Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Wat het Jesus bedoel toe hy gesê het om twee myl saam met iemand te gaan?

In sy bekende Bergpredikasie het Jesus gesê: “As iemand met gesag jou vir een myl kommandeer, gaan twee myl saam met hom” (Matteus 5:41). Jesus se gehoor het waarskynlik besef dat hy verwys het na verpligte diens wat ’n owerheid van sy burgers kon vereis.

In die eerste eeu HJ is Israel deur die Romeine beset. Hulle het nie gehuiwer om mense, diere of enigiets anders te kommandeer wat hulle gemeen het nodig is om staatsaangeleenthede af te handel nie. Byvoorbeeld, Romeinse soldate het Simon van Sirene gedwing om Jesus se folterpaal te dra na die plek waar hy tereggestel sou word (Matteus 27:32). Sulke verpligte diens was onderdrukkend, baie ongewild en het die Jode erg gegrief.

Presies hoe ver burgers gedwing kon word om ’n vrag te dra, is nie bekend nie. Maar ’n mens kan jou nouliks voorstel dat hulle bereid sou wees om enigsins verder te gaan as wat van hulle vereis is. Toe Jesus sy gehoor aangespoor het om die spreekwoordelike tweede myl saam te gaan, het hy dus vir hulle gesê om die take wat regmatig deur die owerheid vereis is, sonder gegriefdheid te verrig.—Markus 12:17.

Wie was Annas wat in die Evangelieverslae genoem word?

Met Jesus se verhoor is Annas (Ananus) beskryf as ’n “hoofpriester” (Lukas 3:2; Johannes 18:13; Handelinge 4:6). Trouens, hy was die skoonpa van Israel se hoëpriester, Kajafas, en hy het self vanaf omstreeks 6 of 7 HJ tot ongeveer 15 HJ as hoëpriester gedien, toe hy deur die Romeinse prokurator Valerius Gratus van sy amp onthef is. Nietemin het Annas, as ’n voormalige hoëpriester, nog steeds groot invloed in Israel uitgeoefen. Vyf van sy seuns en sy skoonseun het die amp van hoëpriester beklee.

Terwyl Israel ’n onafhanklike nasie was, het die hoëpriester hierdie amp lewenslank beklee (Numeri 35:25). Maar onder die Romeinse besetting van Israel het die hoëpriester na die goeddunke gedien van die Romeinse goewerneurs en die konings wat deur Rome aangestel is, en hulle kon hom van sy amp onthef. Volgens die geskiedskrywer Flavius Josefus het Quirinius, die Romeinse goewerneur van Sirië, ’n sekere Joazar omstreeks 6 of 7 HJ as hoëpriester onthef en Annas in die amp aangestel. Maar blykbaar het hierdie heidense heersers seker gemaak dat hulle nuwe hoëpriesters uit die geledere van die priesters kies.

Annas se familie was berug vir hulle gierigheid en was skatryk. Hulle het blykbaar ryk geword deur ’n monopolie uit te oefen oor die verkoop van artikels, soos duiwe, skape, olie en wyn, wat mense nodig gehad het om offerandes in die tempelgebied te bring. Josefus sê dat Ananus (Ananias), die seun van Annas, “knegte gehad het wat absolute skurke was . . . wat die tiendes van die priesters met geweld geneem het; hulle het ook nie gehuiwer om diegene te slaan wat geweier het om te gee nie”.