Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons lesers vra . . .

Waarom preek Jehovah se Getuies van huis tot huis?

Waarom preek Jehovah se Getuies van huis tot huis?

▪ In die Bybel vind ons die volgende opdrag van Jesus aan sy volgelinge: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies . . . en leer hulle” (Matteus 28:19, 20). Is dit op alle Christene van toepassing? Jesus se vroeë dissipels het so gedink. Byvoorbeeld, die apostel Petrus het gesê: “[Jesus het] ons beveel om vir die volk te preek en om ’n deeglike getuienis te gee” (Handelinge 10:42). En die apostel Paulus het geskryf: “Die dwang is my opgelê. Waarlik, wee my as ek die goeie nuus nie bekend maak nie!”—1 Korintiërs 9:16.

Nie net Paulus en Petrus nie, maar ook eerste-eeuse Christene oor die algemeen was gehoorsaam aan Jesus se opdrag. Die predikingswerk was die bedrywigheid waaraan hulle uitgeken is (Handelinge 5:28-32, 41, 42). Vir Jehovah se Getuies van vandag is dit ook die geval. Die boodskap wat hulle verkondig, naamlik “die koninkryk van die hemele”, is dieselfde boodskap as wat Jesus verkondig het.—Matteus 10:7.

Aan wie moet die Koninkryksboodskap verkondig word? Jesus het gesê dat dit oral aan alle mense verkondig moet word. Hy het vir sy dissipels gesê: “Julle sal getuies van my wees . . . tot in die mees afgeleë deel van die aarde” (Handelinge 1:8). Hy het selfs voorspel dat “hierdie goeie nuus van die koninkryk . . . in die hele bewoonde aarde verkondig [sal] word” voordat die einde van hierdie stelsel kom (Matteus 24:14). Eerste-eeuse Christene het dus met alle mense probeer praat, nie net met kennisse of mense wat nie aan ’n godsdiens behoort het nie (Kolossense 1:23; 1 Timoteus 2:3, 4). Net so probeer Jehovah se Getuies van vandag om almal te bereik. *

Wat is die doeltreffendste manier om die Koninkryksboodskap te verkondig? Jesus, wat geweet het hoe om soveel mense moontlik te bereik, het sy dissipels na stede, dorpe en die huise van mense gestuur (Matteus 10:7, 11, 12). Ná Jesus se dood en opstanding het sy dissipels aangehou om “van huis tot huis” te preek (Handelinge 5:42). Net soos Jesus het hulle ook in informele omstandighede en op openbare plekke gepreek (Johannes 4:7-26; 18:20; Handelinge 17:17). Vandag gebruik Jehovah se Getuies dieselfde metodes om vir alle mense te preek.

Jesus het gesê dat nie almal sal luister nie (Matteus 10:14; 24:37-39). Moet dit Christene daarvan weerhou om te preek? Dink aan hierdie vergelyking: Sou jy, as jy ná ’n groot aardbewing ’n lid van ’n reddingspan was, ophou om na oorlewendes te soek bloot omdat daar ná ’n ruk slegs ’n paar oorlewendes gevind word? Nee, jy sou aanhou soek solank as wat daar hoop is om een persoon te red. Jesus het sy dissipels beveel om aan te hou soek solank as wat daar hoop is om mense te vind wat op die goeie nuus van God se Koninkryk sal reageer (Matteus 10:23; 1 Timoteus 4:16). Deur van huis tot huis na sulke mense te soek, toon Jehovah se Getuies liefde vir God en hulle naaste, wie se lewe daarvan afhang of hulle na die Koninkryksboodskap luister en daarop reageer.—Matteus 22:37-39; 2 Tessalonisense 1:8.

Hierdie tydskrif maak daardie Bybelboodskap bekend. As jy meer inligting wil hê, praat gerus met Jehovah se Getuies wanneer hulle jou weer besoek of skryf aan die uitgewer van hierdie tydskrif.

[Voetnoot]

^ par. 5 Jehovah se Getuies preek tans in 236 lande. Verlede jaar het hulle 1,7 miljard uur aan die predikingswerk bestee en wêreldwyd 8,5 miljoen tuisbybelstudies gehou.