Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Bybel verander lewens

Die Bybel verander lewens

Die Bybel verander lewens

WAT het ’n man beweeg om terug te keer tot die godsdienswaardes waarvan hy afgedwaal het? Hoe het ’n jong man die vaderfiguur gevind wat hy sy hele lewe lank bitter graag wou hê? Lees wat hierdie mense te sê het.

“Ek moes na Jehovah terugkeer.”—ELIE KHALIL

GEBORE: 1976

GEBOORTELAND: SIPRUS

GESKIEDENIS: OPSTANDIGE SEUN

MY VERLEDE: Ek is in Siprus gebore, maar het in Australië grootgeword. My ouers is Jehovah se Getuies, en hulle het hulle bes gedoen om ’n liefde vir Jehovah en sy Woord, die Bybel, by my in te skerp. Maar as ’n tiener het ek opstandig begin word. Ek het saans uit die huis uitgesluip om by ander tieners aan te sluit. Ons het motors gesteel en nog baie ander verkeerde dinge gedoen.

Ek het eers hierdie dinge in die geheim gedoen omdat ek my ouers nie ongelukkig wou maak nie. Mettertyd het dit egter nie meer vir my saak gemaak nie. Ek het vriende gemaak met mense wat veel ouer as ek was en wat Jehovah nie liefgehad het nie, en hulle het ’n negatiewe invloed op my gehad. Uiteindelik het ek vir my ouers gesê dat ek niks meer met hulle geloof te doen wil hê nie. Hulle het my geduldig probeer help, maar ek het al hulle pogings verwerp. My ouers was verpletter.

Nadat ek uit die huis uitgetrek het, het ek met dwelms begin eksperimenteer en selfs groot hoeveelhede dagga gekweek en verkoop. Ek het ’n onsedelike lewe gelei en baie tyd in nagklubs deurgebring. Ek het ook kort van draad geword. As iemand iets gesê of gedoen het waarvan ek nie hou nie, het ek woedend geword en dikwels op mense geskreeu en hulle geslaan. Ek het so te sê alles gedoen wat ek geleer is om as ’n Christen nie te doen nie.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: Ek het goeie vriende geword met ’n mede-dwelmgebruiker wie se pa gesterf het toe hy nog jonk was. Ons het dikwels tot laat in die nag gesels. Party aande het hy openhartig gepraat oor hoe baie hy na sy pa verlang. Omdat ek van kleins af van die opstandingshoop geleer het, het ek hom kort voor lank begin vertel van Jesus—dat hy die dooies opgewek het en belowe om dit weer in die toekoms te doen (Johannes 5:28, 29). “Dink net hoe dit sal wees om jou pa weer te sien”, het ek soms gesê. “Ons kan almal vir ewig in die Paradys op aarde lewe.” Hierdie gedagtes het my vriend se hart geraak.

By ander geleenthede het my vriend oor onderwerpe soos die laaste dae of die Drie-eenheid gepraat. Ek het dan sy Bybel geneem en vir hom verskillende tekste gewys wat die waarheid openbaar omtrent Jehovah God, Jesus en die laaste dae (Johannes 14:28; 2 Timoteus 3:1-5). Hoe meer ek met my vriend oor Jehovah gepraat het, hoe meer het ek aan Jehovah begin dink.

Stadig maar seker het die saadjies van Bybelwaarheid wat rustend in my hart was—saadjies wat my ouers met baie moeite geplant het—begin groei. Soms het ek byvoorbeeld uit die bloute aan Jehovah begin dink terwyl ek by ’n partytjie saam met my vriende dwelms gebruik het. Baie van my vriende het beweer dat hulle God liefhet, maar hulle gedrag het die teendeel bewys. Ek wou nie soos hulle wees nie en het besef wat ek moet doen. Ek moes na Jehovah terugkeer.

Dit is natuurlik een ding om te weet wat om te doen, maar ’n ander om dit wel te doen. Party veranderinge was maklik om te maak; ek het sonder veel moeite opgehou om dwelms te gebruik. Ek het ook my vorige vriendskappe beëindig en die Bybel met ’n Christen- ouer man begin studeer.

Ander veranderinge was egter baie moeiliker om te maak. Dit was vir my besonder moeilik om my humeur te beteuel. Soms het ek ’n ruk lank goed gedoen en dan ’n terugslag ondervind. Agterna het ek sleg gevoel, want ek het gedink dat ek ’n mislukking is. Ek was mismoedig en het met die ouer man gepraat wat die Bybel met my gestudeer het. Hy was altyd geduldig en goedhartig en was ’n ware bron van aanmoediging. Eenkeer het hy my gevra om ’n artikel in Die Wagtoring te lees oor hoe belangrik dit is om nie moed op te gee nie. * Ons het bespreek watter stappe ek kan doen wanneer ek kwaad word. Met hierdie artikel in gedagte en deur middel van baie gebed tot Jehovah het ek dit geleidelik reggekry om my humeur te beteuel. In April 2000 is ek uiteindelik as een van Jehovah se Getuies gedoop. My ouers was natuurlik verheug.

HOE EK BAAT GEVIND HET: Ek het nou gemoedsrus en ’n skoon gewete omdat ek weet dat my liggaam nie meer deur dwelms of onsedelikheid verontreinig word nie. Ongeag wat ek doen, hetsy ek werk, ’n Christelike vergadering bywoon of die een of ander vorm van ontspanning geniet, ek is baie gelukkiger. Ek het ’n positiewe uitkyk op die lewe.

Ek dank Jehovah vir my ouers, wat nooit van my vergeet het nie. Ek dink ook aan Jesus se woorde wat in Johannes 6:44 opgeteken is: “Geen mens kan na my toe kom tensy die Vader, wat my gestuur het, hom trek nie.” Dit is vir my hartverblydend om te dink dat ek na Jehovah kon terugkeer omdat hy my getrek het.

“Ek wou bitter graag ’n vader hê.”—MARCO ANTONIO ALVAREZ SOTO

GEBORE: 1977

GEBOORTELAND: CHILI

GESKIEDENIS: LID VAN ’N DEATH METAL-GROEP

MY VERLEDE: Ek is deur my ma grootgemaak in Punta Arenas, ’n mooi stad langs die Straat van Magellaan naby die suidelike punt van Suid-Amerika. My ouers het uitmekaar gegaan toe ek vyf jaar oud was, en dit het my verworpe laat voel. Ek wou bitter graag ’n vader hê.

My ma het die Bybel met Jehovah se Getuies gestudeer, en sy het my na Christelike vergaderinge by die Koninkryksaal geneem. Maar ek het die vergaderinge gehaat en het dikwels op pad soontoe ’n woedeuitbarsting gehad. Toe ek 13 was, het ek heeltemal opgehou om vergaderinge by te woon.

Teen daardie tyd het ek ’n liefde vir musiek ontwikkel en het ek besef dat ek ’n aanleg daarvoor het. Teen die tyd dat ek 15 was, het ek heavy metal- en death metal-musiek by feeste, kroeë en privaat onthale gespeel. Omdat ek met talentvolle musikante geassosieer het, het ek in klassieke musiek begin belangstel. Ek het musiek by ’n plaaslike musiekskool begin studeer. Toe ek 20 was, het ek na die hoofstad, Santiago, getrek om my studies voort te sit. Ek het ook aangehou om in heavy metal- en death metal-groepe te speel.

Gedurende hierdie tyd het ek ’n groot leemte in my lewe gevoel. In ’n poging om verligting van hierdie gevoelens te kry, het ek saam met my groeplede, wat ek as my familie beskou het, dronk geword en dwelms gebruik. Ek het ’n opstandige gesindheid gehad, en dit kon duidelik in my voorkoms gesien word. Ek het donker klere gedra, my baard laat groei en my hare tot amper by my middellyf laat groei.

Weens my gesindheid het ek dikwels by gevegte betrokke geraak en met die gereg gebots. Ek het eenkeer, terwyl ek onder die invloed van alkohol was, ’n groep dwelmsmouse aangeval wat my en my vriende lastig geval het. Die dwelmsmouse het my so erg geslaan dat ek ’n gekraakte kakebeen gehad het.

My grootste hartseer is egter deur diegene naaste aan my veroorsaak. Eendag het ek uitgevind dat my meisie jare lank ’n verhouding met my beste vriend gehad het en dat al my vriende dit vir my weggesteek het. Ek was verpletter.

Ek het na Punta Arenas getrek, waar ek musiekklasse begin gee het en as ’n tjellis begin werk het. Ek het ook aangehou om met heavy metal- en death metal-groepe te speel en opnames te maak. Ek het ’n aantreklike meisie met die naam Sussan ontmoet, en ons het begin saamwoon. ’n Ruk later het Sussan uitgevind dat haar ma in die Drie-eenheid glo en ek nie. “Watter leerstelling is waar?” het sy my gevra. Ek het vir haar gesê dat die leerstelling van die Drie-eenheid na my wete vals is, maar dat ek dit nie uit die Bybel kan bewys nie. Maar ek het geweet wie dit wel kan doen. Ek het vir haar gesê dat Jehovah se Getuies vir haar die waarheid uit die Bybel kan wys. Ek het toe iets gedoen wat ek jare laas gedoen het—ek het tot God vir hulp gebid.

’n Paar dae later het ek ’n man gesien wat bekend gelyk het, en ek het hom gevra of hy een van Jehovah se Getuies is. Hoewel hy merkbaar geskok is deur my voorkoms, het hy my vrae oor die vergaderinge by die Koninkryksaal vriendelik beantwoord. Ek was oortuig dat hierdie voorval die antwoord op my gebed was. Ek het na die Koninkryksaal gegaan en heel agter gesit sodat niemand my sou opmerk nie. Maar baie het my herken omdat ek die vergaderinge as kind daar bygewoon het. Hulle het my verwelkom en my so liefdevol omhels dat ek ’n oorweldigende gevoel van vrede ervaar het. Dit was asof ek huis toe gekom het. Toe ek die man sien wat die Bybel as kind met my gestudeer het, het ek hom gevra om weer met my te studeer.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET: Eendag het ek Spreuke 27:11 gelees, wat sê: “Wees wys, my seun, en maak my hart bly.” Die gedagte dat ’n blote mens die Skepper van die heelal kan verbly, het my diep geraak. Ek het besef dat Jehovah die Vaderfiguur is waarna ek my hele lewe lank gesoek het!

Ek wou my hemelse Vader behaag en sy wil doen, maar ek was jare lank verslaaf aan dwelms en alkohol. Nou het ek Jesus se lering in Matteus 6:24 verstaan, wat sê: “Niemand kan twee here as slaaf dien nie.” Terwyl ek hard probeer het om veranderinge te maak, het die beginsel in 1 Korintiërs 15:33 tot my deurgedring: “Slegte omgang bederf nuttige gewoontes.” Ek het besef dat ek nie my skadelike gewoontes sou kon opgee as ek aanhou om dieselfde plekke te besoek en met dieselfde mense om te gaan nie. Die Bybel se raad was duidelik: Ek moes drastiese stappe doen om my verslawings te bowe te kom.—Matteus 5:30.

Weens my passie vir musiek was die besluit om niks meer met heavy metal-musiek te doen te hê nie, die moeilikste besluit wat ek nog ooit moes neem. Maar met die hulp van my vriende in die gemeente, kon ek uiteindelik daarvan losbreek. Ek het opgehou om te veel te drink en dwelms te gebruik. Ek het ook my hare gesny, my baard afgeskeer en opgehou om net swart klere te dra. Toe ek vir Sussan sê dat ek my hare wou sny, het dit haar nuuskierigheid geprikkel. Sy het gesê: “Ek gaan saam met jou om te sien wat by daardie Koninkryksaal gebeur!” Sy het gehou van wat sy daar gesien het, en kort voor lank het sy die Bybel ook begin studeer. Ek en Sussan het uiteindelik getrou. In 2008 is ons as Jehovah se Getuies gedoop. Ons is bly om saam met my ma verenig te wees in Jehovah se diens.

HOE EK BAAT GEVIND HET: Ek het ontsnap uit ’n wêreld van skyngeluk en valse vriende. Ek is nog steeds lief vir musiek, maar ek is nou selektief. Ek gebruik my ondervinding om gesinslede en ander, veral jongmense, te help. Ek wil hulle help om te besef dat baie van wat hierdie wêreld bied, dalk aantreklik lyk, maar op die ou end net “’n klomp vullis” is.—Filippense 3:8.

Ek het lojale vriende gemaak in die Christengemeente, waar liefde en vrede heers. Wat meer is, deur nader aan Jehovah te kom, het ek uiteindelik my Vader gevind.

[Voetnoot]

^ par. 14 Die artikel met die titel “Sukses deur volharding” het in die nommer van 1 Februarie 2000, bladsye 4-6, verskyn.

[Lokteks op bladsy 13]

‘Ek kon na Jehovah terugkeer omdat hy my getrek het’