Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Verraad—’n Onheilspellende teken van die tye!

Verraad—’n Onheilspellende teken van die tye!

Verraad—’n Onheilspellende teken van die tye!

“[Ons het ons] lojaal en regverdig en onberispelik . . . gedra.”—1 TESS. 2:10.

LET OP HIERDIE HOOFGEDAGTES:

Watter waarskuwende lesse kan ons leer uit die verraad van Delila, Absalom en Judas Iskariot?

Hoe kan ons die lojaliteit van Jonatan sowel as Petrus navolg?

Hoe kan ons standvastig bly in ons lojaliteit aan ons huweliksmaat en aan Jehovah?

1-3. (a) Wat is ’n onheilspellende teken van die tye, en wat behels dit? (b) Watter drie vrae sal ons beantwoord?

WAT het Delila, Absalom en Judas Iskariot in gemeen? Hulle was almal dislojaal—Delila aan die man wat haar liefgehad het, die rigter Simson; Absalom aan sy vader, koning Dawid; Judas aan sy Heer, Christus Jesus. In elke geval het hulle betreurenswaardige optrede ’n verpletterende uitwerking op ander gehad! Maar waarom moet dit vir ons van belang wees?

2 Volgens ’n hedendaagse skrywer is verraad vandag een van die algemeenste euwels. Dit is te verwagte. Toe Jesus die teken van “die voleinding van die stelsel van dinge” gegee het, het hy gesê: “Baie [sal] mekaar verraai” (Matt. 24:3, 10). “Om te verraai” beteken “om oor te lewer aan of in die mag te plaas van ’n vyand deur verraad of dislojaliteit”. Hierdie gebrek aan lojaliteit bevestig dat ons in “die laaste dae” lewe, wanneer mense, soos Paulus voorspel het, “dislojaal, . . . verraaiers” sal wees (2 Tim. 3:1, 2, 4). Hoewel skrywers van boeke en draaiboeke dikwels verraderlike dade in lektuur en in rolprente dramatiseer en romantiseer, veroorsaak dislojaliteit en verraad in die werklike lewe pyn en lyding. Hierdie dade is beslis ’n onheilspellende teken van die tye!

3 Watter lesse kan ons uit die Bybel leer oor dié wat in die verlede dislojaal was? Watter voorbeelde van mense wat hulle toegewydheid aan ander bewys het, kan ons navolg? En aan wie moet ons standvastig in ons lojaliteit bly? Kom ons kyk.

WAARSKUWENDE VOORBEELDE UIT DIE VERLEDE

4. Hoe het Delila Simson verraai, en waarom was dit so veragtelik?

4 Beskou eerstens die bedrieglike Delila, op wie die rigter Simson verlief geraak het. Simson was vasbeslote om ten behoewe van God se volk die leiding in die stryd teen die Filistyne te neem. Die vyf Filistynse spilvorste, wat moontlik geweet het dat Delila geen lojale liefde vir Simson het nie, het haar ’n groot omkoopgeskenk aangebied om uit te vind wat die geheim van sy groot krag is sodat hulle van hom ontslae kon raak. Die geldgierige Delila het hulle aanbod aanvaar, maar haar pogings om uit te vind wat Simson se geheim is, het drie keer misluk. Toe het sy “die hele tyd met haar woorde druk op hom uitgeoefen . . . en by hom bly aandring”. Uiteindelik “het sy siel tot die dood toe ongeduldig geraak”. Hy het dus vir haar gesê dat sy hare nooit gesny is nie en dat hy sy krag sal verloor as dit gesny word. * Noudat Delila dit geweet het, het sy Simson se hare laat afskeer terwyl hy op haar skoot aan die slaap was, en toe het sy hom aan sy vyande oorgelewer sodat hulle met hom kon doen wat hulle wil (Rigt. 16:4, 5, 15-21). Hoe veragtelik was haar optrede tog! Weens haar gierigheid het Delila iemand verraai wat haar liefgehad het.

5. (a) Hoe was Absalom dislojaal aan Dawid, en wat het dit omtrent hom geopenbaar? (b) Hoe het Dawid oor Agitofel se verraad gevoel?

5 Kom ons beskou nou die agterbakse Absalom. Aangevuur deur ambisie, was hy vasbeslote om die troon van sy vader, koning Dawid, wederregtelik in besit te neem. Absalom het eers ‘die hart van die manne van Israel gesteel’ deur hulle guns te wen met slinkse beloftes en valse blyke van geneentheid. Hy het sy arms om hulle gesit en hulle gesoen, asof hy werklik in hulle en in hulle behoeftes belangstel (2 Sam. 15:2-6). Absalom het selfs die hart van Dawid se vertroueling Agitofel verower, wat Dawid verraai het en by die staatsgreep aangesluit het (2 Sam. 15:31). In Psalm 3 en 55 beskryf Dawid watter uitwerking hierdie dislojaliteit op hom gehad het. (Ps. 3:1-8; lees Psalm 55:12-14.) Absalom het skaamtelose minagting vir God se soewereiniteit geopenbaar deur sy ambisieuse gekonkel en blatante sameswering teen Jehovah se aangestelde koning (1 Kron. 28:5). Op die ou end het die opstand misluk, en Dawid het voortgegaan om as die gesalfde van Jehovah te heers.

6. Hoe het Judas Jesus verraai, en waarmee het Judas se naam sinoniem geword?

6 Dink nou aan wat die verraderlike Judas Iskariot aan die Christus gedoen het. By die laaste Pasga wat Jesus saam met sy 12 apostels gevier het, het hy vir hulle gesê: “Voorwaar, ek sê vir julle: Een van julle sal my verraai” (Matt. 26:21). Later daardie nag het Jesus vir Petrus, Jakobus en Johannes in die tuin van Getsemane gesê: “Kyk! My verraaier het naby gekom.” Onmiddellik het Judas saam met sy medesamesweerders in die tuin verskyn, “en hy het reguit na Jesus toe gegaan en gesê: ‘Goeiedag, Rabbi!’ en hom baie teer gesoen” (Matt. 26:46-50; Luk. 22:47, 52). Judas het “regverdige bloed verraai” en Jesus aan Christus se vyande oorgelewer. En waarvoor het die geldgierige Judas dit gedoen? Vir ’n skamele 30 silwerstukke! (Matt. 27:3-5). Die naam Judas is sedertdien sinoniem met “verraaier”, veral iemand wat ’n ander onder die dekmantel van vriendskap verraai. *

7. Watter lesse het ons geleer uit die lewens van (a) Absalom en Judas en (b) Delila?

7 Wat het ons uit hierdie waarskuwende voorbeelde geleer? Absalom en Judas het albei ’n skandelike dood gesterf omdat hulle die gesalfde van Jehovah verraai het (2 Sam. 18:9, 14-17; Hand. 1:18-20). Delila se naam sal vir ewig met verraad en geveinsde liefde geassosieer word (Ps. 119:158). Hoe noodsaaklik is dit tog dat ons stry teen enige neiging tot blinde ambisie of gierigheid, wat sal veroorsaak dat ons Jehovah se guns verloor! Kan daar kragtiger lesse wees om ons te help om die weersinwekkende eienskap dislojaliteit te verwerp?

VOLG DIÉ NA WAT LOJAAL WAS

8, 9. (a) Waarom het Jonatan sy lojaliteit aan Dawid beloof? (b) Hoe kan ons Jonatan navolg?

8 Die Bybel praat ook van talle lojale persone. Kom ons bespreek twee van hulle en sien wat ons by hulle kan leer. Ons sal begin met ’n man wat sy lojaliteit aan Dawid bewys het. Jonatan, koning Saul se oudste seun, sou waarskynlik die troonopvolger in Israel gewees het—behalwe vir een feit. Jehovah het Dawid gekies om Israel se volgende koning te wees. Jonatan het God se besluit gerespekteer. Hy was nie jaloers en het Dawid as ’n mededinger beskou nie. Jonatan se siel het eerder “aan die siel van Dawid verkleef geraak” toe hy sy lojaliteit aan hom beloof het. Hy het selfs vir Dawid sy klere, swaard, boog en gordel gegee en sodoende koninklike eer aan hom betoon (1 Sam. 18:1-4). Jonatan het alles in sy vermoë gedoen om ‘Dawid se hand te versterk’ en het selfs sy lewe gewaag om voor Saul vir Dawid op te kom. Jonatan het lojaal vir Dawid gesê: “Jy sal koning oor Israel wees, en ek sal tweede onder jou wees” (1 Sam. 20:30-34; 23:16, 17). Dit is geen wonder dat Dawid ná Jonatan se dood sy droefheid en sy liefde vir hom in ’n treurlied uitgedruk het nie.—2 Sam. 1:17, 26.

9 Daar was geen botsende lojaliteite by Jonatan nie. Hy het hom volkome onderwerp aan die Soewerein, Jehovah, en hy het Dawid ten volle ondersteun as die gesalfde van God. Net so moet ons vandag, al het ons nie ’n spesiale voorreg in die gemeente ontvang nie, die broers wat aangestel is om die leiding onder ons te neem, gewilliglik ondersteun.—1 Tess. 5:12, 13; Heb. 13:17, 24.

10, 11. (a) Waarom het Petrus lojaal by Jesus gebly? (b) Hoe kan ons Petrus navolg, en wat moet ons beweeg word om te doen?

10 Die ander goeie voorbeeld wat ons sal bespreek, is dié van die apostel Petrus, wat sy lojaliteit aan Jesus beloof het. Toe Christus aanskoulike beeldspraak gebruik het om te beklemtoon hoe belangrik dit sou wees om geloof te beoefen in sy vlees en bloed—wat weldra opgeoffer sou word—was sy woorde skokkend vir baie van sy dissipels, en hulle het hom verlaat (Joh. 6:53-60, 66). Jesus het toe vir sy 12 apostels gevra: “Julle wil nie miskien ook gaan nie?” Petrus het geantwoord: “Here, na wie toe sal ons weggaan? U het woorde van die ewige lewe; en ons het geglo en te wete gekom dat u die Heilige van God is” (Joh. 6:67-69). Het dit beteken dat Petrus alles verstaan het wat Jesus so pas oor Sy komende offerande gesê het? Waarskynlik nie. Petrus was nietemin vasbeslote om lojaal te wees aan God se gesalfde Seun.

11 Petrus het nie geredeneer dat Jesus sekerlik die verkeerde beskouing van sake het en dat Hy ná verloop van tyd sal herroep wat Hy gesê het nie. Nee, Petrus het nederig erken dat Jesus “woorde van die ewige lewe” het. Hoe reageer ons vandag as ons in ons Christelike publikasies, wat deur “die getroue bestuurder” voorsien word, ’n gedagte teëkom wat moeilik is om te verstaan of wat nie met ons denke strook nie? Ons moet ons inspan om die sin daarvan te begryp eerder as om bloot te verwag dat daar ’n verandering sal kom wat met ons beskouing ooreenstem.—Lees Lukas 12:42.

BLY LOJAAL AAN JOU HUWELIKSMAAT

12, 13. Hoe kan verraad vastrapplek in ’n huwelik kry, en waarom is iemand se ouderdom nie ’n verskoning daarvoor nie?

12 Verraad van enige aard is ’n walglike daad wat nie toegelaat moet word om die vrede en eenheid van die Christengesin en die gemeente te versteur nie. Met dit in gedagte gaan ons kyk hoe ons standvastig kan wees in ons lojaliteit aan ons huweliksmaat en aan ons God.

13 Egbreuk is een van die verpletterendste vorme van verraad. Die egbreker het sy trou aan sy huweliksmaat geskend en sy aandag na iemand anders verskuif. Die maat wat verraai is, is skielik alleen—met ’n lewe wat heeltemal ontwrig is. Hoe gebeur dít tussen twee mense wat mekaar voorheen liefgehad het? Die eerste stap in hierdie rigting is dikwels wanneer huweliksmaats belangstelling in mekaar se gevoelens verloor. ’n Professor in sosiologie, Gabriella Turnaturi, verduidelik dat ’n wisseling “tussen volle betrokkenheid by ’n verhouding en ’n gebrek aan volle betrokkenheid verraad sy vastrapplek gee”. Hierdie gebrek aan belangstelling in ’n huweliksmaat het by party al selfs in die middeljare ontstaan. Byvoorbeeld, ’n 50-jarige man skei van sy getroue vrou met wie hy 25 jaar getroud was sodat hy saam met ’n ander vrou kan wees tot wie hy nou aangetrokke is. Party verskoon dit deur dit ’n middeljarekrisis te noem. Maar in plaas van dit te laat klink asof dit onvermydelik is, kom ons noem dit wat dit werklik is—middeljareverraad. *

14. (a) Hoe voel Jehovah oor verraad in die huwelik? (b) Wat het Jesus oor huwelikstrou gesê?

14 Hoe voel Jehovah oor dié wat hulle maat sonder ’n skriftuurlike rede verlaat? Ons God ‘haat egskeiding’, en hy het sterk woorde geuiter teen dié wat hulle huweliksmaat sleg behandel en verlaat. (Lees Maleagi 2:13-16.) In hartgrondige eenheid met sy Vader het Jesus geleer dat ’n mens nie ’n onskuldige maat kan verwerp of verlaat en maak asof niks gebeur het nie.—Lees Matteus 19:3-6, 9.

15. Hoe kan getroudes hulle lojaliteit aan hulle maat versterk?

15 Hoe kan getroudes lojaal bly aan hulle maat? God se Woord sê: “Verheug jou met die vrou [of man] van jou jeug” en: “Geniet die lewe met die vrou [of man] wat jy liefhet” (Spr. 5:18; Pred. 9:9). Terwyl albei maats ouer word, moet hulle “volle betrokkenheid” by hulle verhouding behou, fisies sowel as emosioneel. Dit beteken dat hulle aandag moet skenk aan mekaar, tyd moet wy aan mekaar en nader moet kom aan mekaar. Hulle moet hulle daarop toespits om hulle huwelik en hulle verhouding met Jehovah te bewaar. Om dit te doen, moet egpare die Bybel saam bestudeer, gereeld saam in die bediening werk en saam bid vir Jehovah se seën.

BLY LOJAAL AAN JEHOVAH

16, 17. (a) Hoe kan ons lojaliteit aan God in die gesin en die gemeente getoets word? (b) Watter voorbeeld lig toe dat gehoorsaamheid aan God se gebod om op te hou om met uitgesette familielede te assosieer, goeie resultate kan hê?

16 Daar is gemeentelede wat ernstige sondes begaan het en wat ‘met strengheid tereggewys is, sodat hulle gesond in die geloof kan wees’ (Tit. 1:13). In party gevalle het hulle gedrag vereis dat hulle uitgesit word. Die dissipline het “dié wat daardeur geoefen is”, gehelp om geestelik te herstel (Heb. 12:11). Sê nou ons het ’n familielid of ’n hegte vriend wat uitgesit is? Nou is ons lojaliteit op die spel, nie aan hierdie persoon nie, maar aan God. Jehovah hou ons dop om te sien of ons gehoorsaam sal wees aan sy gebod om nie kontak te hê met enigiemand wat uitgesit is nie.—Lees 1 Korintiërs 5:11-13.

17 Kyk na net een voorbeeld van die goeie uitwerking wat dit kan hê wanneer ’n gesin Jehovah se gebod om nie met uitgesette familielede te assosieer nie, lojaal onderhou. ’n Jong man was meer as tien jaar lank uitgesit, en sy pa, ma en vier broers het gedurende hierdie tyd ‘opgehou om met hom om te gaan’. Hy het soms probeer om by hulle bedrywighede betrokke te raak, maar elke lid van die gesin het standvastig gebly en geen kontak met hom gehad nie, en hiervoor moet hulle geprys word. Nadat hy herstel is, het hy gesê dat hy altyd die assosiasie met sy gesin gemis het, veral saans wanneer hy alleen was. Maar hy het erken dat selfs net ’n bietjie assosiasie met die gesin hom sou bevredig het. Omdat nie ’n enkele gesinslid egter enige kommunikasie met hom gehad het nie, het die brandende begeerte om met hulle te assosieer, ’n beweegrede geword om sy verhouding met Jehovah te herstel. Hou dit in gedagte as jy ooit in die versoeking kom om ongehoorsaam te wees aan God se gebod om nie met uitgesette familielede te assosieer nie.

18. Wat is jy vasbeslote om te doen ná hierdie bespreking van die voordele van lojaliteit teenoor die gevolge van dislojaliteit?

18 Ons lewe in ’n verraderlike, dislojale wêreld. Tog kan ons oral om ons in die Christengemeente navolgenswaardige voorbeelde van lojaliteit vind. Hulle lewensweg spreek vir hulle, asof dit sê: “Julle is getuies, God is ook, van hoe lojaal en regverdig en onberispelik ons ons teenoor julle, die gelowiges, gedra het” (1 Tess. 2:10). Mag ons almal standvastig bly in ons lojaliteit aan God en aan mekaar.

[Voetnote]

^ par. 4 Dit was nie die hare op sigself wat die bron van Simson se krag was nie, maar wat sy hare verteenwoordig het, naamlik sy spesiale verhouding met Jehovah as ’n Nasireër.

^ par. 6 Die woord “judaskus” beteken gevolglik “’n verraderlike daad”.

^ par. 13 Vir hulp om ’n huweliksmaat se dislojaliteit te verwerk, sien die artikel “Wanneer ’n huweliksmaat jou vertroue skend”, in Die Wagtoring van 15 Junie 2010, bladsye 29-32.

[Studievrae]

[Prent op bladsy 10]

Petrus was lojaal aan God se gesalfde Seun, al het ander Hom verwerp