Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe om uit te kom met ’n kleiner inkomste

Hoe om uit te kom met ’n kleiner inkomste

Hoe om uit te kom met ’n kleiner inkomste

OBED het twee kinders. Hy het tien jaar lank vir ’n vyfsterhotel in ’n groot stad in Afrika gewerk, en hy het nie gesukkel om in die behoeftes van sy gesin te voorsien nie. Van tyd tot tyd kon hy dit selfs bekostig om sy gesin na wildreservate in sy land op vakansie te neem. Dit het alles tot ’n einde gekom toe hy sy werk verloor het omdat minder mense die hotel besoek het.

In ’n loopbaan van meer as 22 jaar het Stephen hom tot die vlak van ’n besturende amptenaar in ’n groot bank opgewerk. Hierdie werk het hom talle voordele gebied, onder meer ’n groot huis, ’n motor, huishulpe en hoogaangeskrewe skole vir sy kinders. Nadat die bank met ’n herstruktureringsproses begin het, het hy sy werk verloor. “Ek en my gesin was verpletter”, sê Stephen. “Gevoelens van wanhoop, verbitterdheid en vrees het my beetgepak.”

Dit is geensins alleenstaande gevalle nie. Die voortslepende wêreldwye ekonomiese insinking het daartoe gelei dat miljoene wat ’n vaste inkomste gehad het, hulle werk verloor het. Baie wat wel ’n werk gevind het, moet met ’n klein salaris tevrede wees hoewel pryse die hoogte ingeskiet het. Geen land, hetsy ontwikkeld of nie, is immuun teen die uitdagings van ’n resessie nie.

Praktiese wysheid nodig

Wanneer ons inkomste verminder of ons ons bron van inkomste verloor, kan ons maklik deur negatiewe gedagtes oorweldig word. ’n Mens kan weliswaar nie ’n mate van kommer heeltemal vermy nie. Maar ’n wyse man het eenkeer gesê: “Was jy mismoedig in die dag van benoudheid? Jou krag sal gering wees” (Spreuke 24:10). Wanneer daar ’n ekonomiese afswaai is, moet ’n mens nie paniekbevange word nie, maar eerder ag slaan op wat God se Woord sê: ‘Bewaar praktiese wysheid as ’n skat.’—Spreuke 2:7.

Hoewel die Bybel nie ’n finansiële handleiding is nie, het die praktiese raad daarin oor sulke sake miljoene regoor die wêreld al gehelp. Kom ons ondersoek ’n paar basiese beginsels in die Bybel.

Bereken die koste. Dink aan Jesus se woorde in Lukas 14:28: “Wie van julle wat ’n toring wil bou, gaan nie eers sit en die koste bereken, om te sien of hy genoeg het om dit te voltooi nie?” Om hierdie beginsel toe te pas, behels dat ’n mens ’n begroting opstel en daarby bly. Maar soos Obed erken, kan dit moeilik wees. “Voordat ek my werk verloor het”, sê hy, “het ons gewoonlik trollies vol meestal onnodige goedere uit die supermark gestoot. Ons het nooit ’n begroting gehad nie, want daar was altyd geld vir enigiets wat ons wou hê.” ’n Begroting sal verseker dat die geld wat beskikbaar is aan dinge bestee word wat die gesin werklik nodig het.

Pas jou lewenstyl aan. Om aan ’n laer lewenstandaard gewoond te raak, is ongetwyfeld moeilik, maar dit is nodig. ’n Bybelspreuk sê: “Skerpsinnig is die een wat die rampspoed gesien en hom verberg het” (Spreuke 22:3). “Om geld te spaar, moes my gesin in ons eie huis intrek, wat kleiner was en waarvan die binnekant onafgewerk was”, sê Stephen. “Die kinders moes na goedkoper skole gaan wat nog steeds goeie onderrigting voorsien het.”

Openhartige kommunikasie is noodsaaklik om suksesvol by ’n nuwe lewenstyl aan te pas. Austin, wat nege jaar lank vir ’n finansiële instelling gewerk het voordat hy sy werk verloor het, sê: “Ek en my vrou het gaan sit en ’n lys gemaak van die dinge wat ons werklik nodig het. Ons moes minder geld bestee aan duur kositems, luuksevakansies en onnodige nuwe klere. Ek is bly dat my gesin hulle samewerking gegee het toe ons hierdie aanpassings moes maak.” Jong kinders sal natuurlik nie altyd ten volle begryp waarom sulke aanpassings nodig is nie, maar as ouers kan julle hulle help om dit te verstaan.

Wees bereid om ander soort werk te doen. As jy gewoond is aan kantoorwerk, is jy dalk huiwerig om met jou hande te werk. “Dit was sielkundig moeilik vir my om ongeskoolde werk te aanvaar, aangesien ek gewoond was aan bestuursposte by ’n groot maatskappy”, sê Austin. Ons kan verstaan waarom hy so voel wanneer ons dink aan wat die Bybel in Spreuke 29:25 sê: “Om vir mense te bewe, span ’n strik.” Om jou te steur aan wat ander moontlik sal dink, gaan nie kos op die tafel sit nie. Wat kan jou help om sulke negatiewe gedagtes te oorkom?

Nederigheid is belangrik. Nadat Obed sy werk in die hotelbedryf verloor het, het ’n voormalige werksmaat wat ’n motorwerkswinkel besit, hom gevra om vir hom te kom werk. Hierdie werk het behels dat hy lang afstande op stowwerige paaie loop om motorverf en onderdele te kry. Obed sê: “Dit het gelyk of alles teen my tel. Nederigheid het my gehelp om gewoond te raak aan ’n werk waar ek minder as ’n kwart van my vorige salaris verdien, maar wat genoeg is om in my gesin se behoeftes te voorsien.” Sal jy daarby baat vind om ’n soortgelyke beskouing aan te kweek?

Wees vergenoeg. Een woordeboek definieer ’n vergenoegde persoon as iemand wat “redelik gelukkig en tevrede is met sy omstandighede”. So ’n beskrywing klink dalk onrealisties vir iemand wat finansieel in die knyp is. Maar dink aan die woorde van die apostel Paulus, ’n sendeling wat geweet het wat dit beteken om gebrek te ly: “Ek het geleer om, in watter omstandighede ek ook al verkeer, vergenoeg te wees. Ek weet inderdaad wat dit is om min te hê, ek weet inderdaad wat dit is om oorvloed te hê.”—Filippense 4:11, 12.

Ons kon dalk beter daaraan toe gewees het, maar in hierdie veranderende tye kon dit ook baie erger gewees het. Ons kan baie daarby baat vind as ons Paulus se geïnspireerde raad ter harte neem: “Dit is ongetwyfeld ’n middel tot groot gewin, hierdie godvrugtige toegewydheid tesame met vergenoegdheid. As ons dan voedsel, klere en onderdak het, sal ons met hierdie dinge tevrede wees.” Paulus het nie luiheid aangemoedig nie, maar het eerder getoon hoe ons die regte beskouing van ons fisiese behoeftes kan hê.—1 Timoteus 6:6, 8.

’n Bron van ware geluk

Ons vind nie ware geluk deur alles wat ons wil hê, op te gaar of ’n lewe van gemak of weelde te lei nie. Jesus self het gesê: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang.” Ja, ons vind geluk en bevrediging deur ons middele te gebruik om ander te help en ’n bron van aanmoediging vir hulle te wees.—Handelinge 20:35.

Ons Skepper, Jehovah God, is terdeë bewus van al ons behoeftes. Deur sy Woord, die Bybel, het hy praktiese raad voorsien wat baie al gehelp het om hulle lewe te verbeter en om onnodige bekommernis te verlig. As ’n mens die raad daarin toepas, sal jou finansiële situasie natuurlik nie oornag of dramaties verbeter nie. Maar Jesus het diegene wat aanhou om “eers die koninkryk en [God se] regverdigheid te soek”, verseker dat daar in al hulle daaglikse behoeftes voorsien sal word.—Matteus 6:33.