Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Volg Jesus se voorbeeld van waaksaamheid

Volg Jesus se voorbeeld van waaksaamheid

Volg Jesus se voorbeeld van waaksaamheid

“Hou aan waak en bid.”—MATT. 26:41.

HOE SAL JY ANTWOORD?

Hoe kan ons gebede toon dat ons aanhou waak?

Hoe kan ons toon dat ons in ons bediening waaksaam is?

Waarom is dit belangrik dat ons aanhou waak wanneer ons beproef word, en hoe kan ons dit doen?

1, 2. (a) Watter vrae kan in verband met Jesus se voorbeeld van waaksaamheid ontstaan? (b) Is Jesus se volmaakte voorbeeld nuttig vir sondige mense? Lig toe.

JY WONDER dalk: ‘Is dit werklik moontlik om Jesus se voorbeeld van waaksaamheid te volg? Jesus was immers volmaak! Boonop kon Jesus soms duidelik in die toekoms sien—selfs duisende jare vooruit! Was dit werklik vir hom nodig om waaksaam te wees?’ (Matt. 24:37-39; Heb. 4:15). Kom ons bespreek eers hierdie vrae sodat ons kan sien presies hoe toepaslik en dringend hierdie onderwerp is.

2 Is ’n volmaakte voorbeeld nuttig vir sondige mense? Ja, want dit is moontlik om by ’n goeie onderrigter asook uit sy voorbeeld te leer. Dink aan ’n man wat sy eerste boogskietles ontvang. Hy kan nie eens ’n pyl goed genoeg afskiet om die teiken te tref nie, maar hy gaan vir nog lesse en hou aan oefen. Om te verbeter, bestudeer hy noukeurig die voorbeeld van sy instrukteur, wat ’n baasskut is. Die leerling skenk aandag aan hoe sy instrukteur staan, sy arms hou en sy vingers op die boogsnaar plaas. Stadigaan leer die vasbeslote amateur hoe styf hy die snaar moet trek; hy neem die wind in aanmerking, en hy hou aan probeer. Deur sy instrukteur na te boots, rig hy sy pyle uiteindelik sodat hulle al hoe nader aan die middel van die teiken kom. Net so hou ons aan om as Christene te probeer verbeter deur Jesus se instruksies te gehoorsaam en sy volmaakte voorbeeld te volg.

3. (a) Hoe het Jesus aangedui dat hy waaksaamheid nodig gehad het? (b) Wat sal ons in hierdie artikel bespreek?

3 Maar wat van waaksaamheid? Het Jesus werklik hierdie eienskap nodig gehad? Ja, hy het. Op die laaste nag van sy aardse lewe het Jesus byvoorbeeld sy getroue apostels aangespoor: “Hou aan om saam met my te waak.” Hy het bygevoeg: “Hou aan waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie” (Matt. 26:38, 41). Hoewel Jesus die hele tyd waaksaamheid aan die dag gelê het, wou hy in hierdie benoude ure veral waaksaam en so na as moontlik aan sy hemelse Vader wees. Hy het geweet dat sy volgelinge dieselfde waaksaamheid nodig het—nie net op daardie stadium nie, maar ook in die toekoms. Kom ons bespreek dus waarom Jesus wil hê dat ons moet aanhou waak. Daarna sal ons drie maniere ondersoek waarop ons Jesus se waaksaamheid in ons daaglikse lewe kan navolg.

WAAROM JESUS WIL HÊ DAT ONS WAAKSAAM MOET WEES

4. Watter verband is daar tussen wat ons nie van die toekoms weet nie en die feit dat ons waaksaam moet wees?

4 Kortom, Jesus wil hê dat ons waaksaam moet bly as gevolg van wat ons nie weet nie en wat ons wel weet. Het Jesus, toe hy ’n mens op die aarde was, geweet wat die toekoms alles inhou? Nee, want hy het nederig erken: “Van daardie dag en uur weet niemand nie, nie die engele van die hemele nie en ook nie die Seun nie, maar net die Vader” (Matt. 24:36). Op daardie stadium het Jesus, “die Seun”, nie geweet presies wanneer die einde van hierdie goddelose wêreld sou kom nie. Wat van ons wat vandag lewe? Is ons kennis van die toekoms beperk? Natuurlik is dit! Ons weet nie presies wanneer Jehovah sy Seun sal stuur om ’n einde aan hierdie goddelose stelsel van dinge te maak nie. As ons dit wel geweet het, sou dit dan werklik vir ons nodig gewees het om aan te hou waak? Soos Jesus verduidelik het, sal die einde skielik, onverwags kom; ons moet dus immer waaksaam bly.—Lees Matteus 24:43.

5, 6. (a) Hoe help ons kennis van die toekoms en van God se voornemens ons om waaksaam te wees? (b) Waarom moet ons kennis van Satan ons meer vasbeslote maak om waaksaam te wees?

5 Maar Jesus het wel talle wonderlike dinge van die toekoms geweet—waarhede waarvan die meeste mense om hom glad nie geweet het nie. Ons kennis kom nie naby dié van Jesus nie, maar danksy hom weet ons wel baie van God se Koninkryk en van wat dit in die nabye toekoms sal doen. Sien ons nie, wanneer ons om ons kyk by die skool, by die werk of in die gebied waar ons velddiens doen, dat die meeste mense heeltemal in die duister verkeer omtrent hierdie wonderlike waarhede nie? Dit gee ons dus nog ’n rede om waaksaam te wees. Soos Jesus, moet ons altyd waaksaam wees, op die uitkyk na geleenthede om vir ander te vertel wat ons van God se Koninkryk weet. Elkeen van hierdie geleenthede is kosbaar, en ons wil nie een daarvan verkwis nie. Lewens is op die spel!—1 Tim. 4:16.

6 Jesus het iets anders geweet wat hom waaksaam laat bly het. Hy het geweet dat Satan vasbeslote was om hom in die versoeking te bring, te vervolg en hom sy onkreukbaarheid te laat prysgee. Hierdie boosaardige vyand was altyd op die uitkyk na “’n ander geskikte tyd” om Jesus op die proef te stel (Luk. 4:13). Jesus het nooit sy waaksaamheid verslap nie. Hy wou gereed wees vir enige toets, hetsy dit ’n versoeking, teenstand of vervolging is. Kan dieselfde nie van ons gesê word nie? Ons weet dat Satan nog steeds ‘soos ’n brullende leeu is wat daarop uit is om iemand te verslind’. Daarom vermaan God se Woord alle Christene: “Bly nugter van verstand, wees waaksaam” (1 Pet. 5:8). Maar hoe kan ons dit doen?

HOE OM WAAKSAAM TE WEES TEN OPSIGTE VAN GEBED

7, 8. Watter raad het Jesus oor gebed gegee, en watter soort voorbeeld het hy gestel?

7 Die Bybel verbind geestelike waaksaamheid ten nouste met gebed (Kol. 4:2; 1 Pet. 4:7). Nie lank nadat Jesus sy volgelinge gevra het om saam met hom aan te hou waak nie, het hy gesê: “Hou aan waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie” (Matt. 26:41). Was dit sy bedoeling om dié raad te beperk tot die benarde situasie waarin hulle op daardie oomblik verkeer het? Nee, sy raad is ’n beginsel waarvolgens ons elke dag moet lewe.

8 Jesus het ’n voortreflike voorbeeld gestel ten opsigte van gebed. Jy onthou dalk dat hy eenkeer ’n hele nag in gebed tot sy Vader deurgebring het. Kom ons probeer ons die toneel voorstel. (Lees Lukas 6:12, 13.) Dit is lente, waarskynlik naby die vissersdorp Kapernaum, Jesus se tuisbasis in die gebied. Wanneer dit aand word, klim Jesus op teen een van die berge wat oor die See van Galilea uitkyk. Terwyl hy kyk hoe die landskap donkerder word, sien hy miskien die flikkerende olielampe daaronder in Kapernaum en ander nabygeleë dorpies. Maar wanneer Jesus met Jehovah praat, konsentreer hy net op sy gebed. Minute verloop—dan ure. Hy skenk min aandag aan die ligte wat daar ver onder een vir een uitgaan of aan die maan wat deur die nagruim beweeg of aan die nagdiere wat in die ruigte rondsnuffel. Sy gebed handel waarskynlik oor die groot besluit wat hy moet neem—om sy 12 apostels te kies. Ons kan ons voorstel hoe Jesus, verdiep in gebed, sy Vader al sy gedagtes en bekommernisse omtrent elke dissipel vertel terwyl hy ernstig smeek om leiding en wysheid.

9. Wat kan ons leer uit die voorbeeld wat Jesus gestel het deur heelnag te bid?

9 Wat kan ons uit Jesus se voorbeeld leer? Dat ons ure lank in gebed moet deurbring? Nee, want hy het liefdevol aangaande sy volgelinge erken: “Die gees is natuurlik gretig, maar die vlees is swak” (Matt. 26:41). Ons kan Jesus nietemin navolg. Byvoorbeeld, raadpleeg ons ons hemelse Vader voordat ons enige besluit neem wat ’n uitwerking op ons geestelikheid of dié van ons gesin of ons medegelowiges kan hê? Spreek ons in ons gebede onder andere besorgdheid uit oor ons broers en susters in die geloof? Bid ons uit die hart eerder as om altyd dieselfde uitdrukkings te herhaal? Let ook daarop dat Jesus waarde geheg het aan intieme, privaat gesprekke met sy Vader. In vandag se besige, dol wêreld is dit alte maklik om só betrokke te raak by die gejaagde lewe dat ons vergeet wat die belangrikste is. As ons genoeg tyd inruim vir hartgrondige, privaat gebed, sal ons geestelik waaksamer wees (Matt. 6:6, 7). Ons sal nader aan Jehovah kom en gretig wees om ons verhouding met hom te versterk en om niks te doen wat dit kan ondermyn nie.—Ps. 25:14.

HOE OM WAAKSAAM TE WEES IN DIE PREDIKINGSWERK

10. Watter voorbeeld toon vir ons hoe Jesus op die uitkyk gebly het na geleenthede om ’n getuienis te gee?

10 Jesus was waaksaam in die werk wat Jehovah hom gegee het om te doen. Daar is party take waartydens die werker se gedagtes kan dwaal sonder ernstige gevolge. Baie take verg egter groot konsentrasie en waaksaamheid, en dit is beslis die geval met die Christelike bediening. Jesus was altyd waaksaam in sy werk deur op die uitkyk te wees na geleenthede om die goeie nuus bekend te maak. Byvoorbeeld, toe hy en sy dissipels in die dorp Sigar aangekom het nadat hulle ’n hele oggend geloop het, het die dissipels gaan kos koop. Jesus het naby die dorp se put gebly om te rus, maar hy het waaksaam gebly, en hy het ’n geleentheid gesien om te getuig. ’n Samaritaanse vrou het kom water skep. Jesus kon besluit het om ’n bietjie te slaap. Hy kon aan redes gedink het om ’n gesprek te vermy. Maar hy het begin praat en die vrou by ’n gesprek betrek, en hy het ’n kragtige getuienis gegee wat baie lewens in daardie stad geraak het (Joh. 4:4-26, 39-42). Kan ons Jesus se waaksame voorbeeld noukeuriger volg, miskien deur daarna te streef om meer op die uitkyk te wees na geleenthede om die goeie nuus bekend te maak aan mense wat ons in ons daaglikse lewe teëkom?

11, 12. (a) Hoe het Jesus gereageer toe mense sy aandag van sy werk wou aflei? (b) Watter balans het Jesus met betrekking tot sy werk geopenbaar?

11 Welmenende persone het soms Jesus se aandag van sy werk probeer aflei. In Kapernaum was die skare so beïndruk deur Jesus se wonderdadige genesings dat hulle hom by hulle wou hou. Dit is te verstane. Maar Jesus se opdrag was om vir al “die verlore skape van die huis van Israel” te preek, nie net vir dié in een stad nie (Matt. 15:24). Hy het dus vir daardie mense gesê: “Ook aan ander stede moet ek die goeie nuus van die koninkryk van God bekend maak, want hiervoor is ek uitgestuur” (Luk. 4:40-44). Dit is duidelik dat Jesus se lewe om sy bediening gedraai het. Hy het nie toegelaat dat enigiets sy aandag aflei nie.

12 Het Jesus hom so op sy werk toegespits dat hy ’n fanatikus of ’n askeet was? Was hy so betrokke by sy bediening dat hy onverskillig gestaan het teenoor die praktiese behoeftes van gesinne? Nee, Jesus het ’n volmaakte voorbeeld van gebalanseerdheid gestel. Hy het die lewe en vreugdevolle tye saam met sy vriende geniet. Hy het waarde geheg aan gesinne en innige empatie met hulle behoeftes en probleme betoon, en hy het sy liefde vir kinders openlik getoon.—Lees Markus 10:13-16.

13. Hoe kan ons Jesus se voorbeeld van waaksaamheid en gebalanseerdheid volg wat ons Koninkrykspredikingswerk betref?

13 Hoe kan ons daarna streef om soortgelyke balans aan die dag te lê terwyl ons Jesus se voorbeeld van waaksaamheid volg? Ons laat nie toe dat hierdie wêreld ons aandag van ons werk aflei nie. Selfs welmenende vriende en familielede spoor ons dalk aan om minder in ons bediening te doen of om ’n lewe te lei wat hulle as normaal beskou. Maar as ons Jesus navolg, beskou ons ons bediening asof dit voedsel is (Joh. 4:34). Ons werk voed ons geestelik en verskaf ons ook vreugde. Ons wil egter nooit ekstremiste wees en ’n selfvoldane of asketiese gees openbaar nie. Soos Jesus, wil ons vreugdevolle, gebalanseerde knegte van “die gelukkige God” wees.—1 Tim. 1:11.

HOE OM WAAKSAAM TE WEES IN TYE VAN BEPROEWING

14. Watter neiging moet ons in tye van beproewing weerstaan, en waarom?

14 Soos ons gesien het, het Jesus van sy dringendste vermanings om waaksaam te bly, gegee toe hy swaar beproef is. (Lees Markus 14:37.) Wanneer ons ontberinge verduur, het ons sy voorbeeld nodiger as ooit. In tye van beproewing is baie geneig om ’n lewensbelangrike waarheid te vergeet, ’n waarheid wat so belangrik is dat dit twee keer in die boek Spreuke gemeld word: “Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is later die weë van die dood” (Spr. 14:12; 16:25). As ons op ons eie denke staatmaak, veral wanneer ons ernstige probleme ervaar, sal ons waarskynlik ons en ons geliefdes in gevaar stel.

15. Voor watter versoeking kan ’n gesinshoof gedurende moeilike ekonomiese tye te staan kom?

15 Byvoorbeeld, ’n gesinshoof ondervind dalk groot druk terwyl hy materieel vir “sy eie mense” sorg (1 Tim. 5:8). Hy kom miskien in die versoeking om ’n betrekking te aanvaar wat hom herhaaldelik verhinder om Christelike vergaderinge by te woon, die leiding in gesinsaanbidding te neem of aan die bediening deel te neem. As hy net op mensedenke vertrou, kan so ’n weg geregverdig, selfs reg, lyk. Maar dit sal heel moontlik tot geestelike siekte of dood lei. Hoeveel beter is dit tog om die raad in Spreuke 3:5, 6 te volg! Salomo het gesê: “Vertrou op Jehovah met jou hele hart en moenie op jou eie begrip steun nie. Slaan ag op hom in al jou weë, en hy sal jou paaie reguit maak.”

16. (a) Watter voorbeeld het Jesus daarin gestel om op Jehovah se wysheid eerder as op sy eie te vertrou? (b) Hoe volg baie gesinshoofde Jesus se voorbeeld deur gedurende moeilike tye op Jehovah te vertrou?

16 Toe Jesus beproef is, het hy onwrikbaar geweier om op sy eie begrip te steun. Dink net daaraan! Die wysste mens wat nog ooit op die aarde gelewe het, het gekies om nie op sy eie wysheid staat te maak vir antwoorde nie. Toe Satan hom byvoorbeeld versoek het, het Jesus herhaaldelik geantwoord met die woorde: “Daar staan geskrywe” (Matt. 4:4, 7, 10). Hy het op sy Vader se wysheid vertrou om versoeking te weerstaan en so die nederigheid geopenbaar wat Satan verfoei en waarvan daar nie ’n greintjie in hom is nie. Doen ons dit ook? ’n Gesinshoof wat Jesus se waaksaamheid navolg, laat toe dat God se Woord hom lei, veral in moeilike tye. En dit is presies wat duisende gesinshoofde regoor die aarde doen. Hulle stel altyd God se Koninkryk en rein aanbidding eerste in hulle lewe, selfs bo materiële belange. Sodoende sorg hulle op die beste wyse vir hulle gesinne. Jehovah reageer deur hulle pogings te seën om in hulle materiële behoeftes te voorsien, net soos sy Woord belowe.—Matt. 6:33.

17. Wat beweeg jou om Jesus se waaksaamheid na te volg?

17 Jesus het sonder twyfel die bes moontlike voorbeeld van waaksaamheid gestel. Sy voorbeeld is prakties, nuttig en selfs lewensreddend. Onthou, Satan is gretig om jou geestelik aan die slaap te sus, wat beteken dat jy in ’n toestand van swak geloof verval, jou aanbidding op traak-my-nie-agtige wyse beoefen en jou onkreukbaarheid prysgee (1 Tess. 5:6). Moenie toelaat dat hy dit regkry nie! Bly waaksaam, soos Jesus—waaksaam ten opsigte van jou gebede, jou bediening en jou reaksie op beproewinge. As jy dit doen, sal jy reeds nou in die skemerure van hierdie sterwende stelsel van dinge ’n ryk, gelukkige en sinvolle lewe geniet. As jy waaksaam bly, sal dit ook verseker dat jou Heer, wanneer hy kom om ’n einde aan hierdie stelsel te maak, sal vind dat jy wakker en bedrywig is en sy Vader se wil doen. Hoe verheug sal Jehovah tog wees om jou vir jou getroue weg te beloon!—Op. 16:15.

[Studievrae]

[Prent op bladsy 6]

Jesus het vir die vrou by die put gepreek. Watter geleenthede skep jy om elke dag te preek?

[Prent op bladsy 7]

As jy na jou gesin se geestelike welsyn omsien, toon jy dat jy waaksaam is