Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Koninklike priesterdom tot voordeel van die hele mensdom

’n Koninklike priesterdom tot voordeel van die hele mensdom

“Julle is ‘’n uitverkore ras, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige nasie, ’n volk vir spesiale besit’.”—1 PET. 2:9.

1. Waarom word “die Here se aandmaal” ook die Gedenkmaal genoem, en wat is die doel daarvan?

GEDURENDE die aand van 14 Nisan in die jaar 33 HJ het Jesus Christus en sy 12 apostels die Joodse Pasga vir die laaste keer gevier. Nadat hy die verraderlike Judas Iskariot uitgestuur het, het Jesus ’n ander viering ingestel, wat later “die Here se aandmaal” genoem is (1 Kor. 11:20). Jesus het twee keer gesê: “Hou aan om dit tot my gedagtenis te doen.” Hierdie geleentheid staan ook bekend as die Gedenkmaal, ter aandenking aan Christus met die klem op sy dood (1 Kor. 11:24, 25). In gehoorsaamheid aan hierdie gebod hou Jehovah se Getuies elke jaar die Gedenkmaal. In 2012 begin 14 Nisan van die Bybelkalender met sononder, Donderdag 5 April.

2. Wat het Jesus gesê van die embleme wat hy gebruik het?

2 Die dissipel Lukas som in twee verse op wat Jesus by daardie geleentheid gedoen en gesê het: “Hy [het] ’n brood geneem, gedank, dit gebreek en dit vir hulle gegee en gesê: ‘Dit beteken my liggaam, wat vir julle gegee sal word. Hou aan om dit tot my gedagtenis te doen.’ Ook die beker op dieselfde wyse nadat hulle die aandmaal geëet het, terwyl hy gesê het: ‘Hierdie beker beteken die nuwe verbond kragtens my bloed, wat vir julle uitgestort sal word’” (Luk. 22:19, 20). Hoe sou die apostels hierdie woorde verstaan het?

3. Hoe sou die apostels die betekenis van die embleme verstaan het?

3 As Jode was die apostels goed vertroud met diereoffers wat die priesters by die tempel in Jerusalem aan God gebring het. Hierdie offerandes is gebring om Jehovah se guns te verkry, en baie hiervan het sonde op ’n simboliese wyse bedek (Lev. 1:4; 22:17-29). Die apostels kon dus verstaan dat Jesus, toe hy gesê het dat sy liggaam en bloed ‘vir hulle gegee en uitgestort sou word’, bedoel het dat hy sy volmaakte lewe as ’n offerande sou gee. Dit sou ’n offerande van baie groter waarde as dié van diere wees.

4. Wat het Jesus bedoel toe hy gesê het: “Hierdie beker beteken die nuwe verbond kragtens my bloed”?

4 Wat van Jesus se woorde: “Hierdie beker beteken die nuwe verbond kragtens my bloed”? Die apostels het die profesie oor die nuwe verbond geken, wat opgeteken is in Jeremia 31:31-33. (Lees.) Jesus se woorde het aangedui dat hy nou hierdie nuwe verbond instel, wat die Wetsverbond sou vervang wat Jehovah deur middel van Moses met Israel gesluit het. Het die twee verbonde met mekaar verband gehou?

5. Watter vooruitsigte het die Wetsverbond Israel gebied?

5 Ja, daar was ’n noue verband tussen die doel van die twee verbonde. Toe Jehovah die Wetsverbond ingestel het, het hy vir die nasie gesê: “As julle dan nou my stem nougeset gehoorsaam en my verbond inderdaad hou, dan sal julle beslis my spesiale eiendom uit al die ander volke word, want die hele aarde behoort aan my. En julle sal vir my ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie word” (Eks. 19:5, 6). Hoe sou die Israeliete hierdie woorde verstaan het?

DIE BELOFTE VAN ’N KONINKLIKE PRIESTERDOM

6. Van watter belofte was die Wetsverbond ’n verdere ontwikkeling?

6 Die Israeliete het verstaan wat die woord “verbond” beteken, want Jehovah het sulke plegtige ooreenkomste met hulle voorvaders Noag en Abraham aangegaan (Gen. 6:18; 9:8-17; 15:18; 17:1-9). In sy verbond met Abraham het Jehovah onder andere belowe: “Deur middel van jou saad sal al die nasies van die aarde hulleself gewis seën” (Gen. 22:18). Die Wetsverbond was ’n verdere ontwikkeling van hierdie belofte. Op grond daarvan kon Israel Jehovah se “spesiale eiendom uit al die ander volke” word. Met watter doel? Om ‘vir Jehovah ’n koninkryk van priesters’ te word.

7. Waarna het die uitdrukking “’n koninkryk van priesters” verwys?

7 Die Israeliete was vertroud met konings en priesters, maar Melgisedek was die enigste man in die verlede wat tegelykertyd albei ampte met Jehovah se goedkeuring beklee het (Gen. 14:18). Jehovah het nou vir die nasie die geleentheid gebied om “’n koninkryk van priesters” voort te bring. Soos geïnspireerde geskrifte later aangedui het, was dit ’n geleentheid om ’n koninklike priesterdom—konings wat ook priesters sou wees—te voorsien.—1 Pet. 2:9.

8. Watter dienste voorsien goddelik aangestelde priesters?

8 ’n Koning regeer natuurlik. Maar wat doen ’n priester? Hebreërs 5:1 verduidelik: “Elke hoëpriester wat uit die mense geneem word, word ten behoewe van mense oor die dinge in verband met God aangestel, sodat hy gawes en offerandes vir sondes kan bring.” ’n Priester wat deur Jehovah aangestel is, verteenwoordig dus sondige mense voor God deur middel van voorgeskrewe offerandes en pleit by Hom ten behoewe van hulle. Maar ’n priester verteenwoordig ook Jehovah voor mense en onderrig hulle in God se wet (Lev. 10:8-11; Mal. 2:7). Op hierdie maniere help ’n goddelik aangestelde priester om mense met God te versoen.

9. (a) Op watter voorwaarde kon Israel die vervulling ervaar van die belofte om “’n koninkryk van priesters” te voorsien? (b) Waarom het Jehovah ’n priesterdom in Israel ingestel? (c) Wat het Israel verhinder om “’n koninkryk van priesters” onder die Wetsverbond te voorsien?

9 Die Wetsverbond het Israel dus die geleentheid gebied om ’n koninklike priesterdom voort te bring wat “al die ander volke” tot voordeel sou strek. Hierdie ontsagwekkende vooruitsig het egter gepaardgegaan met ’n voorwaarde: “As julle dan nou my stem nougeset gehoorsaam en my verbond inderdaad hou.” Kon die Israeliete ‘Jehovah se stem nougeset gehoorsaam’? Ja, tot ’n mate. Kon hulle dit op ’n volmaakte wyse doen? Nee (Rom. 3:19, 20). Om hierdie rede het Jehovah intussen ’n priesterdom in Israel ingestel, geskei van enige koningskap, om diereoffers te bring vir sondes wat die Israeliete onvermydelik sou pleeg (Lev. 4:1–6:7). Hierdie sondes het dié van die priesters ingesluit (Heb. 5:1-3; 8:3). Jehovah het hierdie offerandes aangeneem, maar dit kon nie ten volle vergoed vir die sondes van diegene wat die offerandes gebring het nie. Die priesterdom onder die Wetsverbond kon selfs nie opregte Israeliete ten volle met God versoen nie. Die apostel Paulus het dit soos volg gestel: “Dit is nie vir die bloed van bulle en van bokke moontlik om sondes weg te neem nie” (Heb. 10:1-4). Omdat hulle die Wet geskend het, het die Israeliete in werklikheid onder ’n vloek gekom (Gal. 3:10). Hulle kon nouliks in so ’n toestand die wêreld as ’n koninklike priesterdom dien.

10. Watter doel het die Wetsverbond gedien?

10 Was Jehovah se belofte dat hulle “’n koninkryk van priesters” kon voorsien, dan ’n leë belofte? Glad nie. As hulle opreg probeer het om gehoorsaam te wees, sou hulle hierdie geleentheid hê—maar nie onder die Wet nie. Waarom nie? (Lees Galasiërs 3:19-25.) Die Wet het diegene wat getrou daarna gestreef het om dit te onderhou, gehelp om rein aanbidding te bewaar. Dit het die Jode bewus gemaak van hulle oortredings en van die feit dat hulle ’n groter offerande nodig gehad het as wat hulle hoëpriester kon bring. Dit was ’n tugmeester wat hulle sou lei na die Christus, of Messias, titels wat “Gesalfde” beteken. Maar wanneer die Messias sou kom, sou hy die nuwe verbond instel wat deur Jeremia voorspel is. Diegene wat die Christus aanvaar het, is genooi om deelgenote van die nuwe verbond te word en sou “’n koninkryk van priesters” word. Kom ons kyk hoe.

DIE NUWE VERBOND BRING ’N KONINKLIKE PRIESTERDOM VOORT

11. Hoe het Jesus die grondslag van ’n koninklike priesterdom geword?

11 In 29 HJ het die Messias gekom in die persoon van Jesus van Nasaret. Toe hy ongeveer 30 jaar oud was, het hy hom aangebied om Jehovah se spesiale wil vir hom te doen en dit deur waterdoop gesimboliseer. Jehovah het hom erken as “my Seun, die geliefde,” en hom gesalf, nie met olie nie, maar met heilige gees (Matt. 3:13-17; Hand. 10:38). Deur hierdie salwing is hy aangestel as Hoëpriester vir gelowiges van die hele mensdom en as hulle toekomstige Koning (Heb. 1:8, 9; 5:5, 6). Hy sou die grondslag van ’n waarlik koninklike priesterdom wees.

12. Wat het Jesus se offerande moontlik gemaak?

12 Watter offerande kon Jesus as Hoëpriester bring wat die oorgeërfde sonde van gelowiges ten volle sou bedek? Soos hy aangedui het toe hy die Herdenking van sy dood ingestel het, was sy volmaakte menselewe die offerande. (Lees Hebreërs 9:11, 12.) Vanaf sy doop in 29 HJ tot en met sy dood het Jesus hom as Hoëpriester aan toetse en opleiding onderwerp (Heb. 4:15; 5:7-10). Nadat hy opgewek is, het hy na die hemel opgevaar en die waarde van sy offerande vir Jehovah aangebied (Heb. 9:24). Hierna kon Jesus by Jehovah pleit ten behoewe van diegene wat geloof in sy offerande beoefen en hulle help om God te dien met die ewige lewe in die vooruitsig (Heb. 7:25). Sy offerande het ook die nuwe verbond bekragtig.—Heb. 8:6; 9:15.

13. Wat was die vooruitsigte van diegene wat genooi is om in die nuwe verbond te wees?

13 Diegene wat genooi is om in die nuwe verbond te wees, sou ook met heilige gees gesalf word (2 Kor. 1:21). Getroue Jode en toe nie-Jode is ingesluit (Ef. 3:5, 6). Wat was die vooruitsigte van dié in die nuwe verbond? Hulle sou ware vergifnis vir hulle sondes ontvang. Jehovah het belowe: “Ek sal hulle oortreding vergewe, en aan hulle sonde sal ek nie meer dink nie” (Jer. 31:34). Met hulle sondes wetlik gekanselleer, sou hulle in ’n posisie wees om “’n koninkryk van priesters” te word. Petrus het aan gesalfde Christene geskryf: “Julle is ‘’n uitverkore ras, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige nasie, ’n volk vir spesiale besit, sodat julle die voortreflikhede alom bekend sou maak’ van die een wat julle uit die duisternis tot in sy wonderbare lig geroep het” (1 Pet. 2:9). Petrus haal hier Jehovah se woorde aan wat Hy tot Israel gerig het toe Hy die Wet ingestel het en pas dit toe op Christene in die nuwe verbond.—Eks. 19:5, 6.

’N KONINKLIKE PRIESTERDOM BRING VOORDELE VIR DIE HELE MENSDOM

14. Waar dien die koninklike priesterdom?

14 Waar dien diegene wat in die nuwe verbond is? Op die aarde, waar hulle as ’n groep as ’n priesterdom dien wat Jehovah voor mense verteenwoordig deur ‘sy voortreflikhede alom bekend te maak’ en geestelike voedsel te voorsien (Matt. 24:45; 1 Pet. 2:4, 5). Ná hulle dood en opstanding dien hulle saam met Christus in die hemel as konings sowel as priesters en vervul hulle die funksies van albei ampte ten volle (Luk. 22:29; 1 Pet. 1:3-5; Op. 1:6). Ter bevestiging hiervan het die apostel Johannes in ’n visioen ’n aantal geeswesens naby Jehovah se troon in die hemel gesien. In “’n nuwe lied” wat tot “die Lam” gerig is, sing hulle: “Met u bloed het u mense uit elke stam en taal en volk en nasie vir God gekoop, en u het hulle ’n koninkryk en priesters vir ons God gemaak, en hulle gaan as konings oor die aarde heers” (Op. 5:8-10). In ’n latere visioen sê Johannes van hierdie heersers: “Hulle sal priesters van God en van die Christus wees en sal die duisend jaar lank saam met hom as konings heers” (Op. 20:6). Saam met Christus maak hulle ’n koninklike priesterdom uit tot voordeel van die hele mensdom.

15, 16. Watter voordele sal die koninklike priesterdom vir die mensdom bring?

15 Watter voordele sal die 144 000 vir dié op die aarde bring? Openbaring 21 beeld hulle uit as ’n hemelse stad, Nuwe Jerusalem, wat “die Lam se vrou” genoem word (Op. 21:9). Verse 2 tot 4 sê: “Ek het ook die heilige stad, Nuwe Jerusalem, van God af uit die hemel sien neerdaal, toeberei soos ’n bruid wat vir haar man versier is. Toe het ek ’n harde stem van die troon af hoor sê: ‘Kyk! Die tent van God is by die mensdom, en hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volke wees. En God self sal by hulle wees. En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.’” Watter wonderlike seëninge! Die verwydering van die dood sal die vernaamste oorsaak van trane, verdriet, angsgeroep en pyn uit die weg ruim. Dit sal beteken dat getroue mense tot volmaaktheid verhef en ten volle met God versoen word.

16 In ’n verdere beskrywing van die seëninge wat hierdie koninklike priesterdom sal bring, sê Openbaring 22:1, 2: “Hy het my ’n rivier van water van die lewe gewys, helder soos kristal, wat uit die troon van God en van die Lam uitvloei, al in die middel van [Nuwe Jerusalem se] breë straat af. En aan weerskante van die rivier was daar bome van die lewe wat twaalf vrugteoeste voortbring, wat elke maand hulle vrugte oplewer. En die blare van die bome was vir die genesing van die nasies.” Danksy hierdie simboliese voorsienings sal “die nasies”, of familiegroepe, ten volle genees word van die onvolmaaktheid wat van Adam geërf is. Waarlik, ‘die vorige dinge sal verbygegaan het’.

DIE KONINKLIKE PRIESTERDOM VOLTOOI HULLE WERK

17. Wat sal die koninklike priesterdom uiteindelik gedoen het?

17 Teen die einde van 1 000 jaar van heilsame diens sal die koninklike priesterdom hulle aardse onderdane tot menslike volmaaktheid verhef het. As Hoëpriester en Koning sal Christus dan die ten volle herstelde mensegesin vir Jehovah aanbied. (Lees 1 Korintiërs 15:22-26.) Die koninklike priesterdom sal hulle werk voltooi het.

18. Hoe sal Jehovah Christus se metgeselle gebruik nadat die koninklike priesterdom hulle werk voltooi het?

18 Hoe sal Jehovah daarna hierdie uiters bevoorregte metgeselle van Christus gebruik? Volgens Openbaring 22:5 sal hulle “vir ewig en altyd as konings heers”. Oor wie? Die Bybel sê nie. Maar die soort lewe wat hulle besit en hulle ondervinding om ’n wêreld van onvolmaakte mense te help, sal hulle toerus om vir ewig ’n koninklike posisie in Jehovah se voorneme te beklee.

19. Waaraan sal diegene wat die Gedenkmaal bywoon, herinner word?

19 Wanneer ons op Donderdag 5 April 2012 bymekaarkom om die Herdenking van Jesus se dood te hou, sal ons aan hierdie Bybelleringe dink. Die klein oorblyfsel van gesalfde Christene wat nog op die aarde is, sal van die embleme—die ongesuurde brood en rooiwyn—gebruik, wat aandui dat hulle deelgenote van die nuwe verbond is. Hierdie simbole van Christus se offerande sal hulle aan hulle ontsagwekkende voorregte en verantwoordelikhede ten opsigte van God se ewige voorneme herinner. Mag ons almal die Gedenkmaal bywoon met innige waardering vir Jehovah God se voorsiening van ’n koninklike priesterdom tot voordeel van die hele mensdom.

[Studievrae]

[Prent op bladsy 29]

Die koninklike priesterdom sal ewige voordele vir die mensdom bring