baie rede gegee om te wonder of sy die wispelturige monarg se guns verloor het.—Ester 4:9-11. d

Mordegai het ferm geantwoord om Ester se geloof te versterk. Hy het haar daarvan verseker dat as sy niks doen nie, redding vir die Jode uit ’n ander oord sou kom. Maar hoe kon sy verwag om gespaar te word wanneer die vervolging eers aan die gang was? Hier het Mordegai sy onwrikbare geloof in Jehovah getoon, wat nooit sou toelaat dat Sy volk uitgewis word en Sy beloftes onvervuld bly nie (Josua 23:14). Toe het Mordegai vir Ester gevra: “Wie weet of jy nie met die oog op ’n tyd soos hierdie tot koninklike waardigheid gekom het nie?” (Ester 4:12-14). Mordegai het ten volle op sy God, Jehovah, vertrou. Doen ons dit?—Spreuke 3:5, 6.

Geloof sterker as vrees vir die dood

Vir Ester het die deurslaggewende oomblik aangebreek. Sy het vir Mordegai gevra om te reël dat haar landgenote drie dae lank saam met haar vas, en sy het haar boodskap afgesluit met ’n stelling wat deur die eeue heen weerklink het weens die onmiskenbare geloof en moed waarvan dit getuig: “As ek moet omkom, dan moet ek omkom” (Ester 4:15-17). Sy het in daardie drie dae ongetwyfeld vuriger as ooit tevore in haar lewe gebid. Maar uiteindelik het die oomblik aangebreek. Sy het haar in haar heel mooiste koninklike klere opgetooi in die hoop dat sy die koning se guns sou wen. Toe het sy gegaan.

Soos aan die begin van hierdie artikel beskryf is, het Ester na die koning se hof gegaan. Ons kan ons net die verontrustende gedagtes, die vurige gebede, voorstel wat haar verstand en hart gevul het. Sy het in die binnehof ingeloop, waar sy Ahasveros op sy troon kon sien. Miskien het sy sy gesigsuitdrukking probeer lees—die gesig wat geraam is deur die goed versorgde, simmetriese lokke van sy hare en van sy vierkantige baard. As sy moes wag, het dit seker soos ’n ewigheid gevoel. Maar die oomblik het verbygegaan—haar man het haar gesien. Hy was ongetwyfeld verbaas, maar sy gesigsuitdrukking het versag. Hy het sy goue septer uitgesteek!—Ester 5:1, 2.

Ester het ’n oudiënsie verkry, ’n horende oor. Sy het ’n standpunt ingeneem vir haar God en vir haar volk en ’n pragtige voorbeeld van geloof gestel vir alle knegte van God deur die eeue heen. Maar haar werk het toe net begin. Hoe sou sy die koning oortuig dat sy gunstelingraadgewer, Haman, ’n bose samesweerder is? Hoe kon sy help om haar volk te red? Ons sal hierdie vrae in ’n toekomstige artikel bespreek.

[Voetnote]

a Daar word algemeen geglo dat Ahasveros Xerxes I was, wat vroeg in die vyfde eeu VHJ oor die Persiese Ryk regeer het.

b Haman was moontlik een van die laaste Amalekiete wat nog gelewe het, aangesien hulle “oorblyfsel” in die dae van koning Hiskia uitgeroei is.—1 Kronieke 4:43.

c Haman het die koning 10 000 talente silwer aangebied, wat vandag miljarde rande werd is. As Ahasveros Xerxes I was, sou die geld Haman se aanbod dalk aantrekliker gemaak het. Xerxes het ’n fortuin verloor in sy rampspoedige oorlog teen die Grieke, blykbaar voordat hy met Ester getrou het.

d Xerxes I was bekend vir sy onvoorspelbare, gewelddadige humeur. Die Griekse geskiedkundige Herodotus het voorbeelde hiervan opgeteken uit Xerxes se oorlog teen Griekeland. Die koning het beveel dat ’n pontonbrug van skepe oor die Straat van Hellespont gebou word. Toe ’n storm die brug verwoes het, het Xerxes beveel dat die ingenieurs onthoof word en het hy sy manskappe selfs die Hellespont laat “straf” deur die water met swepe te slaan terwyl ’n beledigende verklaring hardop gelees is. Gedurende dieselfde krygstog, toe ’n ryk man gesmeek het dat sy seun van militêre diens vrygestel word, het Xerxes die seun middeldeur laat sny en sy liggaam as ’n waarskuwing laat ten toon stel.

[Prent op bladsy 19]

Mordegai het goeie rede gehad om trots te wees op sy aangenome dogter

[Prent op bladsy 20]

Ester het geweet dat nederigheid en wysheid baie belangriker is as ’n mens se voorkoms

[Prent op bladsye 22, 23]

Ester het haar lewe op die spel geplaas om God se volk te beskerm