Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah is “’n Openbaarder van geheime”

Jehovah is “’n Openbaarder van geheime”

Jehovah is “’n Openbaarder van geheime”

“Waarlik, julle God is ’n God van die gode en ’n Here van die konings en ’n Openbaarder van geheime.”—DAN. 2:47.

HOE SAL JY ANTWOORD?

Watter besonderhede oor die toekoms het Jehovah aan ons geopenbaar?

Wie word deur die eerste ses koppe van die wilde dier voorgestel?

Watter verband is daar tussen die wilde dier en die beeld wat Nebukadnesar gesien het?

1, 2. Wat het Jehovah aan ons geopenbaar, en waarom het hy dit gedoen?

WATTER regerings sal die aarde oorheers wanneer God se Koninkryk ’n einde aan menseheerskappy maak? Ons weet wat die antwoord is—dit is aan ons onthul deur die “Openbaarder van geheime”, Jehovah God. Hy stel ons in staat om die identiteit van hierdie regerings deur middel van die geskrifte van die profeet Daniël en die apostel Johannes vas te stel.

2 Jehovah het aan hierdie manne ’n reeks visioene aangaande ’n opeenvolging van diere geopenbaar. Hy het ook aan Daniël die betekenis van ’n droomvisioen oor ’n ontsaglike metaalbeeld bekend gemaak. Jehovah het hierdie verslae tot ons voordeel in die Bybel laat opteken en laat bewaar (Rom. 15:4). Hy het dit gedoen om ons hoop te versterk dat sy Koninkryk binnekort alle menseregerings sal verbrysel.—Dan. 2:44.

3. Wat moet ons eers begryp as ons profesieë akkuraat wil verstaan, en waarom?

3 Die verslag van Daniël tesame met dié van Johannes identifiseer nie alleenlik agt konings, of menseheerskappye nie, maar toon ook in watter volgorde hierdie moondhede sou verskyn. Maar ons kan hierdie profesieë slegs akkuraat verstaan as ons die betekenis begryp van die heel eerste profesie wat in die Bybel opgeteken is. Waarom? Omdat die vervulling van hierdie profesie die verenigende tema van die Bybel is. Dit is in sekere sin die snoer waaraan alle ander profesieë hang.

DIE SLANG SE SAAD EN DIE WILDE DIER

4. Uit wie bestaan die saad van die vrou, en wat sal hierdie saad doen?

4 Kort ná die opstand in Eden het Jehovah ’n belofte gemaak dat ’n “vrou” ’n “saad” sou voortbring. * (Lees Genesis 3:15.) Hierdie saad sal uiteindelik die kop van die slang, Satan, verbrysel. Jehovah het later geopenbaar dat die saad deur Abraham sou kom, tot die nasie Israel sou behoort, ’n Judeër sou wees en ’n nakomeling van koning Dawid sou wees (Gen. 22:15-18; 49:10; Ps. 89:3, 4; Luk. 1:30-33). Die vernaamste deel van hierdie saad is Christus Jesus (Gal. 3:16). Die sekondêre deel van die saad bestaan uit die geesgesalfde lede van die Christengemeente (Gal. 3:26-29). Jesus en hierdie gesalfdes verenig om God se Koninkryk te vorm, die instrument waarmee God Satan sal verbrysel.—Luk. 12:32; Rom. 16:20.

5, 6. (a) Hoeveel groot moondhede identifiseer Daniël en Johannes? (b) Wat stel die koppe van die wilde dier van Openbaring voor?

5 Daardie eerste profesie wat in Eden gegee is, het ook gesê dat Satan ’n “saad” sou voortbring. Sy saad sou vyandskap, of haat, teenoor die saad van die vrou openbaar. Uit wie bestaan die saad van die slang? Almal wat, soos Satan, God haat en God se volk teëstaan. Deur die geskiedenis heen het Satan sy saad in verskillende politieke bewegings, of koninkryke, georganiseer (Luk. 4:5, 6). Maar betreklik min mensekoninkryke het ’n groot invloed uitgeoefen op God se volk, hetsy die nasie Israel of die gemeente van gesalfde Christene. Waarom is hierdie feit betekenisvol? Omdat dit verklaar waarom die visioene van Daniël en Johannes altesaam net agt sulke groot moondhede beskryf.

6 Aan die einde van die eerste eeu HJ het die verrese Jesus die apostel Johannes ’n reeks verstommende visioene gegee (Op. 1:1). In een daarvan het Johannes die Duiwel gesien, waar hy uitgebeeld word as ’n draak wat langs ’n groot see staan. (Lees Openbaring 13:1, 2.) Johannes het ook gesien hoe ’n eienaardige dier uit hierdie see opkom en groot gesag van die Duiwel ontvang. ’n Engel sê later vir Johannes dat die sewe koppe van ’n skarlakenkleurige dier, wat ’n beeld is van die dier van Openbaring 13:1, “sewe konings”, of regerings, voorstel (Op. 13:14, 15; 17:3, 9, 10). Toe Johannes dit opgeteken het, het vyf van hulle reeds geval, was een aan bewind en het een “nog nie gekom nie”. Wat is die identiteit van hierdie koninkryke, of wêreldmoondhede? Kom ons bespreek elkeen van die koppe van die dier wat in Openbaring beskryf word. Ons sal ook sien hoe die geskrifte van Daniël bykomende fyn insigte in baie van hierdie koninkryke voorsien het, soms eeue voordat hulle tot stand gekom het.

EGIPTE EN ASSIRIË—DIE EERSTE TWEE KOPPE

7. Wat stel die eerste kop voor, en waarom?

7 Die eerste kop van die dier stel Egipte voor. Waarom? Omdat Egipte die eerste groot moondheid was wat vyandskap teenoor God se volk geopenbaar het. Die nakomelinge van Abraham—deur wie die beloofde saad van die vrou sou kom—het in Egipte talryk geword. Toe het Egipte Israel onderdruk. Satan het ’n poging aangewend om God se volk uit te wis voordat die saad kon verskyn. Hoe? Deur Farao te beweeg om alle Israelitiese seuntjies dood te maak. Jehovah het hierdie poging verydel en sy volk uit slawerny in Egipte bevry (Eks. 1:15-20; 14:13). Later het hy die Israeliete in die Beloofde Land gevestig.

8. Wat is die identiteit van die tweede kop, en wat het dit probeer doen?

8 Die tweede kop van die dier stel Assirië voor. Hierdie magtige koninkryk het ook God se volk probeer uitwis. Jehovah het Assirië weliswaar gebruik as sy instrument om die tienstammeryk vir hulle afgodediens en opstand te straf. Maar toe het Assirië Jerusalem aangeval. Dit was moontlik Satan se oogmerk om die koninklike lyn uit te wis wat uiteindelik tot Jesus sou lei. Hierdie aanval was nie deel van Jehovah se voorneme nie, en hy het sy getroue volk wonderdadig verlos deur die invallers te vernietig.—2 Kon. 19:32-35; Jes. 10:5, 6, 12-15.

BABILON—DIE DERDE KOP

9, 10. (a) Wat het Jehovah die Babiloniërs toegelaat om te doen? (b) Wat moes gebeur voordat sekere profesieë vervul kon word?

9 Die derde kop van die dier wat Johannes gesien het, stel die koninkryk voor waarvan Babilon die hoofstad was. Jehovah het die Babiloniërs toegelaat om Jerusalem omver te werp en sy volk in gevangenskap weg te voer. Maar voordat Jehovah hierdie vernedering toegelaat het, het hy die opstandige Israeliete gewaarsku dat hierdie tragedie hulle sou tref (2 Kon. 20:16-18). Hy het voorspel dat die lyn van mensekonings van wie daar gesê is dat hulle op “Jehovah se troon” in Jerusalem sit, verwyder sou word (1 Kron. 29:23). Jehovah het egter ook belowe dat ’n nakomeling van koning Dawid, een wat “die wetlike reg” het, sou kom en daardie gesag sou terugkry.—Eseg. 21:25-27.

10 ’n Ander profesie het aangedui dat die Jode nog steeds by die tempel in Jerusalem sou aanbid wanneer die beloofde Messias, of Gesalfde, kom (Dan. 9:24-27). ’n Vroeëre profesie, wat geskryf is voordat Israel in gevangenskap na Babilon weggevoer is, het gesê dat hierdie persoon in Betlehem gebore sou word (Miga 5:2). Voordat hierdie profesieë vervul kon word, sou die Jode uit gevangenskap bevry moes word, na hulle vaderland moes terugkeer en die tempel moes herbou. Maar dit was nie Babilon se beleid om gevangenes vry te laat nie. Hoe sou hierdie uitdaging te bowe gekom word? Jehovah het die antwoord aan sy profete geopenbaar.—Amos 3:7.

11. Op watter verskillende maniere word die Babiloniese Ryk afgebeeld? (Sien voetnoot.)

11 Die profeet Daniël was een van die gevangenes wat na Babilon weggevoer is (Dan. 1:1-6). Jehovah het hom gebruik om die opeenvolging van koninkryke ná hierdie wêreldmoondheid te openbaar. Jehovah het hierdie geheime geopenbaar deur ’n aantal simboliese voorstellings te gebruik. Hy het byvoorbeeld die Babiloniese koning Nebukadnesar laat droom van ’n ontsaglike beeld wat van verskeie metale gemaak is. (Lees Daniël 2:1, 19, 31-38.) Deur middel van Daniël het Jehovah geopenbaar dat die goue kop van die beeld die Babiloniese Ryk voorstel. * Die wêreldmoondheid ná Babilon word deur die bors en arms van silwer afgebeeld. Wie sou hierdie moondheid wees, en hoe sou dit God se volk behandel?

MEDO-PERSIË—DIE VIERDE KOP

12, 13. (a) Wat het Jehovah oor die val van Babilon geopenbaar? (b) Waarom word Medo-Persië gepas deur die vierde kop van die wilde dier afgebeeld?

12 Meer as ’n eeu voor Daniël se tyd het Jehovah deur middel van die profeet Jesaja besonderhede geopenbaar oor die wêreldmoondheid wat Babilon sou verower. Jehovah het nie net die manier onthul waarop die stad Babilon tot ’n val gebring sou word nie, maar ook die naam van die veroweraar. Hierdie leier was Kores die Pers (Jes. 44:28–45:2). Daniël het nog twee visioene oor die Medo-Persiese Wêreldmoondheid ontvang. In een visioen is die koninkryk uitgebeeld as ’n beer waarvan die een kant opgelig is. Daar is vir die dier gesê: “Eet baie vleis” (Dan. 7:5). In ’n ander visioen het Daniël ’n ram met twee horings gesien, wat hierdie tweeledige wêreldmoondheid voorstel.—Dan. 8:3, 20.

13 Jehovah het die Medo-Persiese Ryk gebruik om ’n profesie te vervul deur Babilon omver te werp en die Israeliete in hulle vaderland te herstel (2 Kron. 36:22, 23). Maar later het hierdie selfde moondheid amper God se volk uitgewis. Volgens die Bybelboek Ester het die eerste minister van Persië, ’n man met die naam Haman, ’n komplot gesmee. Hy het gereël dat al die Jode wat in die ontsaglike Persiese Ryk woon, uitgewis word en het ’n spesifieke datum vasgestel waarop die volksmoord moes plaasvind. Dit was slegs te danke aan Jehovah se ingryping dat Sy volk weer eens teen die vyandigheid van Satan se saad beskerm is (Est. 1:1-3; 3:8, 9; 8:3, 9-14). Medo-Persië word dus gepas deur die vierde kop van die dier van Openbaring afgebeeld.

GRIEKELAND—DIE VYFDE KOP

14, 15. Watter besonderhede openbaar Jehovah oor die eertydse Griekse Ryk?

14 Die vyfde kop van die wilde dier van Openbaring stel Griekeland voor. Soos Daniël vroeër geopenbaar het toe hy Nebukadnesar se droom uitgelê het, word hierdie selfde moondheid deur die beeld se maag en dye van koper voorgestel. Daniël het ook twee visioene ontvang wat merkwaardige besonderhede oor die aard van hierdie ryk sowel as sy vernaamste heerser voorsien.

15 In een visioen het Daniël gesien dat Griekeland uitgebeeld word as ’n luiperd met vier vlerke, wat aandui dat hierdie ryk vinnig sou oorwin (Dan. 7:6). In nog ’n visioen het Daniël beskryf hoe ’n bok met een groot horing ’n ram met twee horings, Medo-Persië, vinnig doodmaak. Jehovah het vir Daniël gesê dat die bok Griekeland voorstel en dat die groot horing een van sy konings afbeeld. Daniël het verder opgeteken dat die groot horing gebreek sou word en dat vier kleiner horings in die plek daarvan sou uitkom. Al is hierdie profesie opgeteken honderde jare voordat Griekeland ’n oorheersende moondheid geword het, is elke besonderheid daarvan bewaarheid. Aleksander die Grote, die vernaamste koning van eertydse Griekeland, het die stryd teen Medo-Persië aangevoer. Hierdie horing is egter gou gebreek toe dié groot koning op die hoogtepunt van sy mag en op slegs 32-jarige ouderdom gesterf het. Sy koninkryk is toe uiteindelik onder vier van sy generaals verdeel.Lees Daniël 8:20-22.

16. Wat het Antiogos IV gedoen?

16 Nadat Persië verower is, het Griekeland oor die land van God se volk geheers. Teen hierdie tyd is die Jode in die Beloofde Land hervestig en het hulle die tempel in Jerusalem herbou. Hulle was nog steeds God se uitverkore volk, en die herboude tempel was nog steeds die sentrum vir ware aanbidding. Maar in die tweede eeu VHJ het Griekeland, die vyfde kop van die wilde dier, God se volk aangeval. Antiogos IV, een van die erfgename van Aleksander se verdeelde ryk, het ’n heidense altaar op die terrein van die tempel in Jerusalem opgerig en het die beoefening van die Joodse godsdiens verklaar tot ’n misdaad wat met die dood strafbaar is. Wat ’n boosaardige daad deur hierdie deel van Satan se saad! Maar Griekeland is kort voor lank uit sy posisie as wêreldmoondheid verdring. Wie sou die sesde kop van die wilde dier wees?

ROME—DIE SESDE KOP, “VREESWEKKEND EN VERSKRIKLIK”

17. Watter sleutelrol het die sesde kop in die vervulling van Genesis 3:15 gespeel?

17 Rome was die oorheersende moondheid toe Johannes die visioen van die wilde dier ontvang het (Op. 17:10). Hierdie sesde kop het ’n sleutelrol gespeel in die vervulling van die profesie wat in Genesis 3:15 opgeteken is. Satan het Romeinse amptenare gebruik om die saad tydelik buite aksie te stel en het dit sodoende “in die hakskeen” gewond. Hoe? Hulle het Jesus op die valse aanklag van sedisie verhoor en hom laat teregstel (Matt. 27:26). Maar hierdie wond is gou genees omdat Jehovah Jesus opgewek het.

18. (a) Watter nuwe nasie het Jehovah gekies, en waarom? (b) Hoe het die slang se saad voortgegaan om vyandskap teenoor die saad van die vrou te openbaar?

18 Die godsdiensleiers van Israel het met Rome saamgesweer teen Jesus, en die meerderheid van die volk het hom ook verwerp. Gevolglik het Jehovah natuurlike Israel as sy volk verwerp (Matt. 23:38; Hand. 2:22, 23). Hy het toe ’n nuwe nasie gekies, “die Israel van God” (Gal. 3:26-29; 6:16). Hierdie nasie is die gemeente van gesalfde Christene wat uit Jode sowel as nie-Jode bestaan (Ef. 2:11-18). Ná Jesus se dood en opstanding het die saad van die slang voortgegaan om vyandskap teenoor die saad van die vrou te openbaar. Rome het by meer as een geleentheid die Christengemeente, die sekondêre deel van die saad, probeer uitwis. *

19. (a) Hoe beskryf Daniël die sesde wêreldmoondheid? (b) Wat sal in ’n ander artikel bespreek word?

19 In die droom wat Daniël vir Nebukadnesar uitgelê het, word Rome deur die bene van yster afgebeeld (Dan. 2:33). Daniël het ook ’n visioen gesien wat nie net die Romeinse Ryk beskryf nie, maar ook die volgende wêreldmoondheid, wat uit Rome sou spruit. (Lees Daniël 7:7, 8.) Rome was eeue lank in die oë van sy vyande “vreeswekkend en verskriklik en buitengewoon sterk”. Maar die profesie het voorspel dat “tien horings” uit hierdie ryk sou kom en dat een in die besonder prominent sou word. Wie is hierdie tien horings, en wat is die identiteit van die klein horinkie? In watter opsig kom die klein horinkie ooreen met die beskrywing van die ontsaglike beeld wat Nebukadnesar gesien het? Die antwoorde sal in die artikel op bladsy 14 bespreek word.

[Voetnote]

^ par. 4 Hierdie vrou stel Jehovah se gemalinorganisasie voor wat uit geesskepsele in die hemel bestaan.—Jes. 54:1; Gal. 4:26; Op. 12:1, 2.

^ par. 11 Babilon word voorgestel deur die kop van die beeld in die boek Daniël sowel as deur die derde kop van die wilde dier wat in Openbaring beskryf word. Sien die tabel op bladsye 12-13.

^ par. 18 Hoewel Rome Jerusalem in 70 HJ vernietig het, was hierdie daad van aggressie nie deel van die vervulling van Genesis 3:15 nie. Teen hierdie tyd was vleeslike Israel nie meer God se uitverkore volk nie.

[Studievrae]