Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Bybel verander lewens

Die Bybel verander lewens

Die Bybel verander lewens

WAT het ’n dobbelaar en inbreker beweeg om van sy verslawing los te breek en sy lewenswyse te verander? Lees wat hy te sê het.

“Ek was versot op resiesperde.”—RICHARD STEWART

GEBORE: 1965

GEBOORTELAND: JAMAIKA

GESKIEDENIS: DOBBELAAR EN MISDADIGER

MY VERLEDE: Ek het grootgeword in ’n arm, digbevolkte gebied van Kingston, die hoofstad van Jamaika. Baie mense was werkloos en misdaad was iets algemeens. Bendes het veroorsaak dat mense in vrees lewe. Ek het amper elke dag geweerskote gehoor.

My hardwerkende ma het alles in haar vermoë gedoen om vir my en my jonger boetie en sussie te sorg. Sy het seker gemaak dat ons ’n goeie opvoeding kry. Ek het nie juis in skool belanggestel nie, maar ek was versot op resiesperde. Ek het stokkiesgedraai en na die renbaan gegaan. Ek het selfs die perde gery.

Kort voor lank het ek dikwels op perdewedrenne begin wed. Ek het ’n onsedelike lewe gelei en ’n regte vrouejagter geword. Ek het dagga gerook en mense beroof om my lewenswyse te finansier. Ek het baie vuurwapens besit, maar ek is nou dankbaar dat niemand hulle lewe verloor het as gevolg van die talle rooftogte waaraan ek deelgeneem het nie.

Uiteindelik is ek deur die polisie gevang en vir my misdade tronk toe gestuur. Nadat ek vrygelaat is, het ek eenvoudig na my vorige lewenswyse teruggekeer. Trouens, ek het erger geword as voorheen. Hoewel ek ’n onskuldige gesig gehad het, was ek hardkoppig, liggeraak en wreed. Ek het vir niemand behalwe myself omgegee nie.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: Gedurende hierdie moeilike tyd in my lewe het my ma die Bybel gestudeer en een van Jehovah se Getuies geword. Ek het positiewe veranderinge in haar persoonlikheid gesien en dit het my nuuskierig gemaak. Ek het besluit om uit te vind wat my ma laat verander het; daarom het ek die Bybel met die Getuies begin bespreek.

Ek het gevind dat die leringe van Jehovah se Getuies verskil van dié van ander godsdienste en dat die Getuies die Bybel gebruik om alles wat hulle sê, te staaf. Hulle was die enigste groep waarvan ek bewus was wat, soos die vroeë Christene, van huis tot huis preek (Matteus 28:19; Handelinge 20:20). Ek het daarvan oortuig geraak dat ek die ware godsdiens gevind het toe ek die opregte liefde sien wat hulle aan mekaar betoon.—Johannes 13:35.

Wat ek uit die Bybel geleer het, het my laat besef dat ek groot veranderinge in my lewe moes aanbring. Ek het uitgevind dat Jehovah God hoerery haat en dat ek die gewoontes wat my liggaam verontreinig het, moes aflê om hom te behaag (2 Korintiërs 7:1; Hebreërs 13:4). Ek is geraak toe ek leer dat Jehovah gevoelens het en dat my dade hom kan seermaak of kan verbly (Spreuke 27:11). Ek het dus besluit om op te hou om dagga te rook, ontslae te raak van my vuurwapens en aan my persoonlikheid te werk. Van die moeilikste veranderinge wat ek moes maak, was om my onsedelike lewenswyse en dobbelary te laat vaar.

Aanvanklik wou ek nie hê dat my vriende moes weet dat ek die Bybel met Jehovah se Getuies studeer nie. Maar ek het ’n keerpunt bereik nadat ek Matteus 10:33 gelees het, waar die volgende woorde van Jesus opgeteken is: “Elkeen wat my voor die mense verloën, hom sal ek ook verloën voor my Vader wat in die hemele is.” Hierdie woorde het my beweeg om vir my metgeselle te sê dat ek met die Getuies studeer. Hulle was geskok. Hulle kon nie glo dat iemand soos ek ’n Christen wou word nie. Maar ek het vir hulle gesê dat ek my vorige lewenswyse heeltemal wou laat vaar.

HOE EK BAAT GEVIND HET: My ma was verheug toe sy sien dat ek volgens Bybelstandaarde begin lewe. Nou is sy nie meer daaroor bekommerd of ek slegte dinge doen nie. Ons gesels oor iets wat ons in gemeen het—ons liefde vir Jehovah. Soms dink ek terug aan die soort persoon wat ek was en kan ek nie glo watter veranderinge ek met God se hulp kon maak nie. Ek smag nie meer na die onsedelike, materialistiese lewe wat ek voorheen gelei het nie.

As ek nie na die Bybel se boodskap geluister het nie, sou ek vandag óf dood óf in die tronk gewees het. Maar nou het ek ’n wonderlike, gelukkige gesin. Dit verskaf my groot vreugde om Jehovah God saam met my ondersteunende vrou en gehoorsame dogter te dien. Ek is dankbaar teenoor Jehovah dat hy my toelaat om deel te wees van ’n liefdevolle Christenbroederskap. Ek is so bly dat iemand die moeite gedoen het om my Bybelwaarheid te leer. En ek heg groot waarde aan die geleenthede wat ek het om ander te help om uit te vind wat die Bybel leer. Ek is baie dankbaar dat Jehovah God liefderyke goedhartigheid teenoor my geopenbaar het deur my na hom te trek.

[Lokteks op bladsy 11]

‘Ek het geleer dat Jehovah gevoelens het en dat my dade hom kan seermaak of kan verbly’

[Prent op bladsy 11]

Ek het positiewe veranderinge in my ma se persoonlikheid gesien

[Prent op bladsy 11]

Saam met my vrou en dogter