Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ek wou wees soos Jefta se dogter

Ek wou wees soos Jefta se dogter

Ek wou wees soos Jefta se dogter

Soos vertel deur Joanna Soans

Toe ek nog ’n tiener was, het ek ’n sterk begeerte ontwikkel om soos Jefta se dogter te wees. Laat ek verduidelik wat ek in gedagte gehad het en hoe ek uiteindelik baie soos sy geword het.

IN 1956 het ek my eerste byeenkoms van Jehovah se Getuies in Bombaai (nou Moembaai), Indië, bygewoon, en dit het my lewe verander. Ek is diep geraak deur ’n toespraak oor Jefta se dogter wat ek daar gehoor het.

Soos jy moontlik al in die Bybel gelees het, het Jefta se dogter, toe sy blykbaar net ’n tiener was, ingestem om ongetroud te bly. Sy het dit sodoende vir haar pa moontlik gemaak om ’n gelofte te vervul wat hy afgelê het. Sy het dus vir die res van haar lewe as ’n ongetroude vrou by Jehovah se huis, of tabernakel, gedien.—Rigters 11:28-40.

Ag, hoe graag wou ek tog soos sy wees! Maar ek het ’n groot probleem gehad—om ongetroud te bly, was destyds in Indië teen ons kultuur.

My gesinsagtergrond

Ek is die vyfde van ses kinders wat vir Benjamin en Marcelina Soans in Udipi, ’n stad aan die weskus van Indië, gebore is. Ons moedertaal is Tulu, wat deur omtrent tweemiljoen mense gepraat word. Maar soos die meeste mense in Udipi was ons skoolopvoeding in Kanarees.

Die huwelik en ouerskap het nog altyd die lewe in hierdie gebied oorheers. Terwyl ek grootgeword het, kan ek nie onthou dat ek ooit die Tulu-uitdrukkings vir “die ongetroude lewe”, “eensaamheid” of “heimwee” geleer het nie. Dit was asof hierdie toestande nie bestaan het nie. Ons gesin het byvoorbeeld ’n huis gedeel met my grootouers, ooms, tantes en twaalf neefs en niggies!

Tradisioneel was ons deel van ’n matrilineêre stelsel, wat kinders as deel van die moeder se familie beskou. Die geslagslyn is deur haar teruggevoer, en haar dogters het die groter deel van die erfenis ontvang. In party Tulu-gemeenskappe het ’n meisie by haar moeder bly woon nadat sy getrou het, en haar man het by haar aangesluit.

Aangesien ons gesin in naam Christene geword het, was party dinge anders. Elke aand het my oupa die leiding geneem in die gesin se aanbidding deur te bid en hardop uit die Bybel in Tulu te lees. Elke keer as hy sy verflenterde kopie van die Bybel oopgemaak het om vir ons te lees, was dit asof hy ’n juweelkissie oopgemaak het. Dit was opwindend! Psalm 23:1 het my nuuskierigheid geprikkel: “Jehovah is my Herder. Niks sal my ontbreek nie.” Ek het gewonder: ‘Wie is hierdie Jehovah, en waarom word hy ’n herder genoem?’

Die “skille” het van my oë afgeval

As gevolg van ekonomiese probleme ná die Tweede Wêreldoorlog het ons na Bombaai, meer as 900 kilometer daarvandaan, getrek. Daar, in 1945, het twee van Jehovah se Getuies my pa besoek en hom ’n Bybelgebaseerde boekie gegee. My pa het die boodskap ingedrink soos dorstige grond reën indrink, en hy het met ander Kanarese mense oor die boodskap begin praat. Teen die vroeë 1950’s het ’n klein studiegroep tot die eerste Kanarese gemeente in Bombaai gegroei.

My pa en ma het ons as kinders geleer om ywerige Bybelstudente en goeie onderrigters te wees. Hulle het elke dag geleenthede gevind om saam met ons te bid en met ons te studeer (Deuteronomium 6:6, 7; 2 Timoteus 3:14-16). Eendag terwyl ek die Bybel gelees het, het skille as ’t ware van my oë afgeval. Ek het geleer dat Jehovah met ’n herder vergelyk word omdat hy sy aanbidders lei, voed en beskerm.—Psalm 23:1-6; 83:18.

Jehovah het my hand vasgehou

Ek is gedoop kort ná die onvergeetlike streekbyeenkoms wat in 1956 in Bombaai gehou is. Ses maande later het ek die voorbeeld van my ouer broer Prabhakar gevolg en ’n voltydse evangeliedienaar geword. Hoewel ek gretig was om met ander oor Bybelwaarhede te praat, het my mond droog geword sodra ek probeer praat het oor wat ek glo. Ek het gehakkel en my stem het gebewe. ‘Ek kan hierdie werk net met Jehovah se hulp doen!’ het ek vir myself gesê.

Hulp van Jehovah het gekom in die vorm van die sendelinge Homer en Ruth McKay van Kanada, wat die sendingskool van Jehovah se Getuies in New York, VSA, in 1947 bygewoon het. Hulle het as ’t ware my hand vasgehou terwyl ek my eerste lomp treë in die bediening gegee het. Ruth het gereeld deur-tot-deur-aanbiedings met my geoefen. Sy het presies geweet hoe om my senuwees te kalmeer. Terwyl sy my bewende hande vasgehou het, het sy altyd gesê: “Moet jou nie bekommer nie, hartjie. Kom ons probeer die volgende huis.” Haar gerusstellende stemtoon het my moed gegee.

Eendag is ek in kennis gestel dat Elizabeth Chakranarayan, ’n ouer, ervare Bybelonderrigter, my maat in die bediening sou wees. My eerste reaksie was: ‘Hoe gaan ek saam met hierdie suster kan woon? Sy is soveel ouer as ek!’ Maar op die ou end was sy presies die maat wat ek nodig gehad het.

“Ons is nooit werklik alleen nie”

Ons eerste toewysing was in die historiese stad Aurangabad, amper 400 kilometer oos van Bombaai. Ons het gou besef dat ons die enigste twee Getuies in ’n stad van byna ’n miljoen mense was. Wat meer is, ek moes Mahratti leer, die taal wat die meeste mense in die stad gepraat het.

Soms het ek baie eensaam gevoel en verskriklik gehuil soos ’n kind wat nie ’n ma het nie. Maar Elizabeth se moederlike toon het my aangemoedig. “Ons voel dalk soms eensaam, maar ons is nooit werklik alleen nie”, het sy gesê. “Al is jy ver van jou vriende en familie af, is Jehovah altyd saam met jou. Maak hom jou vriend, en jou eensaamheid sal gou verdwyn.” Ek koester haar raad tot vandag toe.

Wanneer ons min geld vir vervoer gehad het, het ons elke dag tot 20 kilometer ver in die stof en modder, in die hitte en koue, geloop. In die somer het die temperatuur dikwels 40 grade Celsius bereik. Gedurende die reënseisoen het dele van die gebied maande lank modderig gebly. Maar die kulturele beskouings van die mense was dikwels vir ons ’n groter uitdaging as die weer.

Vroue het nie in die openbaar met mans gepraat nie tensy hulle verwant was, en vroue het mans selde geleer. Ons is dus bespot en teëgestaan. Gedurende die eerste ses maande het net ons twee vir die weeklikse Bybelvergaderinge bymekaargekom. Mettertyd het belangstellendes by ons aangesluit. Kort voor lank sou daar ’n klein groepie wees. Party het selfs saam met ons in die bediening uitgegaan.

Hou aan om jou vaardighede te verbeter

Ná omtrent twee en ’n half jaar is ons weer na Bombaai gestuur. Terwyl Elizabeth aangehou het in die predikingswerk, is ek gevra om my pa te help, wat destyds die enigste vertaler van ons Bybellektuur in Kanarees was. Hy was dankbaar vir my hulp, aangesien hy baie verantwoordelikhede in die gemeente gehad het.

In 1966 het my ouers besluit om na Udipi, ons vorige tuiste, terug te keer. Toe hy Bombaai verlaat, het my pa gesê: “Hou aan om jou vaardighede te verbeter, my kind. Vertaal eenvoudig en duidelik. Vermy oormatige selfvertroue en bly nederig. Vertrou op Jehovah.” Dit was sy laaste raad aan my, want hy het gesterf kort nadat hulle na Udipi teruggekeer het. Ek probeer hierdie raad tot vandag toe nog in my vertaalwerk toepas.

“Wil jy nie jou eie gesin hê nie?”

Volgens tradisie reël Indiese ouers dat hulle kinders trou terwyl hulle seuns en dogters nog redelik jonk is, en hulle moedig hulle aan om kinders te hê. Ek is dus dikwels gevra: “Wil jy nie jou eie gesin hê nie? Wie sal vir jou sorg wanneer jy oud is? Sal jy nie eensaam voel nie?”

Soms het ek gevoel asof ek emosioneel versmoor word deur hierdie herhaalde aanmerkings. Hoewel ek my gevoelens in die openbaar weggesteek het, het ek my hart voor Jehovah uitgestort sodra ek alleen was. Dit het my vertroos om te weet dat hy my nie as minderwaardig beskou omdat ek ongetroud is nie. Om my voorneme te hernieu om hom sonder afleiding te dien, het ek aan Jefta se dogter sowel as Jesus gedink—albei het ongetroud gebly en het hulle daarop toegespits om God se wil te doen.—Johannes 4:34.

’n Gawe van Jehovah

Ek en Elizabeth het amper 50 jaar lank intieme vriende gebly. Sy het in 2005 gesterf toe sy 98 jaar oud was. Omdat sy in latere jare as gevolg van haar verswakkende gesigsvermoë nie die Bybel kon lees nie, het sy ’n groot deel van elke dag in lang, innige gebed tot God deurgebring. Ek het soms gedink dat sy ’n teks met iemand in haar kamer bespreek, maar dan het ek besef dat sy besig was om met Jehovah te praat. Hy was ’n werklike Persoon vir haar, en sy het gelewe asof sy in sy teenwoordigheid was. Ek het geleer dat dít die sleutel is om God met standvastigheid te dien, soos Jefta se dogter. Ek is so dankbaar dat Jehovah vir my ’n ouer, ryp suster voorsien het wat vir my ’n mentor was gedurende my jonger dae en deur al my beproewinge heen.—Prediker 4:9, 10.

Watter seëninge het ek tog geniet omdat ek, soos Jefta se dogter, Jehovah gedien het! Die feit dat ek ongetroud gebly en Bybelraad gevolg het, het my in staat gestel om ’n ryk, vervullende lewe te lei terwyl ek ‘volgehoue diens aan die Here verrig het, sonder om afgelei te word’.—1 Korintiërs 7:35.

[Prent op bladsy 28]

My pa lewer ’n openbare toespraak in die 1950’s in Bombaai

[Prent op bladsy 28]

Saam met Elizabeth kort voor haar dood

[Prent op bladsy 29]

Ons adverteer ’n Bybeltoespraak in 1960 in Bombaai

[Prent op bladsy 29]

Saam met medewerkers in ons vertaalkantoor