Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Lewensverhaal

“Die geheim” wat ons uit ons heilige diens geleer het

“Die geheim” wat ons uit ons heilige diens geleer het

Soos vertel deur Olivier Randriamora

“Ek weet inderdaad wat dit is om min te hê, ek weet inderdaad wat dit is om oorvloed te hê. In alles en in alle omstandighede het ek die geheim daarvan geleer om versadig te wees sowel as om honger te wees . . . Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee.”—Fil. 4:12, 13.

HIERDIE woorde van die apostel Paulus is al lank vir my en my vrou, Oly, baie aanmoedigend. Soos Paulus, het ons “die geheim” geleer deur ten volle op Jehovah te vertrou terwyl ons Hom hier in Madagaskar dien.

Toe Jehovah se Getuies in 1982 die Bybel met Oly se ma begin studeer het, was ek en Oly reeds verloof. Ek het ook ’n Bybelstudie aanvaar, en later het Oly ook begin studeer. Ons is in 1983 getroud, is in 1985 gedoop en het onmiddellik daarna hulppionierdiens begin doen. In Julie 1986 het ons gewone pioniers geword.

In September 1987 het ons as spesiale pioniers begin dien. Ons eerste toewysing was in ’n klein dorpie in noordwestelike Madagaskar waar daar nie ’n gemeente was nie. Daar is ongeveer 18 vername etniese groepe asook tallose stamgroepe in Madagaskar, en sosiale gebruike en tradisies verskil grootliks. Malgassies is die amptelike taal, maar daar is ook verskillende dialekte. Ons het dus die dialek begin leer wat die mense in ons nuwe toewysing gepraat het, en dit het daartoe bygedra dat die gemeenskap ons makliker aanvaar.

Aanvanklik het ek elke Sondag ’n openbare toespraak gehou, waarna Oly pligsgetrou hande geklap het. Dit was net ons twee. Ons het ook die volle Teokratiese Bedieningskool gehou, waartydens Oly ’n denkbeeldige huisbewoner gebruik het. Hoe verlig was ons tog toe die besoekende kringopsiener liefdevol voorstel dat ons die vergaderinge aanpas!

Omdat die posdiens onbetroubaar was, het ons nie ons maandelikse toelaag gereeld ontvang nie. Ons het dus geleer wat dit is om min te hê. By een geleentheid het ons nie genoeg busgeld gehad vir die kringbyeenkoms, wat ongeveer 130 kilometer daarvandaan gehou is nie. Ons het aan die goeie raad van ’n mede-Getuie gedink: “Vertel Jehovah van julle probleme. Julle doen immers sy werk.” Ons het dus gebid en besluit om soontoe te loop. Maar net voordat ons vertrek het, het ’n broer ons onverwags besoek en vir ons geld gegee—net genoeg vir die buskaartjies!

KRINGWERK

In Februarie 1991 is ek as ’n kringopsiener aangestel. Teen daardie tyd het ons klein groepie tot 9 verkondigers gegroei, van wie 3 gedoop was, en ons het ’n gemiddelde vergaderingbywoning van 50 gehad. Nadat ek opleiding ontvang het, het ons ’n kring in die hoofstad, Antananarivo, bedien. In 1993 is ons na ’n kring in die oostelike deel van die land gestuur. Die lewensomstandighede daar was baie anders as dié in die stad.

Ons moes loop om gemeentes en afgesonderde groepe te bereik, soms tot 145 kilometer oor dig beboste berge. Ons het ons bagasie tot ’n minimum beperk. Wanneer die kringopsiener se openbare toespraak ’n skyfievertoning ingesluit het, soos destyds soms die geval was, was ons vrag natuurlik swaarder. Oly het die skyfieprojektor gedra, terwyl ek ’n 12-volt-motorbattery gedra het.

Ons het dikwels omtrent 40 kilometer per dag geloop om die volgende gemeente te bereik. Ons het op steil bergpaadjies geloop, riviere oorgesteek en deur modder geploeter. Soms het ons langs die pad geslaap, maar ons het gewoonlik ’n dorpie probeer vind waar ons verblyf vir die nag kon soek. Partykeer het ons volslae vreemdelinge gevra of ons by hulle kan oornag. Nadat ons verblyf gekry het, het ons begin kos kook. Oly het ’n kookpot geleen en by die naaste rivier of meer gaan water haal. Intussen het ek ’n byl geleen om vuurmaakhout te kap. Dit alles het tyd geneem. Soms het ons ’n lewende hoender gekoop wat ons dan moes slag en skoonmaak.

Ná ete het ons nog water gaan haal om te bad. Partykeer het ons in die kombuis geslaap. Wanneer dit gereën het, moes ons soms slaap terwyl ons teen ’n muur leun om droog te bly omdat die dak gelek het.

Ons het altyd seker gemaak dat ons getuig vir die mense waar ons tuisgegaan het. Wanneer ons ons bestemming bereik het, was die goedhartigheid en gasvryheid van ons Christenbroers en -susters oorweldigend. Hulle opregte waardering vir ons besoek het vergoed vir enige ongerief wat ons op pad verduur het.

Wanneer ons by mede-Getuies gebly het, het ons dit geniet om hulle met hulle huishoudelike takies te help. En dit het hulle weer in staat gestel om saam met ons velddiens te doen. Ons het nie luukshede of spesiale kos verwag, wat ons broers nie kon bekostig nie.

BESOEKE AAN AFGESONDERDE GROEPE

Ons het dit geniet om afgesonderde groepe te besoek, waar broers ons met ’n rooster vol bedrywighede verwelkom het. Ons het selde tyd gehad om ‘’n bietjie te rus’ (Mark. 6:31). Op een plek het ’n Getuie-egpaar al hulle Bybelstudente—altesaam 40—na hulle huis genooi sodat ons tydens hulle studies kon bysit. Oly het omtrent 20 studies saam met die suster gehou, en ek en die broer het die ander 20 gehou. Sodra die een studie klaar was, het die volgende een onmiddellik begin. Later die dag het ons die Bybelstudiesessie onderbreek om die gemeentelike vergaderinge te hou, waarna ons die studiesessie voortgesit het. So ’n maratondag het soms eers ná agtuur die aand geëindig!

Gedurende ons besoek aan ’n ander groep het ons almal ongeveer agtuur in die oggend na ’n naburige dorpie geloop. Almal het ou klere gedra. Ná ’n lang trek deur die woud het ons die gebied omtrent twaalfuur bereik. Ons het skoon klere aangetrek en onmiddellik van deur tot deur begin preek. Daar was min huise en baie verkondigers. Ons het dus die hele gebied in ongeveer 30 minute gedek. Toe het ons na die volgende dorpie gegaan. Nadat ons daar getuig het, het die lang tog huis toe op ons gewag. Aanvanklik het dit ons ’n bietjie ontmoedig. Dit het baie tyd en energie geverg, maar ons het slegs ongeveer ’n uur aan die huis-tot-huis-werk bestee. Maar die plaaslike Getuies het nie gekla nie. Hulle ywer het nooit verflou nie.

Een afgesonderde groep in Taviranambo het naby ’n bergtop gewoon. Daar het ons ’n Getuiegesin gevind wat in ’n eenvertrekhuisie gewoon het. ’n Ander geboutjie daar naby het as die vergaderplek gedien. Ons gasheer het skielik in ’n harde stem begin roep: “Broers!” Op die volgende bergtop het ’n stem geantwoord: “Ja!” Ons gasheer het weer geroep: “Die kringopsiener is hier!” Die antwoord was: “Reg so!” Die boodskap is blykbaar oorgedra aan ander wat nog verder weg gewoon het. Mense het weldra begin opdaag, en toe die vergadering begin het, was meer as 100 teenwoordig.

VERVOERUITDAGINGS

In 1996 is ons na ’n kring nader aan Antananarivo, in die sentrale hooglande, gestuur. Hierdie kring het ook unieke uitdagings gebied. Daar was geen gereelde openbare vervoer na die afgeleë gebiede nie. Ons moes ’n groep in Beankàna (Besakay), ongeveer 240 kilometer van Antananarivo, gaan besoek. Ná onderhandelings met die bestuurder het ons in ’n klein vragmotor geklim wat op pad soontoe was. Daar was ongeveer 30 ander passasiers in en op die vragmotor; party het op die dak gelê en ander moes aan die agterkant vashou.

Soos dikwels die geval is, het die vragmotor kort voor lank gebreek, en ons het verder geloop. Nadat ons ’n paar uur lank geloop het, het ’n groot vragmotor verbygekom. Dit was reeds vol mense en goedere, maar die bestuurder het in elk geval stilgehou. Ons het opgeklim, al was daar net staanplek. Later het ons by ’n rivier gekom, maar mense was besig om die brug te herstel. Ons het weer eens verder geloop en uiteindelik by ’n klein dorpie aangekom waar spesiale pioniers gewoon het. Hoewel dit nie tyd vir ’n amptelike besoek aan hulle was nie, het ons saam met hulle gepreek terwyl ons gewag het vir die brug om herstel te word en vir ’n ander voertuig om daar verby te kom.

’n Week het verloop voordat ’n voertuig daarlangs gekom het, en ons het ons reis voortgesit. Die pad was vol groot slaggate. Ons moes die voertuig baie keer deur kniediep water help stoot, waartydens ons dikwels gestruikel en geval het. In die vroeë oggendure het ons by ’n klein dorpie aangekom, waar ons uitgeklim het. Nadat ons die hoofpad verlaat het, het ons verder geloop na ons bestemming, deur ryslande waar modderwater tot by ons middellyf gekom het.

Dit was ons eerste besoek aan die gebied, en daarom het ons besluit om vir werkers in die ryslande te getuig en hulle te vra waar die plaaslike Getuies woon. Hoe verheug was ons tog om uit te vind dat daardie einste werkers ons geestelike broers is!

ONS SPOOR ANDER AAN OM DIE VOLTYDSE BEDIENING TE BETREE

Dit het ons oor die jare heen groot vreugde verskaf om te sien dat ander as gevolg van ons aansporing die voltydse bediening betree. Terwyl ons ’n gemeente met nege gewone pioniers besoek het, het ons die pioniers aangespoor om hulle dit ten doel te stel om elkeen een verkondiger te help om te begin pionier. Toe ons hulle ses maande later besoek het, was daar 22 gewone pioniers! Twee pioniersusters het hulle pa’s, albei ouer manne, aangespoor om gewone pioniers te word. En hierdie broers het ’n derde ouer man aangemoedig om by hulle aan te sluit. ’n Ruk later is die derde ouer man as ’n spesiale pionier aangestel. Later het hy en sy vrou in die kringwerk begin dien. Wat van die ander twee ouer manne? Die een dien as ’n kringopsiener, en die ander is ’n Koninkryksaalbouvrywilliger.

Ons dank Jehovah elke dag vir sy hulp, want ons besef dat ons niks in ons eie krag kan doen nie. Dit is waar dat ons soms moeg voel en siek word, maar ons is gelukkig wanneer ons dink aan die resultate van ons bediening. Jehovah laat sy werk vorder. Ons is bly dat ons ’n klein aandeel hieraan kan hê deur hom nou as spesiale pioniers te dien. Ja, ons het “die geheim” geleer deur op Jehovah te vertrou, ‘wat ons krag gee’.

[Lokteks op bladsy 6]

Ons het “die geheim” geleer deur op Jehovah te vertrou

[Kaart/Prente op bladsy 4]

Madagaskar, wat die Groot Rooi Eiland genoem word, is die vierde grootste eiland op aarde. Die grond is rooi, en talle unieke spesies floreer hier

[Prent op bladsy 5]

Ons geniet dit om Bybelstudies te hou

[Prente op bladsy 5]

Om by die broers uit te kom, was een van ons grootste uitdagings