Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

‘Wees moedig en baie sterk’

‘Wees moedig en baie sterk’

‘Wees moedig en baie sterk’

“Wees . . . moedig en baie sterk . . . Jehovah jou God is met jou.”—JOS. 1:7-9.

HOE SAL JY ANTWOORD?

Hoe het Henog en Noag moed aan die dag gelê?

Hoe was sekere vroue van die ou tyd goeie voorbeelde van geloof en moed?

Watter voorbeelde van moedige jongmense beïndruk jou?

1, 2. (a) Wat is soms nodig om ’n regverdige lewensweg te volg? (b) Wat gaan ons bespreek?

MOED is die teenoorgestelde van vrees, kleinmoedigheid en lafhartigheid. Ons dink moontlik aan ’n moedige persoon as iemand wat sterk, dapper, selfs onverskrokke is. Maar soms is stille moed nodig om ’n regverdige weg in die daaglikse lewe te volg.

2 Party mense in die Bybelverslag was onbevrees onder baie moeilike omstandighede. Ander het moed aan die dag gelê in omstandighede wat eie is aan Jehovah se knegte oor die algemeen. Wat kan ons uit Bybelse voorbeelde van moed leer? Hoe kan ons moedig wees?

MOEDIGE GETUIES IN ’N GODDELOSE WÊRELD

3. Wat het Henog vir die goddeloses voorspel?

3 Dit het moed geverg om ’n getuie van Jehovah te wees onder die goddelose mense wat voor die Vloed van Noag se dag op die aarde gelewe het. Nietemin het Henog, “die sewende in die lyn van Adam”, hierdie profetiese boodskap moedig bekend gemaak: “Kyk! Jehovah het met sy heilige tienduisende gekom, om aan almal oordeel te voltrek en om al die goddeloses skuldig te bevind aan al hulle goddelose dade wat hulle op ’n goddelose wyse gedoen het en aan al die skokkende dinge wat goddelose sondaars teen hom gespreek het” (Jud. 14, 15). Henog se woorde is in die verlede tyd omdat hierdie profesie gewis vervul sou word. En goddelose mense het wel in ’n aardwye vloed omgekom!

4. Ondanks watter toestande het Noag ‘met God gewandel’?

4 Die Vloed het in 2370 VHJ plaasgevind, meer as 650 jaar ná Henog se profetiese bediening. Intussen is Noag gebore, het hy ’n gesin grootgemaak en het hy saam met sy seuns die ark gebou. Bose engele het vleeslike liggame aangeneem, geslagsomgang met mooi vroue gehad en die Nefilim verwek. Daarbenewens het die mens se slegtheid oorvloedig geword, en die aarde was vol geweld (Gen. 6:1-5, 9, 11). Ondanks hierdie toestande het Noag “met die ware God gewandel” en as “’n prediker van regverdigheid” moedig getuig. (Lees 2 Petrus 2:4, 5.) Ons het in hierdie laaste dae soortgelyke moed nodig.

HULLE HET GELOOF EN MOED AAN DIE DAG GELÊ

5. Hoe het Moses geloof en moed aan die dag gelê?

5 Moses het navolgenswaardige geloof en moed gehad (Heb. 11:24-27). God het hom van 1513-1473 VHJ gebruik om die Israeliete uit Egipte te lei en hulle in die wildernis te rig. Moses het onbekwaam gevoel vir hierdie toewysing, maar hy het dit aanvaar (Eks. 6:12). Hy en sy broer, Aäron, het herhaaldelik voor die tirannieke Farao van Egipte verskyn en die Tien Plae moedig aangekondig wat Jehovah gebruik het om die Egiptiese gode te verneder en Sy volk te verlos (Eks., hfst. 7-12). Moses het geloof en moed aan die dag gelê omdat hy God se onfeilbare ondersteuning gehad het, net soos ons dit het.—Deut. 33:27.

6. Hoe sal ons in staat wees om met moed te getuig as ons deur die sekulêre owerheid ondervra word?

6 Ons het moed soos dié van Moses nodig, want Jesus het gesê: “Julle sal selfs voor goewerneurs en konings gesleep word ter wille van my, as ’n getuienis vir hulle en die nasies. Maar wanneer hulle julle oorlewer, moet julle julle nie kwel oor hoe of wat julle moet sê nie; want wat julle moet sê, sal in daardie uur aan julle gegee word; want dit is nie net julle wat praat nie, maar dit is die gees van julle Vader wat deur julle praat” (Matt. 10:18-20). As ons deur die sekulêre owerheid ondervra word, sal Jehovah se gees ons in staat stel om respekvol met geloof en moed te getuig.—Lees Lukas 12:11, 12.

7. Waarom was Josua moedig en suksesvol?

7 ’n Gereelde studie van God se Wet het die geloof en moed van Moses se opvolger, Josua, opgebou. In 1473 VHJ het Israel op die punt gestaan om die Beloofde Land binne te gaan. “Wees . . . moedig en baie sterk”, het God beveel. Deur die Wet na te kom, sou Josua wyslik optree en suksesvol wees. “Moenie sidder of verskrik wees nie”, is daar vir hom gesê, “want Jehovah jou God is met jou waar jy ook al gaan” (Jos. 1:7-9). Hoe moes hierdie woorde Josua tog versterk het! En God was beslis met hom, want in net ses jaar—teen 1467 VHJ—is die grootste deel van die Beloofde Land verower.

MOEDIGE VROUE WAT HULLE STANDPUNT INGENEEM HET

8. Watter voorbeeld van geloof en moed het Ragab vir ons gestel?

8 Deur die eeue heen het talle onverskrokke vroue hulle standpunt as moedige aanbidders van Jehovah ingeneem. Byvoorbeeld, die prostituut Ragab van Jerigo het geloof in God beoefen deur twee spioene wat deur Josua uitgestuur is, moedig weg te steek en toe die dienaars van daardie stad se koning in die verkeerde rigting te stuur. Sy en haar huisgesin is bewaar toe die Israeliete Jerigo verower het. Ragab het haar sondige beroep laat vaar, Jehovah getrou aanbid en ’n voorouer van die Messias geword (Jos. 2:1-6; 6:22, 23; Matt. 1:1, 5). Hoe is sy tog vir haar geloof en moed geseën!

9. Hoe het Debora, Barak en Jael moed aan die dag gelê?

9 Ná Josua se dood omstreeks 1450 VHJ het rigters in Israel reggespreek. Die Kanaänitiese koning Jabin het die Israeliete al 20 jaar lank onderdruk toe God die profetes Debora die rigter Barak tot optrede laat aanspoor het. Barak het 10 000 man op die berg Tabor versamel en was gereed om teen Jabin se leërhoof Sisera te veg, wat die Kisonstroomvallei met sy leër en 900 strydwaens binnegetrek het. Toe die Israeliete in die valleivlakte inbeweeg het, het God ’n stortvloed gebring wat die slagveld in ’n moeras omskep het sodat die Kanaänitiese strydwaens nie kon beweeg nie. Barak se manskappe het die oorhand gekry, en “die hele kamp van Sisera [het] deur die skerpte van die swaard geval”. Sisera het skuiling in die tent van Jael gesoek, maar sy het hom doodgemaak terwyl hy geslaap het. In ooreenstemming met Debora se profetiese woorde aan Barak is “die luisterryke eer” vir hierdie oorwinning aan die vrou Jael gegee. Omdat Debora, Barak en Jael moedig opgetree het, het Israel “hierna veertig jaar lank rus gehad” (Rigt. 4:1-9, 14-22; 5:20, 21, 31). Talle godvresende manne en vroue het soortgelyke geloof en moed aan die dag gelê.

ONS WOORDE KAN ANDER MET MOED BESIEL

10. Waarom kan daar gesê word dat ons woorde ander met moed kan besiel?

10 Wat ons sê, kan medeaanbidders van Jehovah met moed besiel. In die 11de eeu VHJ het koning Dawid vir sy seun Salomo gesê: “Wees moedig en sterk en tree op. Moenie bang of verskrik wees nie, want Jehovah God, my God, is met jou. Hy sal jou nie in die steek laat of jou verlaat totdat al die dienswerk van Jehovah se huis klaar is nie” (1 Kron. 28:20). Salomo het moedig opgetree en die luisterryke tempel van Jehovah in Jerusalem gebou.

11. Watter uitwerking het die moedige woorde van ’n Israelitiese meisie op ’n man se lewe gehad?

11 In die tiende eeu VHJ het die moedige woorde van ’n Israelitiese meisie ’n melaatse tot seën gestrek. Sy is deur ’n rowerbende gevange geneem en het ’n diensmeisie geword van die Siriese leërhoof Naäman, wat melaats was. Sy het geweet van die wonderwerke wat Jehovah deur Elisa verrig het en het dus vir Naäman se vrou gesê dat God se profeet haar man sou genees as hy na Israel gaan. Naäman het na Israel gegaan, is wonderdadig genees en het ’n aanbidder van Jehovah geword (2 Kon. 5:1-3, 10-17). As jy ’n jong persoon is wat, soos daardie meisie, vir God lief is, kan hy jou die moed gee om vir onderwysers, skoolmaats en ander te getuig.

12. Watter uitwerking het koning Hiskia se woorde op sy onderdane gehad?

12 Goedgekose woorde in gevaarlike tye kan ander met moed besiel. Toe die Assiriërs in die agtste eeu VHJ teen Jerusalem opgetrek het, het koning Hiskia vir sy onderdane gesê: “Wees moedig en sterk. Moenie bang of verskrik wees weens die koning van Assirië en weens die hele menigte wat by hom is nie; want by ons is meer as by hom. By hom is ’n arm van vlees, maar by ons is Jehovah ons God om ons te help en ons oorloë te voer.” Watter uitwerking het hierdie woorde gehad? “Die manskappe het begin steun op die woorde van Hiskia”! (2 Kron. 32:7, 8). Soortgelyke woorde kan ons moed en die moed van ander Christene versterk wanneer ons deur vervolgers geteister word.

13. Watter voorbeeld van moed het Obadja, die bestuurder van koning Agab se huishouding, vir ons gestel?

13 Soms word moed geopenbaar deur wat ons nie sê nie. In die tiende eeu VHJ het Obadja, die bestuurder van koning Agab se huishouding, moedig honderd van Jehovah se profete “vyftig-vyftig in ’n grot” weggesteek sodat hulle nie op bevel van die goddelose koningin Isebel doodgemaak sou word nie (1 Kon. 18:4). Soos godvresende Obadja, het baie van Jehovah se hedendaagse lojale knegte medegelowiges moedig beskerm deur nie inligting oor hulle aan vervolgers te verstrek nie.

ESTER—’N MOEDIGE KONINGIN

14, 15. Hoe het koningin Ester geloof en moed aan die dag gelê, en met watter gevolg?

14 Koningin Ester het in die vyfde eeu VHJ groot geloof en moed aan die dag gelê toe ’n komplot vir ’n volksmoord wat deur die goddelose Haman gesmee is, die Jode dwarsdeur die Persiese Ryk in gevaar gestel het. Geen wonder dat hulle gerou en gevas het en ongetwyfeld met hulle hele hart gebid het nie! (Est. 4:1-3). Koningin Ester was baie benoud. Haar neef Mordegai het vir haar ’n afskrif gestuur van die wet wat die slagting goedgekeur het en haar beveel om voor die koning te verskyn om hom om guns vir haar mede-Jode te smeek. Maar enigiemand wat na die koning toe gegaan het sonder dat hy of sy geroep is, is doodgemaak.—Est. 4:4-11.

15 Mordegai het egter vir Ester gesê: ‘As jy swyg, sal verlossing uit ’n ander oord kom. Maar wie weet of jy nie met die oog op ’n tyd soos hierdie tot koninklike waardigheid gekom het nie?’ Ester het Mordegai aangespoor om die Jode in Susan bymekaar te maak en om haar onthalwe te vas. “Ek sal eweneens vas”, het sy gesê, “en daarna sal ek na die koning toe gaan, wat nie volgens die wet is nie; en as ek moet omkom, dan moet ek omkom” (Est. 4:12-17). Ester het moedig opgetree, en die boek wat haar naam dra, toon dat God sy volk verlos het. In ons dag lê gesalfde Christene en hulle toegewyde metgeselle soortgelyke moed aan die dag wanneer hulle beproef word—en die “Hoorder van die gebed” is altyd aan hulle kant.—Lees Psalm 65:2; 118:6.

“SKEP MOED”

16. Watter voorbeeld het Jesus vir jongmense gestel?

16 By een geleentheid in die eerste eeu HJ is die 12-jarige Jesus in die tempel gevind, “waar hy tussen die leermeesters gesit en na hulle geluister en hulle uitgevra het”. En “almal wat na hom geluister het, was die hele tyd verbaas oor sy begrip en sy antwoorde” (Luk. 2:41-50). Hoewel hy jonk was, het Jesus die nodige geloof en moed gehad om ouer leermeesters by die tempel uit te vra. As jongmense in die Christengemeente Jesus se voorbeeld in gedagte hou, sal dit hulle help om ten volle gebruik te maak van geleenthede om ‘hulle te verdedig voor elkeen wat ’n rede vir hulle hoop eis’.—1 Pet. 3:15.

17. Waarom het Jesus sy dissipels aangespoor om ‘moed te skep’, en waarom moet ons moedig optree?

17 Jesus het ander aangespoor: “Skep moed” (Matt. 9:2, 22). Hy het vir sy dissipels gesê: “Kyk! Die uur kom, ja, dit het gekom, wanneer elkeen van julle na sy eie huis verstrooi sal word en julle my alleen sal laat; en tog is ek nie alleen nie, omdat die Vader met my is. Ek het hierdie dinge vir julle gesê sodat julle deur middel van my vrede kan hê. In die wêreld het julle verdrukking, maar skep moed! Ek het die wêreld oorwin” (Joh. 16:32, 33). Soos Jesus se vroeë volgelinge, het ons te kampe met die wêreld se haat, maar laat ons nie soos die wêreld word nie. As ons nadink oor die moedige weg van God se Seun, kan dit ons die moed gee sodat ons ons nie deur hierdie wêreld laat besmet nie. Hy het die wêreld oorwin, en ons kan ook.—Joh. 17:16; Jak. 1:27.

“HOU GOEIE MOED!”

18, 19. Watter bewys van geloof en moed het die apostel Paulus gelewer?

18 Die apostel Paulus het baie toetse verduur. By een geleentheid sou Jode in Jerusalem hom verskeur het as Romeinse soldate hom nie gered het nie. Gedurende die nag “het die Here by hom gestaan en gesê: ‘Hou goeie moed! Want soos jy in Jerusalem ’n deeglike getuienis oor die dinge aangaande my gegee het, so moet jy ook in Rome getuig’” (Hand. 23:11). En dit is wat Paulus gedoen het.

19 Paulus het die “uitnemende apostels”, wat die gemeente in Korinte wou verderf, onbevrees bestraf (2 Kor. 11:5; 12:11). In teenstelling met hulle kon hy bewyse van sy apostelskap aanvoer—gevangenskap, slae, gevaarlike reise, ander gevare, honger, dors en slapelose nagte, asook diepe besorgdheid oor medegelowiges. (Lees 2 Korintiërs 11:23-28.) Wat ’n rekord van geloof en moed was dit tog—alles bewyse van godgegewe krag!

20, 21. (a) Gee ’n voorbeeld wat toon dat ons moet aanhou om moed bymekaar te skraap. (b) Onder watter omstandighede moet ons dalk moed aan die dag lê, en waarvan kan ons seker wees?

20 Nie alle Christene sal hewige vervolging ondervind nie. Nogtans moet almal die moed bymekaarskraap om die uitdagings van die lewe die hoof te bied. Ter toeligting: ’n Jong man in Brasilië het aan ’n bende behoort. Nadat hy die Bybel bestudeer het, het hy besef dat hy veranderinge moet aanbring, maar gewoonlik is enigiemand wat die bende verlaat, doodgemaak. Hy het gebid, en hy het tekste gebruik om vir die leier te wys waarom hy nie ’n lid van die bende kan bly nie. Hulle het die jong man laat gaan sonder om hom leed aan te doen, en hy het ’n Koninkryksverkondiger geword.

21 Moed is nodig om die goeie nuus te verkondig. Christenjongmense het hierdie eienskap nodig as hulle onkreukbaarheid by die skool wil handhaaf. En dit verg dalk moed om verlof van sekulêre werk te vra om al die sessies van ’n streekbyeenkoms by te woon. Die lys is eindeloos. Maar ongeag die uitdagings waarvoor ons te staan kom, Jehovah sal ons ‘gebede van geloof’ verhoor (Jak. 5:15). En hy kan ons beslis sy heilige gees gee sodat ons “moedig en baie sterk” kan wees!

[Studievrae]

[Prent op bladsy 11]

Henog het moedig gepreek in ’n goddelose wêreld

[Prent op bladsy 12]

Jael was moedig en sterk