Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons lesers vra . . .

Wie het die “ster” gestuur?

Wie het die “ster” gestuur?

▪ Het jy al Kerstonele of toneelstukke gesien waarin uitgebeeld word hoe drie konings, of wyse manne, die pasgebore baba Jesus besoek wat in ’n krip lê? Volgens die verhaal het God ’n ster gebruik om hulle na die stal in Betlehem te lei. Tallose kinders het selfs die name van daardie drie konings gememoriseer—Melchior, Kaspar en Balthasar. Maar strook hierdie gewilde verhaal met wat die Bybel werklik sê? Nee. Die verhaal is in ’n aantal opsigte onakkuraat.

Eerstens, wie was daardie manne? In die oorspronklike Grieks noem die Bybel hulle nie konings of wyse manne nie. Hulle was magiërs, oftewel sterrewiggelaars. Hulle was klaarblyklik beoefenaars van die heidense kuns van waarsêery wat op die sterre gebaseer is. Die Bybelverslag noem nie die name van daardie besoekers nie en sê ook nie hoeveel van hulle daar was nie.

Tweedens, wanneer het daardie manne Jesus besoek? Nie toe hy ’n baba in ’n krip was nie. Hoe weet ons dit? Die Evangelieskrywer Matteus sê: “Toe hulle in die huis ingaan, het hulle die jong kindjie by sy moeder Maria gesien” (Matteus 2:11). Let op dat Jesus nie meer ’n pasgebore baba was nie, maar ’n “jong kindjie”. Teen daardie tyd het Maria en Josef nie meer in ’n stal gewoon nie, maar eerder in ’n huis.

Derdens, wie het daardie “ster” gestuur om die sterrewiggelaars te lei? Godsdiensonderrigters leer oor die algemeen dat God die “ster” gestuur het. Is dit waar? Hou in gedagte dat die “ster” daardie sterrewiggelaars nie reguit na Betlehem gelei het nie. Dit het hulle eerder na koning Herodes in Jerusalem gelei. Hulle het Jesus se bestaan aan daardie jaloerse en magtige moordenaar bekend gemaak en hom selfs rede gegee om die kind te haat wat “koning van die Jode” sou word (Matteus 2:2). Die slinkse Herodes het vir hulle gesê om aan hom terug te rapporteer oor presies waar die kind is, onder die voorwendsel dat ook hy die kind wou vereer. Die “ster” het die sterrewiggelaars toe na Josef en Maria gelei. Die sterrewiggelaars se optrede sou dus tot die jong kind se dood gelei het as God nie tussenbeide getree het nie. Gelukkig het hy wel tussenbeide getree. Herodes was so woedend toe die sterrewiggelaars nie aan hom teruggerapporteer het nie dat hy beveel het dat al die seuntjies twee jaar en jonger in en om Betlehem doodgemaak moet word.—Matteus 2:16.

Jehovah het later na Jesus verwys as “my Seun, die geliefde, wat ek goedgekeur het” (Matteus 3:17). Dink hieraan: Sou hierdie liefdevolle, regverdige Vader heidense sterrewiggelaars—beoefenaars van ’n okkulte kuns wat in sy Wet verbied is—as sy boodskappers gebruik? (Deuteronomium 18:10). Sou hy ’n ster gebruik om hulle na Herodes, die gevaarlikste en magtigste moordenaar in die land, te lei met ’n boodskap wat sy jaloerse woede sou laat ontvlam? Sou God dan dieselfde ster en sterrewiggelaars gebruik het om die plek bekend te maak waar sy hulpelose seun hom bevind?

Ter toeligting: ’n Goeie militêre bevelvoerder stuur sy beste soldaat op ’n gevaarlike sending in vyandelike gebied. Sou hy aan die vyand bekend maak waar hulle hierdie soldaat kan vind? Natuurlik nie! Net so het Jehovah sy Seun na hierdie gevaarlike wêreld gestuur. Sou Hy die plek waar Sy Seun hom as ’n weerlose kind bevind het, aan bose koning Herodes bekend maak? Nooit nie!

Wie het dan die “ster”, of steragtige voorwerp, gestuur? Wel, wie het die meeste daarin belanggestel om te sien dat die kind Jesus doodgemaak word sodat hy nie sou grootword en sy sending op aarde sou uitvoer nie? Wie probeer mense mislei en wie bevorder leuens, geweld en moord? Jesus self het die “leuenaar en die vader van die leuen”, die een wat “’n mensemoordenaar [was] toe hy begin het”, geïdentifiseer—Satan die Duiwel.—Johannes 8:44.