Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Leer uit God se Woord

Waarom word Christene gedoop?

Waarom word Christene gedoop?

Hierdie artikel opper vrae wat jy dalk al gevra het en toon waar jy die antwoorde in jou Bybel kan vind. Jehovah se Getuies sal graag hierdie antwoorde met jou bespreek.

1. Wat is die betekenis van Christelike doop?

Doop is ’n versoek om ’n goeie verhouding met God. ’n Christen moet dus nie as ’n baba gedoop word nie, maar wanneer hy of sy oud genoeg is om oor God te leer en ’n dissipel van Jesus te word (Handelinge 8:12; 1 Petrus 3:21). Ons word ’n dissipel van Jesus wanneer ons leer oor die dinge wat hy ons beveel het en dit doen.—Lees Matteus 28:19, 20.

In die dae van Jesus se apostels het baie mense sonder versuim stappe gedoen om omtrent God en Jesus te leer. Toe een man byvoorbeeld geleer het dat Jesus se dood redding moontlik maak, het hy onmiddellik ’n dissipel geword. Vandag het talle opregte mense gekies om volgelinge van Jesus te word.—Lees Handelinge 8:26-31, 35-38.

2. Waarom is Jesus gedoop?

Jesus was ongeveer 30 jaar oud toe Johannes die Doper hom onder die water van die Jordaanrivier gedompel het. Jesus se doop het sy besluit om God se wil vir hom te doen, gesimboliseer (Hebreërs 10:7). Dit sou insluit dat hy sy lewe aflê as ’n offerande vir die sondes van die mensdom. Selfs voordat hy van die hemel na die aarde gekom het, het Jesus sy Vader, Jehovah, altyd liefgehad en gehoorsaam.—Lees Markus 1:9-11; Johannes 8:29; 17:5.

3. Waarom moet ’n Christen gedoop word?

Ons situasie verskil van dié van Jesus—ons word as sondaars gebore. Jesus se offerdood maak dit egter vir ons moontlik om ’n goeie verhouding met God te geniet (Romeine 5:10, 12; 12:1, 2). Dit is in werklikheid vir ons moontlik om aan hom te behoort as deel van sy gesin (2 Korintiërs 6:18). Hoe verkry ons hierdie voorreg? Ons wy ons in ’n private gebed aan Jehovah toe en lê ’n gelofte af om vir die res van ons lewe sy wil te doen. Daarna simboliseer ons hierdie toewyding in die openbaar deur gedoop te word.—Lees Matteus 16:24; 1 Petrus 4:2.

4. Hoe kan jy vir doop voorberei?

Jehovah se Getuies studeer die Bybel met enigiemand wat nader aan God wil kom. As jy die Bybel studeer en Christelike vergaderinge bywoon, sal dit jou liefde vir God en jou geloof in hom versterk. Dit sal jou ook help om positiewe gesindhede en gewoontes aan te leer. As jy liefde, geloof en ander godvrugtige eienskappe aankweek, sal dit jou help om jou gelofte na te kom om Jehovah vir ewig te dien.—Lees Johannes 17:3; Hebreërs 10:24, 25.

Vir meer inligting, sien hoofstuk 18 van hierdie boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.