Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Profesie – ’n Volmaakte rekord

Profesie – ’n Volmaakte rekord

‘Nie een woord van al die goeie woorde wat Jehovah julle God met julle gespreek het, het onvervuld gebly nie.’—JOSUA 23:14.

HOE IS DIE BYBEL ANDERS? Eertydse orakels was berug vir hulle dubbelsinnigheid en onbetroubaarheid, en hedendaagse horoskope is geensins beter nie. Futurologie, oftewel toekomskunde, is gebaseer op huidige tendense en probeer selde spesifieke gebeurtenisse eeue vooruit voorspel. In teenstelling hiermee is Bybelprofesieë gedetailleerd en word dit altyd bewaarheid, al voorspel dit “van ouds af die dinge wat nog nie gedoen is nie”.—Jesaja 46:10.

’N VOORBEELD: In die sesde eeu VHJ het die profeet Daniël ’n visioen gesien waarin voorspel is dat Medo-Persië vinnig deur Griekeland tot ’n val sou gebring sou word. Dit het ook voorspel dat sodra die seëvierende koning van Griekeland “magtig geword” het, sy koningskap “gebreek” sou word. Wie sou sy plek inneem? Daniël het geskryf: “Daar sal vier koninkryke uit sy nasie opstaan, maar nie met sy krag nie.”—Daniël 8:5-8, 20-22.

WAT GESKIEDKUNDIGES SÊ: Meer as 200 jaar ná Daniël se dag het Aleksander die Grote koning van Griekeland geword. Binne tien jaar het Aleksander die Medo-Persiese Ryk verower en die Griekse heerskappy uitgebrei tot by die Indusrivier (in hedendaagse Pakistan). Maar hy het skielik op 32-jarige ouderdom gesterf. Later het ’n veldslag naby Ipsus in Klein-Asië sy ryk laat verbrokkel. Die vier oorwinnaars van daardie veldslag het die Griekse Ryk uiteindelik onder mekaar verdeel. Maar nie een van hulle het so magtig soos Aleksander geword nie.

WAT DINK JY? Kan enige ander boek aanspraak maak op so ’n rekord van vervulde profesie? Of is die Bybel uniek?

“Daar is soveel . . . Bybelprofesieë dat die toevallige vervulling daarvan feitlik onmoontlik is.”—A LAWYER EXAMINES THE BIBLE, DEUR IRWIN H. LINTON