Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sleutels tot gesinsgeluk

Kweek geestelikheid as ’n egpaar aan

Kweek geestelikheid as ’n egpaar aan

Frederick a: “Toe ons pas getroud was, het ek daarop aangedring dat ek en my vrou die Bybel saam bestudeer. Ek het verwag dat sy gedurende ons studiesessies moet konsentreer. Maar dit het gelyk asof Leanne eenvoudig nie kon stilsit nie. En wanneer ek vrae gevra het, het sy net ja of nee geantwoord. Sy het nie geantwoord soos ek gevoel het sy gedurende ’n gesinsbybelstudie moet antwoord nie.”

Leanne: “Ek was 18 toe ek met Frederick getrou het. Ons het die Bybel gereeld saam bestudeer, maar Frederick het elke sessie gebruik om my te wys op al my foute en die maniere waarop ek as vrou moet verbeter. Ek het so ontmoedig en seergemaak gevoel!”

WAT dink jy was die probleem met Frederick en Leanne se verhouding? Hulle het goeie bedoelings gehad. Hulle was albei lief vir God. Hulle het albei besef hoe belangrik dit is om die Bybel saam te bestudeer. Maar die einste ding wat kon gehelp het om hulle te verenig, het blykbaar die teenoorgestelde uitwerking gehad. Hulle het wel saam gestudeer, maar hulle het nie geestelikheid as ’n egpaar aangekweek nie.

Wat is geestelikheid? Waarom moet egpare daarna streef om dit aan te kweek? Voor watter uitdagings sal hulle dalk te staan kom, en hoe kan hulle dit te bowe kom?

Wat is geestelikheid?

Die woord “geestelikheid” soos dit in die Bybel gebruik word, verwys na ’n gesindheid of ’n benadering tot die lewe (Judas 18, 19). Die Bybelskrywer Paulus wys byvoorbeeld op die verskil in gesindheid tussen ’n geestelike en vleeslike mens. Paulus dui aan dat mense met vleeslike neigings meer op hulleself fokus as op ander. Hulle doen wat reg is in hulle eie oë eerder as om aan God se standaarde te probeer voldoen.—1 Korintiërs 2:14; Galasiërs 5:19, 20.

In teenstelling hiermee heg mense met ’n geestelike gesindheid waarde aan God se standaarde. Hulle beskou Jehovah God as hulle Vriend en probeer sy persoonlikheid navolg (Efesiërs 5:1). Hulle behandel ander dus op ’n liefdevolle, goedhartige en saggeaarde manier (Eksodus 34:6). En hulle is gehoorsaam aan God selfs wanneer dit vir hulle ongeleë is (Psalm 15:1, 4). “Soos ek dit verstaan,” sê Darren, wat in Kanada woon en al 35 jaar getroud is, “dink ’n geestelike mens altyd aan hoe sy woorde en dade sy vriendskap met God sal raak.” Sy vrou, Jane, voeg by: “Ek dink ’n geestelike vrou is iemand wat elke dag hard werk om die vrug van God se gees deel van haar persoonlikheid te maak.”—Galasiërs 5:22, 23.

’n Mens hoef natuurlik nie getroud te wees om ’n geestelike gesindheid aan te kweek nie. Trouens, die Bybel leer dat elkeen die verantwoordelikheid het om van God te leer en hom na te volg.—Handelinge 17:26, 27.

Waarom is dit belangrik om geestelikheid as ’n egpaar aan te kweek?

Waarom moet huweliksmaats dan daarna streef om geestelikheid as ’n egpaar aan te kweek? Dink aan hierdie illustrasie: Twee tuiniers besit ’n stuk grond waarop hulle groente wil kweek. Die een besluit om ’n sekere tyd van die jaar saad te plant, terwyl die ander een dink dat die saad later geplant moet word. Die een wil ’n sekere soort kunsmis gebruik, maar die ander een voel sterk dat die plante dit nie nodig het nie. Die een wil elke dag in die tuin werk. Die ander een is heel tevrede om terug te sit en te ontspan eerder as om te werk. Onder hierdie omstandighede sal die tuin dalk groente oplewer, maar nie soveel as wat dit sou as die tuiniers ooreengekom het oor wat om te doen en dan saamgewerk het om daardie doelwitte te bereik nie.

’n Man en vrou is soos daardie tuiniers. As slegs een huweliksmaat geestelikheid aankweek, sal die verhouding moontlik verbeter (1 Petrus 3:1, 2). Maar hoeveel beter is dit tog as al twee huweliksmaats besluit om in ooreenstemming met God se standaarde te lewe en hard werk om mekaar te ondersteun terwyl hulle God dien! “Twee is beter as een”, het die wyse koning Salomo geskryf. Waarom? “Want hulle het ’n goeie beloning vir hulle harde werk. Want as een van hulle val, kan die ander sy metgesel ophelp.”—Prediker 4:9, 10.

Dit is waarskynlik jou hartsbegeerte om geestelikheid saam met jou huweliksmaat aan te kweek. Maar soos met tuinwerk, sal begeerte alleen nie resultate oplewer nie. Kyk na twee uitdagings waarvoor julle moontlik te staan sal kom en hoe julle dit te bowe kan kom.

UITDAGING 1: Ons het nie tyd nie.

“My man kom tel my seweuur die aand by die werk op”, sê Sue, wat kort gelede getrou het. “Wanneer ons by die huis kom, wag al die huiswerk op ons. Dis ’n stryd tussen die verstand en liggaam; jou verstand sê vir jou dat julle tyd moet neem om saam van God te leer, maar al wat jou liggaam wil hê, is ’n bietjie rus.”

’n Moontlike oplossing: Wees aanpasbaar en gee jou samewerking. Sue sê: “Ek en my man het besluit om vroeg op te staan en ’n deel van die Bybel saam te lees en daaroor te praat voordat ons werk toe gaan. Hy help my ook met van die huiswerk sodat ek tyd saam met hom kan deurbring.” Watter voordele geniet hulle omdat hulle die ekstra moeite doen? Sue se man, Ed, sê: “Ek vind dat ek en Sue ons probleme beter hanteer en ons minder oor dinge kwel wanneer ons gereeld oor geestelike dinge praat.”

Behalwe om met mekaar te praat, is dit ook noodsaaklik dat julle elke dag ’n paar minute saam bid. Hoe kan dit help? “Ek en my vrou”, sê Ryan, wat 16 jaar lank getroud is, “het onlangs deur ’n baie moeilike tyd in ons verhouding gegaan. Maar ons het tyd gemaak om elke aand saam te bid en met God te praat oor wat ons kwel. Na my mening het die feit dat ons saam gebid het, ons gehelp om ons probleme op te los en weer vreugde uit ons huwelik te put.”

PROBEER DIE VOLGENDE: Sit aan die einde van elke dag net ’n paar minute opsy om te praat oor goeie dinge wat met julle as ’n egpaar gebeur het, dinge waarvoor julle God kan dank. Praat ook oor uitdagings waarmee julle te kampe het, uitdagings waarmee julle God se hulp baie nodig het. Maar wees versigtig om dit nie as ’n geleentheid te gebruik om jou maat se foute uit te wys nie. Wanneer julle saam bid, noem eerder net die dinge waaraan julle saam moet werk. Tree die volgende dag in ooreenstemming met die versoeke op wat julle in gebed gemaak het.

UITDAGING 2: Ons het verskillende vermoëns.

“Ek was nog nooit iemand wat daarvan gehou het om te lees nie”, sê Tony. Sy vrou, Natalie, sê: “Ek hou van lees, en ek hou daarvan om te praat oor wat ek geleer het. Soms dink ek dat Tony ’n bietjie geïntimideerd voel wanneer ons Bybelmateriaal bespreek.”

’n Moontlike oplossing: Wees ondersteunend, nie mededingend of veroordelend nie. Prys jou maat vir sy of haar goeie eienskappe en moedig hom of haar aan om daarin te verbeter. “My vrou se entoesiasme om Bybelonderwerpe te bespreek, kan soms ’n bietjie oorweldigend wees,” sê Tony, “en in die verlede het ek gehuiwer om geestelike onderwerpe met haar te bespreek. Maar Natalie is baie ondersteunend. Nou bespreek ons gereeld geestelike sake, en ek het agtergekom dat daar geen rede is om bang te wees nie. Ek geniet dit om met haar oor hierdie onderwerpe te praat. Dit het ons gehelp om as ’n egpaar meer ontspanne en vreedsamer te wees.”

Baie egpare het gevind dat hulle huwelik verbeter wanneer hulle elke week ’n vaste tyd opsysit om die Bybel saam te lees en te bestudeer. Sorg net dat jy enige raad op jouself toepas, nie op jou maat nie (Galasiërs 6:4). Bespreek netelige probleme in julle huwelik by ’n ander geleentheid, nie gedurende julle studiesessies nie. Waarom nie?

Dink hieraan: Sou jy ’n etterende wond versorg terwyl jy ’n maaltyd saam met jou gesin geniet? Waarskynlik nie. Jy sou almal se eetlus bederf. Om van God se wil te leer en dit te doen, het Jesus gesê, is soos om kos te eet (Matteus 4:4; Johannes 4:34). As jy oor emosionele wonde praat elke keer wanneer julle die Bybel oopmaak, kan jy jou maat se geestelike eetlus bederf. Julle moet natuurlik ook oor probleme praat. Maar doen dit op ’n tyd wat daarvoor opsygesit is.—Spreuke 10:19; 15:23.

PROBEER DIE VOLGENDE: Skryf twee of drie van jou maat se eienskappe neer wat jy die meeste waardeer. Wanneer julle weer oor geestelike sake praat wat met hierdie eienskappe verband hou, sê vir jou maat dat jy die manier waarop hy of sy hierdie eienskappe openbaar, baie waardeer.

Jy maai wat jy saai

As julle as ’n egpaar geestelikheid saai, of aankweek, sal julle uiteindelik ’n vreedsamer en bevredigender huwelik maai. Trouens, God se Woord verseker ons dat ‘’n mens sal maai wat hy saai’.—Galasiërs 6:7.

Frederick en Leanne, wat aan die begin van hierdie artikel aangehaal word, het geleer hoe waar hierdie Bybelbeginsel is. Hulle is al 45 jaar getroud en weet dat volharding goeie vrugte afwerp. “Ek het altyd my vrou vir die gebrek aan kommunikasie blameer”, sê Frederick. “Maar mettertyd het ek besef dat ek ook harder moet probeer.” Leanne sê: “Wat ons werklik deur die moeilike tye gehelp het, was die feit dat ons al twee lief is vir Jehovah God. Deur die jare heen het ons gereeld saam gestudeer en gebid. Wanneer ek sien hoe Frederick Christelike eienskappe in groter mate aan die dag probeer lê, is dit vir my makliker om vir hom lief te wees.”

a Name is verander.

VRA JOU AF . . .

  • Wanneer laas het ons as ’n egpaar saam gebid?

  • Wat kan ek doen sodat my maat gewilliger sal wees om met my oor geestelike sake te praat?