Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat moet Christene vandag doen?

Wat moet Christene vandag doen?

Wat moet Christene vandag doen?

WARE Christene van vandag neem nie aan die politiek deel nie. Waarom nie? Omdat hulle Jesus se voorbeeld volg. Hy het van homself gesê: ‘Ek is geen deel van die wêreld nie.’ Aangaande sy volgelinge het hy gesê: ‘Julle is geen deel van die wêreld nie’ (Johannes 15:19; 17:14). Beskou ’n paar redes waarom Christene nie by die politiek betrokke moet raak nie.

1. Die mens se vermoë is beperk. Die Bybel sê dat die mens nie die vermoë of die reg het om oor hulleself te heers nie. “Dit behoort nie aan die mens wat loop”, het die profeet Jeremia geskryf, “om sy voetstappe te rig nie.”—Jeremia 10:23.

Net soos die mens nie geskep is om sonder hulp te vlieg nie, is hy ook nie geskep om met welslae self te regeer nie. Die geskiedkundige David Fromkin het in verband met die beperkings van regerings gesê: “Regerings bestaan uit mense; daarom is hulle feilbaar en hulle toekoms onseker. Hulle oefen mag uit, maar slegs beperkte mag” (The Question of Government). Dit is geen wonder dat die Bybel ons waarsku om nie ons vertroue in mense te stel nie!—Psalm 146:3.

2. Bose geesmagte oefen nou ’n invloed uit. Toe Satan Jesus wêreldheerskappy aangebied het, het Jesus nie ontken dat die Duiwel die gesag het om hom al die koninkryke van die wêreld aan te bied nie. Trouens, by ’n latere geleentheid het Jesus Satan “die heerser van die wêreld” genoem. ’n Paar jaar later het die apostel Paulus Satan beskryf as “die god van hierdie stelsel van dinge” (Johannes 14:30; 2 Korintiërs 4:4). Paulus het aan mede-Christene geskryf: “Ons het ’n worstelstryd . . . teen die wêreldheersers van hierdie duisternis, teen die bose geesmagte in die hemelse plekke” (Efesiërs 6:12). Agter die skerms is bose geesmagte die ware heersers van hierdie wêreld. Hoe moet hierdie feit ons beskouing van die politiek beïnvloed?

Dink aan hierdie vergelyking: Net soos klein bootjies wat deur sterk seestrome meegesleur word, word menslike politieke stelsels deur kragtige, bose geesmagte meegesleur. En net soos die matrose in daardie bote min kan doen om die sterk seestrome te verander, kan politici min doen om die invloed van daardie kragtige geesmagte te verander. Daardie geesmagte is daarop uit om mense so verdorwe te maak dat hulle nie hervorm kan word nie en om ‘wee vir die aarde’ te veroorsaak (Openbaring 12:12). ’n Ware verandering kan dus slegs teweeggebring word deur ’n persoon wat magtiger is as Satan en sy demone. Daardie Persoon is Jehovah God self.—Psalm 83:18; Jeremia 10:7, 10.

3. Ware Christene is trou slegs aan God se Koninkryk. Jesus en sy dissipels het geweet dat God self op ’n vasgestelde tyd ’n regering in die hemel sal oprig om oor die hele aarde te heers. Die Bybel noem hierdie regering God se Koninkryk en openbaar dat Jesus Christus as die Koning daarvan aangestel is (Openbaring 11:15). Aangesien hierdie Koninkryk alle mense se lewens raak, het Jesus “die goeie nuus van die koninkryk van God” die tema van sy leringe gemaak (Lukas 4:43). Hy het sy dissipels ook leer bid: “Laat u koninkryk kom.” Waarom? Want onder die heerskappy van hierdie Koninkryk sal God se wil beslis in die hemel en op die aarde geskied.—Matteus 6:9, 10.

Wat sal dan met mensgemaakte regerings gebeur? Die Bybel sê dat die regerings “van die hele bewoonde aarde” vernietig sal word (Openbaring 16:14; 19:19-21). As iemand werklik glo dat God se Koninkryk alle mensgemaakte politieke stelsels binnekort uit die weg sal ruim, sal hy mos nie daardie politieke stelsels ondersteun nie, of hoe? Trouens, as hy gedoemde, mensgemaakte regerings ondersteun, staan hy God in werklikheid teë.

Beteken die feit dat ware Christene nie aan die politiek deelneem nie, dat hulle nie daarin belangstel om die gemeenskap waarin hulle woon, te probeer verbeter nie? Die antwoord op hierdie vraag word in die volgende artikel bespreek.

[Lokteks op bladsy 7]

Jehovah se Getuies is aktiewe ondersteuners van God se Koninkryk, nie van politieke hervorming nie