Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Kom nader aan god

“Laat ons asseblief terugkom huis toe”

“Laat ons asseblief terugkom huis toe”

Het jy Jehovah voorheen gedien? Oorweeg jy dit om hom weer te dien, maar wonder jy of hy jou sal terugverwelkom? Lees asseblief hierdie artikel en die een wat volg aandagtig. Dit is spesiaal vir jou geskryf.

“EK HET Jehovah in gebed gevra om my asseblief te laat terugkom huis toe en om my te vergewe omdat ek hom seergemaak het.” Dit is wat een vrou gesê het wat ver afgedwaal het van die Christelike waardes waarmee sy grootgeword het. Het jy medelye met haar? Wonder jy dalk: ‘Hoe voel God oor diegene wat hom voorheen gedien het? Onthou hy hulle? Wil hy hê dat hulle “huis toe [moet] kom”?’ Om hierdie vrae te beantwoord, kom ons ondersoek die volgende woorde wat deur Jeremia opgeteken is. Die antwoorde sal ongetwyfeld jou hart verbly.—Lees Jeremia 31:18-20.

Let op die agtergrond van Jeremia se woorde. In 740 VHJ, dekades voor Jeremia se tyd, het Jehovah toegelaat dat die tienstammeryk van Israel deur die Assiriërs gevange geneem word. * God het toegelaat dat hierdie rampspoed as ’n vorm van dissipline oor sy volk kom omdat hulle growwe sonde begin beoefen het en die herhaalde waarskuwings van sy profete geïgnoreer het (2 Konings 17:5-18). Is hulle harte versag deur die ontberinge wat hulle in ballingskap ondervind het, toe hulle van hulle God vervreemd en ver van hulle tuisland was? Het Jehovah heeltemal van hulle vergeet? Sou hy hulle ooit terugverwelkom?

‘Ek het spyt gevoel’

Die volk het in gevangenskap tot besinning gekom en is beweeg om berou te toon. Hulle opregte berou het nie Jehovah se aandag ontglip nie. Luister terwyl Jehovah die gesindheid en gevoelens beskryf van die Israeliete in ballingskap, wat gesamentlik Efraim genoem word.

“Ek het gewis gehoor hoe Efraim hom bekla”, sê Jehovah (vers 18). Hy het die Israeliete gehoor terwyl hulle die gevolge van hulle sondige weg betreur het. Volgens een geleerde kan die frase “hom bekla” beteken “om te skud of te wieg”. Hulle was soos ’n opstandige seun wat sy kop bedroef skud terwyl hy nadink oor die probleme wat hy oor homself gebring het en smag na die lewe wat hy by die huis gehad het (Lukas 15:11-17). Wat het die volk gesê?

“U het my tereggewys . . . soos ’n kalf wat nie geleer is nie” (vers 18). Die volk het erken dat hulle die dissipline verdien. Hulle was immers soos ’n kalf wat nie geleer is nie. Hierdie vergelyking beteken moontlik dat hulle soos ’n jong os was wat nooit “die prikkels [sou] gevoel het as hy hom nie eers teen die juk verset het nie”, sê een naslaanwerk.

“Laat my terugkeer, en ek sal graag terugkeer, want u is Jehovah my God” (vers 18). Die volk het hulle hart verneder en God aangeroep. Hulle het die spoor byster geraak weens hulle sonde, maar nou het hulle om hulp gesmeek om weer sy guns te verkry. Een vertaling sê: “U is ons God—laat ons asseblief huis toe kom.”—Contemporary English Version.

‘Ek het spyt gevoel. Ek het beskaamd gestaan en ek het ook verneder gevoel’ (vers 19). Die volk het spyt gevoel omdat hulle gesondig het. Hulle het verantwoordelikheid vir hulle sondes aanvaar en hulle skuld erken. Hulle het ook beskaamd en terneergedruk gevoel en het as ’t ware op hulle bors geslaan.—Lukas 15:18, 19, 21.

Die Israeliete was berouvol. Hulle het baie bedroef gevoel, hulle sondes aan God bely en hulle van hulle slegte weë afgekeer. Sou hulle berou God se hart versag? Sou hy hulle huis toe laat kom?

“Ek sal my beslis oor hom ontferm”

Jehovah het ’n spesiale band met die Israeliete gehad. Hy het gesê: “Ek het vir Israel ’n Vader geword; en wat Efraim betref, hy is my eersgeborene” (Jeremia 31:9). Hoe kan ’n liefdevolle vader weier om ’n seun wie se hart vol opregte berou is, terug te verwelkom? Let op hoe Jehovah sy vaderlike gevoelens vir sy volk uitspreek.

“Is Efraim vir my ’n dierbare seun of ’n lieflingskind? Want in die mate dat ek teen hom gespreek het, sal ek vir seker verder aan hom dink” (vers 20). Watter tere woorde tog! Soos ’n streng maar liefdevolle ouer, was God verplig om “teen” sy kinders te spreek deur hulle herhaaldelik teen hulle sondige weë te waarsku. Toe hulle koppig weier om te luister, het hy hulle in ballingskap laat gaan—hy het hulle as ’t ware uit die huis gesit. Hoewel hy hulle gestraf het, het hy hulle egter nie vergeet nie. Dit sou ondenkbaar wees. ’n Liefdevolle vader vergeet nie sy kinders nie. Maar hoe het Jehovah gevoel toe hy sien dat sy kinders ware berou toon?

“My ingewande [het] onstuimig geraak oor hom. * Ek sal my beslis oor hom ontferm” (vers 20). Jehovah het ’n sterk verlange na sy kinders gehad. Hulle opregte berou het sy hart geraak, en hy wou bitter graag hê dat hulle na hom moes terugkeer. Soos die vader in Jesus se gelykenis van die verlore seun, is Jehovah “ontroer deur innige jammerte” en was hy gretig om sy kinders terug te verwelkom.—Lukas 15:20.

‘Jehovah het my laat terugkom huis toe!’

Die woorde in Jeremia 31:18-20 gee ons insig in Jehovah se tere medelye en barmhartigheid. God vergeet nie diegene wat hom voorheen gedien het nie. Sê nou hulle wil na hom toe terugkeer? God is “vergewensgesind” (Psalm 86:5). Hy sal nooit diegene verwerp wat met berouvolle harte na hom toe kom nie (Psalm 51:17). Inteendeel, hy is bly om hulle terug te verwelkom.—Lukas 15:22-24.

Die vrou wat aan die begin genoem is, het die inisiatief geneem om na Jehovah terug te keer en het ’n plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies besoek. Aan die begin moes sy haar eie negatiewe gevoelens oorkom. “Ek het baie onwaardig gevoel”, het sy gesê. Maar die gemeentelike ouer manne het haar aangemoedig en haar gehelp om weer geestelik sterk te word. Met ’n hart vol waardering het sy gesê: “Dit is so wonderlik dat Jehovah my laat terugkom het huis toe!”

As jy Jehovah voorheen gedien het en dit oorweeg om hom weer te dien, nooi ons jou om die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies te besoek. Onthou dat Jehovah medelydend en barmhartig is wanneer berouvolles smeek: “Laat ons asseblief huis toe kom.”

Voorgestelde Bybelleesgedeelte vir April:

Jeremia 17-31

[Voetnote]

^ par. 2 Eeue vroeër, in 997 VHJ, is die Israeliete in twee koninkryke verdeel. Die een was die suidelike tweestammeryk van Juda. Die ander was die noordelike tienstammeryk van Israel, wat ook Efraim genoem is, na aanleiding van sy vernaamste stam.

^ par. 5 ’n Gids vir Bybelvertalers sê aangaande hierdie beeldspraak oor die beroering van die ingewande: “Die Jode het die ingewande as die setel van die emosies beskou.”