Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Coverdale en die eerste volledige gedrukte Engelse Bybel

Coverdale en die eerste volledige gedrukte Engelse Bybel

Coverdale en die eerste volledige gedrukte Engelse Bybel

DIE eerste volledige Bybel wat in Engels gedruk is, het glad nie melding gemaak van die persoon wat dit vertaal het nie. Die persoon was Miles Coverdale, en sy vertaling het in 1535 verskyn. Op daardie stadium was sy vriend William Tyndale in die tronk weens die vakkundige werk wat hy in verband met die vertaling van die Bybel gedoen het. Tyndale is die volgende jaar tereggestel.

’n Deel van Coverdale se vertaling is op Tyndale se werk gegrond. Hoe het Coverdale daarin geslaag om sy vertaling te laat druk en teregstelling vry te spring terwyl ander Bybelvertalers van sy dag met hulle lewens daarvoor geboet het? Wat het Coverdale uiteindelik bereik?

Saadjies word gesaai

Miles Coverdale is in Yorkshire, Engeland, gebore, waarskynlik in 1488. Hy het aan die Universiteit van Cambridge gestudeer en is in 1514 tot Rooms-Katolieke priester georden. Sy belangstelling in hervorming is geprikkel deur Robert Barnes, sy mentor. Barnes het in 1528 na die Europese vasteland gevlug. Twaalf jaar later is hierdie Hervormer deur kerkleiers op die brandstapel tereggestel.

Teen 1528 het Coverdale hom in sy preke in die kerk teen die onskriftuurlike Katolieke gebruike van beeldeaanbidding, die belydenis en die mis begin uitspreek. Omdat sy lewe as gevolg hiervan in gevaar was, het hy Engeland verlaat en na die Vasteland gegaan, waar hy sowat sewe jaar deurgebring het.

In Hamburg, Duitsland, het Coverdale saam met William Tyndale gebly. Hulle twee het saam gewerk, aangevuur deur hulle gemeenskaplike begeerte om ’n Bybel voort te bring wat deur gewone mense gelees kon word. Gedurende hierdie tyd het Coverdale baie by Tyndale geleer oor die kuns van Bybelvertaling.

’n Tyd vir verandering

Intussen was die situasie in Engeland aan die verander. In 1534 het koning Hendrik VIII openlik teen die gesag van die Katolieke pous in Rome opgestaan. Hy was ook te vinde vir die idee om die Bybel in Engels aan mense beskikbaar te stel. Mettertyd het Coverdale die taak aangepak. Hy was ’n meester van die Engelse taal, maar hy het nie die taalvaardighede gehad van sy vriend en mentor, Tyndale, nie, wat vlot in Hebreeus sowel as in Grieks was. Coverdale het Tyndale se vertaling met behulp van Latynse en Duitse vertalings hersien.

Coverdale se Bybel is in 1535, die jaar voor Tyndale se teregstelling, op die Europese Vasteland gedruk. Dit het ’n respekvolle, ietwat vleiende toewyding aan koning Hendrik ingesluit. Coverdale het Hendrik die versekering gegee dat die Bybel nie Tyndale se voetnote insluit nie. Hierdie voetnote is as omstrede beskou omdat dit onder andere die aandag gevestig het op onskriftuurlike leringe van die Katolieke Kerk. Gevolglik het Hendrik sy goedkeuring gegee vir die publisering van die Bybel. Die winde van verandering het begin waai.

In 1537 het twee nuwe uitgawes van Coverdale se Bybel verskyn, wat in Engeland gedruk is. In dieselfde jaar is ’n uitgawe wat Matthew se Bybel genoem is, deur koning Hendrik goedgekeur. Hierdie Bybel is in Antwerpen gedruk en het Tyndale en Coverdale se werk gekombineer.

Die koning se hoofraadgewer, Thomas Cromwell, tesame met Cranmer, die aartsbiskop van Kantelberg, het kort voor lank besef dat ’n hersiene uitgawe van Matthew se Bybel nodig is. Hy het Coverdale dus weer versoek om die volledige manuskrip te hersien. In 1539 het koning Hendrik amptelike goedkeuring gegee vir hierdie nuwe uitgawe, wat weens die grootte daarvan die Great Bible genoem is. Hy het beveel dat eksemplare van hierdie Bybel in kerke gesit word sodat dit deur almal gelees kan word. Hierdie Bybel is landwyd met vreugdevolle entoesiasme ontvang.

Coverdale se nalatenskap

Ná die dood van Hendrik VIII en die troonbestyging van sy opvolger, Eduard VI, is Coverdale in 1551 as biskop van Exeter aangestel. Maar toe Eduard deur die Katolieke koningin Maria in 1553 opgevolg is, moes Coverdale noodgedwonge na Denemarke vlug. Later het hy na Switserland getrek, waar hy sy werk voortgesit het. Hy het ook drie Engelse uitgawes van die sogenoemde Nuwe Testament met Latynse teks gepubliseer as ’n studiegids vir die geestelikes.

’n Onverwagse aspek van Coverdale se Bybel is die feit dat die goddelike naam in die vorm “Jehovah” weggelaat is. Tyndale het die naam van God meer as 20 keer in sy vertaling van die Hebreeuse Geskrifte gebruik. In die boek Coverdale and His Bibles sê J.F. Mozley: “In 1535 het Coverdale die woord [Jehovah] geheel en al verwerp.” Nietemin het hy God se naam, Jehovah, later drie keer in die Great Bible ingesluit.

Coverdale se Bybel was egter die eerste Engelse Bybel waarin die Tetragrammaton—die vier Hebreeuse letters waaruit die goddelike naam bestaan—boaan die titelblad verskyn het. Dit is betekenisvol dat dit die eerste Bybel was waarin al die Apokriewe boeke in ’n aanhangsel geplaas is en nie tussen die boeke van die Hebreeuse Geskrifte nie.

Baie van Coverdale se unieke uitdrukkings en woorde is later deur ander vertalers gebruik. Die frase “die dal van doodskaduwee” in Psalm 23, vers 4, is ’n voorbeeld hiervan. Die uitdrukking “liefderyke goedhartigheid” in vers 6, sê professor S.L. Greenslade, is “’n spesiale frase wat God se inherente liefde vir sy knegte onderskei van liefde in die algemeen en van barmhartigheid”. Die New World Translation of the Holy Scriptures—With References gebruik dieselfde woord en voeg die voetnoot by: “Of, ‘lojale liefde’.”

Coverdale se Great Bible “was die eindresultaat van al die werk wat in verband met Engelse Bybelvertaling gedoen is . . . van die tyd toe Tyndale begin het met sy vertaling van die Nuwe Testament”, sê The Bibles of England. Dit was hoofsaaklik Coverdale se vertaling wat dit vir Engelssprekende mense van sy dag moontlik gemaak het om die Bybel te lees.

[Prente op bladsy 11]

Tetragrammaton, links, op die titelblad van ’n uitgawe van 1537

[Foto-erkenning op bladsy 10]

Uit die boek Our English Bible: Its Translations and Translators

[Foto-erkenning op bladsy 11]

Bron van foto: The Holy Scriptures of the Olde and Newe Testamente With the Apocripha deur Myles Coverdale