Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wanneer is eertydse Jerusalem vernietig?—Deel twee

Wanneer is eertydse Jerusalem vernietig?—Deel twee

Wanneer is eertydse Jerusalem vernietig?—Deel twee

Wat die kleidokumente werklik toon

Dit is die tweede artikel in opeenvolgende nommers van Die Wagtoring wat vakkundige vrae bespreek in verband met die datum van die eerste vernietiging van eertydse Jerusalem. Hierdie tweedelige reeks bevat deeglik nagevorste en Bybelse antwoorde op vrae waaroor party lesers al gewonder het.

Deel een het die volgende punte vasgestel:

▪ Sekulêre geskiedkundiges sê dat Jerusalem in 587 VHJ vernietig is. a

▪ Bybelchronologie dui aan dat die vernietiging in 607 VHJ plaasgevind het.

▪ Sekulêre geskiedkundiges baseer hulle gevolgtrekkings op die geskrifte van klassieke geskiedkundiges en op die kanon van Ptolemeus.

▪ Party geskrifte van klassieke geskiedkundiges bevat noemenswaardige foute en stem nie altyd ooreen met die verslae op kleitablette nie. b

DIE Bybel sê dat die Joodse gevangenes ballinge in Babilon sou wees “sodat die woord van die HERE deur die mond van Jeremia vervul sou word . . . om sewentig jaar vol te maak”. Wanneer is hulle vrygelaat? In “die eerste [regerings]jaar van Kores, die koning van Persië” (2 Kronieke 36:21, 22, Ou Afrikaanse Bybelvertaling). Bybelse en sekulêre geskiedenis stem saam dat hierdie ballingskap in Babilon geëindig het nadat Kores Babilon verower en die Jode bevry het, wat in 537 VHJ na Jerusalem teruggekeer het. Aangesien die Bybel uitdruklik sê dat die ballingskap 70 jaar geduur het, moes dit in 607 VHJ begin het.

Maar die meeste geleerdes plaas Jerusalem se vernietiging in 587 VHJ. Dit sou beteken dat die ballingskap slegs 50 jaar geduur het. Hoe kom hulle tot hierdie slotsom? Hulle baseer hulle berekeninge op antieke spykerskrifdokumente wat besonderhede oor Nebukadnesar II en sy opvolgers voorsien.1 Baie van hierdie dokumente is deur manne geskryf wat gedurende of na aan die tyd van Jerusalem se vernietiging gelewe het. Maar presies hoe betroubaar is die berekeninge wat op 587 VHJ dui? Wat toon hierdie dokumente werklik?

Om hierdie vrae te beantwoord, kan ons na drie soorte dokumente kyk waarop geleerdes dikwels steun: (1) Die Babiloniese kronieke, (2) handelstablette en (3) astronomiese tablette.

Die Babiloniese kronieke.

Wat is dit? Die Babiloniese kronieke is ’n versameling tablette waarop belangrike gebeurtenisse in die Babiloniese geskiedenis opgeteken is.2

Wat deskundiges gesê het? R.H. Sack, ’n leidende gesaghebbende op die gebied van spykerskrifdokumente, sê dat die kronieke ’n onvolledige rekord van belangrike gebeurtenisse voorsien. c Hy het geskryf dat geskiedkundiges “sekondêre bronne [moet ondersoek] om vas te stel wat werklik gebeur het”.

Wat toon die dokumente? Die geskiedenisverslag soos dit in die Babiloniese kronieke opgeteken is, is onvolledig.3 (Sien die  venster hieronder.) Logieserwys ontstaan die vraag dan: Hoe betroubaar is afleidings wat op so ’n onvolledige rekord gebaseer is?

Handelstablette.

Wat is dit? Die meeste handelstablette uit die Neo-Babiloniese tydperk is wetlike kwitansies. Die tablette is volgens die dag, maand en jaar van die heersende koning gedateer. Een tablet sê byvoorbeeld dat ’n transaksie plaasgevind het op “die 27ste dag van Nisan, die 11de jaar van Nebukadresar [wat ook bekend staan as Nebukadnesar II], koning van Babilon”.4

Wanneer die koning gesterf het of uit sy amp verwyder is en ’n nuwe koning aan die bewind gekom het, is die oorblywende maande van daardie regeringsjaar as die troonbestygingsjaar van die nuwe heerser beskou. d5 Met ander woorde, die oorgang van die een koning na die volgende het in dieselfde Babiloniese kalenderjaar plaasgevind. Gevolglik moet tablette uit die nuwe heerser se troonbestygingsjaar logieserwys dateer uit maande ná die laaste maand van die vorige koning.

Wat deskundiges gesê het? R.H. Sack het talle handelstablette uit die Neo-Babiloniese tydperk ondersoek. In 1972 het Sack geskryf dat nuwe ongepubliseerde tekste van die Britse Museum wat tot sy beskikking gestel is, vorige gevolgtrekkings in verband met die oorgang van die heerskappy van Nebukadnesar II na sy seun Amel-Marduk (wat ook bekend staan as Ewil-Merodag) “heeltemal omvergewerp” het.6 Hoe so? Sack het geweet dat tablette toon dat Nebukadnesar II nog in die sesde maand van sy laaste (43ste) jaar regeer het. Maar hierdie onlangs ontsyferde tablette uit die troonbestygingsjaar van die volgende koning, Amel-Marduk, dateer uit die vierde en vyfde maand van wat aangeneem word dieselfde jaar is.7 Dit is duidelik dat daar ’n teenstrydigheid is.

Wat toon die dokumente? Daar is nog ander teenstrydighede in die oorgang van een koning na die volgende. Die dokumente toon byvoorbeeld dat Nebukadnesar II nog in die tiende maand van daardie jaar regeer het—ses maande nadat sy opvolger, volgens wat veronderstel word, begin regeer het.8 ’n Soortgelyke teenstrydigheid bestaan in die oorgang van Amel-Marduk na sy opvolger, Neriglissar.9

Waarom is hierdie teenstrydighede betekenisvol? Soos vroeër genoem is, dui leemtes in die geskiedenisverslag in die Babiloniese kronieke aan dat ons dalk nie ’n ononderbroke chronologiese rekord het nie.10 Kon ander konings tussen die bewinde van hierdie konings regeer het? Indien wel, moet bykomende jare by die Neo-Babiloniese tydperk gevoeg word. Gevolglik verskaf nóg die Babiloniese kronieke nóg die handelstablette ’n grondslag om met sekerheid vas te stel dat Jerusalem in 587 VHJ vernietig is. e

Astronomiese tablette.

Wat is dit? Spykerskriftablette met beskrywings van die stand van die son, maan, planete en sterre, tesame met geskiedkundige inligting soos die regeringsjaar van ’n spesifieke koning. Die astronomiese dagboek wat hieronder verskyn, maak byvoorbeeld melding van ’n maansverduistering wat in die eerste maand van die eerste jaar van koning Mukin-Zeri se bewind plaasgevind het.11

Wat deskundiges gesê het? Deskundiges stem saam dat die Babiloniërs uitvoerige tabelle en stelsels ontwikkel het om te voorspel wanneer maansverduisterings heel moontlik sou plaasvind.12

Maar kon die Babiloniërs terugreken om vas te stel wanneer maansverduisterings in die verlede plaasgevind het? “Dit is moontlik”, sê professor John Steele, “dat party van die vroegste voorspellings gemaak is deur die stelsel te gebruik om terug te reken toe die teks saamgestel is.” (Ons kursiveer.)13 Professor David Brown, wat glo dat die astronomiese tabelle voorspellings ingesluit het wat kort voor die opgetekende gebeurtenisse gemaak is, erken dat dit moontlik is dat party daarvan “terugberekeninge was deur kopiïste in die 4de en latere eeue v.C.”14 As dit terugberekeninge is, kan dit werklik as absoluut betroubaar beskou word tensy dit deur ander bewyse bevestig word?

Al het ’n maansverduistering op ’n sekere datum plaasgevind, beteken dit dat die geskiedkundige inligting wat die skrywer van die tablet aan die datum koppel, akkuraat is? Nie noodwendig nie. Die geleerde R.J. van der Spek verduidelik: “Die samestellers was sterrekundiges, nie geskiedkundiges nie.” Hy sê dat dele van die tablet wat geskiedkundige inligting bevat, “min of meer terloops” is, en hy waarsku dat sulke geskiedkundige inligting “oordeelkundig gebruik moet word”.15

Wat toon die dokumente? Neem VAT 4956 as voorbeeld. Die eerste reël van hierdie tablet lui: “Jaar 37 van Nebukadnesar, koning van Babilon.”16 Daarna gee dit gedetailleerde beskrywings van die posisie van die maan en planete ten opsigte van verskillende sterre en sterrebeelde. Dit maak ook melding van ’n maansverduistering. Geleerdes verbind al hierdie posisies met 568/567 VHJ, wat die 18de jaar van Nebukadnesar II, toe hy Jerusalem vernietig het, 587 VHJ sou maak. Maar wys hierdie sterrekundige verwysings sonder enige twyfel slegs na die jaar 568/567 VHJ?

Die tablet meld ’n maansverduistering wat volgens berekeninge op die 15de dag van die derde Babiloniese maand, Simanu, plaasgevind het. Daar was wel ’n maansverduistering in 568 VHJ op ’n sekere dag in dié maand, wat met 4 Julie (Juliaanse kalender) ooreenstem. Maar daar was ook ’n maansverduistering 20 jaar vroeër, op 15 Julie 588 VHJ.17

As 588 VHJ Nebukadnesar II se 37ste jaar was, dan was sy 18de jaar 607 VHJ—die einste jaar wat volgens Bybelchronologie die jaar van Jerusalem se vernietiging was! (Sien die  tydlyn hieronder.) Maar voorsien VAT 4956 verdere bevestigende bewyse dat die vernietiging in 607 VHJ plaasgevind het?

Buiten die bogenoemde maansverduistering is daar 13 stelle maanwaarnemings en 15 planetêre waarnemings op die tablet. Dit beskryf die posisie van die maan of planete ten opsigte van sekere sterre of sterrebeelde.18 Daar is ook agt tydintervalle tussen die opkoms en ondergang van die son en die maan.18a

Weens die groter betroubaarheid van die maanposisies het navorsers die 13 stelle maanposisies op VAT 4956 noukeurig ontleed. Hulle het die data ontleed met behulp van ’n rekenaarprogram wat die posisie van hemelliggame op ’n sekere datum in die verlede kan aantoon.19 Wat het hulle ontleding aan die lig gebring? Hoewel nie al hierdie stelle maanposisies by die jaar 568/567 VHJ pas nie, pas al 13 stelle by berekende posisies van 20 jaar vroeër, van die jaar 588/587 VHJ.

Een van die plekke waar die maanwaarnemings selfs beter pas by 588 VHJ as by 568 VHJ, word in die tablet op hierdie bladsye aangetoon. In reël 3 van hierdie tablet lees ons dat die maan op die “aan van die 9de [Nisanu]” in ’n sekere posisie was. Maar die eerste geleerdes wat aangevoer het dat die gebeurtenis in 568 VHJ (astronomies -567) plaasgevind het, het erken dat die maan in 568 VHJ op “die 8ste Nisanu, en nie op die 9de nie,” in daardie posisie was. Om die datum 568 VHJ te regverdig, het hulle beweer dat die kopiïs foutiewelik “9” in plaas van “8” geskryf het.20 Maar die maanposisie in reël 3 kom presies ooreen met die maanposisie op 9 Nisanu 588 VHJ.21

Dit is duidelik dat baie van die astronomiese data op VAT 4956 by die jaar 588 VHJ pas as die 37ste jaar van Nebukadnesar II. Dit steun dus die datum 607 VHJ as die jaar waarin Jerusalem vernietig is—net soos die Bybel aandui.

Waarom kan ons die Bybel vertrou?

Tans is die meeste sekulêre geskiedkundiges van mening dat Jerusalem in 587 VHJ vernietig is. Maar die Bybelskrywers Jeremia en Daniël sê uitdruklik dat die Jode 70 jaar lank in ballingskap was, nie 50 jaar lank nie (Jeremia 25:1, 2, 11; 29:10; Daniël 9:2). Hierdie verklarings gee duidelik te kenne dat Jerusalem in 607 VHJ vernietig is. Soos die bewyse hierbo toon, is daar sekulêre bronne wat hierdie gevolgtrekking steun.

Sekulêre deskundiges het die Bybel se akkuraatheid al dikwels in twyfel getrek. Maar wanneer meer bewyse gevind is, is die Bybelverslag telkens waar bewys. f Diegene wat die Bybel vertrou, doen dit met goeie rede. Hulle baseer hulle opinie op bewyse dat die Bybel geskiedkundig, wetenskaplik en profeties akkuraat is. Op grond van daardie bewyse glo hulle dat die Bybel tereg daarop aanspraak maak dat dit die geïnspireerde Woord van God is (2 Timoteus 3:16). Ondersoek die bewyse gerus self. Jy sal heel moontlik tot dieselfde gevolgtrekking kom.

[Voetnote]

a Daar is verskillende maniere waarop datums weergegee kan word. In hierdie artikel beteken VHJ “voor die huidige jaartelling”.

c Let wel: Nie een van die sekulêre deskundiges wat in hierdie artikel aangehaal word, is van mening dat Jerusalem in 607 VHJ vernietig is nie.

d ’n Troonbestygingsjaar is nie by ’n koning se bewindsjare getel nie; dit het verwys na die oorblywende maande van die jaar totdat die nuwe koning amptelik gekroon is, wat aan die begin van die volgende kalenderjaar plaasgevind het.

e Handelstablette bestaan vir al die jare wat tradisioneel beskou word as die tydperk van die Neo-Babiloniese konings. Wanneer die bewindsperiodes van hierdie konings bymekaargetel word en daar van die laaste Neo-Babiloniese koning, Nabonidus, af teruggereken word, kom ’n mens by 587 VHJ uit as die jaar waarin Jerusalem vernietig is. Maar hierdie dateringsmetode werk slegs as elke koning die volgende een in dieselfde jaar opgevolg het en daar geen onderbreking was nie.

f Vir spesifieke voorbeelde, sien hoofstukke 4 en 5 van die boek The Bible—God’s Word or Man’s?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Venster/Tabel op bladsy 23]

 (Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

DIE BABILONIESE KRONIEKE—’N ONVOLLEDIGE GESKIEDENIS

Die Babiloniese kronieke dek net 35 jaar van die Neo-Babiloniese tydperk, wat tradisioneel aangeneem word oor ’n tydperk van 88 jaar gestrek het.

’N JAAR WAT NIE DEUR DIE KRONIEKE GEDEK WORD NIE

’N JAAR WAT DEUR DIE KRONIEKE GEDEK WORD

BM 21901

BM 21946

BM 35382

NEO-BABILONIESE TYDPERK

PERSE

Nabopolassar

Nebukadnesar II

Amel-Marduk

Nabonidus

Neriglissar

Labasji-Marduk

BM 25127

BM 22047

BM 25124

[Erkennings]

BM 21901 en BM 35382: Photograph taken by courtesy of the British Museum; BM 21946: Copyright British Museum; BM 22047, 25124, 25127: © The Trustees of the British Museum

[Venster/Prent op bladsy 24]

ASTRONOMIESE DAGBOEK BM 32238

Hierdie tablet bevat ’n rekord van maansverduisterings. Die tablet is egter eers ná die laaste maansverduistering saamgestel, wat sowat 400 jaar ná die eerste een plaasgevind het. Aangesien die kopiïs nie ’n ooggetuie van al hierdie gebeurtenisse was nie, het hy dalk wiskundige berekeninge gebruik om vas te stel wanneer vroeëre maansverduisterings plaasgevind het. Tensy daar bykomende bewyse is wat sy gevolgtrekkings bevestig, is sulke berekeninge moontlik nie ’n bron van betroubare chronologiese inligting nie.

[Erkenning]

© The Trustees of the British Museum

[Venster/Prente op bladsye 26, 27]

WAT SÊ VAT 4956 WERKLIK?

Waarom ’n geskilpunt? Die derde reël op hierdie tablet sê dat die maan op die “aand van die 9de” gedurende die eerste maand (Nisanu/Nisan) “1 el voor ß Virginis gestaan” het. Maar Neugebauer en Weidner het in 1915 in verband met die jaar 568 VHJ (wat op 587 VHJ sou dui as die jaar van Jerusalem se vernietiging) geskryf dat “die maan op 8 Nisan, nie op 9 Nisan nie, 1 el voor hierdie ster gestaan het”. (Ons kursiveer.) Maar die maan was in presies hierdie posisie op 9 Nisan 588 VHJ, wat op die jaar 607 VHJ dui.

Was dit die 9de dag of die 8ste dag?

(1) Die Akkadiese simbool vir die syfer 9 kan duidelik in die bygaande foto gesien word.

(2) In hulle transliterasie van hierdie spykerskrifteks het Neugebauer en Weidner die “9” na ’n “8” verander.

(3) Slegs die voetnoot dui aan dat daar ’n “9” in die oorspronklike teks was.

(4) Selfs in hulle Duitse vertaling sê hulle “8”.

(5) In 1988 het Sachs en Hunger die teks gepubliseer soos dit werklik is, met ’n “9”.

(6) Maar in hulle Engelse vertaling behou hulle die wysiging en noem hulle die “9de” ’n “fout vir: 8ste”.

[Erkenning]

bpk/Vorderasiatisches Museum, SMB/Olaf M. Teßmer

[Venster op bladsy 28]

Aantekeninge by “Wanneer is eertydse Jerusalem vernietig?—Deel twee”

1. Spykerskrif is ’n skryfwyse wat bestaan uit wigvormige tekens. ’n Kopiïs het verskillende tekens in die oppervlak van ’n sagte kleitablet gedruk met behulp van ’n skerp stilus met ’n wigvormige punt.

2. Assyrian and Babylonian Chronicles, deur A.K. Grayson, uitgegee in 1975, herdruk van 2000, bladsy 8.

3. Die Neo-Babiloniese tydperk het gedurende die sewende eeu VHJ begin, toe die Galdese dinastie van konings oor die Babiloniese Ryk regeer het. Die eerste heerser was Nabopolassar, die vader van Nebukadnesar II. Die tydperk het geëindig toe die laaste koning, Nabonidus, in 539 VHJ deur die Persiese koning Cyrus (die Bybel se Kores) verslaan is.

4. Neo-Babylonian Business and Administrative Documents, deur Ellen Whitley Moore, uitgegee in 1935, bladsy 33.

5. Archimedes, Volume 4, New Studies in the History and Philosophy of Science and Technology, “Observations and Predictions of Eclipse Times by Early Astronomers”, deur John M. Steele, uitgegee in 2000, bladsy 36.

6. Amel-Marduk 562-560 B.C.—A Study Based on Cuneiform, Old Testament, Greek, Latin and Rabbinical Sources. With Plates, deur Ronald H. Sack, uitgegee in 1972, bladsy 3.

7. Die datums op tablette BM 80920 en BM 58872 val in die vierde en vyfde maand van Ewil-Merodag se troonbestygingsjaar. Dit is deur Sack uitgegee in Amel-Marduk 562-560 B.C.—A Study Based on Cuneiform, Old Testament, Greek, Latin and Rabbinical Sources. With Plates, bladsye 3, 90, 106.

8. Die tablet in die Britse Museum (BM 55806) is gedateer die tiende maand, 43ste jaar.

9. Tablette BM 75106 en BM 61325 is gedateer die sewende en tiende maand van wat as die laaste (tweede) jaar van die heersende koning Ewil-Merodag beskou word. Maar die tablet BM 75489 is gedateer die tweede maand van die troonbestygingsjaar van Neriglissar, sy opvolger.—Catalogue of the Babylonian Tablets in the British Museum, Deel VIII, (Tablets From Sippar 3) deur Erle Leichty, J.J. Finkelstein en C.B.F. Walker, uitgegee in 1988, bladsye 25, 35.

Catalogue of the Babylonian Tablets in the British Museum, Deel VII, (Tablets From Sippar 2) deur Erle Leichty en A.K. Grayson, uitgegee in 1987, bladsy 36.

Neriglissar—King of Babylon, deur Ronald H. Sack, uitgegee in 1994, bladsy 232. Die maand op die tablet is Ajaru (tweede maand).

10. Neem as voorbeeld Neriglissar. ’n Koninklike inskripsie in verband met hom sê dat hy “die seun van Bêl-Sjum-Isjkun”, die “koning van Babilon”, was. (Ons kursiveer.) ’n Ander inskripsie noem Bêl-Sjum-Isjkun die “wyse prins”. Die oorspronklike woord, rubû, wat met “prins” vertaal word, is ’n titel wat ook “koning, heerser” beteken. Aangesien daar ’n duidelike teenstrydigheid in verband met die bewind van Neriglissar en sy opvolger, Amel-Marduk, is, is dit dan moontlik dat hierdie “koning van Babilon”, Bêl-Sjum-Isjkun, ’n tyd lank tussen die bewinde van die twee konings regeer het? Professor R.P. Dougherty het erken dat “die bewyse van Neriglissar se adellike herkoms nie geïgnoreer kan word nie”.—Nabonidus and Belshazzar—A Study of the Closing Events of the Neo-Babylonian Empire, deur Raymond P. Dougherty, uitgegee in 1929, bladsy 61.

11. Astronomical Diaries and Related Texts From Babylonia, Deel V, geredigeer deur Hermann Hunger, uitgegee in 2001, bladsye 2-3.

12. Journal of Cuneiform Studies, Deel 2, Nr. 4, 1948, “A Classification of the Babylonian Astronomical Tablets of the Seleucid Period”, deur A. Sachs, bladsye 282-283.

13. Astronomical Diaries and Related Texts From Babylonia, Deel V, bladsy 391.

14. Mesopotamian Planetary Astronomy-Astrology, deur David Brown, uitgegee in 2000, bladsye 164, 201-202.

15. Bibliotheca Orientalis, L N° 1/2, Januari-Maart, 1993, “The Astronomical Diaries as a Source for Achaemenid and Seleucid History”, deur R.J. van der Spek, bladsye 94, 102.

16. Astronomical Diaries and Related Texts From Babylonia, Deel I, deur Abraham J. Sachs, voltooi en geredigeer deur Hermann Hunger, uitgegee in 1988, bladsy 47.

 17. Babylonian Eclipse Observations From 750 BC to 1 BC, deur Peter J. Huber en Salvo De Meis, uitgegee in 2004, bladsy 186. Volgens VAT 4956 het hierdie maansverduistering op die 15de van die derde Babiloniese maand plaasgevind, wat beteken dat die maand Simanu 15 dae vroeër begin het. As die maansverduistering volgens ons Juliaanse kalender op 15 Julie 588 VHJ plaasgevind het, dan stem die eerste dag van Simanu ooreen met 30 Junie/1 Julie 588 VHJ. Die eerste Babiloniese maand (Nisanu) sou die nuwe jaar dus twee maande vroeër, op 2/3 Mei, ingelui het. Hoewel die jaar van hierdie maansverduistering op 3/4 April sou begin het, sê VAT 4956 in reël 6 dat ’n ekstra maand (skrikkelmaand) die twaalfde (laaste) maand (Addaru) van die vorige jaar bygevoeg is. (Die tablet lui: “8ste van maand XII2.”) Gevolglik het die nuwe jaar in werklikheid eers op 2/3 Mei begin. Die datum van hierdie maansverduistering in 588 VHJ stem dus goed ooreen met die inligting op die tablet.

18. Volgens Berichte über die Verhandlungen der Königl. Sächsischen Gesellschaft der Wissenschaften zu Leipzig (Verslae oor die besprekings van die koninklike Saksiese wetenskapsvereniging in Leipzig); Deel 67; 1 Mei 1915; in die artikel “Ein astronomischer Beobachtungstext aus dem 37. Jahre Nebukadnezars II” (’n Teks van astronomiese waarnemings uit die 37ste jaar van Nebukadnesar II), deur Paul V. Neugebauer en Ernst F. Weidner, bladsye 67-76, is daar 13 stelle maanwaarnemings waarin die maan beskryf word in verhouding tot ’n sekere ster of sterrebeeld. Dit bevat ook 15 stelle planetêre waarnemings (bladsye 72-76). Hoewel die spykerskrifteken vir die maan duidelik en ondubbelsinnig is, is party van die tekens vir die name van die planete en hulle posisies onduidelik (Mesopotamian Planetary Astronomy—Astrology, deur David Brown, uitgegee in 2000, bladsye 53-57). As gevolg hiervan is die planetêre waarnemings onderhewig aan spekulasie en verskeie interpretasies. Aangesien dit maklik is om die posisie van die maan vas te stel, kan die posisies van die ander hemelliggame wat op VAT 4956 genoem word en in verhouding tot die maan beskryf word, met ’n redelike mate van sekerheid vasgestel en gedateer word.

18a. Hierdie tydintervalle (“lunar threes”) is die tydsduur van byvoorbeeld sonsondergang tot maansondergang op die eerste dag van die maand en op twee ander tye later in die maand. Geleerdes het hierdie tydmetings verbind met datums op die kalender (“The Earliest Datable Observation of the Aurora Borealis”, deur F.R. Stephenson en David M. Willis, in Under One Sky—Astronomy and Mathematics in the Ancient Near East, geredigeer deur John M. Steele en Annette Imhausen, uitgegee in 2002, bladsye 420-428). Eertydse waarnemers het die een of ander soort horlosie nodig gehad om hierdie periode te meet. Sulke tydmetings was nie betroubaar nie (Archimedes, Volume 4, New Studies in the History and Philosophy of Science and Technology, “Observations and Predictions of Eclipse Times by Early Astronomers”, deur John M. Steele, uitgegee in 2000, bladsye 65-66). Aan die ander kant kon hulle die posisie van die maan ten opsigte van die ander hemelliggame baie akkurater vasstel.

19. Hierdie ontleding is met die sterrekundige sagteware TheSky6™ gedoen. Die omvattende gratis program Cartes du Ciel/Sky Charts (CDC) en ’n datumomsetter wat deur die Amerikaanse Vlootsterrewag voorsien is, is ook in die ontleding gebruik. Omdat die spykerskriftekens vir baie van die planetêre posisies aan spekulasie en verskillende interpretasies onderhewig is, is hierdie posisies nie in hierdie ontleding gebruik om vas te stel op watter jaar hierdie astronomiese dagboek dui nie.

20. Berichte über die Verhandlungen der Königl. Sächsischen Gesellschaft der Wissenschaften zu Leipzig (Verslae oor die besprekings van die koninklike Saksiese wetenskapsvereniging in Leipzig); Deel 67; 1 Mei 1915; “Ein astronomischer Beobachtungstext aus dem 37. Jahre Nebukadnezars II, (-567/66)” (’n Teks van astronomiese waarnemings uit die 37ste jaar van Nebukadnesar II), deur Paul V. Neugebauer en Ernst F. Weidner, bladsy 41.

21. VAT 4956 sê in reël drie: “Die maan het 1 el [oftewel 2 grade] voor ß Virginis gestaan.” Die ontleding wat vroeër genoem is, het tot die gevolgtrekking gelei dat die maan op 9 Nisanu 2°04ʹ voor en 0° onder die ster ß Virginis was. Dit het presies gepas by die inligting op die tablet.

[Tabel op bladsy 25]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

IN WATTER JAAR IS JERUSALEM NA AANLEIDING VAN VAT 4956 VERNIETIG—IN 587 VHJ OF 607 VHJ?

◼ Die tablet beskryf astronomiese gebeurtenisse wat in die 37ste jaar van die bewind van koning Nebukadnesar II plaasgevind het.

◼ Nebukadnesar II het Jerusalem in sy 18de regeringsjaar vernietig.—Jeremia 32:1.

As die 37ste jaar van Nebukadnesar II 568 VHJ was, dan is Jerusalem in 587 VHJ vernietig.

610 VHJ

600

590

580

570

560

As sy 37ste jaar 588 VHJ was, dan is Jerusalem in 607 VHJ vernietig, die datum waarop Bybelchronologie dui.

◼ Na aanleiding van VAT 4956 het dit meer waarskynlik in 607 VHJ plaasgevind.

[Foto-erkenning op bladsy 22]

Photograph taken by courtesy of the British Museum