Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

‘Die Seun is bereid om die Vader te openbaar’

‘Die Seun is bereid om die Vader te openbaar’

‘Die Seun is bereid om die Vader te openbaar’

“Niemand weet wie die Vader is nie, behalwe die Seun, en hy aan wie die Seun bereid is om hom te openbaar.”—LUK. 10:22.

HOE SAL JY ANTWOORD?

Waarom was Jesus in ’n unieke posisie om sy Vader te openbaar?

Hoe het Jesus sy Vader aan ander geopenbaar?

Op watter maniere kan jy Jesus navolg deur die Vader te openbaar?

1, 2. Watter vraag is vir baie mense moeilik om te beantwoord, en waarom?

‘WIE is God?’ Dit is vir baie mense ’n moeilike vraag om te beantwoord. Byvoorbeeld, hoewel die meeste naamchristene glo dat God ’n Drie-eenheid is, sal baie toegee dat dit onmoontlik is om hierdie leerstelling te verstaan. ’n Skrywer en geestelike het erken: “Hierdie leerstelling is bo die mens se beperkte verstand. Dit val buite die bestek van die natuurlike rede of menslike logika.” Daarenteen glo die meeste wat die evolusieteorie aanneem, dat daar geen God is nie. Hulle skryf al die skeppingswonders toe aan blinde toeval. Nietemin het Charles Darwin nie ontken dat God bestaan nie, maar hy het eerder gesê: “Die veiligste slotsom is myns insiens dat die hele onderwerp die mens se verstand te bowe gaan.”

2 Wat hulle ook al glo, die meeste mense het al gepeins oor vrae met betrekking tot God se bestaan. Maar baie laat vaar uiteindelik hulle soeke na God wanneer hulle nie tot ’n bevredigende slotsom kom nie. Satan het inderdaad “die verstande van die ongelowiges verblind” (2 Kor. 4:4). Dit is geen wonder nie dat die meeste mense in onkunde verkeer en verward is oor die waarheid omtrent die Vader, die Skepper van die heelal!—Jes. 45:18.

3. (a) Wie het die Skepper aan ons geopenbaar? (b) Watter vrae gaan ons bespreek?

3 Dit is egter noodsaaklik dat mense die waarheid omtrent God leer. Waarom? Omdat net dié wat “die naam van Jehovah” aanroep, gered sal word (Rom. 10:13). Om God se naam aan te roep, beteken dat ons Jehovah as ’n Persoon moet leer ken. Jesus Christus het hierdie lewensbelangrike kennis aan sy dissipels oorgedra. Hy het die Vader aan hulle geopenbaar. (Lees Lukas 10:22.) Waarom kon Jesus die Vader openbaar op ’n wyse wat niemand anders kon nie? Hoe het Jesus dit gedoen? En hoe kan ons Jesus navolg deur die Vader aan ander te openbaar? Kom ons bespreek hierdie vrae.

JESUS CHRISTUS—IN ’N UNIEKE POSISIE

4, 5. Waarom was Jesus in ’n unieke posisie om sy Vader te openbaar?

4 Jesus was besonder bevoeg om sy Vader te openbaar. Waarom? Want voordat alle ander lewensvorme geskep is, het die geesskepsel wat later die mens Jesus geword het, reeds in die hemel bestaan as “die enigverwekte Seun van God” (Joh. 1:14; 3:18). Wat ’n unieke posisie! Toe daar nog geen ander skepsel bestaan het nie, het die Seun hom in sy Vader se liefdevolle aandag gekoester en omtrent Hom en Sy eienskappe geleer. Die Vader en Seun het deur ontelbare eeue heen ongetwyfeld baie gekommunikeer en innige geneentheid vir mekaar ontwikkel (Joh. 5:20; 14:31). Watter diep insig in sy Vader se persoonlikheid moes die Seun tog verkry het!—Lees Kolossense 1:15-17.

5 Die Vader het die Seun aangewys as Sy woordvoerder, “Die Woord van God” (Op. 19:13). Jesus was dus in ’n unieke posisie om die Vader aan ander te openbaar. Die Evangelieskrywer Johannes sê gepas dat Jesus, “die Woord”, “in die boesemposisie by die Vader” is (Joh. 1:1, 18). Met hierdie uitdrukking sinspeel Johannes op ’n gebruik wat in sy dag gedurende etenstye algemeen was. Een gas het reg voor ’n ander op dieselfde bank gelê. Omdat hulle naby mekaar was, kon hierdie twee maklik ’n gesprek voer. Die Seun, wat “in die boesemposisie” was, het dus intieme gesprekke met sy Vader gehad.

6, 7. Hoe het die verhouding tussen die Vader en die Seun bly groei?

6 Die verhouding tussen die Vader en die Seun het bly groei. Die Seun “het die een geword vir wie [God] dag na dag besonder lief was”. (Lees Spreuke 8:22, 23, 30, 31.) Dit is dan logies dat die band tussen die twee al hoe sterker geword het terwyl hulle saam gewerk het en terwyl die Seun geleer het om sy Vader se eienskappe na te volg. Met die skepping van ander intelligente wesens het die Seun gesien hoe Jehovah met elkeen handel, en sy waardering vir God se persoonlikheid het sekerlik toegeneem.

7 Selfs toe Satan later die regmatigheid van Jehovah se soewereiniteit betwis het, het dit die Seun die geleentheid gebied om te leer hoe Jehovah liefde, geregtigheid, wysheid en krag aan die dag lê wanneer Hy met ’n moeilike situasie te kampe het. En dit sou Jesus ongetwyfeld voorberei het om die moeilike situasies die hoof te bied wat hy later in sy aardse bediening teëgekom het.—Joh. 5:19.

8. Hoe help die Evangelieverslae ons om baie omtrent die Vader se eienskappe te leer?

8 Weens sy hegte verhouding met Jehovah het die Seun die Vader in groter besonderhede geopenbaar as wat enigiemand anders dit ooit kon doen. Kan daar ’n beter manier wees vir ons om die Vader te leer ken as om sy enigverwekte Seun se leringe en dade te ondersoek? Ter toeligting: Dink aan hoe moeilik dit vir ons sal wees om die betekenis van die woord “liefde” ten volle te begryp deur net ’n woordeboekdefinisie te lees. Maar as ons peins oor die Evangelieskrywers se lewendige verslae van Jesus se bediening en die maniere waarop hy na ander omgesien het, kan ons groot insig verkry in die woorde “God is liefde” (1 Joh. 4:8, 16). Dit is ook waar met betrekking tot God se ander eienskappe wat Jesus aan sy dissipels geopenbaar het terwyl hy op die aarde was.

HOE JESUS SY VADER GEOPENBAAR HET

9. (a) Op watter twee basiese maniere het Jesus sy Vader geopenbaar? (b) Gee ’n voorbeeld wat toon hoe Jesus sy Vader deur sy leringe geopenbaar het.

9 Hoe het Jesus die Vader aan sy dissipels en by uitbreiding aan sy toekomstige volgelinge geopenbaar? Hy het dit op twee basiese maniere gedoen: deur sy leringe en deur sy gedrag. Kom ons bespreek eers Jesus se leringe. Wat Jesus sy volgelinge geleer het, het sy diep insig in sy Vader se denke, gevoelens en weë weerspieël. Byvoorbeeld, Jesus het sy Vader vergelyk met die besorgde eienaar van ’n kudde wat na een afgedwaalde skaap gaan soek. Jesus het gesê dat die eienaar, wanneer hy die verlore skaap vind, “blyer is oor hom as oor die nege-en-negentig wat nie afgedwaal het nie”. Wat was die toepassing van hierdie illustrasie? “Net so”, het Jesus verduidelik, “is dit vir my Vader wat in die hemel is, nie wenslik dat een van hierdie kleintjies vergaan nie” (Matt. 18:12-14). Wat kan jy uit hierdie illustrasie omtrent Jehovah leer? Al voel jy soms dat jy onbelangrik en vergete is, jou hemelse Vader stel belang in jou en gee om vir jou. In sy oë is jy een van “hierdie kleintjies”.

10. Hoe het Jesus sy Vader deur sy gedrag geopenbaar?

10 Die tweede manier waarop Jesus die Vader aan sy dissipels geopenbaar het, was deur middel van sy gedrag. Toe die apostel Filippus vir Jesus gevra het: “Toon ons die Vader”, kon Jesus dus tereg sê: “Hy wat my gesien het, het ook die Vader gesien” (Joh. 14:8, 9). Beskou ’n paar voorbeelde van hoe Jesus sy Vader se eienskappe weerspieël het. Toe ’n melaatse man Jesus gesmeek het om hom te genees, het Jesus die man wat “vol melaatsheid” was, aangeraak en vir hom gesê: “Ek wil. Word gereinig.” Toe die melaatse genees is, kon hy ongetwyfeld Jehovah se hand sien in wat Jesus gedoen het (Luk. 5:12, 13). En met Lasarus se dood kon die dissipels sekerlik die Vader se medelye onderskei toe Jesus “in die gees gekreun en verontrus geword” het en “trane gestort” het. Hoewel Jesus geweet het dat hy Lasarus gaan opwek, het hy die pyn gevoel wat sigbaar was onder Lasarus se familie en vriende (Joh. 11:32-35, 40-43). Jy het ongetwyfeld geliefkoosde Bybelverslae wat jou in staat stel om die barmhartige Vader te sien, soos uitgebeeld deur Jesus se dade.

11. (a) Wat het Jesus oor sy Vader geopenbaar toe hy die tempel gereinig het? (b) Waarom is die verslag van Jesus se reiniging van die tempel vir ons gerusstellend?

11 Maar watter afleiding maak jy uit Jesus se reiniging van die tempel? Stel jou die toneel voor: Jesus het ’n sweep van toue gemaak en die verkopers van beeste en skape uitgedryf. Hy het die muntstukke van die geldwisselaars uitgegooi en hulle tafels omgekeer (Joh. 2:13-17). Hierdie kragtige optrede het die dissipels laat dink aan die profetiese woorde van koning Dawid: “Louter ywer vir u huis het my verteer” (Ps. 69:9). Deur ferm op te tree, het Jesus ’n sterk begeerte geopenbaar om ware aanbidding te verdedig. Sien jy die Vader se persoonlikheid in hierdie verslag? Dit herinner ons daaraan dat God nie net die onbeperkte mag het om goddeloosheid van die aarde weg te vee nie, maar dat hy ook die vurige begeerte het om dit te doen. Hierdie beskrywing van Jesus se sterk reaksie op oortreding openbaar hoe die Vader ongetwyfeld voel wanneer hy die goddeloosheid sien wat vandag op die aarde hoogty vier. Hoe gerusstellend is dít tog vir ons wanneer ons onreg ly!

12, 13. Wat kan jy omtrent Jehovah leer uit die manier waarop Jesus sy dissipels behandel het?

12 Kom ons kyk na nog ’n voorbeeld—die manier waarop Jesus sy dissipels behandel het. Hulle het bly stry oor wie die grootste is (Mark. 9:33-35; 10:43; Luk. 9:46). Uit sy lang ondervinding met die Vader het Jesus geweet hoe Jehovah oor sulke trotse neigings voel (2 Sam. 22:28; Ps. 138:6). Boonop het Jesus gesien hoe sulke neigings deur Satan die Duiwel geopenbaar word. Hierdie egotistiese persoon was behep met vernaamheid en posisie. Hoe bedroef moes Jesus dus gewees het om te sien hoe ’n ambisieuse gesindheid voortduur onder die dissipels wat hy opgelei het! Dit is selfs aangetref onder dié wat hy as apostels gekies het! Hulle het nog op die laaste dag van Jesus se lewe op die aarde ’n ambisieuse gesindheid geopenbaar (Luk. 22:24-27). Maar Jesus het aangehou om hulle vriendelik tereg te wys, sonder om ooit hoop op te gee dat hulle uiteindelik sou leer om sy nederige gesindheid na te volg.—Fil. 2:5-8.

13 Kan jy die Vader se hand sien in die manier waarop Jesus geduldig verkeerde neigings in sy dissipels reggestel het? Kan jy in Jesus se dade en woorde die Vader sien, wat sy knegte nie verlaat ten spyte van hulle herhaalde mislukkings nie? Beweeg hierdie kennis van God se eienskappe ons nie om hom te nader en ons berou uit te spreek wanneer ons foute begaan nie?

DIE SEUN WAS BEREID OM SY VADER TE OPENBAAR

14. Hoe het Jesus getoon dat hy bereid was om sy Vader te openbaar?

14 Baie diktators probeer mense in bedwang en in onkunde hou deur inligting van hulle te weerhou. Jesus daarenteen was bereid om die inligting wat hy omtrent die Vader gehad het, bekend te maak en Hom ten volle aan ander te openbaar. (Lees Matteus 11:27.) Daarbenewens het Jesus sy dissipels “die intellektuele vermoë gegee dat [hulle] die kennis van die waaragtige [Jehovah God] kan opdoen” (1 Joh. 5:20). Wat beteken dit? Jesus het sy volgelinge se verstand geopen sodat hulle sy leringe omtrent die Vader kon verstaan. Hy het nie sy Vader in ’n newel van verborgenheid verberg deur te leer dat Hy deel van ’n onbegryplike Drie-eenheid is nie.

15. Waarom het Jesus sekere inligting omtrent sy Vader nie aan sy dissipels bekend gemaak nie?

15 Het Jesus alles geopenbaar wat hy omtrent sy Vader geweet het? Nee, hy het wyslik baie dinge wat hy geweet het, nie aan sy dissipels bekend gemaak nie. (Lees Johannes 16:12.) Waarom nie? Omdat sy dissipels op daardie stadium hierdie kennis ‘nie kon dra nie’. Maar soos Jesus verduidelik het, sou baie kennis geopenbaar word wanneer “die helper” kom, die heilige gees, wat hulle “in die hele waarheid” sou inlei (Joh. 16:7, 13). Net soos wyse ouers sekere inligting nie aan hulle kinders bekend maak totdat die kinders oud genoeg is om dit te verstaan nie, het Jesus gewag totdat die dissipels volwasse geword het en sekere feite omtrent die Vader kon begryp. Jesus het hulle beperkings liefdevol in ag geneem.

VOLG JESUS NA DEUR ANDER TE HELP OM JEHOVAH TE LEER KEN

16, 17. Waarom is jy in ’n posisie om die Vader aan ander te openbaar?

16 Wanneer jy iemand goed leer ken en sy liefdevolle persoonlikheid waardeer, wil jy ander dan nie van hom vertel nie? Toe Jesus op die aarde was, het hy van sy Vader gepraat (Joh. 17:25, 26). Is dit vir ons moontlik om hom na te volg deur Jehovah aan ander te openbaar?

17 Soos ons gesien het, het Jesus baie groter kennis van sy Vader gehad as enigiemand anders. Tog was hy bereid om van die dinge wat hy geweet het, bekend te maak en sy volgelinge selfs die intellektuele vermoë te gee om dieper aspekte van God se persoonlikheid te begryp. Het ons nie deur middel van Jesus ons Vader leer ken op ’n manier waarop die meeste mense van vandag hom nie ken nie? Hoe dankbaar is ons tog dat Jesus bereid was om sy Vader deur middel van sy leringe en gedrag aan ons te openbaar! Trouens, ons kan tereg daaroor spog dat ons die Vader ken (Jer. 9:24; 1 Kor. 1:31). Terwyl ons daarna gestreef het om nader aan Jehovah te kom, het hy nader aan ons gekom (Jak. 4:8). Ons is dus nou in ’n posisie om ons kennis aan ander oor te dra. Hoe kan ons dit doen?

18, 19. Op watter maniere kan jy die Vader aan ander openbaar? Verduidelik.

18 Ons moet Jesus navolg deur die Vader deur middel van ons woorde en dade te openbaar. Hou in gedagte dat baie mense wat ons in velddiens ontmoet, nie weet wie God is nie. Hulle beskouing van God is moontlik vertroebel deur valse leringe. Ons kan hulle vertel wat ons weet van God se naam, sy voorneme met die mens en sy persoonlikheid soos dit in die Bybel geopenbaar word. Verder kan ons met medegelowiges Bybelverslae bespreek wat God se persoonlikheid openbaar op ’n manier wat ons nie voorheen verstaan het nie. Só kan hulle ook daarby baat vind.

19 Hoe openbaar ons, in navolging van Jesus, die Vader deur middel van ons gedrag? Wanneer mense die liefde van Christus in ons dade sien, sal hulle aangetrokke voel tot die Vader sowel as tot Jesus (Ef. 5:1, 2). Die apostel Paulus het ons aangespoor om ‘navolgers van hom te word, net soos hy dit van Christus was’ (1 Kor. 11:1). Wat ’n wonderlike voorreg het ons tog om mense te help om Jehovah te sien in die manier waarop ons ons gedra! Ja, mag ons almal aanhou om Jesus na te volg deur die Vader aan ander te openbaar.

[Studievrae]