Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe kan vaders na aan hulle seuns bly?

Hoe kan vaders na aan hulle seuns bly?

Hoe kan vaders na aan hulle seuns bly?

“PAPPA, hoekom weet Pappa so baie?” Het jou seun jou al ooit met ’n soortgelyke vraag verras? Jy het toe seker trots gevoel om ’n pa te wees. Maar as jou seun ’n stap verder gegaan het—as hy jou wyse raad toegepas het en daarby baat gevind het—het jou hart ongetwyfeld met selfs groter vreugde oorgeloop. aSpreuke 23:15, 24.

Maar het jou seun, noudat hy ouer is, nog net sulke groot bewondering vir jou? Of lyk dit asof sy agting vir jou afneem namate hy ouer word? Hoe kan jy na aan jou seun bly terwyl hy van seun tot man ontwikkel? Kom ons kyk eerstens na party van die uitdagings waarvoor vaders te staan kom.

Drie algemene uitdagings

1. TE MIN TYD: In baie lande is vaders die gesin se vernaamste broodwinner. Hulle werk vereis dikwels dat hulle vir die grootste deel van die dag weg van die huis af moet wees. In sommige plekke bring vaders verbasend min tyd saam met hulle kinders deur. ’n Onlangse opname in Frankryk het byvoorbeeld getoon dat vaders in hierdie land gemiddeld minder as 12 minute per dag aan die versorging van hulle kinders bestee.

IETS OM OOR TE DINK: Hoeveel tyd bring jy saam met jou seun deur? Waarom skryf jy nie oor die volgende week of twee elke dag neer hoeveel tyd jy saam met hom deurbring nie? Die resultate sal jou dalk verbaas.

2. GEBREK AAN ’N GOEIE VOORBEELD: Party mans het min met hulle eie vaders te doen gehad. “Ek het min kontak met my pa gehad”, sê Jean-Marie, wat in Frankryk woon. Hoe is Jean-Marie hierdeur geraak? “Dit het heeltemal onverwagse probleme veroorsaak”, sê hy. “Ek vind dit byvoorbeeld moeilik om betekenisvolle gesprekke met my seuns te hê.” In ander gevalle ken mans hulle vaders baie goed, maar die verhouding tussen vader en seun is geskaad. Philippe, 43, sê: “My pa het dit moeilik gevind om liefde teenoor my te betoon. Gevolglik moet ek hard daaraan werk om liefdevoller teenoor my seun te wees.”

IETS OM OOR TE DINK: Dink jy dat die verhouding wat jy met jou vader het, ’n uitwerking het op die manier waarop jy jou seun behandel? Volg jy jou vader se goeie of slegte gewoontes na? In watter opsigte?

3. GEBREK AAN GEBALANSEERDE RAAD: In sommige kulture word die vader se rol in die grootmaak van kinders nie as belangrik beskou nie. “Waar ek grootgeword het,” sê Luca, wat in ’n Wes-Europese land grootgemaak is, “het mense gevoel dat dit ’n vrou se werk is om vir die kinders te sorg.” In ander kulture word vaders aangemoedig om streng dissiplineerders te wees, maar nie veel meer as dit nie. George, wat in ’n Afrikaland grootgeword het, sê byvoorbeeld: “In my kultuur speel vaders nie met hulle kinders nie omdat hulle bang is dat dit hulle gesag sal ondermyn. Daarom was dit nog altyd vir my moeilik om die geselskap van my seun te geniet.”

IETS OM OOR TE DINK: Watter rol verwag jou gemeenskap moet vaders speel? Word hulle geleer om die grootmaak van kinders as ’n vrou se werk te beskou? Word vaders aangemoedig om liefde en geneentheid teenoor hulle seuns te betoon of word sulke idees afgekeur?

As jy ’n vader is wat een of meer van hierdie uitdagings te bowe moet kom, hoe kan jy sukses behaal? Hier is ’n paar wenke.

Begin terwyl jou seun nog jonk is

Dit lyk of seuns gebore word met die begeerte om soos hulle vader te wees. Benut dus hierdie begeerte terwyl jou seun nog jonk is. Hoe kan jy dit doen? En waar kan jy die tyd vind om saam met hom te wees?

Wanneer dit ook al moontlik is, moet jy jou seun betrek by jou daaglikse aktiwiteite. As jy byvoorbeeld huiswerk doen, kry hom om jou te help. Gee jou seun ’n besempie of ’n grafie. Hy sal ongetwyfeld verheug wees om saam met sy held en rolmodel, sy pa, te werk! Dit sal jou dalk ’n bietjie langer neem om die taak te voltooi, maar jy sal die band tussen julle versterk en jy sal hom ’n goeie werketiek leer. Lank gelede het die Bybel vaders aangemoedig om hulle kinders by hulle daaglikse aktiwiteite te betrek en om hierdie geleenthede te gebruik om met hulle te kommunikeer en hulle te leer (Deuteronomium 6:6-9). Dit is nog steeds goeie raad.

Moenie net saam met jou seun werk nie, ruim ook tyd in om saam met hom te speel. Om te speel, gee julle meer as net ’n geleentheid om saam pret te hê. Navorsing toon dat wanneer vaders met hulle jong kinders speel, hulle hulle aanspoor om avontuurlustiger en moediger te wees.

Om met mekaar te speel, dien ’n selfs belangriker doel. “Dit is deur te speel”, sê die navorser Michel Fize, “dat ’n seun die beste met sy vader kommunikeer.” Tydens speeltyd kan ’n vader deur sy woorde en dade geneentheid aan sy seun betoon. Sodoende leer hy sy seun ook hoe om liefde te betoon. “Toe my seun klein was,” sê André, ’n vader wat in Duitsland woon, “het ons dikwels saam gespeel. Ek het hom drukkies gegee en hy het geleer om my liefde te beantwoord.”

Slapenstyd gee ’n vader nog ’n geleentheid om die bande van liefde tussen hom en sy seun te versterk. Lees gereeld vir hom ’n storie, en luister na hom terwyl hy jou van die vreugdes en sorge van die dag vertel. As jy dit doen, sal jy dit vir hom makliker maak om aan te hou om met jou te kommunikeer terwyl hy ouer word.

Hou aan om gemeenskaplike belangstellings na te streef

Sommige tienerseuns staan dalk onverskillig teenoor ’n vader se pogings om met hulle te kommunikeer. As dit lyk of jou seun jou vrae ontwyk, moet jy nie dink dat hy glad nie wil gesels nie. Hy sal moontlik meer bereid wees om te gesels as jy die manier aanpas waarop jy met hom kommunikeer.

Jacques, ’n vader wat in Frankryk woon, het dit soms moeilik gevind om met sy seun, Jérôme, te kommunikeer. Maar hy het nie sy seun gedwing om met hom te praat nie; hy het eerder sy benadering aangepas—hy het sokker met hom gespeel. “Nadat ons gespeel het,” sê Jacques, “het ons gewoonlik op die gras gesit en ’n bietjie gerus. Op sulke tye het my seun dikwels openlik met my gepraat. Die blote feit dat ons saam was, en ek dink die feit dat dit net ons twee was, het ’n spesiale band tussen ons laat ontstaan.”

Sê nou jou seun hou nie van sport nie? André het aangename herinneringe van die ure wat hy en sy seun saam na die sterre gekyk het. “Ons het opvoustoele buite in die koue naglug gesit”, sê André. “Dan het ons ons warm toegedraai en met ’n koppie tee in die hand na die naghemel gekyk. Ons het oor die Een gepraat wat die sterre geskep het. Ons het oor persoonlike sake gepraat. Ons het oor amper alles gepraat.”—Jesaja 40:25, 26.

Sê nou jy hou nie daarvan om party van die dinge te doen waarin jou seun belangstel nie? Dan sal jy dalk jou persoonlike voorkeure moet prysgee (Filippense 2:4). “Ek het baie meer as my seun Vaughan in sport belanggestel”, sê Ian, wat in Suid-Afrika woon. “Hy het van vliegtuie en rekenaars gehou. Daarom het ek ook in daardie dinge belangstelling begin toon en hom na vliegskoue geneem en met ’n vlugsimulator saam met hom op die rekenaar gespeel. Ek dink dat Vaughan openliker met my kon praat omdat ons saam aan genotvolle aktiwiteite deelgeneem het.”

Bou sy selfvertroue op

“Kyk, Pappa, kyk!” Het jou seuntjie al ooit so na jou uitgeroep toe hy ’n nuwe vaardigheid bemeester het? As hy nou ’n tiener is, probeer hy nog steeds jou goedkeuring so openlik kry? Miskien nie. Maar hy het dit beslis nodig om ’n goed gebalanseerde volwassene te word.

Beskou die voorbeeld wat Jehovah God self gestel het in sy handelinge met een van sy seuns. Toe Jesus op die punt gestaan het om ’n spesiale fase van sy lewe te begin, het God sy liefde vir hom openlik uitgedruk en gesê: “Dit is my Seun, die geliefde, wat ek goedgekeur het” (Matteus 3:17; 5:48). Dit is waar dat jy ’n verpligting het om jou seun te dissiplineer en te onderrig (Efesiërs 6:4). Maar soek jy ook na geleenthede om jou goedkeuring uit te druk vir die goeie dinge wat hy sê en doen?

Sommige mans vind dit moeilik om goedkeuring en geneentheid uit te druk. Hulle het dalk in gesinne grootgeword waar hulle ouers eerder op foute as prestasies gefokus het. As dit met jou die geval is, sal jy ’n doelbewuste poging moet aanwend om jou seun se selfvertroue op te bou. Hoe kan jy dit doen? Luca, wat vroeër aangehaal is, werk gereeld saam met sy 15-jarige seun, Manuel, terwyl hulle huishoudelike takies doen. Luca sê: “Partykeer sê ek vir Manuel dat hy die takie op sy eie moet begin en dat ek hom sal help as hy my nodig het. Meestal kom hy goed reg op sy eie. Hy voel in sy skik wanneer hy suksesvol is en dit bou sy selfvertroue op. Wanneer hy suksesvol is, prys ek hom. Wanneer hy nie so goed doen as wat hy gehoop het nie, sê ek nog steeds vir hom dat ek sy poging waardeer.”

Jy kan ook jou seun se selfvertroue opbou deur hom te help om groter doelwitte in die lewe te bereik. Maar gestel jou seun bereik doelwitte stadiger as wat jy wil hê hy moet. Of sê nou sy doelwitte, al is hulle nie sleg nie, verskil van dié wat jy vir hom sou gekies het? Dan sal jy dalk weer na jou verwagtinge moet kyk. Jacques, wat vroeër aangehaal is, sê: “Ek probeer my seun help om bereikbare doelwitte te stel. Maar ek probeer ook seker maak dat dit sy doelwitte is, nie myne nie. Dan herinner ek my daaraan dat hy sy doelwitte teen sy eie pas moet probeer bereik.” As jy na jou seun se opinies luister, hom vir sy sterk punte prys en hom aanmoedig om sy mislukkings te oorkom, sal jy hom help om sy doelwitte te bereik.

Daar sal natuurlik haakplekke in julle verhouding wees. Maar op die lange duur sal jou seun waarskynlik na aan jou wil bly. Wie wil immers nie na aan iemand bly wat hom help om suksesvol te wees nie?

[Voetnoot]

a Hoewel hierdie artikel op die unieke band tussen vaders en seuns fokus, is die beginsels wat bespreek word, ook op die verhouding tussen vaders en dogters van toepassing.