Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Harmoniese biblioteek

’n Harmoniese biblioteek

“Profesie is nooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar mense het uit God gespreek namate hulle deur heilige gees meegevoer is.”—2 PETRUS 1:21.

HOE IS DIE BYBEL ANDERS? Selfs eertydse verslae wat uit dieselfde tyd dateer, weerspreek mekaar dikwels. Boeke wat deur verskillende mense, op verskillende plekke en op verskillende tye geskryf is, is selde in volkome harmonie met mekaar. Tog sê die Bybel dat al 66 boeke waaruit dit bestaan net een Outeur het—en dit bevat een harmoniese boodskap.—2 Timoteus 3:16.

’N VOORBEELD: Moses, ’n herder van die 16de eeu VHJ, het in die eerste boek van die Bybel geskryf dat ’n “saad” sou verskyn om die mensdom te red. Hierdie boek het later voorspel dat die saad ’n nakomeling van Abraham, Isak en Jakob sou wees (Genesis 3:15; 22:17, 18; 26:24; 28:14). Sowat 500 jaar later het die profeet Natan geopenbaar dat die saad in die koninklike lyn van Dawid sou kom (2 Samuel 7:12). Eenduisend jaar daarna het die apostel Paulus verduidelik dat die saad sou bestaan uit Jesus en ’n groep van sy gekose volgelinge (Romeine 1:1-4; Galasiërs 3:16, 29). Uiteindelik, teen die einde van die eerste eeu HJ, het die laaste boek van die Bybel voorspel dat lede van die saad van Jesus sal getuig terwyl hulle op die aarde is, na die hemel opgewek sal word en 1 000 jaar lank saam met hom sal regeer. Die saamgestelde saad sal die Duiwel vernietig en die mensdom red.—Openbaring 12:17; 20:6-10.

WAT BYBELKOMMENTATORS SÊ: Ná ’n deeglike ondersoek van die Bybel se 66 boeke het Louis Gaussen geskryf dat hy verbaas was oor “die indrukwekkende harmonie van hierdie boek, wat oor ’n tydperk van eenduisend-vyfhonderd jaar deur talle mense geskryf is, . . . en tog het hulle een en dieselfde oogmerk nagestreef, en voortdurend, asof hulle dit self verstaan het, na daardie een groot doel voortbeweeg, naamlik die geskiedenis van die wêreld se verlossing deur die Seun van God”.—Theopneusty—The Plenary Inspiration of the Holy Scriptures.

WAT DINK JY? Sou jy verwag dat ’n boek wat oor ’n tydperk van meer as 1 500 jaar deur ongeveer 40 manne geskryf is, in volkome harmonie met mekaar sou wees? Of is die Bybel uniek?

“Wanneer hierdie geskrifte bymekaargesit word, maak hulle struktureel een boek uit . . . Geen ander literêre werk kan daaraan gelykgestel of selfs daarmee vergelyk word nie.”—THE PROBLEM OF THE OLD TESTAMENT, DEUR JAMES ORR