Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Bybel verander lewens

Die Bybel verander lewens

Die Bybel verander lewens

WAT het ’n tabakboer beweeg om nie net sy beroep te verander nie, maar ook sy gekoesterde godsdiensoortuigings? Hoe het ’n alkoholis die krag gevind om haar lewenswyse te verander? Lees wat hierdie mense te sê het.

“Dit is wonderlik om deel te wees van hierdie groot gesin.”—DINO ALI

GEBORE: 1949

GEBOORTELAND: AUSTRALIË

GESKIEDENIS: TABAKBOER

MY VERLEDE: My ouers het in 1939 uit Albanië geëmigreer en hulle in Mareeba, ’n klein dorpie in Queensland, Australië, gevestig. Baie Bosniërs, Grieke, Italianers, Serwiërs, en ander, het hulle ook in hierdie gebied gevestig en hulle waardes, gebruike en kulture saam met hulle gebring. Mareeba was ’n tabakgebied, en my ouers het tabak begin verbou.

Kort voor lank is my ouer suster gebore, gevolg deur my twee ouer broers en ek. My pa is ongelukkig aan ’n hartaanval dood toe ek een jaar oud was. My ma is weer getroud en het nog vier seuns gehad. Ons het almal op my stiefpa se tabakplaas grootgeword.

Ek het die huis in my tienerjare verlaat. Toe ek in my vroeë 20’s was, is ek met my vrou, Saime, in die plaaslike moskee getroud, aangesien ons albei Moslems was. Al my ooms, tantes, neefs en niggies het aan die Islamitiese geloof behoort. Ek het die Koran en ’n boek oor die profeet Mohammed se geskiedenis gelees. Terselfdertyd het ek ook ’n klein Bybeltjie gelees. Die Koran praat van die profete wat in die Bybel genoem word, en toe ek die Bybel lees, het dit my gehelp om te verstaan wanneer hulle gelewe het.

Jehovah se Getuies het my by my huis besoek en gereeld tydskrifte en boeke by my gelaat, wat ek en Saime geniet het om te lees. Ek onthou dat ek talle interessante gesprekke oor verskillende godsdienstige onderwerpe met die Getuies gehad het. Hulle het elke keer my vrae met behulp van die Bybel beantwoord eerder as om hulle persoonlike opinie te gee. Dit het my werklik beïndruk.

Die Getuies het aangebied om die Bybel met my te studeer en my na hulle vergaderinge genooi, maar ek het altyd nee gesê. My eerste prioriteit was om my eie plaas en ’n groot gesin te hê. Ek het nooit ’n plaas besit nie, maar ek het uiteindelik die trotse pa van vyf kinders geword.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: Nege jaar ná my eerste kontak met Jehovah se Getuies het ek nog steeds nie my godsdiensoortuigings verander nie. Ek het dit egter geniet om al die publikasies wat hulle uitgegee het, te ontvang en te lees. Elke Sondag het ek en Saime tyd gemaak om hierdie lektuur te lees. Ons het al die tydskrifte gehou wat ons oor die jare heen ontvang het. Dit was ’n baie nuttige hulpbron toe ander begin het om die geloof te toets wat in my hart begin groei het.

Ek het byvoorbeeld ’n evangeliese prediker ontmoet wat druk op my geplaas het om Jesus as my Saligmaker aan te neem. Hy het dit reggekry om Saime se broer en een van my halfbroers te oorreed om hom te volg. Kort voor lank het kennisse van allerhande godsdienste my probeer oorreed om by hulle godsdiensgroepe aan te sluit. Party het vir my lektuur gegee wat Jehovah se Getuies aangeval het. Ek het hierdie kritici gevra om vir my uit die Bybel te wys wat die grondslag vir hulle leerstellings is, maar hulle kon nie my vrae beantwoord nie.

Al hierdie teenstand het my net dieper in die Bybel laat delf en meer navorsing laat doen in die publikasies wat ek by die Getuies gekry het. Uiteindelik het ek besef dat dit tyd was om toe te pas wat ek geleer het.

Ek het nie ’n persoonlike Bybelstudie met die Getuies gehad nie; ek het eenvoudig begin om hulle vergaderinge by te woon. Aan die begin was ek baie senuweeagtig en skaam, maar ek het talle vriendelike mense by daardie vergaderinge ontmoet, en ek het geniet wat ek geleer het. Ek het besluit om een van Jehovah se Getuies te word, en in 1981 het ek my toewyding aan God gesimboliseer deur gedoop te word.

My vrou het nie my besluit teëgestaan nie, hoewel sy soms gewonder het of ek mislei word. Sy het nogtans my doop bygewoon. Ek het aangehou om vir haar te vertel van die talle waarhede wat ek geleer het. Ongeveer ’n jaar ná my doop was ons in die motor op pad huis toe ná ’n vakansie toe Saime haar begeerte uitgespreek het om ’n Getuie te word. Ek was so verbaas dat ek amper van die pad af gery het! Sy is in 1982 gedoop.

Dit was nie maklik om die nodige veranderinge in ons lewenswyse aan te bring nie. Ek het opgehou om tabak te verbou, aangesien dit in stryd met Bybelbeginsels is (2 Korintiërs 7:1; Jakobus 2:8). Dit het ’n ruk geneem om geskikte werk te vind wat ’n vaste inkomste voorsien het. En vir jare daarna het party van ons familielede geweier om ons te besoek. Ons het hulle volgens Bybelbeginsels probeer behandel deur liefde aan hulle te betoon. Uiteindelik het die skeidsmure verbrokkel, en nou vermy ons familielede ons nie meer nie.

HOE EK BAAT GEVIND HET: Die verskillende toetse wat ek deurgemaak het, hetsy om my skaamheid te bowe te kom, finansiële sorge die hoof te bied of gesinsteenstand te verduur, het my geleer hoe geduldig Jehovah God is terwyl hy my help om my probleme te oorkom. Byvoorbeeld, ek dien nou as ’n gemeentelike ouer man en moet dikwels van die verhoog af onderrig. Dit is nog altyd moeilik vir my, want ek hakkel as ek senuweeagtig is. Maar deur middel van volgehoue gebed en met Jehovah se hulp is ek in staat om na hierdie voorreg om te sien.

Ek en my vrou het nader aan mekaar gekom, en die band wat ons nou geniet, is baie kosbaar. Ons het foute gemaak toe ons ons kinders grootgemaak het, maar ons het ons bes gedoen om die Bybelwaarhede wat ons geleer het, by hulle in te skerp (Deuteronomium 6:6-9). Trouens, my oudste seun en sy vrou dien as sendelinge.

Ek onthou een geleentheid kort nadat ons die vergaderinge van die Getuies as ’n gesin begin bywoon het. Ek het die motor geparkeer en na die mense gekyk wat in die saal bymekaargekom het. Ek het my gesin gevra: “Wat sien julle?” Daar was mense van verskillende kulture, agtergronde en tale—Aborigines, Albanese, Australiërs, Kroate—en tog het hulle almal gelukkig met mekaar geassosieer. Dit is wonderlik om deel te wees van hierdie groot gesin van geestelike broers en susters wat nie net in Australië bestaan nie, maar wat oor die hele wêreld versprei is.—1 Petrus 5:9.

“My suster het nooit moed opgegee met my nie.”—JELENA WLADIMIROWNA SIOMINA

GEBORE: 1952

GEBOORTELAND: RUSLAND

GESKIEDENIS: VERSLAAF AAN ALKOHOL, HET SELFMOORD PROBEER PLEEG

MY VERLEDE: Ek is in Krasnogorsk, ’n klein, rustige stad naby Moskou, gebore. Ek het in ’n gesin van onderwysers grootgeword. Ek was ’n goeie student en het opleiding in musiek ontvang. My toekoms het rooskleurig gelyk.

Nadat ons getrou het, het ek en my man na ’n gebied getrek waar vloekery, dronkenskap en rook algemeen was. Ek het dit nie op daardie tydstip besef nie, maar die omgewing het ’n slegte uitwerking op my gehad. Aan die begin het ek partytjies bygewoon bloot om te sing en kitaar te speel. Maar wanneer ek eers daar was, het mense my genooi om saam met hulle te rook en te drink. Kort voor lank was ek verslaaf aan alkohol.

My verslawing het my lewe begin verwoes. Dit het my ’n ruk geneem om my laagste punt te bereik, maar toe dit gebeur, kon ek skaars eet. Ek wou sterf en het ’n onsuksesvolle selfmoordpoging aangewend. Ek is dankbaar dat ek nie suksesvol was nie.

Deur dit alles heen het my suster my gereeld besoek. Sy het een van Jehovah se Getuies geword, en sy het probeer verduidelik hoe die Bybel my kan help. Ek het nie in die Bybel belanggestel nie en het haar dus aan die begin weggejaag. Maar my suster het nooit moed opgegee met my nie. Sy was so geduldig en liefdevol teenoor my dat ek uiteindelik ingestem het om die Bybel te studeer.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: Nadat ek die Bybel begin studeer het, het ek dit my vaste voorneme gemaak om op te hou drink. Ongeveer daardie tyd is ek deur ’n dronk buurman aangeval en geslaan. Ek het in ’n ernstige toestand in die hospitaal beland. Vier van my ribbes is gebreek, en een van my retinas is beskadig. Nietemin het die tyd wat ek in die hospitaal deurgebring het, my gehelp om die alkohol-onttrekkingsimptome die hoof te bied.

Gedurende daardie tyd het ek voortdurend gebid. ’n Bybelgedeelte wat my grootliks vertroos het, was Klaagliedere 3:55, 56, wat sê: “Ek het u naam uitgeroep, o Jehovah, uit die onderste kuil. U moet my stem hoor. Moenie u oor verberg vir my verligting, vir my hulpgeroep nie.”

Ek glo werklik dat Jehovah my gebede verhoor het. Hy het my die krag gegee om nie na my verlede terug te keer nie. Daar was tye dat ek in die versoeking gekom het om weer te begin drink. Ek is bly om te sê dat ek nooit voor daardie versoeking geswig het nie.

In my studie van die Bybel het ek geleer dat ek my man in sy rol as hoof van die gesin moet ondersteun (1 Petrus 3:1, 2). Dit was nie vir my maklik nie omdat ek daaraan gewoond was om my man te hiet en gebied. Ek het tot Jehovah om hulp gebid. Die verandering het nie oornag gekom nie, maar ek het geleidelik ’n beter, meer ondersteunende vrou geword.

My man was verstom om hierdie veranderinge te sien. Tot op daardie tydstip het hy nie in die Bybel belanggestel nie. Maar toe ek besluit om op te hou rook, het hy gesê: “Aangesien jy bereid is om op te hou rook, sal ek die Bybel begin studeer!” Ons het op dieselfde dag opgehou rook.

HOE EK BAAT GEVIND HET: My man het sy belofte nagekom en die Bybel begin studeer. Ons lees nou elke dag die Bybel saam, ons dink na oor wat ons lees en probeer die raad in ons lewe toepas.

Woorde kan nie beskryf hoe ons gesinslewe verbeter het nie—om nie eens te praat van hoe ek persoonlik baat gevind het nie. Ek is dankbaar teenoor Jehovah omdat hy my na hom toe getrek het (Johannes 6:44). Ek is ook dankbaar teenoor my suster, wat nooit moed opgegee het met my nie. Ek het dus uit eie ondervinding geleer dat die Bybel werklik lewens verander.

[Lokteks op bladsy 11]

Ek het besef dat dit tyd was om toe te pas wat ek geleer het

[Lokteks op bladsy 13]

My suster was so geduldig en liefdevol teenoor my dat ek uiteindelik ingestem het om die Bybel te studeer