Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wanneer is eertydse Jerusalem vernietig?—Deel een

Wanneer is eertydse Jerusalem vernietig?—Deel een

Wanneer is eertydse Jerusalem vernietig?—Deel een

Waarom dit saak maak wat die bewyse toon

Dit is die eerste van twee artikels in opeenvolgende nommers van Die Wagtoring wat vakkundige vrae bespreek in verband met die datum van die vernietiging van eertydse Jerusalem. Hierdie tweedelige reeks bevat deeglik nagevorste en Bybelse antwoorde op vrae waaroor party lesers al gewonder het.

“Onder geskiedkundiges en argeoloë word 586 of 587 VHJ algemeen aanvaar as die jaar waarin Jerusalem vernietig is. a Waarom sê Jehovah se Getuies dat dit in 607 VHJ gebeur het? Op grond waarvan sê julle so?”

DIT is wat een van ons lesers geskryf het. Maar waarom moet ons daarin belangstel om te weet in presies watter jaar die Babiloniese koning Nebukadnesar II die stad Jerusalem vernietig het? Eerstens, omdat die gebeurtenis ’n belangrike keerpunt in die geskiedenis van God se volk was. Een geskiedkundige het gesê dat dit gelei het tot “’n ramp, inderdaad die allergrootste ramp”. In daardie jaar is ’n tempel vernietig wat meer as 400 jaar lank die middelpunt van die aanbidding van die Almagtige God was. “O God,” het ’n Bybelpsalmis getreur, “hulle het u heilige tempel verontreinig, Jerusalem tot puinhope gemaak.”—Psalm 79:1, Ou Afrikaanse Bybelvertaling. b

Tweedens, as jy weet in presies watter jaar hierdie “allergrootste ramp” begin het en verstaan hoe die herstel van ware aanbidding in Jerusalem ’n uiters spesifieke Bybelprofesie vervul het, sal dit jou vertroue in die betroubaarheid van God se Woord opbou. Waarom hou Jehovah se Getuies by ’n datum wat met 20 jaar verskil van die algemeen aanvaarde chronologie? Eenvoudig gestel, weens bewyse in die Bybel self.

“Sewentig jaar” vir wie?

Jare voor die vernietiging het die Joodse profeet Jeremia ’n noodsaaklike leidraad gegee in verband met die tydsaanduiding in die Bybel. Hy het “al die inwoners van Jerusalem” gewaarsku: “Hierdie hele land sal ’n verlate woesteny word, en hierdie nasies sal die koning van Babilon sewentig jaar lank dien” (Jeremia 25:1, 2, 11, New International Version). Die profeet het later bygevoeg: “Só het Jehovah gesê: ‘Wanneer sewentig jaar in Babilon vervul is, sal ek my aandag op julle rig, en ek sal my goeie woord teenoor julle bevestig deur julle na hierdie plek terug te bring’” (Jeremia 29:10). Waarna verwys die “sewentig jaar”? En hoe help hierdie tydperk ons om vas te stel wanneer Jerusalem vernietig is?

Baie vertalings sê nie 70 jaar “in Babilon” nie, maar “vir Babilon” (NIV). Party geskiedkundiges voer gevolglik aan dat hierdie tydperk van 70 jaar op die Babiloniese Ryk van toepassing is. Volgens sekulêre chronologie het die Babiloniërs die land van eertydse Juda en Jerusalem ongeveer 70 jaar lank oorheers, vanaf omstreeks 609 VHJ tot 539 VHJ, toe die hoofstad van Babilon ingeneem is.

Maar die Bybel toon dat die 70 jaar ’n tydperk van swaar straf deur God sou wees—spesifiek gemik teen die mense van Juda en Jerusalem, wat ’n verbond met hom aangegaan het om hom te gehoorsaam (Eksodus 19:3-6). Toe hulle geweier het om hulle van hulle slegte weë af te keer, het God gesê: “Ek stuur . . . Nebukadnesar van Babel [oftewel Babilon] . . . teen hierdie land en sy inwoners en teen al die nasies van die omgewing” (Jeremia 25:4, 5, 8, 9, Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling). Hoewel nabygeleë nasies ook Babilon se toorn sou ondervind, het Jeremia die vernietiging van Jerusalem en die ballingskap van 70 jaar wat sou volg, “die straf van my volk” genoem, want Jerusalem het “grootliks gesondig”.—Klaagliedere 1:8; 3:42; 4:6, NIV.

Volgens die Bybel was die 70 jaar dus ’n tydperk van swaar straf vir Juda, en God het die Babiloniërs gebruik as die instrument om hierdie ernstige tugtiging toe te dien. Maar God het vir die Jode gesê: ‘As eers sewentig jaar verby is, sal Ek julle na hierdie plek terugbring’—die land van Juda en Jerusalem.—Jeremia 29:10, OAB.

Wanneer het die “sewentig jaar” begin?

Die geïnspireerde geskiedkundige Esra, wat gelewe het nadat die 70 jaar van Jeremia se profesie vervul is, het van koning Nebukadnesar geskryf: “En die wat van die swaard oorgebly het, het hy na Babel in ballingskap weggevoer, en hulle het vir hom en sy seuns slawe geword, totdat die koninkryk van Persië tot heerskappy gekom het, sodat die woord van die HERE deur die mond van Jeremia vervul sou word: totdat die land vir sy sabbatte vergoeding gekry het; al die dae van die verwoesting het dit gerus om sewentig jaar vol te maak.”—2 Kronieke 36:20, 21, OAB.

Die 70 jaar sou dus ’n tydperk wees waartydens die land van Juda en Jerusalem sy “sabbatte” sou geniet. Dit het beteken dat die land nie bewerk sou word nie—geen saad sou gesaai word en geen wingerd sou gesnoei word nie (Levitikus 25:1-5). Weens die ongehoorsaamheid van God se volk, wie se sondes moontlik ’n versuim ingesluit het om al die sabbatsjare na te kom, is hulle ’n straf opgelê, naamlik dat die land 70 jaar lank onbewerk en verlate sou bly.—Levitikus 26:27, 32-35, 42, 43.

Wanneer het die land van Juda woes en onbewerk geword? In werklikheid het die Babiloniërs onder Nebukadnesar Jerusalem twee keer aangeval, jare uitmekaar. Wanneer het die 70 jaar begin? Beslis nie nadat Nebukadnesar Jerusalem die eerste keer beleër het nie. Waarom nie? Hoewel Nebukadnesar op daardie stadium baie gevangenes uit Jerusalem na Babilon weggevoer het, het hy ander in die land agtergelaat. Hy het die stad self ook laat bly staan. Ná hierdie aanvanklike wegvoering het dié wat in Juda agtergelaat is, “die geringe klas van die volk”, jare lank van die land gelewe (2 Konings 24:8-17). Maar toe het dinge drasties verander.

’n Joodse opstand het die Babiloniërs na Jerusalem teruggebring (2 Konings 24:20; 25:8-10). Hulle het die stad, met inbegrip van sy heilige tempel, verwoes, en hulle het baie van sy inwoners as gevangenes na Babilon geneem. Binne twee maande het “die hele volk [wat in die land agtergelaat is], van die geringste tot die vernaamste, tesame met die leëroffisiere, uit vrees vir die Babiloniërs na Egipte gevlug” (2 Konings 25:25, 26, NIV). Eers toe, in die sewende Joodse maand, Tisjri (September/Oktober), van daardie jaar kon daar gesê word dat die land, wat toe woes en onbewerk was, begin het om sy sabbatte te geniet. Deur middel van Jeremia het God vir die Joodse vlugtelinge in Egipte gesê: “Julle het self gesien al die onheil wat Ek oor Jerusalem en oor al die stede van Juda gebring het; en kyk, hulle is vandag ’n puinhoop, sonder dat daar iemand in woon” (Jeremia 44:1, 2, OAB). Hierdie gebeurtenis het dus klaarblyklik die begin van die 70 jaar aangedui. En watter jaar was dit? Vir die antwoord moet ons kyk na wanneer hierdie tydperk geëindig het.

Wanneer het die “sewentig jaar” geëindig?

Die profeet Daniël, wat gelewe het totdat “die koninkryk van Persië tot heerskappy gekom het”, was op die toneel in Babilon, en hy het bereken wanneer die 70 jaar sou eindig. Hy het geskryf: “Ek, Daniël, [het] in die boeke gemerk dat die getal jare waaroor die woord van die HERE tot die profeet Jeremia gekom het met betrekking tot die puinhope van Jerusalem, sewentig volle jare was.”—Daniël 9:1, 2, OAB.

Esra het op grond van Jeremia se profesieë die einde van die “sewentig jaar” verbind met die tyd toe “die HERE die hart van Kores, koning van Persië, beweeg het om ’n verklaring uit te vaardig” (2 Kronieke 36:21, 22, NIV). Wanneer is die Jode vrygelaat? Die verklaring wat hulle ballingskap beëindig het, is in “die eerste jaar van Kores, die koning van Persië,” uitgevaardig. (Sien die venster  “’n Sleuteldatum in die geskiedenis”.) Teen die herfs van 537 VHJ het die Jode dus reeds na Jerusalem teruggekeer om ware aanbidding te herstel.—Esra 1:1-5; 2:1; 3:1-5.

Volgens Bybelchronologie was die 70 jaar derhalwe ’n letterlike tydperk wat in 537 VHJ geëindig het. As ’n mens 70 jaar terugtel, is die begindatum van die tydperk 607 VHJ.

Maar as die bewyse uit die geïnspireerde Skrif duidelik na 607 VHJ wys as die jaar waarin Jerusalem vernietig is, waarom hou baie gesaghebbendes dan vol dat dit in 587 VHJ gebeur het? Hulle steun op twee bronne van inligting—die geskrifte van klassieke geskiedkundiges en die kanon van Ptolemeus. Is hierdie bronne betroubaarder as die Skrif? Kom ons kyk.

Klassieke geskiedkundiges—Hoe akkuraat?

Geskiedkundiges wat omstreeks die tyd van Jerusalem se vernietiging gelewe het, gee inkonsekwente inligting oor die Neo-Babiloniese konings. c (Sien die venster  “Neo-Babiloniese konings”.) Die tydlyn wat op hulle chronologiese inligting gebaseer is, stem nie ooreen met dié van die Bybel nie. Maar presies hoe betroubaar is hulle geskrifte?

Een van die geskiedkundiges wat die naaste aan die Neo-Babiloniese tydperk gelewe het, is Berossus, ’n Babiloniese “priester van Bel”. Sy oorspronklike werk, die Babyloniaca, wat omstreeks 281 VHJ geskryf is, is verlore, en slegs fragmente daarvan is in die werke van ander geskiedkundiges bewaar. Berossus het aangevoer dat hy gebruik gemaak het van “boeke wat met groot sorg in Babilon bewaar is”.1 Was Berossus werklik ’n noukeurige geskiedkundige? Kyk na een voorbeeld.

Berossus het geskryf dat die Assiriese koning Sanherib ná “die bewind van [sy] broer” regeer het; en “ná hom het sy seun [Esar-Haddon] 8 jaar [regeer]; en daarna Sammuges [Sjamasj-Sjuma-Ukin] 21 jaar” (III, 2.1, 4). Maar Babiloniese geskiedkundige dokumente wat lank voor Berossus se tyd geskryf is, sê dat Sanherib sy vader, Sargon II, opgevolg het, nie sy broer nie; Esar-Haddon het 12 jaar lank regeer, nie 8 jaar lank nie; en Sjamasj-Sjuma-Ukin het 20 jaar lank regeer, nie 21 jaar lank nie. Die geleerde R.J. van der Spek, wat erken dat Berossus die Babiloniese kronieke geraadpleeg het, het geskryf: “Dit het hom nie daarvan weerhou om sy eie byvoegings te maak en interpretasies te gee nie.”2

Hoe beskou ander geleerdes Berossus? “In die verlede is Berossus oor die algemeen as ’n geskiedkundige beskou”, sê S.M. Burstein, wat Berossus se werke deeglik bestudeer het. Maar hy het tot die volgende slotsom gekom: “As sodanig beskou, moet sy werk ontoereikend verklaar word. Selfs in sy huidige gefragmenteerde vorm bevat die Babyloniaca ’n aantal verbasende, blatante feitefoute . . . Vir ’n geskiedkundige sou sulke flaters verdoemend wees, maar Berossus se doel was nie eintlik geskiedkundig nie.”3

Met die oog op die voorafgaande inligting, wat dink jy? Moet al Berossus se berekeninge werklik as akkuraat beskou word? En wat van die ander klassieke geskiedkundiges wat hulle chronologie merendeels op Berossus se geskrifte gebaseer het? Kan hulle geskiedkundige gevolgtrekkings werklik as betroubaar beskou word?

Die kanon van Ptolemeus

Die Koninklike Kanon van Claudius Ptolemeus, ’n sterrekundige van die tweede eeu HJ, word ook gebruik om die tradisionele datum 587 VHJ te staaf. Ptolemeus se koningslys word beskou as die grondslag van die chronologie van die antieke geskiedenis, insluitende die Neo-Babiloniese tydperk.

Ptolemeus het sy lys ongeveer 600 jaar ná die einde van die Neo-Babiloniese tydperk saamgestel. Hoe het hy dan vasgestel wanneer die bewind van die eerste koning op sy lys begin het? Ptolemeus het verduidelik dat hy met behulp van sterrekundige berekeninge, wat deels op maansverduisterings gebaseer is, “teruggereken het tot die begin van die bewind van Nabonassar”, die eerste koning op sy lys.4 Gevolglik sê Christopher Walker van die Britse Museum dat Ptolemeus se kanon “’n kunsmatige skema [was] wat bedoel is om sterrekundiges van ’n konsekwente chronologie te voorsien” en “nie bedoel is om geskiedkundiges van ’n akkurate rekord van die troonbestyging en dood van konings te voorsien nie”.5

“Dit is al lank bekend dat die kanon sterrekundig betroubaar is”, skryf Leo Depuydt, een van Ptolemeus se geesdriftigste verdedigers, “maar dit beteken nie noodwendig dat dit geskiedkundig betroubaar is nie.” Professor Depuydt sê verder in verband met hierdie koningslys: “Wat die vroeëre heersers betref [wat die Neo-Babiloniese konings ingesluit het], sal die kanon met die spykerskrifrekord vergelyk moet word, een bewind op ’n slag.”6

Wat is hierdie “spykerskrifrekord” wat ons in staat stel om te bepaal hoe geskiedkundig akkuraat Ptolemeus se kanon is? Dit bestaan onder meer uit die Babiloniese kronieke, koningslyste en handelstablette—spykerskrifdokumente wat deur kopiïste geskryf is wat gedurende, of na aan, Neo-Babiloniese tye gelewe het.7

Hoe vergelyk Ptolemeus se lys met daardie spykerskrifrekord? Die venster  “Hoe vergelyk Ptolemeus se kanon met antieke tablette?” (sien hieronder) bevat ’n deel van die kanon en vergelyk dit met ’n antieke spykerskrifdokument. Let op dat slegs vier konings tussen die Babiloniese heersers Kandalanu en Nabonidus op Ptolemeus se lys verskyn. Maar die koningslys van Uruk—deel van die spykerskrifrekord—toon dat sewe konings tussen daardie twee konings regeer het. Was hulle bewinde kort en onbeduidend? Een van hulle het, volgens spykerskrif-handelsdokumente, sewe jaar lank regeer.8

Daar is ook oortuigende bewyse uit spykerskrifdokumente dat nog ’n koning (Assur-Etel-Ilani) vier jaar lank in Babilonië regeer het voor die bewind van Nabopolassar (die eerste koning van die Neo-Babiloniese tydperk). Die land het ook meer as ’n jaar lank geen koning gehad nie.9 Maar al hierdie inligting is weggelaat uit Ptolemeus se kanon.

Waarom het Ptolemeus party heersers weggelaat? Klaarblyklik het hy hulle nie as regmatige heersers van Babilon beskou nie.10 Hy het byvoorbeeld Labasji-Marduk, ’n Neo-Babiloniese koning, weggelaat. Maar volgens spykerskrifdokumente het die konings wat Ptolemeus weggelaat het, wel oor Babilonië regeer.

Ptolemeus se kanon word oor die algemeen as akkuraat beskou. Maar moet dit, met die oog op hierdie weglatings, werklik gebruik word om ’n onbetwisbare historiese chronologie te voorsien?

Wat ons uit hierdie bewyse aflei

Ter opsomming: Die Bybel sê duidelik dat daar wel ’n ballingskap van 70 jaar was. Daar is oortuigende bewyse—en die meeste geleerdes stem saam—dat die Joodse ballinge teen 537 VHJ terug was in hulle tuisland. As ’n mens van daardie jaar af terugtel, kom jy by 607 VHJ uit as die jaar waarin Jerusalem vernietig is. Hoewel die klassieke geskiedkundiges en die kanon van Ptolemeus nie hierdie datum ondersteun nie, kan geldige vrae oor die akkuraatheid van hulle geskrifte geopper word. Hierdie twee bewysgronde is beslis nie voldoende om die Bybel se chronologie te weerlê nie.

Maar daar is nog ander vrae. Is daar werklik geen geskiedkundige bewyse om die Bybelse datum 607 VHJ te staaf nie? Watter bewyse voorsien dateerbare spykerskrifdokumente, waarvan baie deur eertydse ooggetuies geskryf is? Ons sal hierdie vrae in ons volgende nommer bespreek.

[Voetnote]

a Albei jare word in sekulêre bronne gemeld. Ter wille van eenvoud sal ons in hierdie reeks na 587 VHJ verwys. VHJ beteken “voor die huidige jaartelling”.

b Jehovah se Getuies gee ’n betroubare Bybelvertaling uit wat as die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif bekend staan. Maar as jy nie een van Jehovah se Getuies is nie, verkies jy dalk om ander vertalings te gebruik wanneer jy Bybelonderwerpe ondersoek. Hierdie artikel haal aan uit ’n aantal algemeen aanvaarde Bybelvertalings.

c Die Neo-Babiloniese Ryk het begin met die bewind van Nebukadnesar se vader, Nabopolassar, en het geëindig met die bewind van Nabonidus. Hierdie tydperk is vir geleerdes van belang omdat dit die grootste deel van die 70 jaar van verwoesting dek.

[Venster/Prente op bladsy 28]

 ’N SLEUTELDATUM IN DIE GESKIEDENIS

Die datum 539 VHJ, toe Cyrus II (die Bybel se Kores) Babilon verower het, word bereken op grond van:

Antieke geskiedkundige bronne en spykerskriftablette: Diodorus van Sisilië (ca. 80-20 VHJ) het geskryf dat Cyrus in “die eerste jaar van die vyf-en-vyftigste olimpiade” koning van Persië geword het (Historical Library, Boek IX, 21). Dit was die jaar 560 VHJ. Die Griekse geskiedskrywer Herodotus (ca. 485-425 VHJ) het gesê dat Cyrus doodgemaak is “nadat hy nege-en-twintig jaar lank regeer het”, wat sou beteken dat hy gedurende sy 30ste jaar, in 530 VHJ, gesterf het (Histories, Boek I, Clio, 214). Spykerskriftablette toon dat Cyrus voor sy dood nege jaar lank oor Babilon regeer het. Nege jaar voor sy dood in 530 VHJ neem ons dus terug na 539 VHJ as die jaar waarin Cyrus Babilon verower het.

Bevestiging deur middel van ’n spykerskriftablet: ’n Babiloniese astronomiese kleitablet (BM 33066) bevestig dat Cyrus in 530 VHJ gesterf het. Hoewel hierdie tablet ’n paar foute bevat in verband met die astronomiese posisies, beskryf dit twee maansverduisterings wat volgens die tablet in die sewende jaar van Kambuses II, die seun en opvolger van Cyrus, plaasgevind het. Dit word geassosieer met maansverduisterings wat op 16 Julie 523 VHJ en op 10 Januarie 522 VHJ in Babilon sigbaar was, wat daarop dui dat die lente van 523 VHJ die begin van Kambuses se sewende jaar was. Dit beteken dat sy eerste regeringsjaar 529 VHJ was. Cyrus se laaste jaar was dus 530 VHJ, wat beteken dat 539 VHJ die eerste jaar van sy bewind oor Babilon was.

[Erkenning]

Tablet: © The Trustees of the British Museum

[Venster op bladsy 31]

’N KORT OPSOMMING

▪ Sekulêre geskiedkundiges sê gewoonlik dat Jerusalem in 587 VHJ vernietig is.

▪ Bybelchronologie dui sterk daarop dat dit in 607 VHJ vernietig is.

▪ Sekulêre geskiedkundiges baseer hulle gevolgtrekkings hoofsaaklik op die geskrifte van klassieke geskiedkundiges en op die kanon van Ptolemeus.

▪ Die geskrifte van klassieke geskiedkundiges bevat noemenswaardige foute en stem nie altyd ooreen met die inligting op kleitablette nie.

[Venster op bladsy 31]

Aantekeninge

1. Babyloniaca (Chaldaeorum Historiae), Boek een, 1.1.

2. Studies in Ancient Near Eastern World View and Society, bladsy 295.

3. The Babyloniaca of Berossus, bladsy 8.

4. Almagest, III, 7, vertaal deur G.J. Toomer, in Ptolemy’s Almagest, uitgegee in 1998, bladsy 166. Ptolemeus het geweet dat Babiloniese sterrekundiges met behulp van ingewikkelde wiskunde “bereken” het wanneer maansverduisterings plaasgevind het en nog sou plaasvind omdat hulle ontdek het dat dieselfde soort verduisterings elke 18 jaar plaasvind.—Almagest, IV, 2.

5. Mesopotamia and Iran in the Persian Period, bladsye 17-18.

6. Journal of Cuneiform Studies, Deel 47, 1995, bladsye 106-107.

7. Spykerskrif is ’n skryfwyse wat behels het dat ’n kopiïs ’n skerp stilus met ’n wigvormige punt gebruik het om verskillende tekens op die oppervlak van ’n sagte kleitablet aan te bring.

8. Sin-Sjarra-Isjkun het sewe jaar lank regeer, en die datums van 57 handelstablette van hierdie koning val binne die tydperk tussen sy troonsbestygingsjaar en sy sewende bewindsjaar. Sien Journal of Cuneiform Studies, Deel 35, 1983, bladsye 54-59.

9. Die datum van die handelstablet C.B.M. 2152 val in die vierde jaar van Assur-Etel-Ilani (Legal and Commercial Transactions Dated in the Assyrian, Neo-Babylonian and Persian Periods—Chiefly From Nippur, deur A.T. Clay, 1908, bladsy 74). Hy verskyn ook net voor Nabopolassar op die Haran-inskripsies van Nabonidus, (H1B), I, reël 30 (Anatolian Studies, Deel VIII, 1958, bladsye 35, 47). Vir die koninglose tydperk, sien Kroniek 2, reël 14, van Assyrian and Babylonian Chronicles, bladsye 87-88.

10. Party geleerdes voer aan dat Ptolemeus—wat glo slegs Babiloniese konings op sy lys ingesluit het—sekere konings weggelaat het omdat hulle die titel “koning van Assirië” gehad het. Maar soos jy in die venster op bladsy 30 sal opmerk, het ’n aantal konings in Ptolemeus se kanon ook die titel “koning van Assirië” gehad. Handelstablette, spykerskrifbriewe en inskripsies toon duidelik dat die konings Assur-Etel-Ilani, Sin-Sjumu-Lisjir en Sin-Sjarra-Isjkun oor Babilonië regeer het.

[Tabel/Prent op bladsy 29]

 (Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

NEO-BABILONIESE KONINGS

As hierdie geskiedkundiges betroubaar is, waarom stem hulle geskrifte nie ooreen nie?

Konings

Nabopolassar

BEROSSUS ca. 350-270 VHJ (21)

POLYHISTOR 105-? VHJ (20)

JOSEFUS 37-?100 HJ (—)

PTOLEMEUS ca. 100-170 HJ (21)

Nebukadnesar II

BEROSSUS ca. 350-270 VHJ (43)

POLYHISTOR 105-? VHJ (43)

JOSEFUS 37-?100 HJ (43)

PTOLEMEUS ca. 100-170 HJ (43)

Amel-Marduk

BEROSSUS ca. 350-270 VHJ (2)

 POLYHISTOR 105-? VHJ (12)

JOSEFUS 37-?100 HJ (18)

PTOLEMEUS ca. 100-170 HJ (2)

Neriglissa

BEROSSUS ca. 350-270 VHJ (4)

POLYHISTOR 105-? VHJ (4)

JOSEFUS 37-?100 HJ (40)

PTOLEMEUS ca. 100-170 HJ (4)

Labasji-Marduk

BEROSSUS ca. 350-270 VHJ (9 maande)

POLYHISTOR 105-? VHJ (—)

JOSEFUS 37-?100 HJ (9 maande)

PTOLEMEUS ca. 100-170 HJ (—)

Nabonidus

BEROSSUS ca. 350-270 VHJ (17)

POLYHISTOR 105-? VHJ (17)

JOSEFUS 37-?100 HJ (17)

PTOLEMEUS ca. 100-170 HJ (17)

(#) = Bewindstydperk van koning (in jare) volgens klassieke geskiedkundiges

[Erkenning]

Photograph taken by courtesy of the British Museum

[Tabel/Prente op bladsy 30]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

HOE VERGELYK PTOLEMEUS SE KANON MET ANTIEKE TABLETTE?

Ptolemeus laat party konings weg op sy lys. Waarom?

PTOLEMEUS SE KANON

Nabonassar

Nabu-Nadin-Zeri (Nadinu)

Mukin-Zeri en Pul

Ululaju (Salmaneser V), “koning van Assirië”

Merodag-Baladan

Sargon II, “koning van Assirië”

Eerste koninglose tydperk

Bel-Ibni

Assur-Nadin-Sjumi

Nergal-Usjezib

Musjezib-Marduk

Tweede koninglose tydperk

Esar-Haddon, “koning van Assirië”

Sjamasj-Sjuma-Ukin

Kandalanu

Nabopolassar

Nebukadnesar

Amel-Marduk

Neriglissar

Cyrus (Kores)

Kambuses

DIE KONINGSLYS VAN URUK SOOS DIT OP ANTIEKE TABLETTE VERSKYN

Kandalanu

Sin-Sjumu-Lisjir

Sin-Sjarra-Isjkun

Nabopolassar

Nebukadnesar

Amel-Marduk

Neriglissar

Labasji-Marduk

Nabonidus

[Prent]

Die Babiloniese kronieke is deel van die spykerskrifrekord wat ons help om te bepaal hoe akkuraat Ptolemeus se kanon is

[Erkenning]

Photograph taken by courtesy of the British Museum

[Foto-erkenning op bladsy 31]

Photograph taken by courtesy of the British Museum