Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Bybel verander lewens

Die Bybel verander lewens

Die Bybel verander lewens

HOE het ’n jong vrou wat tragiese kinderjare gehad het, ware sin in die lewe gevind? Wat het ’n gewelddadige politieke rebel beweeg om ’n vreedsame godsdiensbedienaar te word? Lees hierdie verslae om die antwoorde te vind.

“Ek was desperaat om liefde te vind.”—INNA LEZHNINA

GEBORE: 1981

GEBOORTELAND: RUSLAND

GESKIEDENIS: TRAGIESE KINDERJARE

MY VERLEDE: Ek is doof gebore, en my ouers is ook doof. Die eerste ses jaar van my lewe was aangenaam. Toe het my ouers geskei. Hoewel ek baie jonk was, het ek verstaan wat egskeiding beteken, en dit het my diep seergemaak. Ná die egskeiding het my pa en my ouer broer in Troitsk gebly, terwyl my ma na Tsjeljabinsk getrek en my saamgeneem het. Later het sy weer getrou. My stiefpa was ’n alkoholis, en hy het my en my ma dikwels geslaan.

In 1993 het my geliefde ouer broer verdrink. Die ongeluk was ’n groot skok vir ons gesin. My ma het begin drink, en sy het my ook begin mishandel. Ek het na ’n beter lewe begin soek. Ek was desperaat om liefde te vind. Ek het na verskillende kerke begin gaan, op soek na vertroosting, maar dit was tevergeefs.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: Toe ek 13 jaar oud was, het ’n klasmaat wat een van Jehovah se Getuies is, vir my ’n paar Bybelverhale vertel. Ek het dit geniet om te leer van Bybelkarakters soos Noag en Job, wat God ten spyte van moeilike omstandighede gedien het. Kort voor lank het ek begin om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te studeer en hulle vergaderinge by te woon.

My studie van die Bybel het my oë geopen vir talle pragtige waarhede. Dit het my diep geraak toe ek leer dat God ’n naam het (Psalm 83:18). Ek was beïndruk om te sien hoe akkuraat die Bybel die toestande voorspel het wat gedurende “die laaste dae” sou bestaan (2 Timoteus 3:1-5). En ek was verheug om oor die opstandingshoop te leer. Dink net—ek gaan my broer weer sien!—Johannes 5:28, 29.

Almal het egter nie in my nuutgevonde vreugde gedeel nie. My ma en my stiefpa was vyandiggesind teenoor Jehovah se Getuies. Hulle het druk op my geplaas om my Bybelstudie stop te sit. Maar ek het baie gehou van wat ek geleer het, en ek was nie van plan om op te hou nie.

Dit was nie maklik om die teenstand van my gesin die hoof te bied nie. Toe het my jonger broer, wat die vergaderinge van Jehovah se Getuies saam met my bygewoon het, ook verdrink, wat vir my nog ’n groot slag was. Maar die Getuies was altyd daar vir my. Onder hulle het ek die liefde gevind waarna ek my hele lewe gesmag het. Ek het geweet dat dit die ware geloof moet wees. In 1996 is ek as een van Jehovah se Getuies gedoop.

HOE EK BAAT GEVIND HET: Ek is die afgelope ses jaar getroud met ’n wonderlike man met die naam Dmitri. Ons dien saam by die takkantoor van Jehovah se Getuies in St. Petersburg. Mettertyd het my ouers se gesindheid teenoor my oortuigings versag.

Ek is so dankbaar dat ek Jehovah ken! Om hom te dien, het my ware sin in die lewe gegee.

‘Daar was baie vrae wat my gekwel het.’—RAUDEL RODRÍGUEZ RODRÍGUEZ

GEBORE: 1959

GEBOORTELAND: KUBA

GESKIEDENIS: POLITIEKE REBEL

MY VERLEDE: Ek is in Havana, Kuba, gebore en het in ’n arm buurt grootgeword waar straatgevegte algemeen was. Terwyl ek grootgeword het, het ek in judo en ander gevegsportsoorte begin belangstel.

Ek het goed gedoen op skool, en my ouers het my aangespoor om universiteit toe te gaan. Terwyl ek daar was, het ek begin voel dat my land se politieke stelsel moet verander. Ek het besluit om te rebelleer. Ek en ’n klasmaat het ’n polisiebeampte aangeval omdat ons hom van sy vuurwapen wou beroof. Die onderonsie het die beampte met ernstige kopbeserings gelaat. Ek en my klasmaat is vir daardie aanval in hegtenis geneem en tot die dood deur ’n vuurpeloton veroordeel. Ek was maar 20 jaar oud, en tog het die dood my in die gesig gestaar!

In die eensaamheid van my tronksel het ek geoefen hoe ek my voor die vuurpeloton sou gedra. Ek wou geen vrees toon nie. Terselfdertyd was daar baie vrae wat my gekwel het. Ek het gewonder: ‘Waarom is daar soveel ongeregtigheid in die wêreld? Is hierdie lewe al wat daar is?’

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: Ons doodstraf is uiteindelik tot 30 jaar tronkstraf versag. Dit was toe dat ek ’n paar van Jehovah se Getuies ontmoet het wat weens hulle godsdiensoortuigings in die tronk was. Ek was beïndruk deur die Getuies se moedige maar vreedsame gedrag. Hoewel hulle ten onregte in die tronk gesit is, was hulle nie kwaad of verbitterd nie.

Die Getuies het my geleer dat God ’n voorneme met die mens het. Hulle het vir my uit die Bybel gewys dat hy ons aarde in ’n paradys gaan omskep waar daar geen misdaad en ongeregtigheid gaan wees nie. Hulle het my geleer dat die aarde vol goeie mense gaan wees, wat die geleentheid sal hê om vir ewig onder volmaakte toestande te lewe.—Psalm 37:29.

Ek het gehou van wat ek by die Getuies geleer het, maar my persoonlikheid het min met hulle s’n in gemeen gehad. Ek het nooit gedink dat ek polities neutraal sou kon wees of die ander wang sou kon draai nie. Ek het dus besluit om die Bybel op my eie te lees. Toe ek klaar was, het ek besef dat Jehovah se Getuies die enigste mense is wat soos die vroeë Christene optree.

My studie van die Bybel het my laat besef dat ek drastiese veranderinge in my lewe moet maak. My spraak het byvoorbeeld veel te wense oorgelaat, aangesien ek baie gevloek het. Ek moes ook ophou rook. En ek moes ophou kant kies in politieke geskille. Dit was nie maklik om hierdie veranderinge te maak nie, maar met Jehovah se hulp het ek dit mettertyd reggekry.

Een van die moeilikste veranderinge was om te leer om my humeur in toom te hou. Ek bid nog steeds vir selfbeheersing in hierdie verband. Ek is grootliks gehelp deur Bybeltekste soos Spreuke 16:32, wat sê: “Hy wat nie gou toornig word nie, is beter as ’n sterk man, en hy wat sy gees beheers, as die een wat ’n stad inneem.”

In 1991 is ek as een van Jehovah se Getuies gedoop. Die doop is in ’n vat water in die tronk uitgevoer. Die volgende jaar is ’n paar van ons vrygelaat en na Spanje gestuur omdat ons familie daar gehad het. Toe ek in Spanje aankom, het ek onmiddellik die vergaderinge van Jehovah se Getuies bygewoon. Die Getuies daar het my verwelkom asof hulle my al jare lank ken, en hulle het my gehelp om ’n nuwe lewe te begin.

HOE EK BAAT GEVIND HET: Ek is gelukkig, en ek dien God saam met my vrou en ons dogters. Ek is bevoorreg omdat ek die meeste van my tyd kan gebruik om ander te help om die Bybel te leer ken. Soms dink ek terug aan daardie jong man wie se lewe kortgeknip sou word, en dan waardeer ek al die seëninge wat ek sedertdien ontvang het. Ek lewe nie net nie, maar ek het ook hoop. Ek sien uit na die beloofde Paradys—na die tyd wanneer geregtigheid sal seëvier en ‘die dood nie meer daar sal wees nie’.—Openbaring 21:3, 4

[Lokteks op bladsy 19]]

“Dit het my diep geraak toe ek leer dat God ’n naam het”

[Prent op bladsy 20]

Ek en my man geniet dit om gebaretaalpublikasies in die dowe veld te gebruik