Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is jou ontspanning voordelig?

Is jou ontspanning voordelig?

Is jou ontspanning voordelig?

“Hou aan om seker te maak van wat vir die Here aanneemlik is.”—EF. 5:10.

1, 2. (a) Hoe dui God se Woord daarop dat Jehovah wil hê dat ons die lewe moet geniet? (b) Wat sal dit ons beweeg om te doen as ons ontspanning as ’n “gawe van God” beskou?

 DWARSDEUR die Bybel vind ons verklarings wat daarop dui dat Jehovah wil hê dat ons nie net moet lewe nie, maar ook die lewe moet geniet. Psalm 104:14, 15 sê byvoorbeeld dat Jehovah “voedsel uit die aarde . . . laat voortkom, en wyn wat die hart van die sterflike mens vrolik maak, om die gesig te laat blink van olie, en brood wat die hart van die sterflike mens versterk”. Ja, Jehovah laat gewasse groei om graan, olie en wyn te lewer om vir ons as voedsel te dien. Maar wyn ‘maak ook die hart vrolik’. Dit voorsien meer as wat werklik nodig is om die lewe te onderhou en vergroot ons vreugde (Pred. 9:7; 10:19). Ja, Jehovah wil hê dat ons vreugdevol moet wees, dat ons harte met “vrolikheid” gevul moet wees.—Hand. 14:16, 17.

2 Daar is dus geen rede om skuldig te voel wanneer ons nou en dan tyd inruim om ‘die voëls van die hemel en die lelies van die veld dop te hou’ of om ander bedrywighede te geniet wat ons verkwik en ons lewe verryk nie (Matt. 6:26, 28; Ps. 8:3, 4). ’n Heilsame lewe is ’n “gawe van God” (Pred. 3:12, 13). As ons vrye tyd as deel van hierdie gawe beskou, sal dit ons beweeg om dit te gebruik op ’n manier wat die Gewer sal bly maak. a

Verskeidenheid en perke

3. Waarom is dit redelik om ruimte te laat vir verskeidenheid in ontspanning?

3 Diegene wat ’n gebalanseerde beskouing van ontspanning het, laat ruimte toe vir verskeidenheid, maar hulle besef ook dat perke nodig is. Waarom? Om die antwoord te kry, kan ons ontspanning met kos vergelyk. Gewilde geregte verskil van wêrelddeel tot wêrelddeel. Trouens, waaraan mense in een gebied smul, is dalk vir mense elders glad nie lekker nie. So ook vind ontspanning wat Christene in een wêrelddeel as aangenaam beskou, miskien nie byval by Christene elders nie. Selfs onder Christene wat in dieselfde gebied woon, kan iets wat een persoon as ontspannend beskou (soos om ’n goeie boek te lees), vir ’n ander vervelig lyk, of kan wat een persoon as verkwikkend beskou (soos om fiets te gaan ry), vir ’n ander uitputtend lyk. Ons aanvaar dan dat daar in sake soos kos en ontspanning ruimte is vir verskeidenheid en persoonlike voorkeur.—Rom. 14:2-4.

4. Waarom moet ons perke stel aan die soort ontspanning wat ons kies? Lig toe.

4 Maar ons besef ook dat die feit dat daar ruimte gelaat moet word vir verskeidenheid in ontspanning, ons nie die reg gee om te doen wat ons wil nie. Ter toeligting: Beskou weer die voorbeeld van kos. Hoewel ons dalk bereid is om ’n verskeidenheid kos te eet, sal ons nie doelbewus kos eet wat bedorwe is nie. Om sulke kos te eet, druis in teen gesonde verstand en kan ons gesondheid in gevaar stel. So ook is ons dalk ontvanklik vir ’n verskeidenheid vorme van heilsame vermaak, maar ons sal nie ontspanningsbedrywighede najaag wat lewensgevaarlik, gewelddadig of sedelik verdorwe is nie. Deelname aan hierdie bedrywighede sal indruis teen Bybelbeginsels en ons fisiese en geestelike gesondheid in gevaar stel. Om seker te maak dat ons binne redelike perke bly, sal dit verstandig van ons wees om vooraf vas te stel of ’n sekere vorm van ontspanning waarvan ons hou, voordelig is of nie (Ef. 5:10). Hoe kan ons dit doen?

5. Hoe kan ons vasstel of ons ontspanning aan God se standaarde voldoen?

5 As ons wil hê dat ontspanning ons tot voordeel moet strek en in Jehovah se oë welgevallig moet wees, moet dit voldoen aan spesifieke standaarde wat in God se Woord uiteengesit word (Ps. 86:11). Om vas te stel of dit die geval is met ’n vorm van ontspanning waarvan jy hou, kan jy ’n eenvoudige lys vrae oorweeg. Die lys bestaan uit drie vrae wat opgesom kan word in die woorde wat, wanneer en wie. Kom ons bespreek dit een vir een.

Wat behels dit?

6. Watter vermaak moet ons verwerp, en waarom?

6 Voordat jy aan ’n vorm van vermaak deelneem, is die eerste vraag wat jy jou moet afvra: Wat?—dit wil sê: ‘Wat is die aard van die ontspanningsbedrywigheid waarvan ek hou?’ Terwyl jy na die antwoord soek, is dit nuttig om in gedagte te hou dat daar basies twee kategorieë van vermaak is. Vir die eerste, sê ons nee; vir die tweede, miskien. Wat is die eerste? In hierdie goddelose wêreld word die meeste vermaak gekenmerk deur bedrywighede wat Bybelbeginsels ooglopend skend of God se wette openlik verbreek (1 Joh. 5:19). Ware Christene sê ’n besliste nee vir alle vermaak van hierdie aard. Dit sluit vermaak in wat sadisme, demonisme, homoseksualiteit, pornografie of geweld bevat, asook dinge wat ander walglike, onsedelike gebruike verheerlik. (1 Kor. 6:9, 10; lees Openbaring 21:8.) Ongeag waar ons is, ons bewys aan Jehovah dat ons “verafsku wat goddeloos is” deur te weier om enigsins by sulke vermaak betrokke te raak.—Rom. 12:9; 1 Joh. 1:5, 6.

7, 8. Hoe kan ons die gehalte van ’n sekere vorm van vermaak beoordeel? Lig toe.

7 Die tweede kategorie van ontspanningsbedrywighede bestaan uit vorme van vermaak wat nie draai om gebruike wat uitdruklik in God se Woord veroordeel word nie. In sulke gevalle moet ons, voordat ons die vermaak kies, die bedrywigheid noukeurig vergelyk met Jehovah se beskouing van wat heilsaam is, soos blyk uit Bybelbeginsels (Spr. 4:10, 11). Dan moet ons ’n persoonlike besluit neem wat ons met ’n goeie gewete laat (Gal. 6:5; 1 Tim. 1:19). Hoe kan ons dit doen? Dink hieraan: Voordat ons ’n nuwe gereg eet, wil ons eers uitvind wat die vernaamste bestanddele daarvan is. So ook moet ons, voordat ons aan ’n vorm van ontspanning deelneem, ondersoek wat die vernaamste aspekte daarvan is.—Ef. 5:17.

8 Byvoorbeeld, jy hou dalk van sport, en dit is maklik te verstane. Sport kan pret en opwindend wees. Maar sê nou jy hou van sekere sportsoorte weens die aggressiewe mededinging, groot waaghalsigheid, hoë beseringsyfer, oproerige feesvieringe, nasionalistiese gees of soortgelyke “bestanddele” daarvan? Nadat jy ondersoek het wat dit behels, sal jy waarskynlik besluit dat dit moeilik sal wees om jou denke te vereenselwig met Jehovah se denkwyse en met die boodskap van vrede en liefde wat ons aan ander verkondig (Jes. 61:1; Gal. 5:19-21). Maar as ’n sekere ontspanningsbedrywigheid uit “bestanddele” bestaan wat heilsaam is in Jehovah se oë, dan sal hierdie ontspanning heel moontlik vir jou voordelig en verkwikkend wees.—Gal. 5:22, 23; lees Filippense 4:8.

Wanneer neem ek daaraan deel?

9. Wat openbaar ons antwoord op die vraag: ‘Wanneer sal ek aan ontspanningsbedrywighede deelneem?’

9 Die tweede vraag wat jy jou moet afvra, is: Wanneer?—dit wil sê: ‘Wanneer sal ek aan ontspanningsbedrywighede deelneem? Hoeveel tyd sal ek daaraan bestee?’ Ons antwoord op die vraag wat? openbaar baie oor ons neigings—wat vir ons aanvaarbaar is en wat vir ons onaanvaarbaar is. Maar die antwoord op die vraag wanneer? openbaar ons prioriteite—wat ons as belangrik beskou en wat ons as onbelangrik beskou. Hoe kan ons dan vasstel of die waarde wat ons aan ons vermaak heg, gepas is?

10, 11. Hoe help Jesus se woorde in Matteus 6:33 ons om te besluit hoeveel tyd om aan ontspanning te bestee?

10 Jesus Christus het vir sy volgelinge gesê: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag” (Mark. 12:30). Ons liefde vir Jehovah kom dus eerste in ons lewe. Ons toon dat dit die geval is deur ag te slaan op Jesus se vermaning: “Hou dan aan om eers die koninkryk en sy regverdigheid te soek, en al hierdie ander dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matt. 6:33). Hoe kan hierdie woorde ons help om vas te stel hoeveel tyd om aan ontspanning af te staan en hoeveel waarde om daaraan te heg?

11 Let op hierdie feit: Jesus het ons vermaan om ‘aan te hou om eers die koninkryk te soek’. Hy het nie vir ons gesê om ‘aan te hou om net die koninkryk te soek’ nie. Jesus het natuurlik geweet dat ons baie dinge benewens die Koninkryk sal moet soek. Ons het behuising, kos, klere, basiese skoolopleiding, sekulêre werk, ontspanning, ensovoorts nodig. Maar net een van al die dinge wat ons soek, kom eerste—Koninkryksbelange (1 Kor. 7:29-31). Hierdie grondwaarheid moet ons beweeg om ons sekondêre bedrywighede, insluitende ontspanning, op so ’n wyse na te streef dat dit ons in staat stel om ons primêre bedrywigheid uit te voer—naamlik om na Koninkryksbelange om te sien. As ons dit doen, kan beperkte ontspanning voordelig wees.

12. Hoe kan die beginsel wat in Lukas 14:28 gevind word, op ontspanning toegepas word?

12 Met betrekking tot die tyd wat ons aan ontspanning bestee, sal dit dus verstandig van ons wees om die koste vooraf te bereken (Luk. 14:28). Ons moet vasstel hoeveel van ons tyd ’n sekere ontspanningsbedrywigheid sal kos. Dan moet ons besluit hoeveel van ons tyd dit werd is. As die deelname aan ’n sekere vorm van ontspanning sal beteken dat ons belangrike bedrywighede soos persoonlike Bybelstudie, gesinsaanbidding, die bywoning van Christelike vergaderinge of die Koninkrykspredikingswerk sal verwaarloos, is dit nie die prys werd nie (Mark. 8:36). Maar as ’n ontspanningsbedrywigheid waaraan ons van tyd tot tyd deelneem, ons verkwik om aan te hou om Koninkryksbelange na te streef, sal ons moontlik besluit dat die tyd wat ons aan hierdie vorm van ontspanning bestee, die moeite werd is.

Wie is my vriende?

13. Waarom moet ons noukeurig oorweeg saam met wie ons aan ontspanning deelneem?

13 Die derde vraag wat jy jou moet afvra, is: Wie?—dit wil sê: ‘Saam met wie wil ek aan my ontspanningsbedrywighede deelneem?’ Dit is belangrik om aan hierdie aspek van ontspanning aandag te skenk. Waarom? Omdat die gehalte van ons ontspanning grootliks beïnvloed word deur die gehalte van ons vriende. Net soos dit gewoonlik aangenamer is om saam met goeie vriende ’n ete te geniet, is dit dikwels aangenamer om saam met goeie vriende aan ontspanning deel te neem. Dit is derhalwe te verstane dat baie van ons, veral jongmense, ontspanning saam met ander geniet. Maar om te verseker dat ’n bedrywigheid voordelig sal wees, is dit verstandig om vooraf te bepaal watter soort mense ons as vriende moet kies en watter soort ons moet vermy.—2 Kron. 19:2; lees Spreuke 13:20; Jak. 4:4.

14, 15. (a) Watter voorbeeld het Jesus daarin gestel om die regte vriende te kies? (b) Watter vrae moet ons ons afvra met betrekking tot ons vriende?

14 Dit sal ons baie help as ons Jesus se voorbeeld volg wat sy keuse van vriende betref. Jesus was van die skepping af lief vir mense (Spr. 8:31). Terwyl hy op die aarde was, het hy liefdevolle bedagsaamheid aan alle soorte mense betoon (Matt. 15:29-37). Jesus het egter ’n onderskeid getref tussen om vriendelik te wees en om ’n intieme vriend te wees. Hoewel hy vriendelik was teenoor mense in die algemeen, was hy net ’n intieme vriend van diegene wat aan spesifieke vereistes voldoen het. Jesus het met sy 11 getroue apostels gepraat en gesê: “Julle is my vriende as julle doen wat ek julle beveel.” (Joh. 15:14; sien ook Johannes 13:27, 30.) Die enigste mense wat Jesus as vriende aanvaar het, was diegene wat hom gevolg het en Jehovah gedien het.

15 Wanneer jy dit oorweeg of jy iemand as ’n intieme vriend moet kies of nie, sal dit dus verstandig wees om Jesus se woorde in gedagte te hou. Vra jou vrae af soos: ‘Toon hierdie persoon deur sy woorde en dade dat hy Jehovah en Jesus se gebooie gehoorsaam? Het hy dieselfde Bybelse waardes en sedes as ek? Sal assosiasie met hom my aanspoor om die Koninkryk eerste in my lewe te stel en om ’n lojale kneg van Jehovah te wees?’ As jy seker is dat die antwoord op hierdie vrae ja is, het jy ’n goeie vriend gevind saam met wie jy jou ontspanningsbedrywighede kan geniet.—Lees Psalm 119:63; 2 Kor. 6:14; 2 Tim. 2:22.

Ons ontspanning—Deurstaan dit die toets?

16. Wat moet ons vasstel aangaande ons vermaak?

16 Ons het kortliks drie aspekte van vermaak bespreek—gehalte, hoeveelheid en assosiasie. As ons wil hê dat ons vermaak voordelig moet wees, moet dit noukeurig voldoen aan die Bybelse standaard vir elkeen van hierdie aspekte. Voordat ons aan ’n vorm van ontspanning deelneem, moet ons dit eers ondersoek. Wat gehalte betref, wil ons weet: ‘Wat behels dit? Is dit heilsaam of verdorwe?’ (Spr. 4:20-27). Aangaande hoeveelheid wil ons uitvind: ‘Hoeveel tyd sal ek daaraan bestee? Is die hoeveelheid gepas of nie?’ (1 Tim. 4:8). En met betrekking tot assosiasie moet ons vasstel: ‘Saam met wie sal ek aan die vermaak deelneem? Is hulle goeie of slegte vriende?’—Pred. 9:18; 1 Kor. 15:33.

17, 18. (a) Hoe kan ons toets of ons vermaak aan die Bybelse standaarde voldoen? (b) Wat is jý vasbeslote om te doen wanneer dit by jou keuse van vermaak kom?

17 As ’n vorm van vermaak in enigeen van hierdie drie aspekte nie aan die Bybelse standaarde voldoen nie, deurstaan dit nie die toets nie. As ons daarenteen seker maak dat ons ontspanningsbedrywighede in al drie aspekte aan die Bybelse standaarde voldoen, sal ons ontspanning Jehovah verheerlik en ons tot voordeel strek.—Ps. 119:33-35.

18 Laat ons dus, wanneer dit by ontspanning kom, daarna streef om die regte ding op die regte tyd saam met die regte mense te doen. Ja, mag dit elkeen van ons se hartgrondige begeerte wees om die Bybel se raad te volg: “Hetsy julle eet of drink of enigiets anders doen, doen alles tot heerlikheid van God.”—1 Kor. 10:31.

[Voetnoot]

a In hierdie artikel word die woorde “ontspanning” en “vermaak” uitruilbaar gebruik om te verwys na die tyd wat ons opsysit vir ontspanningsbedrywighede wat ons geniet.

Kan jy verduidelik?

Hoe kan jy met betrekking tot ontspanning die beginsels toepas wat gevind word in . . .

Filippense 4:8?

Matteus 6:33?

Spreuke 13:20?

[Studievrae]

[Diagram op bladsy 9]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Wat

[Diagram op bladsy 10]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Wanneer

[Diagram op bladsy 12]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Wie

[Prent op bladsy 10]

Hoe kan ons Jesus se voorbeeld volg in ons keuse van vriende en ontspanningsbedrywighede?