Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Apokriewe evangelies—Verborge waarhede oor Jesus?

Apokriewe evangelies—Verborge waarhede oor Jesus?

Apokriewe evangelies—Verborge waarhede oor Jesus?

“DIT is ’n groot ontdekking. Baie mense gaan ontsteld wees.” “Dit verander die geskiedenis van die vroeë Christelike godsdiens.” Hierdie dramatiese verklarings is deur geleerdes gemaak in reaksie op die publikasie van die “Evangelie van Judas”, ’n teks wat vermoedelik meer as 16 eeue lank verlore was (hierbo).

Daar is hernieude belangstelling in sulke apokriewe evangelies. Party mense beweer dat sulke tekste belangrike leringe van Jesus en gebeure in sy lewe aan die lig bring wat lank verborge was. Maar wat is die apokriewe evangelies? Kan dit ons werklik waarhede oor Jesus en die Christelike godsdiens leer wat ons nie in die Bybel kan vind nie?

Kanonieke en apokriewe evangelies

Tussen 41 en 98 HJ het Matteus, Markus, Lukas en Johannes “die geskiedenis van Jesus Christus” opgeteken (Matteus 1:1). Hierdie verslae word ook soms evangelies genoem, wat “goeie nuus” oor Jesus Christus beteken.—Markus 1:1.

Hoewel daar dalk mondelinge oorleweringe sowel as ander geskrifte oor Jesus was, is hierdie vier Evangelies as die enigstes beskou wat deur God geïnspireer is en tereg deel van die Heilige Skrif is—wat bevestig “hoe seker die dinge is” aangaande Jesus se aardse lewe en leringe (Lukas 1:1-4; Handelinge 1:1, 2; 2 Timoteus 3:16, 17). Hierdie vier Evangelies word in al die eertydse katalogusse van die Christelike Griekse Geskrifte genoem. Daar is geen rede om die kanonisiteit—hulle status as deel van die geïnspireerde Woord van God—te bevraagteken nie.

Met verloop van tyd het ander geskrifte egter begin verskyn wat ook evangelies genoem is. Hierdie ander evangelies is apokriewe evangelies genoem. *

Teen die einde van die tweede eeu het Ireneus van Lyon geskryf dat diegene wat van die Christelike godsdiens afvallig geword het, “’n ongelooflike aantal apokriewe en vervalste geskrifte” het, onder andere evangelies wat “hulle self versin om die verstand van dwase mense te verwar”. Gevolglik het mense dit uiteindelik as gevaarlik beskou om die apokriewe evangelies te lees of selfs te besit.

Maar Middeleeuse monnike en kopiïste het nie toegelaat dat daardie werke in die vergetelheid verdwyn nie. In die 19de eeu het belangstelling in die onderwerp grootliks toegeneem en baie teksversamelings en kritiese uitgawes van die apokriewe boeke, met inbegrip van etlike evangelies, het aan die lig gekom. Vandag is uitgawes in baie van die groot moderne tale gepubliseer.

Apokriewe evangelies: Vergesogte verslae oor Jesus

Die apokriewe evangelies vestig dikwels die aandag op mense oor wie die kanonieke Evangelies min sê of wat glad nie daarin genoem word nie. Of hulle vertel van voorvalle wat na bewering gedurende Jesus se kinderjare plaasgevind het. Kyk na ’n paar voorbeelde.

▪ Die “Proto-evangelie van Jakobus”, wat ook “Die geboorte van Maria” genoem word, beskryf Maria se geboorte en kinderjare sowel as haar huwelik aan Josef. Dit is met goeie rede al beskryf as godsdiensfiksie en ’n legende. Dit bevorder die idee van die ewige maagdelikheid van Maria, en dit is duidelik dat dit geskryf is om haar te verheerlik.—Matteus 1:24, 25; 13:55, 56.

▪ Die “Kindertydevangelie van Tomas” fokus op Jesus as kind—tussen 5- en 12-jarige ouderdom—en skryf ’n aantal vergesogte wonderwerke aan hom toe. (Sien Johannes 2:11.) Jesus word uitgebeeld as ’n stoute, humeurige, wraaksugtige kind wat sy wonderdadige vermoëns gebruik om wraak te neem op onderwysers, bure en ander kinders, van wie hy party verblind, kreupel maak en selfs om die lewe bring.

▪ Party apokriewe evangelies, soos die “Evangelie van Petrus”, wei uit oor gebeure in verband met die verhoor, dood en opstanding van Jesus. Ander, soos die “Handelinge van Pilatus”, ’n deel van die “Evangelie van Nikodemus”, gee besonderhede oor mense wat by daardie gebeure betrokke was. Hierdie tekste versin feite en selfs mense, wat dit heeltemal ongeloofwaardig maak. Die “Evangelie van Petrus” probeer Pontius Pilatus verontskuldig en beskryf Jesus se opstanding op ’n vergesogte wyse.

Apokriewe evangelies en afvalligheid van die Christelike godsdiens

In Desember 1945, naby Nag-Hammadi, in Bo-Egipte, het kleinboere afgekom op 13 papirusmanuskripte met 52 tekste. Hierdie dokumente uit die vierde eeu is toegeskryf aan ’n godsdiens- en filosofiese beweging wat gnostisisme genoem word. Hierdie beweging het elemente van mistisisme, paganisme, Griekse filosofie, Judaïsme en die Christelike godsdiens vermeng en het ’n verderflike invloed op party verklaarde Christene gehad.—1 Timoteus 6:20, 21.

Die “Evangelie van Tomas”, die “Evangelie van Filippus” en die “Evangelie van Waarheid” in die “Nag-Hammadi-biblioteek” skryf verskillende geheimsinnige gnostiese idees valslik aan Jesus toe. Die onlangs ontdekte “Evangelie van Judas” word ook onder die gnostiese evangelies gereken. Dit stel Judas in ’n positiewe lig en skep die indruk dat hy die enigste apostel was wat werklik verstaan het wie Jesus is. Een deskundige oor hierdie evangelie sê dat dit Jesus beskryf as “’n onderrigter en openbaarder van wysheid en kennis, nie [as] ’n verlosser wat vir die sondes van die wêreld sterf nie”. Die geïnspireerde Evangelies leer dat Jesus wel as ’n offerande vir die sondes van die wêreld gesterf het (Matteus 20:28; 26:28; 1 Johannes 2:1, 2). Dit is duidelik dat die gnostiese evangelies bedoel is om geloof in die Bybel te ondermyn eerder as om dit te versterk.—Handelinge 20:30.

Die voortreflikheid van die kanonieke Evangelies

’n Noukeurige ondersoek van die apokriewe evangelies openbaar wat hulle werklik is. Wanneer dit met die kanonieke Evangelies vergelyk word, is dit duidelik dat dit nie deur God geïnspireer is nie (2 Timoteus 1:13). Dit is deur mense geskryf wat nooit Jesus of sy apostels geken het nie en openbaar geen verborge waarhede oor Jesus en die Christelike godsdiens nie. Dit bevat eerder onakkurate, versinde, vergesogte verslae wat ons geensins help om Jesus en sy leringe te leer ken nie.—1 Timoteus 4:1, 2.

Daarenteen was Matteus en Johannes onder die 12 apostels; Markus en Lukas het onderskeidelik noue omgang met die apostel Petrus en Paulus geniet. Hulle het hulle Evangelies onder die leiding van God se heilige gees geskryf (2 Timoteus 3:14-17). Om hierdie rede bevat die vier Evangelies alles wat ons nodig het om te glo dat “Jesus die Christus is, die Seun van God”.—Johannes 20:31.

[Voetnoot]

^ par. 7 Die woord “apokrief” kom van die Griekse woord wat “om te verberg” beteken. Die woord het oorspronklik verwys na ’n teks waartoe slegs die volgelinge van ’n sekere denkrigting toegang gehad het en vir die oningewydes verborge was. Maar dit het uiteindelik na geskrifte begin verwys wat nie in die egte Bybelkanon ingesluit is nie.

[Foto-erkenning op bladsy 18]

Kenneth Garrett/National Geographic Stock