Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jesus Christus—Antwoorde op ons vrae

Jesus Christus—Antwoorde op ons vrae

Jesus Christus—Antwoorde op ons vrae

“Wie sê die skare is ek?”—LUKAS 9:18.

JESUS het hierdie vraag aan sy dissipels gestel omdat hy geweet het dat mense verskillende menings oor hom het. Tog was daar geen geldige rede vir verwarring nie. Jesus was nie ’n kluisenaar wat sy werk agter ’n skerm van geheimsinnigheid gedoen het nie. Hy het eerder openlik met mense in dorpies en stede omgegaan. Hy het in die openbaar gepreek en onderrig omdat hy wou hê dat mense die waarheid omtrent hom moet weet.—Lukas 8:1.

Die waarheid omtrent Jesus kan gesien word in sy woorde en dade, wat opgeteken is in die vier Evangelies van die Bybel—Matteus, Markus, Lukas en Johannes. Hierdie geïnspireerde verslae is die grondslag vir die antwoorde op ons vrae oor Jesus. *Johannes 17:17.

VRAAG: Was Jesus werklik ’n geskiedkundige persoon?

ANTWOORD: Ja. Sekulêre geskiedskrywers, soos Josefus en Tacitus van die eerste eeu, verwys na Jesus as ’n geskiedkundige figuur. Nog belangriker, die Evangelies lewer oortuigende bewys dat Jesus ’n werklike persoon was, nie ’n fiktiewe karakter nie. Die verslae is spesifiek en gedetailleerd wanneer dit na tye en plekke verwys. Byvoorbeeld, die Evangelieskrywer Lukas noem sewe heersende amptenare—wie se name deur sekulêre geskiedkundiges bevestig is—om aan te dui in watter jaar Jesus sy bediening begin het.—Lukas 3:1, 2, 23.

Die bewyse dat Jesus ’n geskiedkundige persoon is, is oortuigend. “Die meeste geleerdes sal erken dat ’n man wat as Jesus van Nasaret bekend is, wel in die eerste eeu gelewe het”, sê die boek Evidence for the Historical Jesus.

VRAAG: Is Jesus eintlik God?

ANTWOORD: Nee. Jesus het homself nooit met God gelykgestel nie. Inteendeel, Jesus het herhaaldelik getoon dat hy aan Jehovah * ondergeskik is. Jesus het byvoorbeeld na Jehovah verwys as “my God” en “die enigste ware God” (Matteus 27:46; Johannes 17:3). Slegs ’n ondergeskikte sou sulke uitdrukkings gebruik wanneer hy na iemand anders verwys. ’n Werknemer wat na sy werkgewer verwys as “my bestuurder” of “die een wat toesig hou”, gee duidelik te kenne dat hy ’n ondergeskikte posisie het.

Jesus het ook getoon dat hy en God twee afsonderlike persone is. Jesus het eenkeer vir teenstanders wat sy gesag bevraagteken het, gesê: “In julle eie Wet [staan daar] geskrywe: ‘Die getuienis van twee mense is waar.’ Ek is een wat aangaande myself getuig, en die Vader wat my gestuur het, getuig aangaande my” (Johannes 8:17, 18). Jesus en Jehovah moet dus twee afsonderlike persone wees. Hoe anders kan hulle as twee getuies beskou word? *

VRAAG: Was Jesus net ’n goeie mens?

ANTWOORD: Nee. Hy was baie meer as dit. Jesus het geweet dat hy ’n aantal belangrike rolle vervul in die uitvoering van God se wil. Hier is ’n paar daarvan:

“Enigverwekte Seun van God” (Johannes 3:18). Jesus het geweet waar hy vandaan kom. Sy lewe het in werklikheid lank voor sy geboorte op aarde begin. “Ek het uit die hemel neergedaal”, het hy verduidelik (Johannes 6:38). Jesus is God se eerste skeppingswerk, en hy het gehelp om alle ander dinge te skep. As die enigste een wat regstreeks deur God geskep is, kon Jesus tereg “die enigverwekte Seun van God” genoem word.—Johannes 1:3, 14; Kolossense 1:15, 16.

“Seun van die mens” (Matteus 8:20). Jesus het talle kere na homself verwys as “die Seun van die mens”, ’n uitdrukking wat omtrent 80 keer in die Evangelies voorkom. Hierdie uitdrukking dui aan dat hy in alle opsigte mens was en nie God in die vlees nie. Hoe is God se enigverwekte Seun as ’n mens gebore? Jehovah het sy Seun se lewe deur middel van die heilige gees na die baarmoeder van die Joodse maagd Maria oorgeplaas, sodat sy swanger geword het. Gevolglik is Jesus sondeloos en volmaak gebore.—Matteus 1:18; Lukas 1:35; Johannes 8:46.

“Leermeester” (Johannes 13:13). Jesus het dit duidelik gemaak dat dit sy godgegewe werk is om mense te ‘leer en die goeie nuus te verkondig’ oor God se Koninkryk (Matteus 4:23; Lukas 4:43). Met merkwaardige duidelikheid en eenvoud het hy verduidelik wat God se Koninkryk is en wat dit sal doen om Jehovah se wil te volbring.—Matteus 6:9, 10.

“Die Woord” (Johannes 1:1). Jesus het as God se Woordvoerder gedien—die persoon deur wie God inligting en instruksies aan ander oorgedra het. Jehovah het Jesus gebruik om Sy boodskap aan mense op aarde oor te dra.—Johannes 7:16, 17.

VRAAG: Was Jesus die beloofde Messias?

ANTWOORD: Ja. Bybelprofesieë het die koms voorspel van die Messias, of Christus, wat “Gesalfde” beteken. Hierdie Beloofde Messias sou ’n sleutelrol in die vervulling van Jehovah se voorneme speel. By een geleentheid het ’n sekere Samaritaanse vrou vir Jesus gesê: “Ek weet dat die Messias kom, wat Christus genoem word.” Toe het Jesus reguit vir haar gesê: “Dit is ek, ek wat met jou praat.”—Johannes 4:25, 26.

Is daar enige bewys dat Jesus wel die Messias was? Daar is drie bewysgronde wat saam oorweldigende bewyse voorsien, soos die patroon van ’n vingerafdruk wat net een persoon identifiseer. Voldoen Jesus aan die patroon? Dink hieraan:

Sy geslagslyn. Die Bybel het voorspel dat die Messias ’n afstammeling van Abraham sou wees en deur Dawid se geslagslyn sou kom (Genesis 22:18; Psalm 132:11, 12). Jesus was ’n nakomeling van albei.—Matteus 1:1-16; Lukas 3:23-38.

Vervulde profesieë. Die Hebreeuse Geskrifte bevat tientalle profesieë oor die Messias se lewe op aarde, insluitende besonderhede oor sy geboorte en dood. Jesus het al die profesieë vervul. Dit sluit die volgende in: Hy is in Betlehem gebore (Miga 5:2; Lukas 2:4-11), hy is uit Egipte geroep (Hosea 11:1; Matteus 2:15), en hy is tereggestel sonder dat enige van sy bene gebreek is (Psalm 34:20; Johannes 19:33, 36). Dit is heeltemal onmoontlik dat Jesus sy lewe kon rig sodat hy aan die vereistes kon voldoen om al die Messiaanse profesieë te vervul. *

God se eie getuienis. By Jesus se geboorte, het God engele gestuur om vir herders te sê dat die Messias gebore is (Lukas 2:10-14). By verskeie geleenthede gedurende Jesus se bediening het God self vanuit die hemel gepraat en gesê dat hy Jesus goedkeur (Matteus 3:16, 17; 17:1-5). Jehovah het Jesus in staat gestel om kragtige wonderwerke te verrig, wat verdere bewys voorsien het dat Jesus die Messias is.—Handelinge 10:38.

VRAAG: Waarom moes Jesus ly en sterf?

ANTWOORD: As ’n sondelose man het Jesus nie verdien om te ly nie. En hy het ook nie verdien om soos ’n gewone misdadiger aan ’n paal genael te word om ’n skandelike dood te sterf nie. Tog het Jesus sulke mishandeling verwag en hom gewilliglik daaraan onderwerp.—Matteus 20:17-19; 1 Petrus 2:21-23.

Messiaanse profesieë het voorspel dat die Messias sou moes ly en sterf om die sondes van ander te dek (Jesaja 53:5; Daniël 9:24, 26). Jesus het self gesê dat hy gekom het “om sy siel te gee as ’n losprys in ruil vir baie” (Matteus 20:28). Diegene wat geloof stel in die loskoopwaarde van sy offerdood, het die vooruitsig om van sonde en die dood gered te word en vir ewig in die Paradys op aarde te lewe. *Johannes 3:16; 1 Johannes 4:9, 10.

VRAAG: Kan ons werklik glo dat Jesus uit die dood opgewek is?

ANTWOORD: Ja. Jesus was heeltemal seker dat hy opgewek sou word (Matteus 16:21). Dit is egter belangrik om daarop te let dat dit deur middel van ’n bonatuurlike krag sou plaasvind. Nie Jesus of die Bybelskrywers het ooit beweer dat hy op natuurlike wyse opgewek sou word nie. So ’n idee sou verregaande wees. Die Bybel sê eerder: “God het hom opgewek deur die smarte van die dood te ontbind” (Handelinge 2:24). As ons aanvaar dat daar ’n God is en dat hy die Skepper van alles is, het ons alle rede om te glo dat hy sy Seun uit die dood kon opwek.—Hebreërs 3:4.

Is daar geloofwaardige bewyse dat Jesus opgewek is? Kyk na die volgende.

Ooggetuieverslae. Ongeveer 22 jaar nadat Jesus gesterf het, het die apostel Paulus geskryf dat daar meer as 500 ooggetuies was wat die verrese Jesus gesien het en dat die meeste van hulle nog gelewe het toe Paulus dit geskryf het (1 Korintiërs 15:6). Dit sou maklik wees om die getuienis van een of twee getuies as ongeloofwaardig af te maak, maar wie kan die getuienis van 500 ooggetuies ontken?

Geloofwaardige getuienis. Jesus se vroeë dissipels—wat in ’n unieke posisie was om te weet wat werklik gebeur het—het moedig verkondig dat Jesus opgewek is (Handelinge 2:29-32; 3:13-15). Om die waarheid te sê, hulle het geloof in sy opstanding as ’n onontbeerlike deel van die Christelike geloof beskou (1 Korintiërs 15:12-19). Daardie dissipels was bereid om eerder te sterf as om hulle geloof in Jesus te verloën (Handelinge 7:51-60; 12:1, 2). Ken jy enigiemand wat bereid sou wees om vir ’n leuen te sterf?

Ons het die Bybel se antwoorde op ses belangrike vrae oor Jesus bespreek. Die antwoorde toon duidelik wie Jesus is. Maar maak die antwoorde werklik saak? Met ander woorde, maak dit saak wat jy kies om omtrent Jesus te glo?

[Voetnote]

^ par. 4 Vir ’n bespreking oor hoe die Evangelies van die Bybel verskil van vervalste geskrifte oor Jesus, sien die artikel “Apokriewe Evangelies—Verborge waarhede oor Jesus?” op bladsye 18-19.

^ par. 9 In die Bybel is Jehovah die persoonlike naam van God.

^ par. 10 Vir ’n breedvoeriger bespreking, sien die artikel “’n Gesprek met ’n buurvrou—Is Jesus God?”, op bladsye 20-22.

^ par. 21 Vir ’n lys van sommige van die profesieë wat in Jesus vervul is, sien bladsy 200 van die boek Wat leer die Bybel werklik?

^ par. 25 Vir meer inligting oor die loskoopwaarde van Jesus se dood, sien hoofstuk 5 van die boek Wat leer die Bybel werklik?