Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Abraham—’n Man van liefde

Abraham—’n Man van liefde

Abraham—’n Man van liefde

Abraham se hartseer is amper ondraaglik. Sy geliefde vrou, Sara, het gesterf. Tallose kosbare herinneringe gaan deur die bejaarde man se gedagtes terwyl hy finaal afskeid neem. Terwyl die droefheid in sy hart opwel, begin die trane rol (Genesis 23:1, 2). Hierdie trane is allesbehalwe ’n rede tot skaamte of verleentheid; dit lewer eerder bewys van een van Abraham se voortreflikste eienskappe—sy liefde.

WAT IS LIEFDE? Liefde is ’n gevoel van hartlike gehegtheid of tere geneentheid. ’n Liefdevolle mens toon deur sy dade hoe hy voel oor diegene vir wie hy lief is, selfs al verg dit selfopoffering.

HOE HET ABRAHAM LIEFDE AAN DIE DAG GELÊ? Abraham het getoon dat hy lief is vir sy gesin. Abraham was ongetwyfeld ’n besige man. Tog het hy nooit sy gesin se emosionele of geestelike behoeftes verwaarloos nie. Trouens, Jehovah self het opgelet dat Abraham as gesinshoof die leiding in aanbidding geneem het (Genesis 18:19). Wat meer is, Jehovah het spesifiek melding gemaak van Abraham se liefde. Toe hy met Abraham gepraat het, het Hy na Isak verwys as die “seun wat jy só liefhet”.—Genesis 22:2.

Ons kan Abraham se liefde ook sien in die manier waarop hy op die dood van sy geliefde vrou, Sara, gereageer het. Abraham het oor haar geween. Hoewel hy sterk en manmoedig was, was hy nie bang om aan sy droefheid uiting te gee nie. Abraham het ’n pragtige kombinasie van krag en teerheid geopenbaar.

Abraham het getoon dat hy sy God liefhet. Sy hele lewensweg het sulke liefde geopenbaar. Hoe so? Dit laat ons dalk dink aan wat die Bybel in 1 Johannes 5:3 sê: “Dít is wat die liefde vir God beteken, dat ons sy gebooie bewaar.” In die lig van hierdie definisie is Abraham ’n skitterende voorbeeld van liefde vir God.

Wanneer Jehovah vir Abraham ’n opdrag gegee het, het hy elke keer dadelik gehoor gegee (Genesis 12:4; 17:22, 23; 21:12-14; 22:1-3). Dit het nie saak gemaak of die opdrag maklik of moeilik was om te gehoorsaam nie; dit het ook nie saak gemaak of Abraham geweet het waarom Jehovah hom gevra het om dit te doen nie. Sulke faktore was onbelangrik vir Abraham. As sy God wou hê dat hy iets moes doen, was hy bereid om dit te doen. Abraham het elke opdrag beskou as ’n geleentheid om sy liefde vir Jehovah te toon.

WATTER LESSE LEER ONS HIERUIT? Ons kan Abraham navolg deur hartlike geneentheid aan ander te betoon, veral aan ons familielede. Ons sou nooit wou toelaat dat die druk van die lewe veroorsaak dat ons nie tyd het vir dié wat vir ons die meeste beteken nie.

Dit sal ook goed wees as ons innige liefde vir Jehovah aankweek. Sulke liefde kan ’n kragtige invloed in ons lewe wees. Dit kan ons byvoorbeeld beweeg om veranderinge in ons gesindhede, spraak en gedrag aan te bring sodat ons God kan behaag.—1 Petrus 1:14-16.

Toegegee, dit is nie altyd maklik om Jehovah se gebooie te gehoorsaam nie. Maar ons kan seker wees dat die Een wat Abraham gehelp het—die Een wat hom “my vriend” genoem het—ook daar sal wees om ons te ondersteun (Jesaja 41:8). Sy Woord, die Bybel, belowe: “Hy sal julle standvastig maak, hy sal julle sterk maak” (1 Petrus 5:10). Wat ’n hartverblydende belofte van Abraham se vertroude Vriend!

[Venster op bladsy 11]

Is dit onmanlik om te huil?

Baie mense sal ja antwoord. Dalk sal dit hulle verbaas om te weet dat Abraham een van ’n hele paar sterk, getroue manne was wat volgens die Bybel in tye van benoudheid gehuil het. Ander sluit Josef, Dawid, die apostel Petrus, die ouer manne van die gemeente in Efese en selfs Jesus in (Genesis 50:1; 2 Samuel 18:33; Lukas 22:61, 62; Johannes 11:35; Handelinge 20:36-38). Dit is duidelik dat die Bybel nie leer dat dit onmanlik is om te huil nie.