Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Behou jou gevoel van dringendheid

Behou jou gevoel van dringendheid

Behou jou gevoel van dringendheid

“Verkondig die woord, bly dringend daarmee besig.”—2 TIM. 4:2.

KAN JY VERDUIDELIK?

Waarom het eerste-eeuse Christene met dringendheid gepreek?

Hoe kan ons ons gevoel van dringendheid behou?

Waarom is die Koninkrykspredikingswerk nou dringender as ooit tevore?

1, 2. Watter vrae ontstaan oor die opdrag ‘om dringend met ons predikingswerk besig te bly’?

MENSE wie se taak dit is om lewens te red, werk gewoonlik met ’n gevoel van dringendheid. Byvoorbeeld, brandweermanne haas hulle na ’n noodsituasie; hulle weet dat lewens moontlik in gevaar is.

2 As Jehovah se Getuies wil ons graag mense help om gered te word. Daarom neem ons ons opdrag om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig, ernstig op. Ons skarrel natuurlik nie koorsagtig rond nie. Wat het die apostel Paulus dan bedoel toe hy gemaan het: “Verkondig die woord, bly dringend daarmee besig”? (2 Tim. 4:2). Hoe kan ons met dringendheid preek? En waarom is ons werk so dringend?

WAAROM IS ONS PREDIKINGSWERK DRINGEND?

3. Wat is die moontlike gevolge wanneer mense die Koninkryksboodskap aanvaar of dit verwerp?

3 Wanneer jy dink aan wat op die spel is as gevolg van ons predikingswerk, voel jy waarskynlik dat dit dringend nodig is om met ander oor die goeie nuus te praat (Rom. 10:13, 14). God se Woord sê: “Wanneer ek vir die goddelose sê: ‘Jy sal sekerlik sterf’, en hy hom van sy sonde afkeer en geregtigheid en regverdigheid beoefen, . . . sal hy sekerlik bly lewe. Hy sal nie sterf nie. Nie een van sy sondes waarmee hy gesondig het, sal teen hom in herinnering gebring word nie” (Eseg. 33:14-16). Trouens, die Bybel sê vir diegene wat die Koninkryksboodskap aan ander leer: “Jy [sal] jouself red sowel as dié wat na jou luister.”—1 Tim. 4:16; Eseg. 3:17-21.

4. Waarom het afvalligheid dit in die eerste eeu dringend gemaak dat die woord verkondig word?

4 Om te sien waarom Paulus Timoteus gemaan het om met dringendheid te preek, sal ons na die konteks van ons temateks kyk. Ons lees: “Verkondig die woord, bly dringend daarmee besig in gunstige tye, in moeilike tye, wys tereg, berispe, vermaan, met alle lankmoedigheid en onderrigkuns. Want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle nie die gesonde leer sal verdra nie, maar ooreenkomstig hulle eie begeertes vir hulle onderrigters sal versamel sodat hulle ore gestreel kan word; en hulle sal hulle ore van die waarheid afkeer” (2 Tim. 4:2-4). Jesus het voorspel dat afvalligheid sou ontstaan (Matt. 13:24, 25, 38). Toe die tyd vir hierdie verwikkeling nader gekom het, was dit dringend dat Timoteus selfs in die gemeente ‘die woord verkondig’ sodat Christene nie deur die bedrieglike aanloklikheid van valse leringe mislei word nie. Lewens was op die spel. Wat van vandag?

5, 6. Watter gewilde idees kom ons dalk in ons bediening teë?

5 Afvalligheid van ware aanbidding het nou toegeneem en versprei (2 Tess. 2:3, 8). Watter leringe streel vandag mense se ore? Op baie plekke word die evolusieleer met godsdiensywer bevorder. Hoewel evolusie gewoonlik in wetenskaplike taal aangebied word, het dit feitlik ’n sekulêre godsdiens geword, wat mense se beskouing van God en ander beïnvloed. Nog ’n gewilde lering is dat God nie in ons belangstel nie; daarom hoef ons nie in hom belang te stel nie. Waarom is hierdie leringe so aantreklik dat dit miljoene geestelik aan die slaap sus? Albei bevat die onderliggende boodskap: ‘Jy kan doen net wat jy wil, want jy sal nie tot verantwoording geroep word nie.’ Dit is werklik ’n boodskap wat die ore van baie streel.—Lees Psalm 10:4.

6 Maar daar is ander maniere waarop mense se ore gestreel word. Party wat nog steeds kerk toe gaan, hou daarvan om onderrigters te hê wat vir hulle sê: ‘Dit maak nie saak wat jy doen nie, God is lief vir jou.’ Priesters en predikante streel ander se ore deur hulle te oortuig dat seremonies, misse, fiëstas en beelde God se seën geniet. Min besef hierdie kerkgangers hoe gevaarlik hulle situasie is (Ps. 115:4-8). Maar as ons hulle geestelik kan wakker maak sodat hulle die Bybel se ware boodskap kan verstaan, kan hulle by God se Koninkryk baat vind.

WAT BETEKEN DIT OM MET DRINGENDHEID TE PREEK?

7. Hoe kan ons ’n gevoel van dringendheid openbaar?

7 ’n Pligsgetroue chirurg moet onverdeelde aandag aan sy werk skenk, want lewens is op die spel. In ons Christelike bediening kan ons ’n gevoel van dringendheid openbaar deur op ons werk te konsentreer, byvoorbeeld deur te dink aan watter kwessies, vrae of inligting moontlik die belangstelling sal prikkel van die mense wat ons teëkom. ’n Gevoel van dringendheid kan ons ook beweeg om ons rooster aan te pas sodat ons mense besoek wanneer hulle meer geneig is om ons te ontvang.—Rom. 1:15, 16; 1 Tim. 4:16.

8. Wat beteken dit gewoonlik ook om met dringendheid op te tree?

8 Om ’n gevoel van dringendheid te hê, beteken ook dat ’n mens prioriteite stel. (Lees Genesis 19:15.) Byvoorbeeld, stel jou voor dat jou dokter, nadat hy die uitslag van jou toetse ontvang het, jou in sy kantoor inneem en ernstig vir jou sê: “Kyk! Jou situasie is dringend. Jy het hoogstens ’n maand om iets omtrent jou siekte te doen.” Jy sal waarskynlik nie uit sy kantoor storm soos ’n brandweerman wat ’n noodoproep ontvang het nie. Maar jy sál waarskynlik na sy aanbevelings luister, huis toe gaan en ernstig nadink oor jou prioriteite.

9. Waarom kan ons sê dat Paulus met dringendheid gepreek het terwyl hy in Efese was?

9 Ons kan insig in Paulus se dringendheid verkry deur te let op wat hy vir die ouer manne van Efese oor sy verkondiging van die goeie nuus in die landstreek Asië gesê het. (Lees Handelinge 20:18-21.) Hy het blykbaar al op die eerste dag dat hy daar aangekom het, mense van huis tot huis met die goeie nuus begin besoek. Daarbenewens het hy twee jaar lank ’n vaste rooster gevolg en “elke dag toesprake in die skoolouditorium van Tirannus gehou” (Hand. 19:1, 8-10). Dit is duidelik dat Paulus se gevoel van dringendheid ’n uitwerking op sy roetine gehad het. Die vermaning om ‘dringend besig te bly met ons bediening’, is nie bedoel om ons te oorweldig met ons opdrag nie. Nietemin moet ons voorkeur gee aan die predikingswerk in ons lewe.

10. Waarom kan ons bly wees dat Christene ongeveer 100 jaar gelede met dringendheid opgetree het?

10 Die voorbeeld van ’n groepie Bybelstudente wat voor 1914 die goeie nuus begin verkondig het, lig toe wat dit beteken om ’n gevoel van dringendheid te hê. Hoewel hulle net ’n paar duisend was, het hulle besef dat die tye dringend is en het hulle die Koninkrykspredikingswerk met geesdrif aangepak. Hulle het preke in honderde koerante gepubliseer en ’n rolprent-en-skyfievertoning aangebied wat die “Fotodrama van die Skepping” genoem is. Sodoende het hulle miljoene met die goeie nuus bereik. Hoeveel van ons sou die Koninkryksboodskap gehoor het as hulle nie ’n gevoel van dringendheid gehad het nie?—Lees Psalm 119:60.

PASOP DAT JY NIE JOU GEVOEL VAN DRINGENDHEID VERLOOR NIE

11. Wat het daartoe gelei dat party hulle gevoel van dringendheid verloor?

11 Afleidings kan ’n mens laat vergeet hoe belangrik die predikingswerk is. Satan se stelsel is ontwerp om ons besig te hou met persoonlike strewes en onbenullighede (1 Pet. 5:8; 1 Joh. 2:15-17). Party wat vroeër die voorkeur aan Jehovah se diens gegee het, het hulle gevoel van dringendheid verloor. Die eerste-eeuse Christen Demas was byvoorbeeld ’n ‘medewerker’ van Paulus, maar Demas se aandag is deur die goddelose stelsel van dinge afgelei. Pleks van steeds die voorkeur daaraan te gee om sy broer in ’n moeilike tyd te versterk, het Demas Paulus verlaat.—Filem. 23, 24; 2 Tim. 4:10.

12. Watter geleentheid is daar nou, en watter geleenthede sal ons vir ewig geniet?

12 As ons ons gevoel van dringendheid wil behou, moet ons stry teen die begeerte om meer van die dinge in die lewe te geniet. Ons behoort ons daarop toe te lê om “’n stewige houvas op die werklike lewe [te] kry” (1 Tim. 6:18, 19). Daar bestaan waarskynlik geen twyfel by jou dat die ewige lewe op aarde onder God se Koninkryk eindelose geleenthede sal bied om interessante bedrywighede te geniet nie. Maar nou het ons die unieke geleentheid om ander te help om Armageddon te oorleef.

13. Hoe kan ons ons gevoel van dringendheid behou noudat ons Christene geword het?

13 Wat kan ons help om nie ons gevoel van dringendheid te verloor nie, aangesien die meeste in die wêreld om ons onwyslik in geestelike sin slaap? Ons kan nadink oor die feit dat ons vroeër as ’t ware in duisternis geslaap het. Maar ons is wakker gemaak, en Christus het op ons geskyn, soos Paulus getoon het. Ons het nou die voorreg om ligdraers te wees. (Lees Efesiërs 5:14.) Nadat Paulus dit gemeld het, het hy geskryf: “Let . . . voortdurend streng op hoe julle wandel, dat dit nie as onwyses is nie, maar as wyses, terwyl julle die geleë tyd vir julleself uitkoop, omdat die dae boos is” (Ef. 5:15, 16). Laat ons, te midde van hierdie boosheid, ‘die tyd uitkoop’ vir bedrywighede wat ons geestelik wakker kan hou.

ONS LEWE IN BETEKENISVOLLE TYE

14-16. Waarom is die Koninkrykspredikingswerk nou dringender as ooit tevore?

14 Die Christelike bediening was nog altyd dringend, maar dit is nou meer kritiek as ooit tevore. Sedert 1914 het die saamgestelde teken wat in God se Woord beskryf word, duidelik geword (Matt. 24:3-51). Die mens se oorlewing word bedreig soos nog nooit tevore nie. Ten spyte van onlangse ooreenkomste het die supermoondhede nog steeds sowat 2 000 kernplofkoppe wat te eniger tyd gelanseer kan word. Owerhede meld honderde gevalle waar kernmateriaal “weggeraak het”. Is van hierdie materiaal in die besit van terroriste? Waarnemers sê dat die mensdom maklik uitgewis kan word deur ’n oorlog wat deur ’n terroris begin word. Maar dit is nie net oorlog wat die mens se bestaan bedreig nie.

15 “Klimaatsverandering is die grootste aardwye gesondheidsgevaar van die 21ste eeu”, sê ’n verslag wat in 2009 deur The Lancet en die Universiteitskollege van Londen uitgegee is. Dit het gesê: “Die gevolge van klimaatsverandering op gesondheid sal die meeste bevolkings in die volgende dekades raak en die lewe en welsyn van miljarde mense in groter gevaar stel.” Die gevolg kan wydverspreide vernietiging wees weens stygende seevlakke, droogtes, oorstromings, epidemies, orkane en oorloë oor verminderde hulpbronne. Ja, oorloë en rampe bedreig die samelewing.

16 Party dink dalk dat die gevaar van kernoorlog kan lei tot gebeure wat “die teken” vervul. Maar die meeste verstaan nie die teken se ware betekenis nie. Dit is nou al dekades lank sigbaar, ’n feit wat aandui dat Christus se teenwoordigheid ’n werklikheid is en dat die einde van hierdie stelsel van dinge vinnig nader kom (Matt. 24:3). Nog nooit tevore was soveel aspekte van die teken so duidelik sigbaar nie. Dit is tyd vir mense om uit hulle geestelike slaap wakker te word. Ons bediening kan help om hulle wakker te maak.

17, 18. (a) Hoe raak “die tyd” ons? (b) Wat kan mense beweeg om hulle beskouing van die Koninkryksboodskap te verander?

17 Net ’n kort tydjie bly oor waarin ons ons liefde vir Jehovah kan bewys en die predikingswerk kan voltooi wat ons gegee is om in die laaste dae te doen. Wat Paulus vir die eerste-eeuse Christene in Rome gesê het, is vandag van selfs groter betekenis: “Julle [ken] die tyd . . . , dat dit reeds die uur is vir julle om uit die slaap te ontwaak, want nou is ons redding nader as toe ons gelowiges geword het.”—Rom. 13:11.

18 Die gebeure wat vir die laaste dae voorspel is, kan mense bewus maak van hulle geestelike behoefte. Ander word bewus van die mens se behoefte aan hulp wanneer hulle dink aan die onvermoë van menseregerings om ekonomiese rampe, kerngevaar, geweldsmisdaad of die vernietiging van die omgewing die hoof te bied. Nog ander word bewus gemaak van hulle geestelike behoefte deur gebeure in hulle eie gesin, soos ’n gesondheidskrisis, ’n egskeiding of die dood van ’n geliefde. Wanneer ons aan die bediening deelneem, stel ons ons beskikbaar om hierdie mense te help.

BEWEEG DEUR ’N GEVOEL VAN DRINGENDHEID

19, 20. Hoe het ’n gevoel van dringendheid baie Christene beweeg om hulle lewenswyse te verander?

19 ’n Gevoel van dringendheid het baie Christene beweeg om meer in die bediening te doen. Byvoorbeeld, ’n jong Ecuadoriaanse egpaar het besluit om hulle lewe te vereenvoudig nadat hulle die program vir die spesiale byeenkomsdag vir 2006, “Hou jou oog eenvoudig”, gehoor het. Hulle het ’n lys gemaak van dinge wat hulle nie nodig gehad het nie, en binne drie maande het hulle van hulle drieslaapkamerwoonstel na ’n eenslaapkamerwoonstel getrek, van hulle besittings verkoop en van hulle skuld ontslae geraak. Kort daarna het hulle hulppionierdiens begin doen en gehoor gegee aan die kringopsiener se voorstel dat hulle in ’n gemeente gaan dien waar hulp nodig is.

20 ’n Broer van Noord-Amerika skryf: “Toe ek en my vrou ’n byeenkoms in 2006 bygewoon het, was ons 30 jaar gedoop. Terwyl ons ná die program huis toe gery het, het ons bespreek hoe ons die raad kan toepas om ons lewe te vereenvoudig (Matt. 6:19-22). Ons het drie huise, grond, luukse motors, ’n boot en ’n motorwoonwa besit. Ons het gevoel dat ons sekerlik soos dwase Christene lyk, en daarom het ons besluit om die voltydse bediening ons doelwit te maak. In 2008 het ons by ons dogter in die gewone pionierdiens aangesluit. Wat ’n vreugde is dit tog om nouer saam met die broers te werk! Ons kon dien waar hulp nodig is. En omdat ons meer vir Jehovah doen, het ons nader aan hom gekom. Dit is ook baie lonend om te sien hoe mense se oë straal wanneer hulle die waarheid van God se Woord hoor en verstaan.”

21. Watter kennis beweeg ons tot optrede?

21 Ons weet wat binnekort oor hierdie goddelose stelsel van dinge gaan kom—“die dag van die oordeel en van die vernietiging van die goddelose mense” (2 Pet. 3:7). Ons kennis van God se Woord beweeg ons om die komende groot verdrukking en die nuwe wêreld wat sal volg, ywerig bekend te maak. Ons behou ’n sterk gevoel van dringendheid om ware hoop aan mense te bring. Deur ’n volle aandeel aan hierdie dringende werk te hê, toon ons opregte liefde vir God en ons naaste.

[Studievrae]