Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Kom nader aan God

“Ek, Jehovah jou God, gryp jou regterhand vas”

“Ek, Jehovah jou God, gryp jou regterhand vas”

“HOU vas my hand”, sê ’n pa vir sy seuntjie voordat hulle ’n besige straat oorsteek. Met sy pa se sterk hand toegevou om sy klein vingers, voel die seuntjie veilig, onbevrees. Het jy al ooit gewens dat iemand jou hand kon neem en jou veilig deur die lewe se onsekerhede kon lei? Indien wel, sal die woorde wat deur Jesaja opgeteken is, jou vertroos.—Lees Jesaja 41:10, 13.

Jesaja het sy woorde aan Israel gerig. Hoewel God hierdie nasie as sy “spesiale eiendom” beskou het, was hulle deur vyande omring (Eksodus 19:5). Het Israel rede gehad om bang te wees? Jehovah het Jesaja gebruik om ’n gerusstellende boodskap oor te dra. Terwyl ons hierdie woorde ondersoek, moet ons in gedagte hou dat dit ook op God se hedendaagse aanbidders van toepassing is.—Romeine 15:4.

“Moenie bang wees nie”, sê Jehovah (vers 10). Dit is nie leë woorde nie. Jehovah verduidelik waarom sy knegte nie hoef bang te wees nie: “Want ek is met jou.” Hy is nie ’n bron van hulp wat ver van ons af is en wat slegs belowe om ons in tye van nood op die laaste oomblik te help nie. Hy wil hê sy knegte moet weet dat hy met hulle is—as ’t ware aan hulle sy—altyd gereed om hulle te ondersteun. Is dit nie ’n vertroostende gedagte nie?

Jehovah verseker sy aanbidders verder en sê: “Moenie rondkyk nie” (vers 10). Die Hebreeuse werkwoord wat hier gebruik word, kan toegepas word op diegene wat “in alle rigtings rondkyk om te sien of daar enigiets is wat hulle skade kan berokken”. Jehovah verduidelik waarom sy knegte nie uit vrees oor hulle skouer hoef te kyk nie: “Want ek is jou God.” Wat kan meer gerusstellend wees as dit? Jehovah is “die Allerhoogste”, “die Almagtige” (Psalm 91:1). Met die almagtige Jehovah as hulle God, waarom sou hulle bang wees?

Wat kan Jehovah se aanbidders dus van hom verwag? Hy belowe: “Ek sal jou werklik stewig vashou met my regterhand van regverdigheid” (vers 10). Hy sê ook: “Ek, Jehovah jou God, gryp jou regterhand vas” (vers 13). Waaraan laat hierdie woorde jou dink? “Saam skilder hierdie twee verse ’n treffende prentjie van ’n ouer en kind”, verduidelik een naslaanwerk. “[Die vader] is nie net daar om die kind te verdedig nie, maar hy is ook fisies saam met die kind; hy sal nie toelaat dat die kind van hom geskei word nie.” Dink net—Jehovah sal nie toelaat dat sy knegte van hom geskei word nie, nie eens gedurende wat dalk lyk soos die donkerste oomblikke van hulle lewe nie.—Hebreërs 13:5, 6

Jehovah se hedendaagse knegte kan baie vertroosting put uit die woorde wat Jesaja opgeteken het. In hierdie “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom”, voel ons dalk soms oorweldig deur die druk van die lewe (2 Timoteus 3:1). Maar ons hoef hierdie uitdagings nie alleen die hoof te bied nie. Jehovah is bereid om uit te reik en ons hand vas te gryp. Soos vertrouende kinders kan ons sy magtige hand vashou, vol vertroue dat hy ons in die regte rigting sal lei en ons in ons tye van nood sal help.—Psalm 63:7, 8.

Voorgestelde Bybelleesgedeelte vir Januarie:

Jesaja 24-42