Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Geen deel van die wêreld”

“Geen deel van die wêreld”

“Geen deel van die wêreld”

“Die wêreld het hulle gehaat, omdat hulle geen deel van die wêreld is nie.”—JOHANNES 17:14.

Wat dit beteken: Omdat Jesus geen deel van die wêreld was nie, was hy neutraal ten opsigte van die maatskaplike en politieke konflikte van sy dag. “As my koninkryk ’n deel van hierdie wêreld was,” het hy verduidelik, “sou my dienaars geveg het sodat ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar my koninkryk is nou eenmaal nie uit hierdie bron nie” (Johannes 18:36). Hy het sy volgelinge ook aangespoor om gesindhede, spraak en gedrag te vermy wat in God se Woord veroordeel word.—Matteus 20:25-27.

Hoe die vroeë Christene gevaar het: Volgens die godsdiensskrywer Jonathan Dymond het die vroeë Christene “geweier om by [oorlog] betrokke te raak; ongeag die gevolge, hetsy skande, gevangenisstraf of die dood”. Hulle het verkies om te ly eerder as om hulle neutrale standpunt prys te gee. Hulle sedelike standaarde het hulle ook van ander onderskei. Daar is vir Christene gesê: “Omdat julle nie meer hierdie weg tot dieselfde lae poel van losbandigheid saam met hulle bewandel nie, vind hulle dit vreemd en hou hulle aan om julle te smaad” (1 Petrus 4:4). Die geskiedskrywer Will Durant het geskryf dat Christene “die genotsugtige heidense wêreld met hulle vroomheid en hulle welvoeglikheid gekwel het”.

Wie voldoen vandag aan hierdie vereiste? Die New Catholic Encyclopedia sê oor Christelike neutraliteit: “Gewetensbeswaar is sedelik onverdedigbaar.” ’n Artikel in die Reformierte Presse sê dat ’n verslag deur African Rights, ’n menseregte-organisasie, oor die volksmoord van 1994 in Rwanda bevestig het dat al die kerke aan die slagting deelgeneem het, “met die uitsondering van Jehovah se Getuies”.

In ’n bespreking oor die Nazi-slagting het ’n hoërskoolonderwyser gesê dat “geen groep of organisasie van gewone burgers beswaar aangeteken het teen al die leuens, wreedhede en gruweldade wat uiteindelik gepleeg is nie”. Nadat hy inligting ingewin het by die Verenigde State se Slagtingsgedenkmuseum, het hy geskryf: “Ek het die antwoord gevind.” Hy het uitgevind dat Jehovah se Getuies ferm by hulle oortuigings gebly het ten spyte van die mishandeling wat hulle verduur het.

Wat van hulle sedelike standaarde? “Die meeste van vandag se jong volwasse Katolieke stem nie saam met die kerk se leringe oor kwessies soos saamblyery [en] voorhuwelikse seks nie”, sê die tydskrif U.S. Catholic. Die tydskrif haal ’n diaken van die kerk aan, wat gesê het: “Ek sien dat baie paartjies—ek skat ver oor die 50 persent—reeds saambly wanneer hulle kom om te trou.” The New Encyclopædia Britannica sê dat Jehovah se Getuies “op hoë sedelike standaarde in persoonlike gedrag aandring”.