Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Abraham—’n Man van moed

Abraham—’n Man van moed

Abraham—’n Man van moed

Abraham kyk na sy gesin en knegte terwyl hulle voorberei om weg te trek na Kanaän (Genesis 12:1-5). Terwyl Abraham na hierdie groot groep mense kyk wat vir hulle lewensbestaan op hom staatmaak, is hy terdeë bewus van sy verantwoordelikheid teenoor hulle. Hoe sal hy in ’n vreemde land in hulle materiële behoeftes voorsien? Sou so ’n taak dalk makliker gewees het in Ur, ’n welvarende gebied met uitgestrekte weivelde, vrugbare grond en volop water? Sê nou hy word siek of sterf in die nuwe land? Wie sal dan vir sy gesin sorg? As Abraham hoegenaamd sulke kwelgedagtes gehad het, laat hy nie toe dat sy vrese hom oorweldig nie. Hy is vasbeslote om op te tree, om God se opdragte te gehoorsaam, kom wat wil—’n teken van ware moed.

WAT IS MOED? Dit beteken om sterk, dapper en onverskrokke te wees—die teenoorgestelde van beskroomdheid of lafhartigheid. Om moedig te wees, beteken nie noodwendig dat ons nooit bang is nie. Iemand met godgegewe moed tree eerder op ten spyte van sy vrese.

HOE HET ABRAHAM MOED AAN DIE DAG GELÊ? Abraham was bereid om teen die stroom in te gaan. Abraham het grootgeword in ’n omgewing waar mense talle afgode aanbid het. Maar hy het nie toegelaat dat vrees vir wat ander sou dink hom daarvan weerhou om te doen wat hy geweet het reg is nie. Abraham het eerder moedig ’n ander lewensweg ingeslaan en gekies om net een God—“die Allerhoogste God”, Jehovah—te aanbid.—Genesis 14:21, 22.

Abraham het sy aanbidding van die ware God bo materiële belange gestel. Hy was bereid om sy gemaklike lewe in Ur prys te gee en die wildernis in te gaan in die volle vertroue dat Jehovah in sy materiële behoeftes sou voorsien. Terwyl die jare aangestap het, het Abraham dalk gedink aan party van die geriewe wat hy in Ur geniet het. Maar Abraham was seker dat Jehovah altyd vir hom en sy gesin sou sorg. Omdat Abraham Jehovah altyd die belangrikste persoon in sy lewe gemaak het, het hy die moed gevind om God se opdragte te gehoorsaam.

WATTER LESSE LEER ONS HIERUIT? Ons kan Abraham navolg deur die moed aan te kweek om aan Jehovah gehoorsaam te wees, selfs al doen ander dit nie. Die Bybel leer byvoorbeeld dat diegene wat ’n standpunt inneem vir hulle geloof in Jehovah God dalk deur welmenende vriende of familie teëgestaan sal word (Johannes 15:20). Maar wanneer ons oortuig is van wat ons omtrent Jehovah geleer het, verdedig ons ons oortuigings, en ons doen dit op ’n eerbiedige manier.—1 Petrus 3:15.

Ons kan ook vertrou op God se belofte dat hy vir diegene sal sorg wat geloof in hom stel. Sulke vertroue gee ons die moed om geestelike dinge eerder as materiële dinge die middelpunt van ons lewe te maak (Matteus 6:33). Kyk na hoe een gesin juis dit gedoen het.

Hoewel Doug en Becky twee jong seuns het, wou hulle graag na ’n land trek waar daar meer verkondigers van die goeie nuus van die Bybel nodig is. Ná deeglike navorsing en vurige gebed het hulle besluit om hulle planne deur te voer. “Dit het moed geverg om die kinders te vat en te trek sonder om te weet presies hoe dinge vir ons sou uitwerk”, sê Doug. “Maar ons het vroeg in die besluitnemingsproses die voorbeeld van Abraham en Sara bespreek. Dit het ons werklik gehelp om te dink aan hoe hulle op Jehovah vertrou het—en hoe hy hulle nooit in die steek gelaat het nie.”

Doug sê die volgende in verband met hulle lewe in ’n vreemde land: “Ons het wonderlike seëninge ontvang.” Hy verduidelik: “Omdat ons lewenswyse baie eenvoudiger is, kan ons die grootste deel van die dag saam as ’n gesin deurbring—terwyl ons preek, met mekaar gesels en met die seuns speel. Dis ’n gevoel van vryheid wat moeilik is om te beskryf.”

Almal kan natuurlik nie sulke drastiese veranderinge maak nie. Maar ons almal kan Abraham se voorbeeld navolg deur ons aanbidding van God eerste te stel, in die vertroue dat hy daar sal wees om ons te ondersteun. Wanneer ons dit doen, slaan ons ag op die Bybel se vermaning om “goeie moed [te] hou en [te] sê: ‘Jehovah is my helper; ek sal nie bang wees nie.’”—Hebreërs 13:5, 6.

[Lokteks op bladsy 7]

Iemand met godgegewe moed tree op ten spyte van sy vrese

[Venster/Prent op bladsy 8]

’n Godvrugtige vrou en ’n dierbare huweliksmaat

Sara was getroud met ’n uitsonderlike man van geloof. Maar hierdie godvrugtige vrou het self ’n merkwaardige voorbeeld gestel. Trouens, die Bybel noem haar drie keer by name as iemand wie se voorbeeld godvrugtige vroue gerus kan navolg (Jesaja 51:1, 2; Hebreërs 11:11; 1 Petrus 3:3-6). Hoewel die Skrif betreklik min oor hierdie besonderse vrou openbaar, kry ons nietemin ’n kykie op haar pragtige karakter.

Dink byvoorbeeld aan Sara se aanvanklike reaksie toe Abraham haar vertel van God se bevel om Ur te verlaat. Het sy gewonder waarheen hulle gaan en waarom? Was sy besorg oor hulle materiële behoeftes? Was sy hartseer omdat sy haar vriende en familie moes agterlaat sonder om te weet wanneer—indien ooit—sy hulle weer sou sien? Sulke gedagtes het ongetwyfeld by haar opgekom. Sy het nietemin gewilliglik gegaan in die vertroue dat Jehovah haar vir haar gehoorsaamheid sou seën.—Handelinge 7:2, 3

Sara was nie net ’n gehoorsame kneg van God nie, maar ook ’n uitstekende huweliksmaat. Sara het nie met haar man gekompeteer vir beheer oor gesinsake nie, maar eerder opregte respek vir haar man aangekweek en hom liefdevol ondersteun terwyl hy hulle gesin gelei het. Sy het haarself dus deur haar positiewe innerlike eienskappe versier.—1 Petrus 3:1-6.

Kan sulke eienskappe getroude vrouens van vandag tot voordeel strek? “Sara se voorbeeld het my geleer dat ek die vrymoedigheid moet hê om met my man te praat en my mening te lug”, sê ’n vrou met die naam Jill, wat al meer as 30 jaar gelukkig getroud is. Sy sê verder: “Terselfdertyd het my man, as die hoof van die gesin, die verantwoordelikheid om die finale besluit te neem. Wanneer hy dit gedoen het, is dit my plig om alles in my vermoë te doen om daardie besluit te ondersteun.”

Dalk is die treffendste les wat ons by Sara leer die volgende: Hoewel Sara baie pragtig was, het sy nie toegelaat dat haar fisiese skoonheid haar trots laat word nie (Genesis 12:10-13). Sy het Abraham eerder deur die wel en wee van hulle lewe ondersteun. Abraham en Sara was ongetwyfeld ’n getroue, nederige en liefdevolle egpaar—’n egpaar wat ’n ware seën vir mekaar was.