Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Maak die antwoorde saak?

Maak die antwoorde saak?

Maak die antwoorde saak?

“Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.”—Johannes 8:32.

DIE Bybel bevat die waarheid wat ons kan vrymaak van verwarrende of selfs misleidende opvattings oor Jesus. Maar maak dit werklik saak wat ons omtrent hom glo? Ja, beslis. Dit maak vir Jehovah saak. Dit maak vir Jesus saak. En dit moet vir ons saak maak.

Waarom maak dit vir Jehovah saak? Kortom, want “God is liefde” (1 Johannes 4:8). Jehovah wil hê dat ons vir ewig gelukkig moet wees. Jesus het gesê: “God het die [mensewêreld] so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen . . . die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). God het sy Seun gestuur om ons Verlosser te wees en om dit vir ons moontlik te maak om, in ooreenstemming met Sy oorspronklike voorneme, vir ewig in die Paradys op aarde te lewe (Genesis 1:28). God is gretig om die gawe van die ewige lewe te gee aan diegene wat die waarheid omtrent sy Seun leer en in ooreenstemming daarmee optree.—Romeine 6:23.

Waarom maak dit vir Jesus saak? Jesus is ook lief vir die mensdom. Hy het selfopofferende liefde geopenbaar deur sy lewe gewilliglik vir ons af te lê (Johannes 15:13). Hy het geweet dat hy sodoende die enigste weg na redding voorsien (Johannes 14:6). Moet dit ons verbaas dat Jesus wil hê dat soveel mense as moontlik by sy losprysoffer moet baat vind? Dit is waarom hy sy ware volgelinge aangestel het om mense regoor die wêreld omtrent God se wil en voorneme te leer.—Matteus 24:14; 28:19, 20.

Waarom moet dit vir ons saak maak? Dink vir ’n oomblik aan die dinge wat ongetwyfeld baie vir jou beteken—jou gesondheid en jou gesin. Smag jy na goeie gesondheid en ’n beter lewe vir jou en jou geliefdes? Deur Jesus bied Jehovah jou en jou geliefdes die vooruitsig om volmaakte gesondheid en oneindige lewe in ’n nuwe wêreld sonder pyn en lyding te geniet (Psalm 37:11, 29; Openbaring 21:3, 4). Klink dit vir jou na ’n aanloklike vooruitsig? Indien wel, is daar iets wat jy moet doen.

Kyk weer na die teks wat onder die titel aangehaal is: “Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.” Die waarheid omtrent Jesus en sy rol in die vervulling van God se voorneme kan ons bevry van die ergste soort slawerny—slawerny aan sonde en die dood. Maar om hierdie bevryding te ervaar, moet jy “die waarheid ken”. Leer gerus meer omtrent hierdie waarheid en hoe jy en jou geliefdes daarby kan baat vind. Jehovah se Getuies sal jou met graagte help.