Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons moet ’n positiewe beskouing van ’n gespanne huwelik hê

Ons moet ’n positiewe beskouing van ’n gespanne huwelik hê

Ons moet ’n positiewe beskouing van ’n gespanne huwelik hê

“Aan die getroudes gee ek instruksies—nogtans nie ek nie, maar die Here.”—1 KOR. 7:10.

KAN JY VERDUIDELIK?

In watter opsig voeg God huweliksmaats onder een juk saam?

Hoe kan ouer manne Christene help wat huweliksprobleme ervaar?

Hoe moet ons die huwelik beskou?

1. Hoe beskou Christene die huwelik, en waarom?

WANNEER Christene trou, lê hulle ’n gelofte voor God af—’n verantwoordelikheid wat nie lig opgeneem moet word nie (Pred. 5:4-6). Aangesien Jehovah die Insteller van die huweliksreëling is, het hy diegene wat in die eg verbind is, “onder een juk saamgevoeg” (Mark. 10:9). Hierdie juk bestaan in God se oë ongeag die wette wat die huwelik bekragtig het. Knegte van Jehovah moet die huwelik as ’n bindende reëling beskou, hetsy hulle aanbidders van hom was toe hulle getrou het of nie.

2. Watter vrae sal in hierdie artikel bespreek word?

2 ’n Suksesvolle huwelik kan groot vreugde verskaf. Maar wat kan gedoen word as die huweliksband gespanne is? Kan so ’n huwelik versterk word? Watter hulp is daar vir diegene wie se huweliksvrede bedreig word?

SAL DIT ’N BRON VAN VREUGDE OF HARTSEER WEES?

3, 4. Wat kan gebeur as iemand ’n onverstandige besluit in die keuse van ’n huweliksmaat neem?

3 Wanneer ’n Christen se huwelik suksesvol is, is dit ’n bron van vreugde en strek dit Jehovah tot eer. As dit misluk, is dit op sy beste ’n bron van hartseer. ’n Ongetroude Christen wat aan trou dink, is in ’n posisie om die huwelik op ’n goeie noot te begin deur God se leiding te volg. Daarenteen kan iemand wat ’n onwyse besluit in die keuse van ’n huweliksmaat neem, onvergenoegdheid en verdriet ondervind. Byvoorbeeld, party jongmense begin met persone van die teenoorgestelde geslag uitgaan wanneer hulle nog nie gereed is vir die verantwoordelikhede wat met die huwelik gepaardgaan nie. Party mense vind ’n voornemende maat op die Internet en gaan oorhaastig ’n huwelik aan wat op die ou end baie ongelukkig is. Ander begaan ’n ernstige sonde tydens hofmakery en trou in elk geval, maar hulle begin moontlik hulle huwelikslewe met min respek vir mekaar.

4 Party Christene versuim om “net in die Here” te trou en ervaar dikwels die pynlike gevolge van ’n godsdienstig verdeelde huis (1 Kor. 7:39). As dit met jou die geval is, moet jy bid vir God se vergifnis en hulp. Hy verwyder nie die gevolge van ’n persoon se vorige oortredings nie, maar hy help berouvolles wel om beproewinge te verduur (Ps. 130:1-4). Lê jou met hart en siel daarop toe om hom nou en vir ewig te behaag, en ‘die vreugde van Jehovah sal jou vesting wees’.—Neh. 8:10.

WANNEER DIE HUWELIKSBAND BEDREIG WORD

5. Watter soort denke in verband met ’n ongelukkige huwelik moet vermy word?

5 Diegene wie se huweliksverhouding hartseer veroorsaak, wonder dalk: ‘Is dit die moeite werd om my ongelukkige huwelik te probeer red? As ek maar net die wysers kon terugdraai en weer met ’n ander huweliksmaat kan begin!’ Hulle droom dalk daarvan om die band te verbreek—‘Ag, as ek tog maar net weer vry kan wees! Waarom kry ek nie ’n egskeiding nie? Al kan ek nie ’n skriftuurlike egskeiding kry nie, kan ek my maat mos verlaat en die lewe weer geniet.’ In plaas daarvan om sulke gedagtes te koester of te fantaseer oor wat kon gewees het, moet Christene die beste maak van hulle situasie deur God se leiding te soek en dit te volg.

6. Verduidelik wat Jesus gesê het, soos opgeteken is in Matteus 19:9.

6 As ’n Christen skei, is hy of sy nie noodwendig skriftuurlik vry om weer te trou nie. Jesus het gesê dat “elkeen wat van sy vrou skei, behalwe op grond van hoerery, en met ’n ander trou, egbreuk pleeg” (Matt. 19:9). Hier sluit “hoerery” egbreuk en ander ernstige geslagsondes in. Dit is noodsaaklik om enige gedagte van egskeiding biddend te oorweeg wanneer nie een van die maats hulle aan geslagsonsedelikheid skuldig gemaak het nie.

7. Wat kan mense dink as ’n Christenhuwelik misluk?

7 ’n Mislukte huwelik kan twyfel oor ’n persoon se geestelikheid wek. Die apostel Paulus het hierdie ernstige vraag geopper: “As ’n man immers nie weet hoe om aan sy eie huisgesin leiding te gee nie, hoe sal hy vir God se gemeente sorg?” (1 Tim. 3:5). Trouens, wanneer albei maats beweer dat hulle Christene is en hulle huwelik nogtans misluk, kan mense dink dat hulle nie werklik toepas wat hulle ander leer nie.—Rom. 2:21-24.

8. Wat skort ongetwyfeld as Christenhuweliksmaats besluit om uitmekaar te gaan of te skei?

8 Wanneer gedoopte huweliksmaats beplan om op onskriftuurlike gronde uitmekaar te gaan of te skei, skort daar sekerlik iets geesteliks in hulle lewe. Een maat of miskien albei versuim klaarblyklik om skriftuurlike beginsels toe te pas. As hulle werklik ‘met hulle hele hart op Jehovah vertrou’, sal daar min rede wees om te glo dat hulle nie ’n mislukte huwelik kan voorkom nie.—Lees Spreuke 3:5, 6.

9. Hoe is party Christene beloon vir hulle geduldige pogings in verband met hulle huwelik?

9 Baie huwelike wat skynbaar op mislukking afgestuur het, was op die ou end baie suksesvol. Christene wat weier om moed op te gee met ’n moeilike huwelik, ontvang dikwels ’n goeie beloning. Dink aan wat in ’n godsdienstig verdeelde huis kan gebeur. Die apostel Petrus het geskryf: “Vrouens, [julle moet] onderdanig wees aan julle eie mans, sodat, as sommige nie aan die woord gehoorsaam is nie, hulle sonder ’n woord deur die gedrag van hulle vrouens gewen kan word, omdat hulle ooggetuies was van julle kuis gedrag tesame met diep respek” (1 Pet. 3:1, 2). Ja, ’n ongelowige sal dalk weens sy huweliksmaat se goeie gedrag die ware geloof aanneem! ’n Huwelik wat so gered is, eer God en kan ’n groot seën wees vir die man, die vrou en enige kinders wat hulle het.

10, 11. Watter onvoorsiene probleme kan in ’n huwelik ontstaan, maar waarvan kan ’n Christen seker wees?

10 Omdat hulle Jehovah wil behaag, kies die meeste ongetroude Christene toegewyde medegelowiges as huweliksmaats. Maar selfs dan kan omstandighede ’n onverwagte wending neem. Byvoorbeeld, in seldsame gevalle ontwikkel ’n maat ernstige emosionele probleme. Of soms word een van die maats ’n ruk nadat hulle getrou het, ’n onbedrywige verkondiger. Ter toeligting: Linda, * ’n ywerige Christen en ’n toegewyde ma, het hulpeloos toegekyk terwyl haar gedoopte man onberouvol ’n onskriftuurlike weg inslaan en uitgesit word. Wat moet ’n Christen doen as sy of haar huwelik om so ’n rede hopeloos lyk?

11 ‘Moet ek aanhou om my huwelik te probeer red ongeag wat gebeur?’ vra jy dalk. Niemand kan of moet hierdie besluit vir jou neem nie. Maar daar is goeie redes om nie tou op te gooi met ’n huweliksband wat verswak nie. Die godvrugtige man of vrou wat die beproewinge van ’n moeilike huwelik ter wille van die gewete verduur, is vir God kosbaar. (Lees 1 Petrus 2:19, 20.) Jehovah sal ’n Christen wat ernstige pogings aanwend om ’n gespanne huwelik te versterk, deur middel van sy Woord en gees help.

HULLE IS GEREED OM TE HELP

12. Hoe sal die ouer manne ons beskou as ons hulle om hulp vra?

12 Moenie huiwer om volwasse Christene om geestelike hulp te vra as jy huweliksprobleme ervaar nie. Die ouer manne dien as herders van die kudde en sal met graagte die aandag op die geïnspireerde raad in die Skrif vestig (Hand. 20:28; Jak. 5:14, 15). Moenie tot die slotsom kom dat jy en jou maat die respek van die ouer manne sal verloor as jy geestelike hulp vra en ’n ernstige huweliksprobleem met hulle bespreek nie. Hulle liefdevolle agting vir jou sal toeneem wanneer hulle sien dat jy ’n innige begeerte het om God te behaag.

13. Watter raad word in 1 Korintiërs 7:10-16 gevind?

13 Wanneer hulle om hulp gevra word deur Christene wat in ’n godsdienstig verdeelde huis woon, verwys ouer manne na raad soos dié van Paulus, wat geskryf het: “Aan die getroudes gee ek instruksies—nogtans nie ek nie, maar die Here—dat ’n vrou nie van haar man moet weggaan nie; maar laat sy, as sy tog weggaan, ongetroud bly of haar weer met haar man versoen; en ’n man moet sy vrou nie verlaat nie. . . . Want hoe weet jy, vrou, of jy nie dalk jou man sal red nie? Of hoe weet jy, man, of jy nie dalk jou vrou sal red nie?” (1 Kor. 7:10-16). Wat ’n seën is dit tog wanneer ’n ongelowige maat tot ware aanbidding oorgehaal word!

14, 15. Wanneer sal ’n Christeneggenoot dit dalk oorweeg om tog weg te gaan, maar waarom is dit belangrik om dit biddend en eerlik te oorweeg?

14 Onder watter omstandighede sal ’n Christenvrou dalk “tog weggaan”? Party het besluit om hulle man te verlaat weens sy opsetlike versuim om die gesin te onderhou. Ander het dit gedoen weens uitermatige fisiese mishandeling of die algehele ingevaarstelling van ’n Christen se geestelikheid.

15 Om ’n huweliksmaat te verlaat of nie, is ’n persoonlike besluit. Maar die gedoopte maat moet hierdie saak biddend en eerlik oorweeg. Byvoorbeeld, was die ongelowige alleen verantwoordelik vir die ingevaarstelling van geestelikheid, of was die Christen nalatig ten opsigte van Bybelstudie, inkonsekwent met betrekking tot vergaderingbywoning en ongereeld in die bediening?

16. Wat moet Christene daarvan weerhou om haastige besluite oor egskeiding te neem?

16 Die feit dat ons ons verhouding met God as kosbaar ag en dankbaar is vir sy gawe van die huwelik, behoort ons daarvan te weerhou om haastige besluite oor egskeiding te neem. As knegte van Jehovah is ons besorg oor die heiliging van sy grootse naam. Ons wil dus beslis nooit konkel om uit een huwelik te kom terwyl ons hart ’n ander huwelik beplan nie.—Jer. 17:9; Mal. 2:13-16.

17. Onder watter omstandighede kan daar gesê word dat God getroude Christene tot vrede geroep het?

17 ’n Christen wat met ’n ongelowige getroud is, moet ernstig daarna streef om die huweliksband te bewaar. Maar ’n Christen hoef nie skuldig te voel as ’n ongelowige maat weier om by die Christen te bly ondanks die gelowige se opregte poging om die band te bewaar nie. “As die ongelowige weggaan, laat hom weggaan”, het Paulus geskryf. “Onder sulke omstandighede is ’n broer of ’n suster nie gebonde nie, maar God het julle tot vrede geroep.”—1 Kor. 7:15. *

HOOP OP JEHOVAH

18. Watter goeie resultate kan selfs mislukte pogings om ’n huwelik te red, lewer?

18 Wanneer jy met enige huweliksprobleem te kampe het, moet jy op Jehovah vertrou vir moed en altyd op hom hoop. (Lees Psalm 27:14.) Beskou die geval van Linda, wat vroeër gemeld is. Haar huwelik het uiteindelik op ’n egskeiding uitgeloop, al het sy dit jare lank probeer red. Voel sy dat sy haar tyd gemors het? “Glad nie”, sê sy. “My pogings was ’n goeie getuienis vir mense wat dit gesien het. Ek het ’n skoon gewete. Bowenal het daardie jare ons dogter gehelp om sterk te bly in die waarheid. As volwassene is sy nou ’n ywerige, toegewyde Getuie van Jehovah.”

19. Wat kan gebeur as pogings aangewend word om ’n huwelik te red?

19 ’n Christenvrou met die naam Marilyn is bly dat sy op God vertrou het en haar ingespan het om haar huwelik te red. “Ek het daaraan gedink om my man te verlaat omdat hy versuim het om die gesin finansieel te onderhou en ons geestelikheid in gevaar gestel het”, sê sy. “Tog het my man as ’n ouer man gedien voordat hy by onwyse sakeooreenkomste betrokke geraak het. Hy het van vergaderinge begin wegbly, en ons het eenvoudig opgehou kommunikeer. ’n Terreuraanval in ons stad het my so bang gemaak dat ek in my dop gekruip het. Toe het ek besef dat die skuld ook by my lê. Ons het weer begin kommunikeer, ons gesinstudie hervat en vergaderinge gereeld bygewoon. Die ouer manne was liefdevol en baie behulpsaam. Ons huwelik het weer gefloreer. Later het my man weer gekwalifiseer vir gemeentelike voorregte. Dit was ’n moeilike les met ’n gelukkige einde.”

20, 21. Wat moet ons vasbeslote wees om te doen met betrekking tot die huwelik?

20 Hetsy ons ongetroud of getroud is, laat ons altyd moedig optree en op Jehovah hoop. As ons huweliksprobleme ervaar, moet ons opreg probeer om dit op te los en onthou dat diegene wat in die huwelik verbind is, “nie meer twee is nie, maar een vlees” (Matt. 19:6). En laat ons in gedagte hou dat ons, as ons in ’n verdeelde huis volhard ondanks ontberinge, moontlik die vreugde sal smaak om ’n maat tot ware aanbidding oor te haal.

21 Mag ons, ongeag ons omstandighede, vasbeslote wees om verstandig te wandel sodat ons ’n goeie getuienis van mense buite die gemeente kan hê. As ons huwelik bedreig word, moet ons vurig bid, ons beweegredes eerlik ontleed, die Bybel noukeurig ondersoek en die ouer manne om geestelike hulp vra. Mag ons bowenal vasbeslote wees om Jehovah God in alles te behaag en opregte waardering vir sy wonderlike gawe van die huwelik te toon.

[Voetnote]

^ par. 10 Name is verander.

^ par. 17 Sien ‘Hou julle in God se liefde’, bladsye 219-221; Die Wagtoring, 1 November 1988, bladsye 26-27; 15 Januarie 1976, bladsye 46-47 (The Watchtower, 15 September 1975, bladsy 575).

[Studievrae]

[Lokteks op bladsy 10]

Christene wat nie gou moed opgee met ’n gespanne huwelik nie, ontvang dikwels ’n goeie beloning

[Lokteks op bladsy 12]

Hoop altyd op Jehovah en vertrou op hom vir moed

[Prent op bladsy 9]

Jehovah seën Christenhuweliksmaats wat pogings aanwend om ’n gespanne huwelik te versterk

[Prent op bladsy 11]

Die Christengemeente kan ’n bron van vertroosting en geestelike hulp wees