Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Leer uit God se Woord

Voorspel die Bybel die toekoms?

Voorspel die Bybel die toekoms?

Hierdie artikel bespreek vrae wat jy dalk al geopper het en toon waar jy die antwoorde in jou Bybel kan vind. Jehovah se Getuies sal graag hierdie antwoorde met jou bespreek.

1. Is Bybelprofesieë spesifiek?

Slegs God die Almagtige kan presies voorspel wat in die toekoms gaan gebeur (Amos 3:7). Hy het byvoorbeeld reeds vroeg in die geskiedenis voorspel dat iemand sou verskyn wat die Messias, of Christus, genoem sou word. Die Messias sou ’n nakomeling van die getroue man Abraham wees. Hy sou ’n heerser wees wat dit vir gehoorsame mense moontlik sou maak om die seën van volmaakte lewe sonder siekte terug te kry (Genesis 22:18; Jesaja 53:4, 5). Hierdie Beloofde Een sou van Betlehem kom.—Lees Miga 5:2.

Jesus was die Messias. Meer as sewe eeue vooruit het die Bybel voorspel dat die Messias uit ’n maagd gebore sou word en dat hy verag sou word. Hy sou sy lewe vir die sondes van baie gee, en hy sou by die rykes begrawe word (Jesaja 7:14; 53:3, 9, 12). Die Bybel het ook meer as vyf eeue vooruit bekend gemaak dat hy Jerusalem op ’n esel sou binnery en dat hy vir 30 silwerstukke verraai sou word. Elke besonderheid is bewaarheid.—Lees Sagaria 9:9; 11:12.

2. Voorspel God datums?

Meer as vyf eeue vooruit het die Bybel voorspel in presies watter jaar die Messias sou verskyn. Die tyd tot sy verskyning is in weke van jare getel, wat beteken dat elke “week” sewe jaar lank was. Daar sou 7 plus 62 van hierdie weke wees; altesaam 69 weke van jare. Dit is gelyk aan 483 jaar. Wanneer het hierdie tydperk begin? Volgens die Bybel het die tydperk begin toe God se kneg Nehemia in Jerusalem aangekom het en die stad begin herbou het. Persiese geskiedenis bevestig dat dit in 455 VHJ gebeur het (Nehemia 2:1-5). Jesus is 483 jaar later as die Messias gedoop, in die jaar 29 HJ, presies op tyd.—Lees Daniël 9:25.

3. Is daar Bybelprofesieë wat vandag vervul word?

Jesus het aardskuddende gebeure vir ons tyd voorspel. Sy profesie maak melding van die goeie nuus van God se Koninkryk, wat wêreldwyd verligting sal bring vir mense wat God liefhet. Die Koninkryk sal die hele goddelose stelsel van dinge waarin ons lewe, tot ’n einde bring.—Lees Matteus 24:14, 21, 22.

Bybelprofesieë gee ’n breedvoerige beskrywing van die tydperk wat die einde van die teenswoordige stelsel van dinge sou voorafgaan. Die Bybel het geopenbaar dat in teenstelling met wat ’n mens dalk sou verwag in ’n tyd van vooruitgang, mense die aarde sou verderf. Moeilikhede wat deur oorloë, voedseltekorte, aardbewings en siekte-epidemies veroorsaak word, sou vermeerder (Lukas 21:11; Openbaring 11:18). Sedelike standaarde sou agteruitgaan. In hierdie moeilike tye sou Jesus se volgelinge die goeie nuus van God se Koninkryk aan alle nasies verkondig.—Lees Matteus 24:3, 7, 8; 2 Timoteus 3:1-5.

4. Wat hou die toekoms vir die mensdom in?

God die Almagtige het vir getroue mense goeie dinge in die vooruitsig gestel. Jesus Christus, die Messias, tesame met sy uitverkorenes, sal vanuit die hemel oor die aarde regeer. Hulle vorm die Koninkryksregering, wat duisend jaar lank sal regeer. Die dooies sal opgewek word en die geleentheid hê om geoordeel te word as waardig om die ewige lewe te ontvang. Wat meer is, die Koninkryk sal almal wat dan lewe, genees. Daar sal nie meer siekte en dood wees nie.—Lees Openbaring 5:10; 20:6, 12; 21:4, 5.

Vir meer inligting, sien bladsye 23-25 en 197-201 van die boek Wat leer die Bybel werklik? wat hier uitgebeeld word.