Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vreugde is moontlik in ’n verdeelde huisgesin

Vreugde is moontlik in ’n verdeelde huisgesin

Vreugde is moontlik in ’n verdeelde huisgesin

“Hoe weet jy . . . of jy nie dalk jou [huweliksmaat] sal red nie?”—1 KOR. 7:16.

KAN JY DIE ANTWOORDE VIND?

Hoe kan gelowiges vrede in ’n godsdienstig verdeelde huisgesin kweek?

Hoe kan ’n Christen ongelowige gesinslede help om ware aanbidding aan te neem?

Wat kan ander doen om medegelowiges te help wat in ’n godsdienstig verdeelde huis woon?

1. Watter uitwerking kan dit op ’n gesin hê wanneer die Koninkryksboodskap aangeneem word?

TOE Jesus by een geleentheid sy apostels uitgestuur het, het hy gesê: “Terwyl julle gaan, preek en sê: ‘Die koninkryk van die hemele het naby gekom’” (Matt. 10:1, 7). Hierdie goeie nuus sou vrede en vreugde meebring vir diegene wat dit met opregte waardering aanneem. Maar Jesus het sy apostels gewaarsku dat baie hulle Koninkrykspredikingswerk sou teëstaan (Matt. 10:16-23). ’n Besonder pynlike vorm van teenstand word ondervind wanneer gesinslede die Koninkryksboodskap verwerp.Lees Matteus 10:34-36.

2. Waarom is vreugde nie buite die bereik van Christene wat in ’n godsdienstig verdeelde huis woon nie?

2 Beteken dit dat vreugde buite die bereik is van Christus se volgelinge wat in ’n godsdienstig verdeelde huis woon? Glad nie! Hoewel gesinsteenstand soms hewig kan wees, is dit nie altyd die geval nie. En ook is gesinsteenstand nie noodwendig permanent nie. Baie hang af van hoe gelowiges op teenstand of onverskilligheid reageer. Daarbenewens seën Jehovah diegene wat aan hom lojaal is, en dit maak hulle vreugdevol ondanks ongunstige omstandighede. Gelowiges kan hulle vreugde vergroot deur (1) daarna te streef om vrede in die huis te kweek en (2) ongelowige gesinslede opreg te probeer help om ware aanbidding aan te neem.

KWEEK VREDE IN DIE HUIS

3. Waarom moet ’n Christen in ’n verdeelde huisgesin vrede kweek?

3 Die saad van regverdigheid kan slegs vrug dra in ’n gesin as daar vreedsame toestande in die huis heers. (Lees Jakobus 3:18.) Al is ’n Christen se gesin nog nie verenig in rein aanbidding nie, moet hy ’n ywerige poging aanwend om vrede in die huis te kweek. Hoe kan dit gedoen word?

4. Hoe kan Christene hulle innerlike vrede behou?

4 Christene moet hulle innerlike vrede behou. Dít verg hartgrondige gebed, wat vir ons die onvergelyklike “vrede van God” kan bring (Fil. 4:6, 7). Dit bring vreugde en vrede mee wanneer kennis van Jehovah ingeneem en Bybelbeginsels in die lewe toegepas word (Jes. 54:13). Deelname aan gemeentelike vergaderinge en ywer in die veldbediening is ook noodsaaklik as ons vrede en vreugde wil geniet. Dit is gewoonlik vir gelowiges in ’n verdeelde huisgesin moontlik om op die een of ander manier aan Christelike bedrywighede deel te neem. Beskou die voorbeeld van Enza, * wie se man haar hewig teëstaan. Sy neem deel aan die dissipelmaakwerk wanneer sy haar huishoudelike take afgehandel het. Enza sê: “Jehovah seën my ryklik met goeie resultate elke keer as ek ’n poging aanwend om die goeie nuus aan ander bekend te maak.” Hierdie seëninge bring beslis vrede, bevrediging en vreugde mee.

5. Voor watter uitdaging kom gelowiges in ’n verdeelde huisgesin dikwels te staan, en watter hulp is beskikbaar?

5 Ons moet ’n ywerige poging aanwend om ’n vreedsame verhouding met ongelowige gesinslede aan te kweek. Dít kan ’n uitdaging bied omdat die dinge wat hulle wil hê ons moet doen, soms met Bybelbeginsels bots. As ons streng by die regte beginsels bly, kan dit party ongelowige gesinslede ontstel, maar op die lange duur bevorder dit vrede. Dit kan natuurlik onnodige wrywing veroorsaak as ons onbuigsaam is wanneer iets nie Bybelbeginsels skend nie. (Lees Spreuke 16:7.) Wanneer ons voor ’n uitdaging te staan kom, is dit belangrik om skriftuurlike raad in die publikasies van die “getroue en verstandige slaaf”-klas en by die ouer manne te soek.—Spr. 11:14.

6, 7. (a) Waarom staan party persone gesinslede teë wat saam met Jehovah se Getuies begin studeer? (b) Hoe moet ’n Bybelstudent of ’n gelowige op gesinsteenstand reageer?

6 Om vrede in ’n gesin te kweek, verg vertroue in Jehovah en insig in die gevoelens van ongelowige gesinslede (Spr. 16:20). Selfs nuwe Bybelstudente kan in hierdie opsig onderskeidingsvermoë aan die dag lê. Party ongelowige mans of vrouens maak miskien nie daarteen beswaar dat hulle maat die Bybel bestudeer nie. Hulle erken dalk selfs dat dit die gesin tot voordeel kan strek. Maar ander openbaar moontlik ’n vyandige gesindheid. Esther, wat nou ’n Getuie is, erken dat sy uit “pure woede” gereageer het toe haar man die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het. “Ek het sy lektuur weggegooi of verbrand”, sê sy. Howard, wat sy vrou se Bybelstudie aanvanklik teëgestaan het, sê: “Baie mans is bang dat hulle vrou mislei word om by ’n godsdienssekte aan te sluit. ’n Man weet moontlik nie hoe om op hierdie vermeende bedreiging te reageer nie en word vyandiggesind.”

7 ’n Student wie se huweliksmaat gekant is, moet gehelp word om te besef dat hy nie sy Bybelstudie hoef te staak nie. Hy sal sake dikwels kan oplos deur sagmoedig te wees en respek vir sy ongelowige maat te toon (1 Pet. 3:15). Howard sê: “Ek is baie dankbaar dat my vrou kalm gebly het en nie oorreageer het nie!” Sy vrou verduidelik: “Howard het daarop aangedring dat ek ophou om die Bybel te bestudeer. Hy het gesê dat ek gebreinspoel word. Ek het nie gestry nie en het gesê dat hy dalk reg is, maar ek het ook vir hom gesê dat ek eerlikwaar nie kan sien hoe nie. Ek het hom dus gevra om die boek te lees wat ek studeer. Hy het dit gedoen en kon nie betwis wat dit sê nie. Dit het ’n groot indruk op hom gemaak.” Dit is goed om te onthou dat ongelowige huweliksmaats verstote of bedreig kan voel wanneer hulle maat uitgaan om aan Christelike bedrywighede deel te neem, maar liefdevolle versekering kan baie help om hierdie gevoelens uit die weg te ruim.

HELP HULLE OM WARE AANBIDDING AAN TE NEEM

8. Watter raad het die apostel Paulus aan Christene met ongelowige huweliksmaats gegee?

8 Die apostel Paulus raai Christene aan om nie ’n huweliksmaat te verlaat net omdat hy of sy ’n ongelowige is nie. * (Lees 1 Korintiërs 7:12-16.) As ’n gelowige in gedagte hou dat ’n ongelowige maat ’n Christen kan word, kan dit hom of haar help om selfs in ’n verdeelde huisgesin vreugdevol te bly. Maar dit is nodig om versigtig te wees wanneer pogings aangewend word om ’n ongelowige maat met die boodskap van die waarheid te bereik, soos toegelig word deur die volgende ondervindinge.

9. Wat moet ’n persoon nie doen wanneer hy ongelowige gesinslede van Bybelwaarheid vertel nie?

9 Jason dink terug aan sy reaksie toe hy Bybelwaarheid geleer het en sê: “Ek wou almal daarvan vertel!” Wanneer ’n Bybelstudent besef dat die dinge wat hy uit die Bybel geleer word, die waarheid is, is hy moontlik so bly dat hy byna die hele tyd daaroor praat. Hy verwag miskien dat ongelowige gesinslede die Koninkryksboodskap dadelik sal aanneem, maar die goeie nuus lok dalk ’n ongunstige reaksie uit. Watter uitwerking het Jason se aanvanklike geesdrif op sy vrou gehad? “Ek het oorweldig gevoel”, vertel sy. ’n Vrou wat die waarheid 18 jaar ná haar man aangeneem het, sê: “Ek is een van dié wat dit geleidelik moes leer.” As jy tans ’n Bybelstudie hou met ’n student wie se maat geen begeerte het om ware aanbidding te beoefen nie, kan jy gerus gereelde oefensessies hou om die student te help om kwessies taktvol te benader. Moses het gesê: “My onderrig sal drup soos die reën, my woord sal vloei soos die dou, soos sagte reën op die gras” (Deut. 32:2). ’n Paar goed geplaaste druppels waarheid sal dikwels ’n beter uitwerking hê as ’n geestelike stortvloed.

10-12. (a) Watter raad het die apostel Petrus aan Christene met ongelowige huweliksmaats gegee? (b) Hoe het een Bybelstudent geleer om die raad in 1 Petrus 3:1, 2 toe te pas?

10 Die apostel Petrus het geïnspireerde raad aan Christenvrouens gegee wat in ’n verdeelde huis woon. “Wees [onderdanig] aan julle eie mans”, het hy geskryf, “sodat, as sommige nie aan die woord gehoorsaam is nie, hulle sonder ’n woord deur die gedrag van hulle vrouens gewen kan word, omdat hulle ooggetuies was van julle kuis gedrag tesame met diep respek” (1 Pet. 3:1, 2). ’n Vrou kan haar man oorhaal tot ware aanbidding deur onderdanig te wees en diep respek vir hom te toon, al behandel hy haar hardvogtig. Net so moet ’n gelowige man hom op godvrugtige wyse gedra en ’n liefdevolle gesinshoof wees ten spyte van enige teenstand wat hy moontlik van sy ongelowige vrou kry.—1 Pet. 3:7-9.

11 Talle hedendaagse voorbeelde lig toe hoe voordelig dit is om Petrus se raad toe te pas. Beskou die geval van Selma. Toe sy die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer het, was haar man, Steve, ontevrede daaroor. Hy erken: “Ek het kwaad, jaloers en besitlik geword, en ek het onseker gevoel.” Selma sê: “Selfs voordat ek die waarheid gekry het, moes ek altyd in my pasoppens wees vir Steve. Hy was opvlieënd. Hierdie eienskap het vererger toe ek die Bybel begin studeer het.” Wat het gehelp?

12 Selma onthou ’n les wat sy geleer het by die Getuie wat met haar gestudeer het. “Ek wou een spesifieke dag nie ’n Bybelstudie hê nie”, sê Selma. “Die vorige aand het Steve my geslaan toe ek ’n punt probeer stel het, en ek was hartseer en het jammer vir myself gevoel. Nadat ek vir die suster vertel het wat gebeur het en hoe ek voel, het sy my gevra om 1 Korintiërs 13:4-7 te lees. Terwyl ek dit gelees het, het ek begin dink: ‘Steve doen nooit enige van hierdie liefdevolle dinge vir my nie.’ Maar die suster het my gehelp om dit in ’n ander lig te sien deur te vra: ‘Hoeveel van hierdie liefdesblyke betoon jy teenoor jou man?’ My antwoord was: ‘Nie een nie, want hy is so moeilik om mee saam te lewe.’ Die suster het saggies gesê: ‘Selma, wie probeer nou eintlik ’n Christen wees? Jy of Steve?’ Ek het besef dat ek my denke moet verander en het tot Jehovah gebid om my te help om liefdevoller teenoor Steve te wees. Dinge het stadigaan begin verander.” Ná 17 jaar het Steve die waarheid aangeneem.

HOE ANDER KAN HELP

13, 14. Hoe kan ander in die gemeente diegene help wat in ’n godsdienstig verdeelde huis woon?

13 Soos sagte reëndruppels wat die grond deurweek en plante help groei, dra baie persone in die gemeente by tot die vreugde van Christene in ’n verdeelde huisgesin. “Die liefde van my broers en susters het my gehelp om vas te staan in die waarheid”, sê Elvina in Brasilië.

14 As ander in die gemeente goedhartigheid en belangstelling toon, kan dit ’n groot uitwerking op die hart van ’n ongelowige gesinslid hê. ’n Man in Nigerië wat die waarheid 13 jaar ná sy vrou aangeneem het, sê: “Terwyl ek saam met ’n Getuie gereis het, het sy motor gaan staan. Hy het mede-Getuies in ’n naburige dorpie opgesoek, en hulle het ons die nag gehuisves. Hulle het vir ons gesorg asof ons hulle van kleins af geken het. Ek het dadelik die Christelike liefde ervaar waarvan my vrou altyd gepraat het.” ’n Vrou in Engeland wat 18 jaar ná haar man in die waarheid gekom het, vertel: “Die Getuies het ons albei vir etes genooi. Ek het altyd welkom gevoel.” * ’n Getroude man in dieselfde land wat uiteindelik ’n Getuie geword het, sê: “Broers en susters het by ons kom kuier of het ons na hulle huise genooi, en ek het gevind dat hulle goedhartig is. Dit was veral opvallend toe ek in die hospitaal was en baie my kom besoek het.” Kan jy aan maniere dink om soortgelyke belangstelling in ongelowige gesinslede te toon?

15, 16. Wat kan ’n gelowige help om sy vreugde te behou wanneer ander in die gesin ongelowiges bly?

15 Nie alle ongelowige huweliksmaats, kinders, ouers of ander familielede neem natuurlik ware aanbidding aan nie, selfs al het die gelowige jare lank getroue gedrag gehandhaaf en taktvol getuig. Party bly onverskillig of word onversetlike teenstanders (Matt. 10:35-37). Maar wanneer Christene godvrugtige eienskappe aan die dag lê, kan dit ’n baie goeie uitwerking hê. ’n Voormalige ongelowige man sê: “Wanneer die gelowige maat daardie pragtige eienskappe openbaar, weet jy nie wat in die ongelowige se verstand en hart aangaan nie. Moet dus nooit hoop opgee met jou ongelowige maat nie.”

16 Selfs al bly ’n gesinslid ’n ongelowige, is dit moontlik vir die gelowige om sy of haar vreugde te behou. Hoewel haar man ondanks 21 jaar se inspanning van haar kant nie op die Koninkryksboodskap gereageer het nie, sê ’n suster: “Ek behou my vreugde deur daarna te streef om Jehovah te behaag, my lojaliteit aan hom te handhaaf en my daarop toe te lê om my geestelikheid te versterk. Die feit dat ek besig bly met geestelike bedrywighede—persoonlike studie, vergaderingbywoning, die veldbediening en om ander in die gemeente te help—het my nader aan Jehovah laat kom en my hart bewaak.”—Spr. 4:23.

MOENIE TOU OPGOOI NIE!

17, 18. Hoe kan ’n Christen selfs in ’n godsdienstig verdeelde huisgesin sy hoop behou?

17 As jy ’n getroue Christen is wat in ’n godsdienstig verdeelde huis woon, moet jy nie tou opgooi nie. Onthou: “Jehovah sal sy volk ter wille van sy groot naam nie verstoot nie” (1 Sam. 12:22). Hy is met jou solank jy hom aankleef. (Lees 2 Kronieke 15:2.) “Verlustig jou [dus] in Jehovah.” Ja, “laat jou weg aan Jehovah oor en verlaat jou op hom” (Ps. 37:4, 5). “Hou vol met gebed”, en glo dat ons liefdevolle hemelse Vader jou kan help om allerhande ontberinge te verduur.—Rom. 12:12.

18 Vra Jehovah vir sy heilige gees om jou te help om vrede in die huis te bevorder (Heb. 12:14). Ja, dit is moontlik om vreedsame toestande te bevorder wat uiteindelik die hart van ongelowige gesinslede kan raak. Jy sal vreugde en innerlike vrede ervaar wanneer jy ‘alles tot heerlikheid van God doen’ (1 Kor. 10:31). Hoe bemoedigend is dit tog om te weet dat jy, terwyl jy jou hierop toespits, die liefdevolle ondersteuning van jou broers en susters in die Christengemeente het!

[Voetnote]

^ par. 4 Name is verander.

^ par. 8 Paulus se raad sluit nie ’n geregtelike skeiding in uiterste gevalle uit nie. Dít is ’n ernstige persoonlike besluit. Sien ‘Hou julle in God se liefde’, bladsye 220-221.

^ par. 14 Ons word nie in die Skrif verbied om saam met ongelowiges te eet nie.—1 Kor. 10:27.

[Studievrae]

[Prent op bladsy 28]

Kies die regte tyd om jou opvattings te verduidelik

[Prent op bladsy 29]

Toon besorgdheid oor ongelowige huweliksmaats